EEN, TWEE, RIEU, EEN, TWEE, RIEU …

Andre Rieu en die Xhosa-sangeres Kimmy Skota

More uit Melkbos

Die wals is koning, André Rieu is die walskoning, ‘n Rieu-konsert is koningskos vir die hart. Ek tik hierdie woorde terwyl my eie hart steeds opgewonde in driemaat-klop ná gister se feeskonsert by die Grand West in Goodwood, Kaapstad.

Vooraf het ek belowe om te laat weet of hierdie stemmige amper-sewentigjarige toe ook saam gewieg het. Die waarheid is dat ek het – teen my natuurlike inklinasie van terughoudendheid in, maar darem eers teen die late, hoor, toe Rieu en sy skitterende musiekmakers nou werklik die krane begin oopdraai en die ou gunstelinge in keurspel op keurspel op die meegevoerde gehoor laat neergiet.

Johann Strauss, Lehar, Bizet, Mozart, Verdi, Tsjaikofski, Lloyd-Webber, Michael Jackson, al die ou en moderne meesters en vele meer se top-treffers, vrolik, guitig en meesleurend uitgevoer – die rojale toegifte hou nie op nie, en later moet selfs die krakerigste litte ontdooi.

“Even the ranks of Tuscany could scarce forebear to cheer…”

Die weergalose Rieu-resep is welbekend by al sy miljoene aanhangers wêreldwyd. Dit is die klank van sy musiek met die sterk Weense inslag, die kwaliteit-kunstenaars, die visuele genot van n prentjiemooi verhoog met mooi mense in mooi klere, die gemoedelikheid, hartlikheid en eie klaarblyklike genot van dirigent en orkes, die algemene “ambience”, die intense graad van meelewing wat taks om taks uitgelok word…

Ja, toe Strauss se immergroen Blou Donou polsend opklink, toe wals dit in die paadjies, en toe Rieu sy gehoor met Sarie Marais verras, toe dreun dit soos die Kapenaars – Stormers of te nie! – saam na die “ou Transvaal” verlang….

Maar André Rieu stagneer nooit. Uit sy stal kom altyd ook iets nuuts. ‘n Nuwigheid spesiaal vir Suid-Afrika was die klokhelder stem van die die Kaapse student Kimmy Skota, “swart diamant” (soos hy haar noem). Toe Skota in tradisionele Afrika-gewaad My African Dream sing, was Rieu se oë vol trane. Ook in die gehoor is snesies uitgehaal.

Maar haar gevoelvolle Ave Maria en Wiegeliedjie (Thula, thula …in Xhosa en Afrikaans) was amper vir dié ou gryse aangrypender.

Die klein kamee van die Bloemfonteinse kinderkoor in netjiese spierwit in die uitvoering van Jackson se Heal the World het ook die steeds lojale Vrystaatse hart laat warm klop.

Van die orkes¬lede wat deur Rieu uitgesonder is vir solo’s – “hulle is almal talentvol” – was die veelsydige Manu Konings, wat pas deur ’n stryd teen borskanker is, se bydraes baie spesiaal, veral toe sy die doedelsak uithaal vir Amazing Grace. In die voorste ry is arms in aanbidding opgehef.

So ‘n eksieperfeksie-konsert, met van die verhoog af net vlekkelose professionaliteit (die konsert het onder meer op die minuut om 15:00 met die tradisionele “grande entrance” begin), stel uiteraad aan die gehoor ook eise. Hoe jammer was dit dus nie dat hope lank na die pouse steeds traak-my-nie-agtig bly instroom het met hul kardoese eet- en drinkgoed in die hand. Slegte Suid-Afrikaanse maniere?

En die kleredrag! In die teenwoordigheid van al die elegante strikdasse, aandpakke en manjifieke ontweroers-balrokke op die verhoog (met net genoeg gleufie om nie die aandag van die musiek af te trek nie!) wonder ‘n mens of jannas en tekkies nie selfs vir ‘n Sondagmiddag-gehoor darem ietwat te informeel is nie.

Een verrassing vir die uwe was die “reünie”-element in die gehoor. Net in blok R, waar ons gesit het, was oud-Bloemfonteiners, ‘n ou skoolmaat en mede-Melkbossers. In die blok agter ons was ‘n vorige buurman uit ons Bloemfonteindae. Toe ons uitstap, kry ek ‘n naamgenoot-oud-LP en ‘n oud-kollega. Tussen die duisende vreemde gesigte was hierdie “ken-mekaar-element” ‘n merkwaardigheid waaroor ek graag later vollediger hier sal berig. (HvD)

VIR GIFTIGE VRYERS!

More uit Melkbos

As ‘n hoender-dinges-sosatie koddig klink (vorige blog), wat van kobravleis? Baie Chinese glo as ‘n lekkerny het ‘n kobra-happie nie sy gelyke nie.

Vir geurige slanggeregte kan Hua Hsistraat in Taipei aanbeveel word. In die woelige smal stegie sit die slang-restaurante ingeryg soos kraampies by ‘n kerkbasaar. Die foto hierbo is van die uwe by een van die gunsteling-eetplekke in Snake Alley in die middel van die 80’s.

Snake Alley (of slangsteeg) word vir meer as net gastronomiese redes besoek. Slange se medisinale eienskappe is in die ou tradisionele Chinese volksoorleweringe hoog aangeslaan. Dit word steeds vir ‘n verskeidenheid van fisieke en fisiologiese behoeftes as die ware jakob geag.

Sterk aanbeveel, is slangsop vir ‘n mooi vel, slangbloed vir viriliteit, slanggal vir die oë, slangmurg vir rumatiek en slangvleis – op verskillende maniere gaargemaak – vir algemene gesondheid.

Omdat die die omgewing ook bekend is weens die aktiwiteite van gelisensieerde
prostitute, verkoop slangbloed in Hua Hsistraat soos soetkoek. Met ‘n verfrissende opkikkertjie van vars slangbloed agter die blad, is ‘n man glo gereed vir ernstiger speletjies as slangetjies en leertjies!

Laat my dadelik verklaar dat ek Hua Hsistraat nie besoek het weens ‘n avontuurlike drang na rare spyskaarte of vir betaalde geselskap nie. Nee, dis pure nuuuskierigheid wat my getrek het. Daardie nuuskierigheid is gou beloon.

Oral in die stegie sien jy slange, opgestop of onheilspellend lewend, wat dadelik verraai wat die buurt se kulinere spesialiteit is. Maar ek is toe ook net mooi betyds vir ‘n slang-seremonie, wat ‘n fris skaretjie plaaslike inwoners gelok het. Vir die Westerling – oningewyd in die Chinese kookkuns en volksmedisyne – is dit egter nogal uitdagend vir die beheer oor die peristaltiese bewegings van jou spysverteringstelsel.

Eers is ‘n verwilderde apie ‘n paar slukke slangbloed gevoer en in ‘n hok vol kobras geprop om te bewys hoe ‘n kapabele afweermiddel dit is om allerlei onheile weg te hou. Oorleef die apie dit, is dit goeie reklame. Is hy minder gelukkig, word die lewelose aap-liggaampie vinnig met ‘n nuwe proefkonyn vervang.

Vervolgens word, onder luid musiek en gejil, ‘n krullende kobra aan sy bek opgehang en behendig met ‘n mes oopgekloof. Die fris straal bloed uit die vetlyf word in ‘n bottel opgevang, met ‘n ander vreemde vloeistof gemeng en dan te koop aangebied.

Aan kopers ontbreek dit nie. Jonk en oud staan nader, geldjie in die hand, en die bottel word soos ‘n Nagmaalsbeker van die een na die ander aangegee. Een oubaas (dalk nog ‘n giftige vryer?) haal selfs nog ‘n paar verkreukelde note te voorskyn vir ‘n ekstra enetjie vir die pad.

As jy dink dat alles verby is, word so ‘n donker, jellierige ding uit die dooi slang gegrawe – die galblaas. Die produk word entoesiasties by diegene met oogprobleme opgevysel. Niemand koop egter nie.

Uiteindelik verdwyn die verwerpte stuk binnegoed met die ander oorblyfsels van die slang in die kombuis om “heilsame” sop en bredie te word.

‘n Vreemde aroma is juis uit daardie rigting aan’t aansweef – en skielik is hoender-dinges-sosaties nie meer vir jou so ‘n afstootlike gedagte nie.
(HvD)