STEM VIR ONS BERG!

More uit Melkbos

Haai, roer julle en stem vir ons berg!

Die indrukwekkende Tafelberg is een van die kandidate vir die sewe nuwe natuurwonders van die wereld.

Trouens, hy’s een van die 28 top-finaliste.

Maar in Die Burger lees ek die Suid-Afrikaners stem maar traag. Van Tafelberg se ondersteuners tot dusver is 98,2% buitelanders.

Dis “Swak, Piketberg!” verby.

Gaan na www.votefortablemountain.com om te stem.

Stem nou vir die blerrie berg, man, sou Nataniel gese het.

Stem vroeg, stem reg, stem dikwels! (HvD)

EPIDEMIE VAN 70’S

More uit Melkbos

Sewentigste verjaardae is nou ‘n epidemie onder die Klas van ’57 – dit woed in die laaste 24 uur van Makhado tot Tshwane kan ‘n mens sê as jy moedswillig wil wees.

Gister was Piet Henning van Louis Trichard 70; vandag kom Leon Engela van Pretoria aan die beurt.

Leon was in 1957 saam met my in matriek aan Potch-Volkies. Ons was saam in die Jack Pauw-koshuis. In 1958 was hy, soos ek en Piet, ‘n ienk in Tukkies se Kollegetehuis.

Op die modderbadfoto aan die einde van ons ienk-jaar glimlag hy breed. Hy is naaslinks. Heel links is dr. Jan Conradie, bloed-kenner van Pietermaritzburg, en regs wyle Coen Dreyer, Springbok-gholfspeler van Rustenburg.

Die outjie met die snorretjie agter Leon is ekke.

Leon was van New Redruth. Alberton. Al vir baie jare lank is hy een van Pretoria se top-ginekoloë. Hy en Piet is groot maats wat graag saam kuier.
Vat so met jou 70ste, Leon. (HvD)

PYPROKER PIET ROOK DIE PYP

Kollegedae: Piet (heel regs) in die modderbad, met pak en pyp as lid van Kollege se berugte bierklub, en as harvogtige senior wat genot put uit ‘n Ienk se swaarkou aan die “pil”.

More uit Melkbos

‘n (Ryk) vriend het geglo jy hoef nie werklik ryk te wees nie; jy moet net “ryk maniere” hê. Ryk maniere – ek meen dit is wat Piet Henning van Sweetwaters, Louis Trichard, van ons gewone vaal Boertjies onderskei het toe hy in 1958 uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies se Kollegetehuis opdaag.

Daarmee bedoel ek nie dat ienk P.B. Henning hom “opstêrs” gehou het of iets nie. Inteendeel! Dié lekker ou was dadelik 100% een van ons, net ‘n fyner jintelman as die res – ‘n feit wat ook weerspieël is in die indrukwekkende repertorium oneerbiedige “rugby songs” wat hy geken het.

Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as “Die maan skyn so helder op my p….”. en so aan voort, wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet.

(Ons het ook gesing “Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel…” en “Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink” op die maat van “Pale Toe” – taamlik “voorstedelik en banaal”. )

Daarteenoor het Piet se repertorium gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd!

In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek The Fountainhead present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. Dat hy toe al van The Fountainhead bewus was en sy waarde besef het, spreek boekdele vir die skenker se stoffasie.

Met harde werk, waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Zimbabwe geword, ‘n werkskepper van die eerste water en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie.

Die pyprokende Piet het die pyp gerook!

Soos vir ander wit boere in onse buurlandjie was die laaste jare weens al die onbekookte grondeise vir die Hennings egter ook maar taai.

Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was meermale die slagoffers van gewapende plundertogte deur aggressiewe bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare.

Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop. Die Hennings moes enkele jare gelede magteloos toekyk toe ‘n massiewe weermag-hyskraan ingespan is om hul waardevolle eiendom op polisievragmotors te laai.

Van ‘n hofbevel dat die plunderaars daardie plaastoerusting moet terugbesorg, het – soos van hope ander hofbevele in hul guns – dadels gekom. Van die buit is tot in die afgrond verniel. Die res is deur die polisie uitdagend verdeel en uit die Chiredzi-omgewing verwyder.

Vandag, Woensdag 5 Mei, vier Piet sy 70ste op sy plek van herkoms, Louis Trichard, waar hy nou weer die meeste van sy tyd deurbring. Oor sy kop hang verskeie swaarde, onder meer die swaard van Zimbabwiese “regspleging” omdat hy weier om te net te swig voor die pogings om hom en van die familiegrond te boender, asook die swaard dat hul mooi opstal vir ‘n sogenaamde “favoured new lady-farmer” opgeëis word.

Die viktimisasie is geweldig, en Piet moes net ‘n week gelede weer ‘n dag in die smerige gange buite die hofsaal van Chiredzi rondhang en wag om verhoor te word. Geen klagstaat is nog teen hom uitgereik nie, maar hy bly op dagvaarding.

Intussen veg Piet moedig aan vele fronte en in vele forums vir kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het.

Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, wonder ek dikwels. Ek sou al lankal tou opgegooi het. Maar Piet is een van diegene wat ligstraaltjies sien waar dit vir ander net duisternis is.

Vir sy 70ste kan ek hom niks beter toewens nie as dat daardie straaltjies uiteindelik sal kulmineer in ‘n sterk, helder straal wat sy geduld, moed en inspanning ryklik sal beloon. (HvD)

UIT OU ALBUM

Klein wereldjie – te klein foto’s.

Jammer, diegene wat kla die foto’tjies van Disneyworld se “It’s a small world”-tonnel (vorige blog) is te klein om iets wys te word. Sit dit op die rekening van mnre. Disney se webwerf.

Hier’s ene uit ‘n eie ou foto-album van 1976. (Goeie kamera, goeie film, goeie fotograaf!)

(HvD)

KLEIN-KLEIN WERELD

More uit Melkbos

Een van my helderste herinneringe aan die Van Deventers se besoek aan Disneyworld in Orlando, Florida, op Oujaarsdag 1976 was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.

Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world”* in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘ t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.

Sondag by die André Rieu-konsert by die Grand West Casino het die “small world”-gevoel my weer beetgepak – hierdie keer nie tuisgebring deur Disneypoppies in die Magic Kingdom nie, maar deur bekende gesigte in ‘n massagehoor.

Hoeveel mense was in die arena ingepak – 6 000, 7 000? Maar oral duik bekendes op.

Ons het skaars sitplekke 18 en 19 ingeneem in blok A, ry R, toe Tokkie vra: Is dit nie Jan Liebenberg daar links nie? Inderdaad, Jan en Joe van Melkbosstrand.

Nie ‘n minuut later nie: hier skuif Hermias en Dolores Laubscher van HDL-juweliers in Bloemfontein verby.

Pouse tik ‘n vrou in die ry agter ons my op die skouer: “Is jy nie Hennie van Deventer nie?” Dit blyk sy is Ralie Herbst van Pretoria. Haar oorlede man, Wally, was saam met my in matriek op Volkies, Potch, in 1957. Sy was toe in standerd 8. In haar geselskap is Justus Kruger, n dokter van Kaapstad. Hy, ontdek ek, is ‘n neef van Willie Hartzenberg wat ook saam met my in matriek was.

Net daarna kom Piérre Theron dagsê. Ons was in Bloemfontein amper bure. Deesdae woon hy en Erika op Bothastrand in die Suid-Kaap. Hulle sit net skuins agter ons.

Toe die gordyn sak, hoor ek iemand sê: “Ek ken hierdie oom se gesig”. Hy stel hom bekend as Fraser Muller. Ons was saam in die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein.

Ons skuifel uit. Van iewers sê ‘n stem: “O, julle is ook hier”. Dis Annette Dippenaar van Melkbos. “Ek wou sê ek het jou en Awie op die groot skerm gesien,” merk Tokkie op.

Vyf tree verder kry ons Frik van Deventer, oud-LP, en sy vrou, Johanna, nou van Bettysbaai.

Lukas en Rina Theron van Melkbos saam met wie ons gery het, wag ons in met die nuus: “Julle sal nie raai langs wie ons gesit het nie.” Niemand anders nie as ons vriende Flip en Linda Nel van Blouberg.

Buite kry ons Salie de Swardt, oud-kollega by Naspers, en sy vrou, Lisa.
Salie berig hulle het ook baie bekendes raakgeloop. Hy skryf dit daaraan toe dat die gehoor, na sy oordeel, oorheersend Afrikaans was. En middeljarig/bejaard!

Dalk het Salie ‘n punt beet. Nietemin: dit bly ‘n klein-klein wêreld (HvD).

* Die lirieke van “It’s a small world”

It’s a world of laughter
A world of tears
It’s a world of hopes
And a world of fears
There’s so much that we share
That it’s time we’re aware
It’s a small world after all

It’s a small world after all
It’s a small world after all
It’s a small world after all
It’s a small, small world

There is just one moon
And one golden sun
And a smile means
Fiendship to every one
Though the mountains divide
And the oceans are wide
It’s a small world after all

It’s a small world after all
It’s a small world after all
It’s a small world after all
It’s a small, small world