BAL-HORIGE BALLONNE

More uit Melkbos,

Watter tonele in Jamie Uys-flieks het my laat lag? Die antwoord op hierdie vraag verskyn gedeeltelik in my vorige blog.

Watter toneel uit hope wat baie snaaks was, het Jamie Uys self die lekkerste laat lag? Die antwoord verskyn in my boek Byl in my bos (Griffel-Media), waarin anekdotes voorkom oor tydgenote wat reeds uit my “bos”: gekap is. Een van hulle is dié kampioen-filmmaker wat op 29/1/1996 oorlede is.

Ek haal uit Byl in my bos aan:

“Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunsteling-toneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The Gods must be crazy.

“Wat het die veteraan-rolprentmaker se eie lagspiere die messte geprikkel? Die vraag het hom geen oomblik laat twyfel nie. Dit was in Funny People: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp gribbelrige ballonne te verpak.

“Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.

“Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.

“In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af gelits het, het sy eie storie vertel.”

Ek wonder hoeveel fliekgangers met Jamie sal saamstem dat die ballontoneel sy snaakste was. (HvD)

KLEIN “JAKHALSIES”

More uit Melkbos

Die Afrikaanse prent Jakhalsdans – wat om die een of ander duistere rede van die fliekgangers in Bayside, Kaapstad, weerhou word – is op die oomblik een van die trefrolprente in Suid-Afrika – nommer vyf op die lys van geldverdieners ná voorspelbare loket-suksesse soos Iron Man2 en Clash of the Titans.

Nou-ja, laasgenoemde twee is nie my kos nie. Maar Afrikaanse rolprente – met uitsluiting van die stuitighede van Leon Schuster – lok my nogal. Ek is ‘n Jamie Uys- en Emil Nofal-liefhebber.

Waar Lord Oom Piet (Jamie Uys) so opgetof in sy Skotse edelmanklere sit en vir diegene om hom knor: “Laat net een donder lag,” was een van die lekker toneeltjies wat ek uit ‘n Afrikaanse fliek onthou. Ook die hektoneel in Daar doer in die Bosveld en die bladskudtoneel in Johannesburg se middestad in Rip van Wyk.

Jakhalsdans se Emil Nofalagtige-skote van Loxton en die Karoo is vir my een van sy pluspunte. Die storie van die pogings om geld in te samel om die Loxton-skooltjie te red, is plek-plek aandoenlik.

Oor een toneel slaan die uwe egter sy hande saam. Dis ‘n toneel wat ‘n mens om verkeerde redes sal onthou. Ek verwys na die ene waar die onderwyseres Mara Malan (Elizma Theron) deur haai Karoosand en -bossies na die kluisenaar-sanger Ruan Landman (Theuns Jordaan) afsit om teen hom te gaan uitvaar.

Sy drafsloop so kloppetie-kloppetie dat dit klap … wag daarvoor … op haar swart stiletto’s!

Wie in die Karoo op hoë hakke deur die veld kortpad vat, sou waarlik laf wees. Iemand wat so ‘n toneel op film vaslê vir enigiets anders as Candid Camera is ‘n onbedoelde grapjas.

Ai-ai, mense, dis sulke klein “jahkalsies” wat soms nog in Afrikaanse flieks te hard huil.

Om op ‘n positiewe noot af te sluit, meld ek graag dat een wysheid van die bruin skoolhoof n mens nogal aan die dink sit. Wanneer Mara klaar getier het (en sy tier, hoor!) berispe hy haar met die volgende woorde:

“Hier tree ons so op dat ons mekaar die volgende dag nog in die oë kan kyk.”

Dis nogal ‘n gesonde riglyn vir alle mense, alle seisoene. (HvD)

OM SAAM TE POMP

More uit Melkbos

“My hart pomp modder.” Só het ons in die jare her ons ongelukkigheid op geen onsekere wyse nie te kenne gegee. Ek is seker die harte van die Stormers se ondersteuners gaan modder pomp as die Kalfiespan uit Pretoria hulle Saterdag pak gee, maar dit daar gelaat.

In flieks (en nie net in flieks nie!) pomp ouens mekaar vol lood. Kinders met te veel energie pomp mekaar in die ribbes.

Jy kry petrolpompe, waterpompe, fietspompe, windpompe, asmapompe en wat nog.

Pompjoggies tap vir jou brandstof in – hulle kan ook jou motor se bande pomp (tog nie wiele nie, hoor, want dan is die taalhoeder Ben van Rensburg van Langebaan op jou!).

Die bloed pomp deur jou are.

Hiermee is die toepassings, metafore en uitdrukkings in die volksmond met die begrip pomp iewers in die konfigurasie ver van uitgeput.

Maar pomp beteken aksie en energie – daaroor sal ons saamstem. Enkele ander woorde: pols, bruis, woel, blaas ….

Dis om ‘n medium te wees van Afrikaans wat bruis van lewenskrag en energie dat die tydskrif Pomp in 2008 sy buiging gemaak het: ‘n dikke derduiwel van 450 bladsye propvol aktuele leestof; visueel treffend en kreatief. Van argitektuur tot wyn (en onderwerpe verby die w in die alfabet) kom in sy bladsye aan die beurt.

Voorste skrywers maak hul potlode daarin skerp. Voorste fotograwe skroef hul fynste lense op.

Nou’s Pomp aanlyn, en ek wil die nuwe webwerf van harte aanbeveel.
Gaan soek hom by www.pomp.co.za en raak verdiep in lewende, polsende … pompende … joernalistiek.

Die man agter Pomp is Hendrik Venter van Griffel Media, wat sy inspirasie onder meer gaan put het uit die Europese joernaaltydskrif Snoecks. Net: Pomp is g’n niks Europees nie. Hy is onbevange Afrikaans.

Griffel is die uitgewer van o.m. die uwe se Byl in my bos. Binnekort verskyn ook my volgende (waarskynlik laaste) humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat, by daardie uitgewer (asook Eugène Terre’Blanche se biografie).

Dit verheug my dus grootliks dat Pomp aanlyn die Afrikaanse boek nie afskeep nie.

Aanhangers van die omstrede en gewilde webwerf Kletskerk sal dankbaar kennis neem van die konneksie met daardie webtuiste.

Volgens Jean Oosthuizen, redakteur van die nuweling, wat ook Kletskerk (www.kletskerk.co.za) bedryf, is die twee weergawes van Pomp soos ʼn Siamese tweeling. “Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Hulle lyk baie dieselfde maar elkeen het sy eie persoonlikheid.”

Die volledige teks van artikels uit vorige uitgawes wat uit druk uit is, word op die internet geplaas, maar net gedeeltes van dié wat nog in druk beskikbaar is.

Oosthuizen maak daarop aanspraak dat Pomp se inhoud tydloos is en relevant bly. Of dit inderdaad die geval vir internetgebruikers is, sal die aantal klikke op www.pomp.co.za uiteindelik bewys.

Klik daarop .. en pomp saam. (HvD)

TWEE GEDIGTE IN GESPREK

More uit Melkbos

‘n Soektog na verseboeke vir ‘n vriend wat ná ‘n beroerte Afrikaanse
poësie van weleer met behae herontdek, bring my by ‘n verslete ene wat deur die uwe in sy standerd-ses-jaar so met kantaantekeninge in dowwe potlood bekrap is dat jy skaars die gedrukte verse raaksien.

Goeie aarde, dit was dalk ‘n manier om die onderwyser se insigte vir latere referensie te bêre, maar getuig nie juis van respek vir die grotes wie se verse daarin gebloemlees is nie. Wil nie vandag dieselfde fout maak wanneer ek twee prag-gedigte van die moderne era in hierdie ruimte aanbied nie. Kantaantekeninge is immers oorbodig.

Ek herinner net dat amper ‘n maand gelede, rondom die Pase, hier ‘n vers van Johann de Lange was met die titel “Google Golgota”. Ek het gedink dis buitengewoon byderwets en kreatief.

‘n Leidraad in Johann se vers is die vermelding van “ ‘n sms van Joan uit Jerusalem”. Daardie Joan is – natuurlik! – Joan Hambidge, wat (soos Paulus) lief is om te reis en te skryf,en te reis en te skryf.

Saterdag loop ek haar raak by ‘n aangename geleentheid van Protea Boekhuis op Phildalphia – ai, daai heerlike skaap en vark op die spit!
Die afloop van ons gesprek is dat sy vir my haar gedig “Via Dolorosa” stuur, wat die oorsprong van “Google Golgota” is.

Met dankbaarheiod vir haar geredelike instemming – omdat die twee gedigte “met mekaar praat” – plaas ek nou vandag hier, aan die vooraand van Hemelvaart, ook haar gedig “Via dolorosa”:

VIA DOLOROSA

Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ‘n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
‘n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ‘n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ‘n tatoe.
‘n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ‘n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ‘n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ‘n raam
op my digitaal.

– Joan Hambidge

Lees en geniet, in samehang met die gedig waar uit syne ontspring het, gerus ook weer Johann de Lange se GOOGLE GOLGOTA:

Sondagmiddag in Kaapstad
en ek kry ‘n sms van Joan
uit Jerusalem: Ek loop nou
die via dolorosa.
Was vandag U sterfdag
sou ons U volg
op Twitter, mekaar sms
of vir laas U profiel
op Facebook besoek, spyt
ons het nie eerder
gevra dat U ons byvoeg
as vriend. Elke blogger
agter sy rekenaar
besig met sy Golgota-scoop.
Die pers sal kameras en
mikrofone in U gesig druk
vir ‘n sound bite, of advies
oor global warming, duisende
websites opgaan in U Naam, promosies,
boek- en filmregte. Advertensieflitse:
Hoe kry ons daardie kleed
weer witter as sneeu?
Regoor die aarde sal kort
oorsigte oor U lewe uitgesaai word,
onderbreek met terugflitse
na die smal stegies,
die keistene waaroor U moeisaam vorder,
nuushelikopters oorhoofs.
Joan, stuur my asb ‘n 8 megapixel foto,
‘n poskaart of brief in Sy handskrif,
of ‘n repie van Sy kleed, ek begeer
iets om op eBay te adverteer.
– Johann de Lange

(HvD)

MAMMAS MIA

More uit Melkbos

Al die Filistyne wat soos ek geglo het Moedersdag is sommer ‘n kommersiele foefie van ‘n slim bemarker, gaan lees Kobus Victor se blog op Litnet.

Volgens sy navorsing het dit uit ‘n werklike ma-dogter-verhouding ontstaan en sommer vroeg ‘n godsdienstige dimensie ook gekry.

Oor Valentynsdag moes ek al insgelyks die kop in skaamte buig, en uitroep: Mea culpa – ek was verkeerd!

Oor Vadersdag en so is ek nie seker nie, maar klaarblykliik moet ‘n mens maar versigtig wees as jy oor hierdie soort spesiale dae die mond vol het sonder dat jy regtig weet waarvan jy praat.

Kobus het by sy stukkie oor Moedersdag ‘n ou-ou foto van sy eie moeder geplaas. Aangesteek deur hom, hier is ‘n foto van my oorlede ma, Baby, en Tokkie se ma, Marietjie (nou 96), saam met ons seun, Johan, circa 1975 op Buffelsbaai.

Ekskuus, ma’s, dat ek oor Moedersdag maar altyd so koeltjies was. Die dag toe my vriend Giel de Swardt se ma, Mara, my in ons hoerskooldae op Moedersdag dwing om my ma op Klerksdorp uit Welkom te bel, was ek stamelend, met ‘n mond vol tande.

Mamma mia! (HvD)