Apr 10, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Een grondwaarheid troon soos ‘n obelisk uit bo al hierdie week se miljuisende woorde oor die moord op Eugene Terre’blanche, Afrikanerwoede, Julius Malema se onbesonnhede, Jacob Zuma se katvoet-lopery en wat nog. Dit is dat donker dae op Suid-Afrika wag as verdere verwydering tussen die rasse ons voorland is.
As Suid-Afrika sou brand, is al sy inwoners – swart en wit, militantes en vreedsames, opruiers en versoeners – immers saam in die verloorkamp. Dit behoort elke verstandige mens tog te besef.
Gelukkig was al die uitsprake in hierdie week van waansin darem nie ontmoedigend nie.
Prof. Andreas van Wyk, oud-rektor van die Maties, se kort en kragtige antwoord op Litnet op die vraag oor watter reperkussies hy op die moord op die AWB se “Groot Karwats” voorsien, was werklik bemoedigend.
Sy verwagting – en hoop – “is dat dit die middelgrond in ons samelewing sal versterk en sal bydra tot die marginalisering van die ekstremiste”.
Hierdie marginalisering het, volgens hom, reeds grotendeels ten opsigte van die ver-regse groeperinge plaasgevind. Hy verwag dit sal toenemend ook aan die linkerkant begin gebeur, waar mense nog onder die “struggle”-vlag bymekaar gehou is, ook al deel hulle nie die oortuigings van die Malemas van ons land nie.
“Dit skep geleenthede vir sterk leierskap binne en buite die ANC.”
Prof. Andreas, ter wille van ons land hoop ek van harte jy lees die tekens reg.
Mag die ANC se skerp verklaring aan “kameraad Malema” se adres ‘n nuwe seisoen van sterker leierskap uit daardie oord inlui.
Maar mag ons almal tot nugterheid gedwing word en twee keer dink oor ons eie bydrae tot versoening – of polarisasie (HvD)
Apr 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Om Barnie Human van Bloemfontein kon altyd met smaak vertel van die ou wat so ‘n ekspert was op die smaak van drank. Gee vir hom enige eksotiese ding om te proe, en die ding se naam rol dadelik van sy tong.
Moeg om elke keer getroef te word, gee hulle hom ten einde laaste ‘n glas water. Hy proe … trek ‘n vies gesig … proe weer. “Nee, julle het my,” kom sy antwoord toe. “Ek het nie n idee wat dit kan wees nie. Maar een ding kan ek vir julle sê: Dit gaan nie verkoop nie!”
Vra julle my my oordeel oor die nuwe 50/50 wat gisteraand met groot fanfare op TV2 geloods is, moet ek ongelukkig dieselfde sê: “Dit gaan nie verkoop nie.”
Ai, as ‘n mens darem dink aan hoe natuurliefhebbers voor die ou 50/50 vasgenael gesit het. Maar telkens was daar die een of ander wysneus wat beter geweet het. Gesigte het gekom en gegaan, en program-inhoud is gedurig “vernuwe”
Met elke modernisering is die essensie vermurwe. Mettertyd het 50/50 al hoe minder vir hierdie kyker noodsaaklike kykstof geword.
Die doodskoot was die breekspul met Johan Botha se span, wat – ironies genoeg – nadat hy al onder die valbyl gekom het, nog pryse ingeryg het. Eers het ons gehoor die durabele Botha het opdrag gekry om “weer te gaan dink” oor die program. Daarna is hy, klaarblyklik gesteurd, oor Kyknet toe. Sy span is sak en pak agterna.
Nou sit ons met so ‘n byderwetse glans-en-glinster-konkoksie. In die liggewig- aanbiedersgeledere is, behoede dit, onder andere selfs ‘n Amerikaner, wat klaarblyklik ‘n masjien-verknogte is. Ken daardie jappie die reuk van die veld?
Toe ‘n sesjarige kleinkind (wat spesiaal wakker gebly het) vra: “Maar, oupa, hoekom wys hulle dan motors op ‘n diereprogram?” was die koeël klaar deur die kerk. Hy en hope ander jong kykers sou liewer dadelik wou terug “dierekanaal” toe. Nie lank daarna nie, was ek ook aan die gaap.
Een klik en die skerm was donker.
Dalk het ek die beste deel van die program gemis. Ek wonder egter. Het hulle werklik iets nuuts oor die myne in die wynland gehad?
Nee wat, die groenes het oorgevat met hul eie defenisie van ‘n natuur- of omgewingsprogram wat klaarblyklik so wyd is soos die Heer se genade. My hart is nie geraak nie. As ek ‘n projeksie moet maak oor wat in die toekoms wag, is dit met wanhoop.
Pleks dat hulle die naam 50/50 ook maar argief toe stuur. Ek assosieer dit met iets van ‘n ander stoffasie. (HvD)
Apr 5, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More op Melkbos
In die onstuimge 80’s – tot in die 90’s – was drie oud-leerlinge van my skool, Potchefstroom-Volkies, sterk op die voorgrond in die intense Afrikanerpolitiek.
Van links na regs kan ‘n mens maar sê, was hulle Pik Botha (hoewel hy die bynaam Pikkewyn eers gekry as as intervarsitydirigent van Tukkies in die vroeë 50’s), Ferdi Hartzenberg en Eugene Terre’Blanche wat Saterdag op sy plaas by Ventersdorp vermoor is.
Gegewe die ligging van daardie stoere skool in die ou Wes-Transvaal, is dit amper vanselfsprekend dat al drie sterk gevolge onder ander oud-Volkies opgebou het. Dit kon tot ietwat ingewikkelde situasies lei.
Een was toe Volkies in die 90’s met die tradisie van wildsfeeste begin het, waar vir fondsinsameling, vriende en tydgenote by verskillende lapa’s saamkuier.
Om die tradisie skouspelagtig te verewig, is besluit om ‘n tamaaie feesvuur simbolies te laat aansteek deur iemand wat ook ‘n paar gevleuelde woorde kon spreek.
Maar wie? As die keuse vir Groot Gees van die Aand op een van die prominente politici sou val, sou dit vanselfsprekend aanstoot gee aan ondersteuners van die ander twee.
Skoolhoof Arrie van Rensburg kry toe ‘n blink ingewing – trek ‘n regter nader!
My matriekmaat regter Willie Hartzenberg was die ideale kandidaat –
politiek onbesproke, spitsvondig en van hoë aansien. Hy en sy vrou, Irna, self ‘n oud-Volkie wat uit eie reg haar merk gemaak het as president van die SAVF, ry toe uit Pretoria oor vir die aand.
Die kuier was al mooi op dreef en skemer het begin daal toe die klomp feesvuur se kant toe staan. Dit sou ‘n vuur duisend wees. Net toe bemerk iemand egter onraad. Vrolike vlammetjies knetter prematuur.
Nadere ondersoek bring aan die lig dat niemand vir Jim, die “boiler boy” , mooi gemaak verstaan het waar sy verantwoordelikhede daardie aand ophou nie. Nadat hy oudergewoonte die hout gekap en die vuur gepak het, gaan hy toe getrou oor na stap drie, en trek ‘n vuurhoutjie.
Dat dit ‘n mooi vuur was, is nie oor te redekawel nie. Dat die Groot Opening heelwat van sy kleur verloor het, is egter ook waar. Maar dan aan die ander kant: ‘n stewige bedrag is ingesamel sonder om op politieke tone te trap (HvD
Apr 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Sit maar twee K’s by die KKNK, en wel vir die kuns-koeterwaals wat die kunstenaars-garde van tyd tot tyd daar praat.
Op TV-Nuus verduidelik ‘n nooientjie gisteraand doodenstig van ‘n foto-uitstalling waaar die foto’s met die tegniek van “story telling” stories vertel.
Om ‘n storie te vertel deur stories te vertel – klink vir hierdie ou wat net vir die plesier sy kamera laat klik, nie na ‘n buitengewone kunsvorm om onder die knie te kry nie.
Of bestaan ‘n ander manier om ‘n storie te vertel as om dit te vertel? (HvD)
Apr 1, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die ou vlag – diepe hartsaak wat hy was – is, wat hierdie ou gryskop betref, finaal gestryk, opgevou en in kas agter slot en grendel geplaas.
Ek het nie die drang om hom daar te gaan uitgrawe, iewers te hys of rond te swaai nie.
Ek hys hom wel, simbolies, vandag in hierdie blogruimte omdat ene Sarie in Die Burger se SMS-kolommetjie nogal ‘n kolskoot-vraag stel.
Sarie wil weet: vryheidsliedere en die ou vlag – wat is die verskil?
Dit sou insiggewend wees om mense soos Gwede Mantashe en Julius Malema se filosofiese bokspronge hieroor te hoor.
Een verskil, volgens hierdie waarnemer, is dat die vryheidsliedere groepe aggressie, selfs moord, aanmoedig. Vertoning van die die vlag kan dalk as uitdagend ervaar word, maar dit is klaarblyklike tog vreedsaam.
Goeie rede tot twyfel bestaan egter of dit die verskil is wat die boerehaters sal wil uitwys! (HvD)