Apr 22, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Nee, Tokkie was nie op Die Burger se voorblad nie, al was haar sesjarige kleinkind kinderlik opgewonde en onwankelbaar in sy oortuiginging.
“Ouma is op die koerant,” het hy sy ma meegedeel.
Nadere ondersoek bring aan die lig dit is nie ouma nie, wel Pieter-Dirk Uys in sy Evita Bezuidenhout-gedaante.

Ouma is nie rêrig geamuseer nie. Sy glimlag bra strammerig. As sy met iemand verwar moet word, sal sy bepaald nie Evita Bezuidenhout vir dié doel kies nie.
Op ‘n foto wat die aand van ons verlowing geneem is – op 15 Maart 1966 – lyk sy, volgens sommige, soos ‘n jong Jackie Kennedy. Heelwat verkiesliker, sou ek self ook reken.

Eisj – maar dié misverstandjie gee oupa kans om sy Pieter-Dirk Uys-versie oor ‘n ander stukkie identiteitsverwarring af te stof.
Dit het in my 2003-hekelbundeltjie, “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” verskyn. Die titel is “Ontnugtering”:
Met ‘n pistool teen’ie kop
Van Pieter-Dirk Uys,
Sis ‘n boosaardige rower:
“Haal uit en wys!”
Met bewende vingers
Word die rok oopgeknoop;
“Haai antie!” gil hy,
En lê daaikant toe oop!
(HVD)
Apr 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Na aanleiding van Andre Rieu en sy Stradivarius, onthou ek skielik vir Stephan Lacocksi met sy viola.
Oor hom is ‘n versie in my hekelboekie van 2003, “Polisie, polisie, ons reenboog is geroof”:
OUDE DOOS
Die konsertmeester
Stephan Lacocksi
dra sy viola
in ‘n stukkende boksie
– ‘n ware virtuoos
uit die oude doos! (HvD)
Apr 20, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Blomkwekers in die verre Kaap, BBP’s, bruidegomme, begrafnisgangers – die lys is eindeloos van mense wat van lugvervoer afhanklik is/was en al dae lank met hul vingers sit en speel terwyl die aswolk-ellende voortduur.
Ai, ‘n mens sien die moedeloosheid en frustrasie op die rye, rye gesigte van teleurgestelde passasiers as die nuuskameras so op en af by internasionale lughawens swiep. Die glimlag het inderdaad in lugdienstoue ‘n skaars kommoditeit geword terwyl die temperatuur om vasgekeerdes se krae sigbaar styg.
Een ontstellende stukkie nuus wat die uwe op Facebook raakgelees het, het nog nie eens Suid-Afrika se koerante gehaal nie. Dit is dat André Rieu, “Koning van die Wals”, in Europa vasgekeer sit – en Saterdagaand moet sy Stradivarius sing en swaai by Sun City se Super Bowl waar mense lag-lag R950 stuk opgedok het vir die voorreg om dié meester se eerste Suid-Afrikaanse konsert te sien.
Die jongste nuus is dat hy via Spanje sou probeer vlieg – dan hoop ons maar die “rain in Spain” (figuurlik bedoel) val nie “mainly on his plane” nie !
Die warboel van emosies by mense wat deur die vulkaan op die grond vasgekeer is, kan tot vrugbare verbeeldingsvlugte (ek gebruik die woord “vlugte” met sardoniese doelbewustheid!) aanleiding gee. Daar moet aangrypende stories wees van huwelike en begrafnisse wat belemmer is, hartseerstories oor droomvakansies wat daarmee heen is en groot sakeverliese; dalk ook skreeusnaakse stories van onwelkome besoeke wat uitgerek is.
Ek is nou nie ‘n ou vir skoonmagrappe nie (my eie skoonma is ‘n engel), maar die potensiaal is legio.
“Ouma, wanneer gaan pappa sy toertjie doen?”
“Watter toertjie, my liewe kind?|
“Ouma hy’t gese as ouma nog een nag onder sy dak is, klim hy teen die mure uit!”
Een weggesteekte Burger-storie wat hierdie bejaarde blogger nogal laat glimlag het, is van die Kaapse ouma wat baba oppas terwyl pappa en mamma oorsee rondrits. Terwyl hulle nie ‘n vlug terug kan kry nie, word nie net kleinding se “slapies” by haar meer nie, maar ook die vuil doeke.
Die berg onwelriekende babadoeke hoop in die vullisdrom op, maar … o wee.. nou staak die munisipale werkers terselfdertyd – slegte tydsberekening! Uiteindelik moet ouma ‘n omkoopgeldjie uit haar handsak skud om die onaangename vullisdrom verwyder te kry.
Met die baba self het daardie uitweg natuurlik nie bestaan nie!
Wonder hoeveel derduisende euro’s, dollars en ander valuta is aan selfoonroepe bestee om oor vasgekeerdes se wel en wee aan geliefdes, sekretaresses, sakekontakte en wie nog almal te rapporteer en om krisismaatreëls te tref.
Een dag was ek op ‘n vlug wat weens lae wolke nie op O.R. Tambo kon land nie. Die joviale vlieënier het vrolik verduidelik ons gaan vir ‘n “kort vakansietjie” na Durban.
Een passasier in die ry agter my was in ‘n toestand. Hy sou sy boesemvriend die middag op Vanderbijlpark in die eg verbind. Boeta, jy moes sien hoe hy moes bontstaan om per selfoon alternatiewe reëlings te tref.
Net toe hy wou moed opgee, bel hy ‘n studentemaat op die gholfbaan raak, en pleit so mooi dat dié hom bereid verklaar om net 9 putjies te speel ten einde as huweliksbevestiger vir sy vriend se vriend te gaan optree.
Nie almal in nood het sulke welwillende maats nie, vrees ek. Dus: “Vrou, ken ons werklik nie nog iemand wat ons kan bel nie?” Of: “Gert-Jan, jy’t my dalk al vergeet, maar ek sit nou hier op Schiphol …”
Die koste vir lughawens moet ook geweldig wees – o.m. aan toiletpapier. Want is dit nie ‘n vreemde reaksie van die wonderlike spysverteringstelsel nie: dat sy aktiwiteit dikwels gestimuleer word deur papaja-in-die-waaier-situasies soos hierdie?
Hoe dieper jy in die knyp raak, des te meer moet jy knyp! (HvD)
Apr 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
By die gedenkdiens vir die 96-jarige Jan Dreyer gister op Melkbos was o.a. teenwoordig die man wat ná sy 90ste verjaardag ‘n rekenaar aan hom verkoop het.
Die teenwoordiges het gehoor dat Jan op 87 nog tennis gespeel het. Hy was al verby 90 toe hy vir die leraar, dr. Francois Hanekom, sê hy wil tog nooit met n kierie loop nie – “kieries is net vir ou mense”.
Jan (4 Julie 1913 – 10 April 2010) was in elke opsigte n formidabele man: groot van gestalte met reuse-hande, vlymskerp van gees en verstand en tot weke voor sy dood ook na liggaam nog merkwaardig sterk, fier en lewenskragtig.
By die tee ná die diens sien ek vir Richard, onse Melkbosse rekenaar-ghoeroe. Ek vra hom hoe hy by die uitgebreide Dreyer-familie inpas.
“Ek is die een wat ná 90 aan Oom Jan ‘n rekenaar verkoop het,” lag hy. “Toe hy by my winkel instap en sê hy soek n rekenaar, dag ek og, og, hier kom moeilikheid. Hy het egter net ‘n paar vrae gevra – en toe sommer so op sy eie rekenaarvaardig geraak.”
‘n Jaar gelede het Jan, op my uitnodiging, by die Probusklub van Blouberg kom praat oor Melkbos in die ou dae. Hy het dit gedoen met ‘n flinkheid, ‘n vlotheid, en ‘n georganiseerdheid wat sy toehoorders vol bewondering gelaat het. Hy het nooit ‘n nota geraadpleeg nie.
Die kenmerkende droë Jan Dreyer-humor oor hul gesin van 14 se vakansie-avonture het bygedra tot die genot om na hom te luister . Hulle het die melkkoei, drie skape en ses hoenders van Philadelphia saamgebring. Aan die einde is net die melkkoei saam huis toe. Die skape het tjops geword. Die hoenders is met verdrag gaargemaak nadat hul taak om eiers te lê, afgehandel was.
Een van die Probuslede wat Jan by die ete vlugtig ontmoet het, was Danie Krynauw. Later loop hy hom by Pick n Pay raak. “Jy sal my seker nie onthou nie …” begin Danie. “Nee, ek onthou jou goed. Jy is Danie Krynauw,” kom dit blitsvinnig. Danie kon sy ore nie glo nie oor die man se geheue.
Dr. Hanekom het in sy treffende rede na die Dreyers verwys as ‘n “clan”. Toe hy 28 jaar gelede na Melkbos gekom het, het hy gou geleer jy skinder nie van ‘n Dreyer nie, het hy onder gelag vertel. Kanse is goed dat jy van een Dreyer by ‘n ander skinder!
My eie paaie met die Dreyers het in 1958 in Bloemfontein gekruis toe Hugo Dreyer, jonger broer van Jan, my eerste redakteur by Die Volksblad was. Sy sprankelende, vrolike en lewenslustige vrou, Ans, is ná Hugo se dood met Jan getroud.
Toe ek en Tokkie in 1997 Melkbos toe trek, loop ons weer vir Ans raak, en ontmoet Jan. Die nuwe Dreyer in haar lewe, het ons gou ontdek, was die spreekwoordelike man uit een stuk, ‘n toring van krag vir almal om hom. Daar was ook by hom ‘n hartlikheid en ‘n innigheid wat dit lekker gemaak het om in sy vriendekring te wees.
Ans het kort daarna ‘n invalide geword. Hul heerlike hengeldae by Henties was iets van die verlede. Amper dertien jaar lank het Jan vir sy “sweetheart”, vasgekluister aan die bed, ‘n toegewyde, liefdevolle, opofferende (en soms ook ‘n uiters geduldige, moet ‘n mens byvoeg!) stut en steunpilaar geword.
In ‘n vrugbare lewe was daardie hoofstuk een van die inspirerendste, en een waarvoor Jan nooit genoeg lof en dankbaarheid kon kry nie … nie dat hy dit gesoek het nie. Sy diens was sonder prys.
Mense maak grappies oor “senior oomblikke”. Dan verwys hulle na dowwe oomblikke waarin die ouer mens ietwat warkop raak, sy geheue ietwat in die duister rondtas, ens.
Ek glo ons moet ‘n “senior oomblik” eerder definieer in terme van prestasie, helderheid van denke, flinke humor – van die positiewe kwaliteite wat in Jan Dreyer so ryklik teenwoordig was. Hy was die lewende bewys dat ‘n “senior oomblik” nie ‘n verleentheid hoef te wees nie.
Ek groet Jan Dreyer met ‘n dubbele saluut (HvD) .
Apr 18, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Aan die verspreiding van alarmistiese disinformasie per e-pos, SMS of hoe ookal het ek ‘n hekel, soos my vriende weet. Ek is vasbeslote om my nie te laat vang om ook op daardie wa te spring nie.
Vanoggend het ek amper in ‘n strik getrap ná ontvangs van ‘n boodskap, so oortuigend, so dringend en uit so ‘n betroubare bron (na my oordeel) dat ek kon sweer dis evangelie.
Die boodskap verwys na Cokebottels op die gras van elke derde huis, Simbapakkies, wit lappies, rooi sakkies, wit sakkies, mieliestronke, koeldrankklippies, klippe op opritte, en bakstene wat in allerlei patrone gepak is –alles glo tekens wat deur verspieders gelaat word vir kwaaddoeners wat later kom toeslaan.
Die afsender berig sy het “ ‘n asblik van my kar gemaak, maar
geweet ek beskerm ons buurt”. Sy het die bottels gevolg tot by ‘n huis waar ou mense woon. Sy het seker ses blokke skoon gemaak wat van alle rigtings die huis merk.
My indruk was: dis net ‘n paar uur gelede se nuus. Voor my geestesoog het boonop ‘n toneel opgedoem van die straat waarin ons woon. Alles het gebeur terwyl ek rustig slaap!
By die boodskap was die dringende versoek dat dit sonder verwyl verder versprei word om die buurt op sy hoede te stel. Gelukkig het ek verkies om eers die bron te bel voordat ek bure en vriende die skrik op die lyf begin jaag.
Toe moet ek hoor dit kom van “iemand wat iemand ken” en die herkoms is heeltemal ‘n ander geweste.
Ek het opnuut gewonder: steek in sulke stories enige geloofwaardigheid of word dit deur mense met vrugbare verbeeldings uit hul duime gesuig?
Hoop nie hierdie ou man word ontnugter nie, maar hy is nogal geneig om te dink dis soos kettingbriewe – die ene versinsel. (HvD)