TAMATIESTRAAT

Middag uit Melkbos

Praat-praat in Tamatiestraat – dis die titel van ‘n nuwe HvD-humorboekie wat oor ‘n maand of wat by Griffel Media verskyn. Die uwe brand van opgewondenheid.

Die “honderde stories” in die boekie kom hoofsaaklik uit my eie twee bloggies, “hvd se blog” op Yahoo by www.hennievandeventer.com/hvdblog en “uit melkbos” op LitNet by http://letterdash.com/hvandeventer. Stukkies is herwin uit die dagblad Beeld se My-Storie-rubriek by www.beeld.com.

Griffel stel Tamatiestraat op sy webblad soos volg bekend – wat hier staan is dus op sy rekening:

“‘n Arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy ’sterfbed’ onder hom uit gekaap. Ouma se rooi nagrok verdwyn geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies. ‘n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

“Hennie van Deventer se plesierige storiebundel weerspieël allerlei verleenthede, skades en skandes wat hy in sy kleurryke omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. Met die fyn oor van die joernalis het hy ‘n ryke storie-oes opgebou. In Praat-praat in Tamatiestraat is letterlik honderde stories met ‘n vaardige pen verewig – eg of apokrief, en plek-plek met meer as net ‘n knippie stout!

“Sy wye repertoire huppel ligvoets oor ‘n 70-stuks kostelike hoofstukke. ‘n Legio vrugbare temas word ontgin: die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laatliefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

“In sy vyftiende boek keer Van Deventer met ‘n uitbundige knal terug tot sy oorspronklike forté: humor. Treffer-lagboeke soos Scoops en Skandes, Flaters en Kraters en Oos, Wes – Reismoles! vind in Tamatiestraat ‘n waardige stalmaat.

“Die grimmigste suurknol sal sukkel om nie plek-plek hardop te lag nie vir hierdie bundel – van die vermaaklikste wat Afrikaanse boekrakke in ‘n lang tyd tref. Tamatiestraat kan met vrymoedigheid in die hand gestop word van elkeen met die behoefte om ‘n paar sorgvrye ure aan die alledaagse sleur te ontsnap.”

Stilletjies hoop ek maar blogvriende sal dié papier-bloggies geniet – met of sonder ’n “bloggie eisj”! (HvD)

NET SULKE VARKE!

More uit Wildernis

Hiënas wat hulle soos varke gedra, ken die Van Deventers uit eie skande en skade. Hulle is een van die handelsmerke van Sabiepark in die bos.

Met varke wat hulle soos hiënas gedra, was ons onvertroud. Tot gisteroggend hier in die nasionale Wildernispark in die Tuinroete.

Toe ons wakker word, staan nie een vullisdrom regop nie. Die onbehaaglike inhoud lê verstrooi van hut tot hut.

Nou wat de drommel?

Die geheim is gou deur een van die park se manne opgeklaar. Die bosvarke was op een van hul periodieke strooptogte.

Bosvarke! As dit hiënas was, sou jy die verskil in die resultaat nie juis kon raaksien nie. (HvD)