15 MAART IN DIE VAN D’S SE HUIS

More uit Melkbos

Sommer net omdat vandag 15 Maart is en die telefone van vroeg in die Van Deventerhuis lui, sit ek hierdie mees resente foto van mev. TvD op. Dit is tien dae gelede op ons stoepie in die Nasionale Wildernispark geneem terwyl die son oor die Touwrivier wegsak.

Tokkie is op 15 Maart 1946 gebore – maak maar self die sommetjies.

Kort nadat ons in 1966 getroud is, het wyle prof. Pikkie de Villiers. adjunk-rektor van die U.V. een aand by ‘n onthaal in Bloemfontein beweer sy lyk soos my dogter. Sy was inderdaad die toonbeeld van jeugdigheid: fyn, broos en weerloos in haar wit aandrokkie.

Wonder wat sy kommentaar nou sou wees as hy my sou sien waar ek met my spierwit grys hare, omvangryke maag en kierie by my “jong vrou” probeer byhou. (HvD)

IS EK ‘N FOOITJIEVREK?

More uit Melkbos

Melkbos word al hoe meer ‘n mekka vir uiteters. Ons dorp bied ‘n wye keuse van restaurante, style, spyskaarte … en pryse.

Ene waarvan die Van Deventers nogal hou, is ‘n informele seekos- restaurant, wat mense van heinde en ver lok met sy tradisionele vis en tjips.

Sy kurkgeld is aan die hoë kant: R30 vir die eerste bottel en R40 vir die tweede.

Ek kla nie oor kurkgeld nie; buiten dat jy bedien deur ‘n kelner word, moet die eetplek die glase verskaf en agterna opwas. Die risiko van breek is altyd teenwoordig.

My vraag is egter: moet jy op kurkgeld boonop ‘n fooitjie gee of nie? My inklinasie is nee – kurkgeld is dan juis vir die diens.

Op die rekening word die kurkgeld normaalweg by die prys van die kos getel. Jy word met n totaal gekonfronteer. Die gedagte is blykbaar dat jy op die totaal jou fooitjie bereken.

Ek verkies egter om die kurkgeld af te trek, en net ‘n persentasie van die res van die rekening as fooitjie by te voeg. My sommetjie frustreer klaarblyklik sekere kelners.

Wat is nou reg en wat is verkeerd? Elke mens maak seker maar soos hy of sy wil. Dalk kan iemand tog lig werp op die vraag of my manier van doen op ‘n suinige trek dui! Is ek ‘n fooitjievrek? (HvD)

STROME, STROME VAN STOF

More uit Melkbos

Die wonderlikheid van ons soete taal kom in vele segswyses en uitdrukkings na vore.

Twee in godsdiensverband is al op hierdie blog aangehaal :

i. Die kuddetjie tronkvoëls wat by die Sondagdiens agter die tralies lustig aanhef: “Liewe Vader, sien ons saam, hier op U bevel vergader.”

en

ii. Die begranisondermer wat elke oggend bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Pierre le Roux van Mosselbaai vertel van die leraar van die Karoo wat in ‘n groot droogte die Here se hulp afsmeek, want “ons boere kan nie meer kop bo water hou nie.”

Die reën stort mildelik neer. Die dankbare leraar bid: “Here, ons het soveel stof tot dankbaarheid.”

Pierre kom ook met ‘n mooi Italiaanse ene vorendag wat niks met die kerk of geloof te make het nie, maar te oulik is om onvermeld te bly.

‘n Italianer vra ‘n groep Suid-Afrikaanse boere wat verwag hulle nou eintlik van Fiat-trekkers.

‘n Boer antwoord: “Die beste trekker teen die goedkoopste prys.”

“Meneer,” kap die Italianer blitsvinnig terug: “Jy soek jou vrou dronk en die bottel vol.”

Mooi ene vir “have your cake and eat it,” nie waar nie? – (HvD)

NOODKREET PER SMS

More uit Melkbos

Dat die ouderdom nie vir sissies is nie is ‘n taanmlik oorwerkte cliché.

Gewoonlik verwys ons kieriekommando-ouens daarmee na die liggaamlike skete wat, helaas, saam met die stygende jare, soos hulle sê, ‘n opwaartse kurwe toon.

Die swarigheid van ouer word. behels egter nie net pyne, kragte wat minder word en die aftakeling van verstand, spier en weefsel nie.

Vandeesweek kry ek ‘n SMS van ‘n bekende mediafiguur van ‘n vorige generasie – ‘n naam wat in elke huis bekend was.

Dis ‘n noodoproep, letterlik en fuurlik. Dié vriend is in ‘n geldelike gemors (sy woorde). Reuse-uitgawes aan die mediese kant en ‘n makelaar wat “droog gemaak het” het hom by die punt dat hy om donasies moet aanklop.

Natuurlik is dit vir hom ‘n diepe verleentheid, en ek sou nooit droom om die naam te verklap nie. Ná nadenke sit ek dit egter (naamloos) op my blog, want party van ons kla werklik met die witbrood onder die arm.

Hoe swaar ‘n ou mens getref kan word – só swaar dat jy per SMS donasies moet vra – behoort by elkeen in te sink wat sommer vir elke bakkatel treurmares wil aanhef.

Ekself is diep getref. (HvD)

DUIWE MET ROOI VLERKE

More uit Melkbos

In die Nasionale Wildernispark aan die Tuinroete is Knysnaloeries so algemeen dat die mense daar praat van die “duiwe met die rooi vlerke”.

Hierdie ene het ek in ‘n soort trosvyboom voor ons houthut, nommer 28, afgeneem te midde van ‘n vrugtefees.

In daardie boom het die loeries gekom gegegaan. In ‘n stadium was ses in die takke.

In die week in die Suid-Kaap het ek en Tokkie maklik 15 loeries gesien, en elke keer was ons opgewonde.

Dit bly ‘n besonderse verteenwoordiger van Suid-Afrika se gevleuelde reenboognasie. (HvD)