EMMA, MALEMA …..

Opskrifte soos dié sal sekerlik op 1 April opduik, meen my oud-kollega Herman le Roux n.a.v. my Gekkedag-blog:

Julius Malema in Zuma se kabinet opgeneem

Mugabe stel Malema in hoë pos aan

Julius Malema kuier by Eugene Terreblanche

Onthulling: Julius Malema is Zuma se kind!

Julius Malema koop drie SA goudmyne

Julius Malema koop persgroep

Julius Malema SABC se nuwe grootbaas

Julius Malema verhuis na Nigerië

Julius Malema vlug in nag. Dalk reeds in Europa

Julius en Caster voor kansel

Julius bring nag in sel deur

Enigiemand anders wat wil saamspeel? (HvD)

O MAGTIG! – DIE NUUS

Middag uir Melkbos

Net een kyk na die voorblad moet die leser laat uitroep: “O magtig!” Dan weet jy jy het ‘n goeie koerant. In hierdie advies van ‘n Britse koerantbaas skuil nogal ‘n stuk waarheid.

Dink net hoe die krete van “o magtig” sal vlieg vir ‘n voorblad met die volgende berigte:

Spesiale permitte nodig vir veisbraaivuurtjies:
Pretorias se “volksvreemde” jakarandas gaan waai;
Bloemfontein se Naval Hill gaan platgestoot word om Kimberley se Groot Gat op te vul;
Alle Afrikaners met die vanne Verwoerd, Vorster, Malan en Botha moet dit verander tot Zuma, Malema, Sexwale of Ramaphosa;
Die KKNK verskuif na Australië;
Die Springbok-embleem word twee gekruisde assegaaie.
Sulke “berigte” is wel al gepubliseer of uitgesaai. Liggelowiges het dit vir soetkoek opgeëet. Hulle het warm om die boordjie of in wanhoop gereageer. Later moes hulle skaapagtig geglimlag as hulle agterkom hulle is met Aprilgek-stories uitgevang.

Gekkedag word op 1 April omtrent oor die aardbol gevier – van die ooste tot die weste. Sefs in die humorlose Rusland. Mense word poetse gebak, vir die gek gehou of in die algemeen perdebolle vir vye gevoer. Die doel is om die slagoffers soos sotte te laat voel.

Koerante, radiostasies en wat nog speel lustig saam, dikwels met prominente berigte wat só aangebied word dat dit meer as net ‘n skyn van geloofwaardigheid vertoon. Ook vriende stel mekaar strikke, familie vang mekaar uit.

Die oorsprong is só oud soos die berge – volgens een weergawe selfs só oud soos toe die berge in die Sondvloed met water bedek was. Die dag sou dan ontstaan het toe Noag – glo op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat met April ooreenstem – die duif te vroeg uit die ark gestuur het. Daar is egter hope ander verklarings.

Tokkie het in ons gesin nogal konsternasie veroorsaak met haar mededeling een 1 April dat sy swanger is met ‘n bitter laat laatlammetjie. ‘n Niggie het net voortgegaan om verbete haar naels te vyl toe sy die nuus hoor, en koeltjies opgemerk: “Hoe interessant”.

Ek was op Groot Brak om ‘n heildronk by ‘n goue bruilof in te stel toe ons dogter, Marisa, een middag bel: hulle trek sak en pak (klein tweeling en al) iewers in donker Afrika in. Om die kleinkinders te sien gaan, was allesbehalwe ‘n aangename vooruitsig. Die telefone tussen my en Tokkie by die huis is vuurwarm gebel.

Toe bel Marisa weer en vra vroom: “Watter dag is dit vandag?”

Dêmmit! Om te dink ek het my stortbad opgeoffer om op Tokkie se skouer te huil en by ingeligtes dringende navrae te doen oor mediese geriewe en dies meer in die land van hul bestemming. Maar dit was glo ‘n manier om hul ma terug te kry oor die swangerskap-storie.

Nou’s ons aan die vooraand van 1 April. Kreatiewe geeste is seker al aan’t planne maak vir Gekkedag 2010.

Oor die groot sokker sou ‘n koerant of radiostasie dalk ‘n lekker relevante liegstorie kon opdis. Maar ek dink ek stem saam met Tokkie: Tema Nommer Een moet Julius Malema wees. Min ander onderwerpe kan soveel blou woede ontlok! (HvD)

UIT MANIE SE LAAI – IN MEMORIAM

Uit Melkbos

Uit Manie se laai (vorige blog) kom ook foto’s van studentemaats wat – ai, hoe treurig stem dit ‘n mens – reeds langboompies toe is.

Een van hulle is die lang, rateltaai Hennie Smit op wie se skouers die uwe hier so uitgelate sit, en ‘n ander, Piet Lategan (met die blou hemp). Die foto is na ‘n la-a-a-a-ang braai by Orkney-Vaal langs die roosters geneem.

Oor Hennie (die Hoenderboer) en Piet (Gandhi) skryf ek albei in my boek “Byl in my bos” waarin ek persoonlike herinneringe opdiep van bome wat al uit my bos gekap is.

Oor Hennie, vertel ek van die kombuiskaste wat hy sukkel-sukkel op een been vir sy vrou, Lettie, na haar dood voltooi het om sy belofte aan haar na te kom.

Piet se storie is nogal humoristies – hoe hy een aand deur ‘n blondine wat hy by ‘n rugbywedstryd opgetel het, in die inryteater van sy beursie be-vry is.

Manie se liewe vrou, Sannie, is ook al oorlede en figureer ook in “Byl”: as ‘n model-ouma.

Tempus fugit – ja, die tyd vlieg. (HvD)

UIT ‘N LAAI VOL SKYFIES

More uit Melkbos

Uit ‘n laai vol ou skyfies – party mense het hulle baie vernaam “skuifies” genoem omdat hulle heen en weer in projektors geskuif het – het my Tukkievriend Manie Steyn van Krugersdorp ‘n klomp van jare gelede se Kollegetehuis-reunies herwin, wat die nostalgie laat bruis soos ‘n energiedrankie.

Op die ene heelbo is Piet Henning, Hennie van Deventer en Cas Jacobs saam met Vossie Grey by Manie se vorige huis in Roodepoort iewers in die jare 70.

Op die onderste foto is die eersgenoemde drie, net in omgekeerde volgorde, in Januarie vanjaar by die uwe se plekkie in Sabiepark.

Ek gaan nie vra wie van ons drie in die meer as drie dekades die meeste verouder het nie, maar die jare stap aan ja, die jare stap aan … (HvD)

OUMA IN SNELRAT

More uit Melkbos

Van 0 tot 7 in ses jaar. Dit is hoe Ouma agterkleinkinders versamel het toe sy in snelrat begin oorskakel.

Al sewe agterkleinseuns, moet ek byvoeg.

Ouma, Tokkie en swaer Fanie, se ma, Marietjie, was op 7 April 2007 90 (foto). Sy het vir koek en tee aangesit saam met kinders en kleinkinders … geen agterkleinkinders nie.

Minder as drie weke later, hier’s ons Marisa (en Brent) se tweeling, Jacob en Thomas Claassens.

Daarna: langerige windstilte. Toe kom Michael in die lewe van ons oudste, Johan, (en Mariza) as pleegkind. Hy het intussen Migael Cornelius geword terwyl die papierwerk vir aanneming in Pretoria uitgesorteer word.

Kort daarna begin dit roer aan Fanie se kant van die familie. Sy (en Maretha) se dogter, Corlie, (en Lorenzo) word Alesandro Domenico Stefano Brocchetto ryker.

Toe is daar weer ‘n klein Claassens. Jacob en Thomas kry ‘n boetie, Christopher.

Gister, 16 Maart, minder as ‘n maand voor Ouma se 96ste, word Fanie se (en Maretha) se oudste, Jaco, (en Lientjie) die trotse ouers van die tweeling Bernard en SJ van Wyk.

Ouma is op vat-vat aan 96 reg vir nog uitbreidings, lyk dit.

Gaan die volgende dalk ‘n dogtertjie wees, kan ‘n mens wel wonder – en wie gaan die pa en ma wees? (HvD)