Feb 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
So van intervarsities, dirigente en joolkoninginne gepraat:
Hier klink die skone Anneline Kriel, joolkoningin van Tukkies, ‘n glasie met Nanti van Wyk, rasieleier, iewers in die 70’s.
Ek kry dit in ‘n bylae oor Tukkies se halfeeufees in 1980, wat op 7 Oktober in die ou Transvaler verskyn het.
Was sy die mooiste joolkoningin in die geskiedenis? (HvD)
Ns. Hier’s blykbaar die regte spelling vir Tukkies se ou strydkreet: A-ra-ra-rattio!
Feb 3, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

INTERVARSITY 1961. TUKKIES SE DIRIGENT, JAN LOMBARD, IS REGS EN PRAGTIGE JOOLKONINGIN, MARGUERITE DEALE, NAASLINKS.
Middag uit Melkbos
Nog Vrystaat, nog Pukke, nog Wits sal die boenga-boesjiewa ooit laat swyg nie ….
Iets in hierdie trant het ons Tukkie-generasie van rondom 1960 uit volle bors gesing (volle borste, soos Oom Oubaas van Sewende Laan sou sê) as ons in ons gestreepte kleurbaadjies die hoofpaviljoen vol sit by intervarsity.
Ek spel boenga-boesjiewa feitlik honderd persent seker verkeerd. Ek het ook nie meer ‘n benul wat dit beduie het nie. Maar dit het ons Tukkies laat gloei van trots. Vir seker. Daarna het ons ge-Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! Roera! dat die paviljoen dreun.
Die hoofpaviljoen was natuurlik nie normaalweg vir ons beskore nie. Watter student se sakgeld kon daardie dae sulke luukses bekostig? Maar intervarsities het die helfte van die hoofpaviljoen aan die Tukkie behoort en die ander helfte aan die Witsies.
Die Tukkieliedjies het ek (wat nie juis ‘n sanger is nie) almal van buite geken. Ons en die Witsies het mekaar entoesiasties probeer doodsing en met spitsvondighede gekoggel terwyl ons helde die stryd op die veld uitspook. Die dirgente was deftig uitgevat in satynpakke met pluiskeile op die kop.
Voor intervarsity het ons aand vir aand ons “sing-songs” op Loftus gehou wanneer ons neuse eerder in die boeke behoort te gewees het
Die heerlike herinneringe spoel terug as ek op Supersport Varsitybeker-rugby sit en kyk.
Wat lekker is: die Tukkies lyk nog soos Tukkies met hul wit truie, wit broekies en die bande van blou, rooi en goud op hul truie en sokkies.
Wat nie lekker is nie: waar is die ou Tukkieliedjies en Aa-ra-ra-ra-raa-ratio? Watse ge-“rock” is dit dan nou by deesdae se rugby?
Wat selfs nog minder lekker is: dis maar ‘n ou liggewig-spannetjie wat nou vir die Tukkies uitdraf. Wie skrik vir hulle?
Hoe anders was dit nie? Toe was dit nog ‘n nasionale skande as die Tukkies verloor – soos in 1961 wel gebeur het, ondanks ‘n Anton Prinsloo-breekslag wat so verbluffend was dat ek, wat toe al ietwat dof was van die baie bier, weke later in die fliek op “African Mirror” eers gesien het hoe hy deur die Witsies sny!
Later jare was die Tukkies en die Maties lank die bulle van studenterugby – dan wen die een, dan die ander.
Maar nou’s die Pukke die Tukkies oor. Die Maties, Ikeys en Shimlas wag …
Iets “too ghastly to contemplate” het met Tukkierugby gebeur. Hul skrum is soos ‘n ou vrou se dans, hulle tekkel maar effentjies, en iemand wat soos Anton Prinsloo kan breek, het ek nie onder daardie klompie gesien nie.
Dalk is dit ook maar goed dat die huidige geslag toekouers liewer hul gesigte be-verf en in verleidelike kort rokkies rondhuppel as om diep uit die keel Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! aan te hef!
Dit was ‘n trotse kreet. (HvD)
Feb 2, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Vandag, 2 Februarie 2010, is die fokus op daardie onvergeetlike dag, 2 Februarie 1990, toe die Volksraad gemesmeriseerd geluister het hoe F.W. de Klerk stap vir stap die land onomkeerbaar sou verander.
Dit was natuurlik dag en datum presies ‘n jaar nadat De Klerk verrassend in die afgetakelde P.W. Botha se plek leier van die Nasionale Party geword het.
Ons vier dus vandag nie net ‘n 20-jarige herdenking nie, maar ook ‘n 21-jarige – vir diegene wat glo dat op eersgenoemde ‘n glasie geklink moet word, ‘n goeie rede vir twee glasies. Ekself klink twee.
Maar 2 Februarie 1990. Ek was in daardie stadium nog redakteur van Die Volksblad. Anders as gewoonlik, met die opening van die Volksraad, het ek in Bloemfontein op die openingstoespraak gewag, eers opdragte gegee oor die hantering daarvan – “maak die skouers oop!” –
en toe met ‘n tevrede hart op die Boeing Kaap toe geklim vir die tradisionele redakteursbesoek aan die begin van elke parlementsitting.
Die satisfaksie was enersyds weens die geloof dat De Klerk die regte dinge doen om die land van sekere rampspoed te red. Andersyds was sy aankondigings meer as net ‘n tikkie salf vir die eie joernalistieke ego.
F.W. het die Afrikaanse koerante reg bewys! Vir politieke opponente binne en buite die parlement, ons kollegas in die Engelse pers, selfs vir sekere NP-ondersteuners, sou ons lekker kon koggel: “Ons het julle mos geseª!”
Afrikaanse koerante het immers toe al lank betoog dat Suid-Afrika onder die NP-regering op ‘n opwindende nuwe koers is, en dat reeds onder P.W. Botha die fondamente gelê is vir een onverdeelde Suid-Afrika met een burgerskap vir almal, en met reg tot deelname vir almal aan politieke besluitneming op alle vlakke.
Skeptici wat volhard het dat dit alles net vae woorde is, dat dit kosmeties is, dat die “ou aparatheidsparadigma gekontinueer word”, se wind is vir eens en vir altyd uit hul seile geneem.
Laat my dadelik toegee dat daardie F.W.-pakkie hervormings waarskynlik ‘n groter kwantum-sprong verteenwoordig het as wat die meeste van ons in daardie stadium verwag het. Maar dat dit ons onverhoeds betrap het, is ook nie waar nie.
Vir redakteurs wat begin vrae vra het oor waarheen ons nou werklik op pad is, het De Klerk kort tevore in ‘n inligtingsessie in Tuynhuys liggies berispe: “Julle moenie nou begin skrik vir die goed wat julle al hoelank bepleit nie!”
Die val van die Berlynse muur in Oktober 1989 het klaarblyklik ook sy hande losser gemaak.
Ekself het ‘n maand later by ‘n beraad met die ANC in Parys vir die ANC-afgevaardigdes gesê: “Maak vas julle gordels; hier kom ‘n ding.”
Daardie beraad was 18 maande nadat ek Thabo Mbeki in Londen ontmoet het, en die chemie tussen ons dadelik begin werk het. Spruitende daaruit was Die Volksblad die eerste Afrikaanse koerant van betekenis wat in ‘n simpatieke profielberig op sy middelblad die pyprokende Mbei aan sy lesers bekend gestel het as “ n pragmatiese strateeg.” Later het Die Volksblad hom Bloemfontein toe genooi om met geslote deure vertroulik met gemeenskapsleiers te kom gesels.
Ondanks alles wat gebeur het, en die baie kritiek wat ekself op aspekte van die nuwe bedeling het, verklaar ek vandag sonder huiwering: ek glo dit was die enigste koers. Ek voel steeds ongekwalifiseerd positief oor my koerant se opbouende rol in ‘n kritieke tyd. Ek het ook een vurige wens. Dit is dat die baanbrekerswerk van die Vrystaatse koerant in aanloop tot 2 Februarie 1990 die een of ander tyd die groter erkenning sal kry wat hy daarvoor verdien. (HvD)
Oor die vrylating van Nelson Mandela vertel ek in ‘n volgende blog ‘n”vertroulike” storie.)