‘MOSES SE HOND’

More uit Melkbos

Gisteraand, eergisteraand, ná twee glasies wyn, raak ek aangedaan oor my ontslape studentevriend Jaap de V. Neethling, wat in 1958 saam met my eerstejaar (ienk) in Kollegtehuis was.

Hy het as Japie op Tukkies aangekom. Gou het ons hom Jaap genoem, of partymaal Jaap de Vee. Later het hy “Moses se hond” geword weens ‘n beweerde ooreenkoms in gelaastrekke met die troeteldier van Moses, Griekse eienaar van ‘n kafee op die hoek naby die koshuis.

Die innemende Jaap had ‘n fyn humorsin wat hom geliefd gemaak het. Die naam “Moses se hond” het hy hom met ‘n vrolike laggie laat welgeval.

Japie (Jaap, Jaap de Vee, Moses se hond) was ‘n slim Vrystaatse seun (uit Boshof, meen ek) met ‘n paar matriekonderskeidings agter sy naam. Hy was ‘n meelewende koshuismaat wat, ook as ienk, gretig aan alles wou meedoen. Ongelukkig kon hy nie. Hy was gestremd, met ‘n boggel wat sy skraal lyf se balans erg versteur het. Loop was vir hom ‘n inspanning.

Dié las het Jaap blymoedig gedra. Na my wete het hy nooit gesug of gekla nie. Wel het dinge een laataand in sy eerste jaar (of dalk sy tweede) blykbaar vir hom baie swaar geword. Hy is alleen in die toring van die Ou Letteregebou op met bedoelinge waaroor ek my nie kan uitlaat nie, omdat die insident tussen ons nooit ter sprake was nie.

Fanie van Huysteen, Kollege se huisvoorsitter in 1959, het hom daar gekry en, vermoed ek, op sy rustige manier met Jaap gepraat. Die uiteinde was dat Jaap saam met hom af ondertoe is.

In die studentelewe het Jaap aktief aan nie-fisieke aktiwiteite soos fotografie en skaak deelgeneem. Hy was voorsitter of ondervoorsitter van die fotografie – en die skaakvereniging. Van sy treffende fotostudies het in die Tukkie-jaarblad, Trek, verskyn.

In 1960 is Kollege na die proefplaas verplant, met ‘n swetterjoel eerstejaars en die brandende ambisie by die HK om sommer met die intrap diep spore op die kampus te trap. Die eerste geleentheid was die ienksport. Dit was nie ‘n sommerso-geleentheid nie. Die atlete is intensief afgerig.

Gelukkig onthou ek toe dat Jaap op skool bestuurder van die atletiekspan was. Ons vra hom of hy die ienskport op sy skouers sou neem en hy willig dadelik in.

Sy entoesiasme was aansteeklik. Elke middag is hy skeef-skeef op sy fiets die iets oor die twee kilometer van die proefplaas kampus toe met sy atlete, stophorlosie, maatband en wat nog.

Hoe nader ienksport gekom het, hoe harder het Jaap gewerk, en des te sterker kon jy sy vasberadenheid en selfvertroue dag vir dag sien groei. Toe die Saterdag aanbreek, was Jaap se span gereed. Dit was ‘n triomf soos die atlete met ‘n K (vir Kollege) op die bors die wennerspodium in ‘n stroom bestyg. Kollege het loshande gewen.

Vir die eerste keer word ‘n HK-aflos toe by die program ingesluit. Ek moes die laaste been hardloop, ‘n 220. Só asof my lewe daarvan afhang het ek nog nooit ‘n 220 gehardloop nie. Toe my bors die lint tref, was ek net dankbaar dat ek Jaap en Kollege nie in die steek gelaat het nie.

Ek het Jaap die laaste keer gesien by die een of ander koshuis-reünie in die jare 80. Hy het ‘n lojale Kollegeman gebly, en het gereeld reünies bygewoon – in my boekie ‘n belangrike maatstaf van die stoffasie waarvan iemand gemaak is. Presies wanneer hy oorlede is, weet ek nie. Die afgetakelde lyf het eenvoudig mettertyd al hoe meer ingegee.

By nadenke, ná al die jare, twyfel ek of Jaap ooit naastenby die eer gekry het wat hom toegekom het vir die “nuwe” Kollege se eerste groot voetspoor as koshuis, en die tradisie van presteer op elke terrein wat dit ingelui het.

Wat ek nie kan glo nie nie, is hoe op deeske aarde ek daarin kon slaag om ‘n boek soos “Byl in my bos” te skryf sonder om só ‘n groot gees soos Jaap de Vee in te sluit. Ekskuus, ou maat, vir ‘n yslike blaps! (HvD)

ZUMA SE GIGGELS

More uit Melkbos

‘n “Studentikose: gegiggel noem Dawie van Die Burger die stout laggie van Jacob Zuma wat gepaard gegaan het met die noem van die naam in sy staatsrede van sy hoge sokkervriend, Irvin Khoza, wie se dogter hy in die ander tyd gesit het.

“Studentikoos” – oulike beskrywing.

Daardie giggel was nie Zuma se enigste nie. Feitlik elke keer as hy na een van die ander ampstale oorslaan, was dit of iets die man kielie.

Vroeg in sy rede het hy in Afrikaans kwytgeraak: “Saam kan ons meer bereik”, of iets dergeliks. Dit is ook gevolg deur ‘n giggeltjie, wat die indruk wek dat sy tersyde opmerkings in die ander tale soortgelyk kon wees. Onskuldige slagspreuke dus.

Of was sy giggel-laggie in die ander gevalle dalk net ietwat skalkser? Was dit dalk stekies wat op onkundige ore verlore gegaan het?

Kan iemand nie vir hierdie nuuskierige ou die sluier lig nie? (HvD)

Naskrif: Met die woord “studentikoos” het ek in 1961 kennis gemaak. Die nasionale ASB-kongres op Strellenbosch is afgesluit met ‘n konsert in Bellville se stadskouburg. Die uwe was seremoniemeester.

W.E.G. Louw – niemand minder nie – het kom resensie skryf vir Die Burger. HvD se bydrae tipeer die gedugte Gladstone toe as “studentikose grapjastery”.

Dis amper 50 jaar later en ek is steeds onseker of dit ‘n pluimpie of n raps op die vingers was!

VIR OULAAS BY JOOLSKONES

More uit Melkbos

Kan nie waar wees nie, hier’s ou HvD waaragtig terug by sy joolkoninginne! Raak die man nie moeg om só op dieselle snaar te tokkel nie?

Ja, ek hoor in my verbeelding dié versugting. Tokkie raak ook al ietwat nurks oor dié ge-tokkelry.

Maar hier’s my getuienis ter versagting. Ek sit voor my met ‘n (amper) volledige lys van Tukkies se joolkonginne en –prinsesse van 1955 af (met komplimente van Tukkies se argief). En dis ‘n boeiende oefening om só deur die name van die bekende en onbekende skones te werk, hoor.

Almal weet dat Anneline Kriel (1974) Mej. Wêreld was. Dié ongekunstelde meisie van Witbank het in dieselfde jaar ook die gesogte Mej. Wêreldkroon verower. Watter sensasie was dit nie!

Carike Keuzenkamp (1967) is ewe bekend. Sy is een van ons voorste sangeresse van ligte liedjies, wat steeds die treffers inryg.

Weet iemand egter hoeveel aktrises via die jool-koninklikes kom? Ek tel vyf. Drie was koninginne: Helga van Wyk (1966), Carike en Anneline, en twee was prinsesse: Suzanne van Oudsthoorn (1965) en Jana Cilliers (1969).

Helga was in “Hoor my lied”, Carike in “Professor en die prikkelpop” waarin sy in haar nagkabaai “Timothy gesing het, Anneline in die Amerikaanse film “Kill and Kill Again”, Suzanne in “Debbie” en Jana natuurlik in hope TV-stories (o.m. “Fees van die Ongenooides”) en verhoogstukke (o.m. “Opdrag: Ingrid Jonker”).

Dié talentvolle dogter van wyle Oom Bags Cilliers en die skilder Bettie-Cilliers-Barnard., is trouens een van die blinkste Afrikaanse sterre van die laaste dekades.

Nog ‘n bekende is Gaynor Downie (1972) wat vandag Johann Rupert, ‘n studenteliefde, se vrou is.

Dat skoonheid in families loop, bewys die twee Van Oudtshoorn-susters, Marianne en Suzanne, wat albei prinsesse was – Marianne in 1962 en Suzanne drie jaar later.

In 2002 was die koningin Arina Pistorius en in 2003 Amalie Pistorius. In 2004 was Annie Pistorius ‘n prinses. Weet nie of hulle dalk susters was nie, maar die name, Arina, Amalie en Anna, suggereer ‘n band.

Ten slotte deel ek graag mee dat ek drie Van Deventer-nooiens onder die name van die prinsesse raakloop: Marianne (1974), Anita (1981) en Retha (1993). ‘n Mens is dankbaar as die stamnaam ook op hierdie terrein hoog gehou word! (HvD)
.
.

LENNIT MAX: EPISODE DRIE

More uit Melkbos

Lennit Max, gewese polisiekommissaris wat Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid geword het, is skielik met verlof na bewerings van indiskresie. ‘n Gewese polisieklerk, Belinda Petersen, loop en stories vertel oor wat o.m. in die geheim in sy kantoor, huis en ‘n plaaslike hotel tussen hulle sou gebeur het.

Vandag se voorbladnuus is episode drie van die Lennit Max-storie wat in 2003 begin het. Mense met lang geheues sal onthou dat in daardie jaar druk op Max uitgeoefen is om op ouderdom 41 jaar onverwags vroeg uit die polisiediens te tree.

Gerugte wou dat ‘n “oorlog” tussen Max en ‘n adjunk- kommissaris, Zelda Holtzman, ‘n rol gespeel het. Dié “oorlog” het, volgens koerante, begin toe sy uit sy kantoor gestorm en die deur toegeklap het. ‘n Klag van onder meer seksuele teistering teen Max het gevolg. Dit is ongegrond bevind.

Holtman het bedank en van die toneel verdwyn. Die troebelheid rondom Max se uittrede is nooit opgeklaar nie.

Max is daarna politiek toe. Sy politieke loopbaan het begin by die Onafhanklike Demokrate. Hy het tot Wes-Kaapse leier van die OD gevorder. ‘n Allemintige rusie het egter in 2005 tussen hom en die nasionale leier, Patricia de Lille, losgebars. Max is as Wes-Kaapse leier geskors, en De Lille het beweer hy is oneerlik deurdat hy by geleentheid van die party se geld misbruik het vir hotelverblyf en alkohol. Dit was episode twee.

Minder as ‘n jaar gelede het die D.A.-premier, Helen Zille, hom, desondanks, in haar omstrede net-vir-mans-kabinet aangestel.

In hierdie blog het die uwe op 27 April 2009, dae voor sy aanstelling, Max se geskiedenis opgehaal en gewaarsku dat Zille liefs rustig moet oorweeg of dit wys sal wees om iemand met soveel bagasie tot ‘n leiersrol in die “nuwe Wes-Kaap” te bevorder.

Hoe sleg die premier haar vingers verbrand het met Max se aanstelling sal die tyd leer. Laat ek billik wees: in hierdie stadium is mej. Petersen se stories nog net bewerings.

Maar skuldig of onskuldig, is dit ‘n feit dat ongemaklikheid oor sy doen en late Max nou al jare agtervolg.

Hierdie gryse waarnemer vind dit vreemd dat Zille só deurgedons het met sy bevordering tot in haar kabinet, maar nou-ja, sy lees nie hierdie blog nie, en die koerante het die Max-kwessie met sy herrysenis tot ministerskandidaat maar soetjies-soetjies gehanteer. Te soetjies, dink ek.

Dis slegte maniere om tong uit te steek. Maar mag ek darem net sê, soos Winston Churchill op ‘n keer: “I have not always been wrong!” (HvD)

OEPS, VERKEERDE NOMMER!

More uit Melkbos

In die middel van die nag weergalm die telefoon. Jy skrik jou oorhoeks, struikel oor ‘n stoel, vlek jou tone oop om die tafelpoot en gryp met beklemming die gehoorbuis : “Van Deventer”.

Oomblik se stilte. Dan: “Oeps, verkeerde nommer, jammer.”

“Oeps se gee, aa, tee, man,” wil ek dit nog uitsis. Maar die middernagtelike verpester het haastig opgehang.

Slaap is weg. Wawyd wakker lê ek en wonder: is sulke verkeerde-nommer-oproepe regtig per ongeluk? Is dit dalk die werk van ‘n sindikaat van perverte vir wie dit ‘n magsgevoel gee om onskuldiges snags in hul slapende broosheid uit die bed te jaag en hul tone teen tafelpote disnis te stamp?

Ongeluk of nie ongeluk nie, die harde waarheid van oproepe van die oeps-kategorie is dat hulle in velerlei opsigte ontwrigtend, verwarrend – selfs rampspoedig – kan wees.

‘n Halfeeu gelede het ‘n Bloemfonteinse kennis gebuk gegaan onder ‘n nommer wat so na aan die nommer van die ou Nasionale Hospitaal was as dêmmit aan vloek. In hul nood raak mense se vingers maklik dom. Dan skakel hulle die arme drommel pleks van die hospitaal.

Weens die een of ander verwronge sin vir dienslewering het hy lank geduldig die teistering verduur, en altyd paraat-hulpvaardig die regte nommer verskaf. Sy enigste werklike grief was romantiese oomblikke wat op daardie wyse bederf is. Uiteindelik was daardie inmenging die deurslaggewende rede waarom hy stotterend om ‘n nuwe nommer gaan aansoek doen het.

Van hospitale gepraat, een van die mooi stories oor ‘n verkeerde nommer is die ene van die aspirant-vader wat besorgd die kraaminrigting skakel om na sy swanger vroutjie navraag te doen. Hy bel die krieketveld. “Hoe gaan dit daar?” “Skitterend! Drie is al uit. Ons hoop om nog een of twee voor etenstyd uit te kry!”

Tokkie beland nou die dag voor ‘n onklaar veiligheidshek by ‘n kompleks, en bel gou die huis waar sy wil gaan kuier. “Jan, dis Tokkie. Ek is by die hek. Dit wil nie oop nie. Druk gou dat ek kan inkom.” Stilte. “Tokkie wie?” Sy ruik nog nie lont nie: “Dis Tokkie van Deventer .. ek wil net vinnig inloer.”

Toe antwoord die stem met buitengewone teenwoordigheid van gees: “Kyk, Tokkie, ek is nie Jan nie, en ek ken jou nie. Maar as jy regtig graag wil inkom, is jy welkom, hoor…”

Teenwoordigheid van gees was bepaald ook nodig in die volgende scenario:

Mnr. Sakeman, pas weer getroud, is op ‘n buitelandse reis wat sommer ook as tweede wittebroodreis geld. Een middag wil hy gou-gou sy kantoor in Pretoria bel. Uit gewoonte skakel hy per abuis sy vorige huisnommer waar eggenote nommer een antwoord gee, verras om die bekende stem te hoor.

Dit word toe ‘n taamlik ongemaklike gesprek met eggenote nommer twee nie net ‘n belangstellende luisteraar nie, maar ‘n deelnemer met allerlei siniese kommentare. Die wiitebroodspaar was geruime tyd, soos ‘n vriend dit stel, “op rookseine”.

Identiteitsverwarring kan erg skeefloop.

‘n Man bel sy huis. “ Hi, Poplap, dis Pappa … is Mamma naby die telefoon?”

“Nee Pappa, sy’s in die boonste slaapkamer saam met Oom Frans.”

”Oom Frans….? Wie is Oom Frans?|”

“Oom Frans van die gimnasium.”

In die slaapkamer, sê jy? Luister nou mooi. Sit neer die telefoon.
Gaan klop aan die deur en skree hard dat Pappa se motor nou net by die hek ingery het.”

’n Paar minute verloop. Die meisietjie tel weer die gehoorbuis op: “Ek het gedoen wat Pappa gesê het.”

“En wat het gebeur?”

”Oom Frans het groot geskrik, uit die bed gespring sonder klere aan en weggehardloop, by die hekkie uit. Mamma het nog groter geskrik. Sy het, ook sonder klere aan, by die venster uitgeduik. Sy’t seker vergeet Pappa het laas week die water van die swembad uitgetap. Ek dink sy het baie seergekry.”

L-a-a-a-a-ng stilte. Toe kom Pappa se stem: “Swembad???
Is dit 555-7039?”

“Nee, dis 555-7093.”

“O magtig! Jammer, verkeerde nommer!”

’n Ware storie oor gekruisde lyne is van die groentjie-verslaggewer by die destydse “Rand Daily Mail” wat opdrag gekry het om mnr. Chris Heunis, minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling.

Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel. “Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die “RDM” se kolomme vind.

Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”.

Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!

Ander kommunikasiemetodes, soos die faks en die SMS, lewer hul eie komplikasies op as die sender se konsentrasie nie een honderd persent is nie.

Ekself het dit beleef rondom ‘n regsmening wat ek aangevra het oor onder meer ‘n jong kollega se ontwrigtende amoreuse aktiwiteite op kantoor. Die prokureur gee die groen lig vir summiere ontslag. Toe faks die prokureur se sekretaresse per abuis die bose dokument vir die oortreder pleks van vir my. Toeskouers vertel hy was byna deur die dak toe hy die verdoemende woorde begin lees.

My gunstelingstorie in hierdie kader is oor die SMS wat by die verkeerde adres aangekom het – by ‘n tante wat pas weduwee geword het. Boonop kondig die selfoon die aankoms van ‘n boodskap aan pas nadat sy by die huis aangekom het ná die teraardebestelling.

Skielik skeur ‘n angswekkende gil uit haar mond, gooi sy die selfoon dat dit doer trek en syg flou op die mat neer.

Nadat vriendinne die tante gelawe het, kyk een wat in die SMS haar dan nou só tot ‘n floute ontstel het. Die SMS was vreemd en van ‘n onbekende nommer. Hulle bel toe die nommer en kom by ‘n man uit wat groot om verskoning vra.

Hy wou eintlik sy eie geliefde vroutjie SMS, maar toe ruil hy per ongeluk twee syfertjies om, verduidelik die onbekende, ‘n argeoloog wat dié middag by ‘n klein halfster-hotelletjie iewers in die onherbergsame Transkeise platteland ingeboek het. Sy vrou sou die volgende week by hom kom aansluit om te help.

Toe’s dit ‘n oepsie. Die treurende weduwee lees tot haar ontreddering die volgende: “My liewe vrou, het veilig hier aangekom ná n lang reis. Hier is wraggies selfoon-opvangs Dit is vrek-warm. Die kamertjie en kos lyk oes, maar ons sal maar moet vasbyt. Kan nie wag totdat jy volgende Woensdag kom nie. Liefde. Jou man.” (HvD)