Jan 24, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

MIddag uit Melkbos
Kom ons speel ‘n identiteitspeletjie.
Die man aan wie ek dink, was ‘n skrumskakel. Hy het vir die Blou Bulle gespeel. ‘n Naakfoto bestaan van hom.
As ek verklap dat hy op Woensdag 27 Januarie 70 oud word, sal u besef hoe ver verkeerd u geraai het.
Nee, die ou in my speletjie is Proppie Goosen van Glentana, voorheen George, voorheen Kirkwoord. Hy was ‘n Tukkiemaat in Kollegetehuis van 1959 af.
Rondom my woed ‘n pandemie van 70 jaar oud word van matriek- en studentemaats. Daar was in die laaste paar maande Vos Grey op Ermelo, Johan Bekker op Jacobsdal, Manie Steyn op Krugersdorp, Willem Hartzenberg van Pretoria (op Hermanus), Giel de Swardt op Jeffreysbaai, Proppie… Dis verreweg nie almal nie. Vriendinne se name word om ridderlike redes verswyg.
Om die draai wag Piet Henning op Soutpansberg en Wiekie Moolman op Krugersdorp. Die uwe, altyd die baba in die klas, kom op 3 Januarie 2011 aan die beurt.
Vir Proppie het ek ‘n 70-kaartjie gemaak met die foto hierby op die agterblad. Geen seksuele konnotasie moet/kan daaraan geheg word nie.
Die oorsprong was ‘n sogenaamde “broekraid” in 1959. Die manne van Voortrekker het ons Kollegemanne een nag kom uitdaag. Kollege was toe nog op die kampus en die kragmeting was voor die Ou Letteregebou.
Wat vir n ding ‘n broekraid is, het ek in my boek In Kamera (Protea 2003 só verduidelik:
“Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. “
“Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.”
Dit was só deel van die studentelewe van Tukkiemans soos modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie vir eerstejaars, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!
Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.
Terloops, Proppie was ‘n kranige skrumskakel. Hy het vir Noord-Transvaal, Natal, OP en SWD gespeel. Sy skakelmaat in n stadum was Nic Bojé, ook ‘n Kollegeman.
Waar is die dae …..? (HvD)
Jan 22, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Kom jol in Soweto, kom na ‘n township-opskop, kom kuier eet en drink in “tradisionele” restaurants, kroee en kafees … Met lusmakertjies in hierdie trant word Nederlandse toeriste vir die Wêreldbekersokker na Suid-Afrika gelok.
In ‘n publikasie van South African Tourism, spesiaal vir die WB- besoekers, word toeriste o.m. soos volg ingelig:
Johannesburg
“Uitgaansleven….
Van de funkybclubs en kroegen in Soweto, via de ontspannen jazzy geluiden in Newtown naar de stijlvolle uitgaansgelegenheden in de noordelijke buitenwijken: Joburg biedt voor elk wat wils”
Soweto…
“Een bezoek aan een van de vele restaurants en café’s van Soweto mag u niet missen.”
“Shoppen” word aanbeveel in Sandton, Nelson Mandela Square, Eastgate en Southgate en die Maponya Mall in Soweto.
Nelspruit
“Accommodatie
“Stadshotels, lodges , bed & breakfasts, country hotels, luxe game lodges of een verblijf in de townships….”
Van moontlike veiligheidsrisiko’s word geen woord gerep nie. en van waarskuwings teen gevare is geen sprake nie.
Ek vra met trane in my “navy blue” oë: Hoe op aarde wil hulle alles beveilig?
‘n Mens vrees ‘n klomp naiëwes kom hul koppe hard stamp hier te lande … en ek praat nie van die rondstamp van die ronnebôl in een van die superstadions nie! (HvD)
Jan 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Spoke kan deksels moedswillig wees. Van daardie spesie openbaar glo die nare gewoonte om soos die spreekwoordelike dinges aan ‘n wolkombers aan sekere arme drommels te bly kleef, ondanks elke poging om uit hul kloue te ontsnap.
Almal ken tog seker die grappie van die spook wat só lekker gebly het. Hy (sy?) het die getraumaseerde gashere tot in hul sokkies geskok toe hy/sy ewe kontant onder die seil van hul treklorrie uitloer en aankondig: “Ek trek saam!”
Die moontlike alternatief van ‘n vroulike spook word hierbo gestel, omdat veral daardie geslag geeste glo knaend kan wees, soos dié vryerige ene van Uniondale wat al hoe lank fris manne tot jellie reduseer deur op alle moontlike en onmoontlike tye op donker Karoonagte by hulle in hul voortsnellende motors in te sweef – of skielik uit die niet op hul motorfietse saam te ry.
Die spook in my lewe was ook ‘n vrou, soos Uniondale se berugte teisteraar. Gelukkig kortstondiger. Anders as haar Karoo-suster had sy ook nie n lyflike teenwoordigheid nie. “My” spook had net ‘n stem; daarby ene met ‘n swaar Amerikaanse aksent.
Ek het van haar bewus geraak toe sy ‘n vriendin haar boeglam laat skrik. Die vriendin skakel my 021-nommer. Die telefoon lui en lui. Skielik sè die grafstem: “ Your call can not bet taken ….” Die oproeper word somber genooi om ‘n boodskap te laat.
Kyk, hierdie vriendin is betroubaar en sal nie sommer lieg nie. Maar van só ‘n stem wat skielik my inkomende oproepe “bestuur”, is ek salig onbewus. Van waar dan, en met watter bedoelinge? Ek lui my huisnommer met my selfoon net om doodseker re maak. Ja, waaragtig, hier praat die kultuurvreemde – teen my sin en wil.
Toe begin ‘n gespook van ure om van haar ontslae te raak. Ek bel om die beurt 10219 en 10217 en ek praat by Telkom se hulpdienste langs die hele alfabet af, beginnende by Abigail en eindigende by Zoë. Almal is hulpvaardig en probeer help. Party laat my allerlei vreemde kodes intik. Telkens is die stem egter terug.
Ene, Caroline, verstrek later selfs ‘n verwysingsnommer, só seker is sy van haar saak dat sy die stem uit my lewe verwyder het. Aikona. Eers by nommer agt (was dit Lisa of dalk Cindy?) hoor ek die verdoemende nuus ná n inspeksie ter plaatse/praatse: “Dis nie ‘n Telkom-boodskap nie.”
Nou wat de ongeluk dan? Kyk teen hierdie tyd is ek al omgekrap verby oor die eindelose gesukkel, en tel ek die koste van al die selfoonoproepe in my kop. Toe opper Tokkie ‘n teorie. En dalk gee ek my vrou te min krediet, want hierdie ene klink skielik nie ongeloofwaardig nie.
Net twee dae gelede het ons naamlik ‘n foontjie gekoop wat die ou man kan rond dra. Ene wat “als kan doen” wat ‘n selfoon doen. Dan hoef die uwe nie elke keer swaar uit sy bank op te beur as die telefoon lui nie. Het die koddige stem nie dalk met die nuwe instrument ongesiens die huis binnegesluip nie
Ek delf die boekie uit (“if all else fails read the instructions”), maar verstaan van goed soos ‘n “TAM menu” geen snars. Al manier wat ons kan bedink om Tokkie se teorie te toets, is om die ronddra-foon aan die muur te ontkoppel.
Dit werk! Die spook swyg.
Gisteraand daag hulp op in die vorm van iemand van ‘n jonger generasie, wat blykbaar instinktief weet watter knoppies om te druk om bepaalde funksies te aktiveer of de-aktiveer.
Daardie foon is weer op die lug. Maar tot siens, spookvrou! Wel te ruste! (HvD)
Jan 18, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Ons, sprekers van Afrikaans, is die ouens wat maklik praat-praat in Tamatiestraat beland as ons met Nederlanders kommunikeer, het ek altyd gemeen.
Die slaggate in kommunikasie met die inwoners van daardie stamland is bepaald velerlei. Woorde wat in Afrikaans doodonskuldig kan wees, is soms in Nederlands tot aanstoot.
Een voorbeeld is die naam van ons spraaksame oud-minister van buitelandse sake, Pik Botha. In Nederland gebruik hulle daardie drieletterwoordjie vir ‘n stukkie van die manlike anatomie wat jy nie in gemengde geselskap op sy naam nie. Dit was waarom die Nederlandse koerante konsekwent na onse minister as min. Roelof Botha verwys het!
Pas hoor ek egter die mooi storie van ‘n Nederlandse besoeker wat hier te lande in die hospitaal beland vir ‘n operasie. Nadat al die voorbereidings afgehandel is, wil die streng suster weet: “Het jy al opelyf gehad?”
“Nog nooit in mijn lewe nie,” antwoord die Nederlandse pasiënt pront – natuurlik tot die totale verbystering van diegene om haar bed.
Sy, arme drommel, dag opelyf beteken of haar lyf al voorheen oopgesny is … en sy was nog nie tevore geopereer nie!
Maar terug na Nederland en hoe ons mense daar ons woorde moet tel. Wyle Marike de Klerk het dit agtergekom toe ‘n joernalis by haar wou weet wat haar stokperdjie is. Haar antwoord was om te stap. Top sou sy ontdek “stappen” beteken in Nederland onder meer ‘n kuiertjie van kroeg tot kroeg – wat die Engelse “pub crawling” noem.
Ene Gerrie de Waal van Kuilsrivier het weer in Amsterdam plesierigheid veroorsaak met haar beleefde navraag waar hulle op die bus moet “klim”. Die reaksie het haar verstom, maar die ander passasuers laat kraai. “Mevroutje, u mag oweral opklimmen. U mag zelfs op het dak klimmen. Bent u een aap? In Nederland stappen wij op de bus, hoor!”
Een van die lekkerste woordvergissings waarvan ek weet het egter niks met Afrikaans en Nederlands te make nie.
My storie is oor ‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, wat met ‘n Spanjaard, Jose Antonio Martinez D’Soler, getroud is. In haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette stap sy by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop.
Sy vra toe vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.
“‘n Aarbeigeur, mevrou?”
“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”
“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”
“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”
“Haai, mevrou.”
Eers toe blyk dit sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het verwarring gekom. Die verleë apteker dag sy soek kondome! (HvD)
Jan 16, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Opperste misleiding, sal party mense dit waarskynlik noem, maar as jy diere wil dokter, deug eerlikheid en deursigtigheid nie altyd nie. Toe besluit word om Sabiepark se hiënabevolking teen hondsdolheid in te ent , is derhalwe ‘n spesiale lokaas uitgesit.
Nie net die vars geur van rooibok nie, maar ook die geluide van hiënas by hul prooi is ingespan om hulle ‘n sentrale plek te lok, waar ‘n span met pylgewere oorgehaal gesit en wag het.
Hiëna se kind het nie op hom laat wag nie. Een was vinnig op die toneel, toe twee, toe drie…. Uiteindelik het tien vir die “banket” opgedaag – die eerste keer dat soveel hiënas in Sabiepark op een kol saamgetrek gesien is.
Dit het gelyk nes ‘n skermutseling in Robin Hood se tyd soos die pyle op hul teikens afzoem. Al tien diere is daar en dan ingeënt. Drie maande later is die oefening herhaal. Die geure en klanke is weer gereproduseer, maar die trefkrag was dié keer minder. Slegs vier het vir die aanjaer-behandeling opgedaag.
Hiënas teen hondsdolheid inent? Dit klink nogal vreemd. In Sabiepark is dit egter wys geag nadat vier rondloperhonde die park in die vorige ses maande binnegedring het – almal met die dodelike siekte hondsdolheid onderlede, volgens toetse wat later in Skukuza gedoen is.
Wetende dat hiënas min fiemies het as dit by kos kom (soos vele eienaars weet!), en dat selfs die karkas van ‘n dooie hond waarskynlik daardie aasdiere se eetlus sal aanwakker, het die owerhede en magte op “Operasie Vaksinasie” besluit.
Hoekom tien in Sabiepark saamgehok was, word toegeskryf aan die energieke jag-aktiwiteite van ‘n trop leeus langs die Sabierivier, nie net om hul honger te stil nie, maar ook as oorlogsverklaring teen hul aartsvyande in daardie omgewing.
By twee geleenthede het twee jong leeus drie hiënas – een nogal die matriarg –
aangeval en doodgemaak. Die naasbestaandes het Sabiepark vinnig as toevlugsoord geïdentifiseer en daarheen uitgewyk.
Die feit dat twee luiperds in daardie tyd in Sabiepark doenig was, was ‘n verdere bonus wat die hiënas langer laat vertoef het om die luiperds se lerwe by hul prooi te vergal.
Nadat die leeus koers gekies het, was die grootste gevaar vir die hiënas afgeweer, en is die meeste gelukkig weer vort, terug Kruger-wildtuin toe. Maar nie almal nie, hoor, nie almal nie…
Hierdie ene op die foto het verlede Sondag (9 Januarie) om 16:00 by my watergat opgeduik. (HvD)
(Dankie aan die Sabiepark-nuusbrief vir inligting oor die massa-inenting. – HvD)