GELD SOOS SEESAND

So lyk eiendomme in Nettletonweg, Seepunt. Hierdie meneer was in die mark vir ‘n koele R80 miljoen.

More uit Melkbos

As jy geld soos seesand het, kan jy vir die spitsvakansietyd en die duur van die Wereldbekersokker vir jou ‘n kaia’tjie huur wat jou tot R350 000 per dag uit die sak kan jaag, lees ek tot my verstomming in die sakeblad Finweek.

Een R350 000-per-dag-huis is ‘n sesslaapkamer-paleis in die eksklusiewe Nettletonweg. Seepunt (waar kooppryse van R80 miljoen nie na die asem laat snak nie), berig Finweek.

Vandag kom Rapport met die nuus dat ‘n sesslaapkamerhuis in Nettletonweg vir die Wereldbeker teen R250 000 per dag verhuur is.

Getuienis bestaan nie dat dit een en dieselfde huis is nie, maar dis dieselfde straat en dieselfde getal slaapkamers. ‘n Mens kan jou eie suspisies vorm.

As dit is, het die arme eienaar sy huurprys met R100 000 per dag verminder, amper 33 en ‘n derde persent. Op ‘n maandbasis beteken dit ‘n verlies aan inkomste van R3 miljoen.

My hart bloei vir die mens.

Maar teen R50 000 per dag hark hy/sy darem nog elke vier dae R1 miljoen in –
of R7,5 miljoen per maand – as my somme reg is.

Resessie waar is jou angel? (HvD)

LAASTE PAKKE SLAE

Jack Slabbert (met die wit baadjie) op ‘n Volkie-atletiekfoto. Links van hom sit Piet (Vis) Jooste. Slabbert leef nog en woon in Pretoria. Jooste is, soos verreweg die meeste van ons onderwysers, reeds oorlede.

More uit Melkbos

In matriek daag in 1957 daag ek een aand in Potch-Volkies se Jack Pauw-koshuis vir aandete op met ‘n elegante krawat pleks van ‘n das. Gaan trek jou ordentlik aan, gebied Jack Slabbert, ‘n koshuishoof.

“Ek is ordentlik aangetrek.” Dis harde woord op harde woord, en toe ek by die eetsaal uitstap, besluit ek: “Jack Slabbert, vir jou sal ek wys.” Ek gaan spring in my blou dubbelbors-Sondagpak.

Toe ek ge-das en g-epak instap, dawer die eetsaal van die lag. Slabbert slaan sulke rooi vlekke uit. ‘n Nuwe woordewisseling ontstaan, en ek word weer die deur gewys om “ordentlik” te gaan aantrek. Maar toe ek hardekwas die tweede keer by die eetsaal uitstap, stryk ek sommer aan grootpad toe.

By die huis gekom, in Meiringspark, Klerksdorp – steeds in my dubbelbors –
is my ouers klaar ongemaklik. Toe die koshuisvader kort daarna bel, word dit ‘n lelike saak. Pa laai my in die kar, ‘n 1948-Chev, en die hoof, dr. H.F.B. Muller, wag my in – lat in die hand. Toe’s dit sulke tyd.

Pak slae nommer twee val in die matriek-eindeksamen. Voor die laaste vraestel (Geskiedenis) kom ‘n gawe breuk, en ‘n paar van ons oordeel dis ‘n ideale geleentheid om te gaan fliek: Bill Haley en sy Comets in Rock Around The Clock — “One a clock, two a clock, three a clock, rock!” Buite wag die nimlike Jack Slabbert ons in – ‘n sardoniese glimlag op die gesig.

“Nou ja, menere, wat het julle vir julleself te sê? Julle is nog nie te groot en belangrik vir ‘n laaste goeie pak nie, hoor!” Toe voeg hy die daad by die woord.

Herinneringe soos hierdie het op- en oorgeborrel met die gedenkwaardige kuiertjie van my matriek-kamermaat, Wiekie (Vic) Moolman van Krugersdorp, aan Melkbosstrand verlede week. Wiekie (Vic) is ‘n afgetrede mynkaptein.

Soos hulle op Engels sing “Thanks for the memories”. Vic. Kom asseblief weer! (HvD)

‘N LANG STYWE DOP!

As jy dors raak, ou Slakkie,
hou tog goed kop:
moenie net mik-en-sluk-kie,
vat ‘n la.a.a.ng stywe dop!

Die foto van hierdie reuse-landslak wat so strek om sy pensie trommeldik te drink, is by ons bos-swembadjie in Sabiepark geneem. Landslakke van hierdie formaat, en groter, kom algemeen in die Krugerwildtuin voor, en word in hope doodgery – nog meer as klein skilpadjies, wat dalk net effens vinniger as die uiters tydsame slakfamilie die gevaarlike toeristepaaie oorsteek. (HvD)

CHRIS LOUW: EK ONTHOU

More uit Melkbos

Die laaste keer dat ek oor Chris Louw geskryf het, was goedkeurend – toe hy in April vanjaar onder sy ou makker André P. Brink ingeseil het oor dié se afkrakende resensie van die historikus R.W. Johnson se jongste boek, South Africa’s Brave New World.

Die belese Louw het ontmasker dat Brink klaarblyklik vir Johnson in eie munt terugbetaal vir ‘n negatiewe resensie in die Londense Sunday Times van sy biografiese ontboeseming A Fork in the Road.

Die gewoonlik spraaksame Brink was sprakeloos nadat dié persoonlike vendetta só deur Louw oopgekrap is, en ek het gemeen dat laasgenoemde – met wie ek in my lewe meer verskil as saamgestem het – ‘n pluimpie vir ‘n stukkie raakvat-joernalistiek verdien.

As ek oor Louw ‘n bydrae sou moes skryf vir my pas verskene boek Byl in my bos met herinneringe aan ‘n 130-stuks tydgenote wat vooruit langboompies toe is, sou dit egter eerder gefokus gewees het op ‘n aanval waarin die uwe die voorwerp van Louw se wrewel was.

Hoe onstuimig dit verloop het, word in die spotprentjie hierbo verklap. Dit het op 27 Julie 1997 in die Sondagblad Rapport verskyn nadat ek op die RSG-program Monitor onder ‘n Louw-tirade moes deurloop.

Louw het in die onderhoud my onboetvaardige voorlegging aan die WVK as “geromantiseerd”, “naiëf” en “selektief” afgemaak. Verligte Afrikaanse redakteurs was, wat hom betref, onafskeidelik deel van die “apartheidsregime” en daarmee basta. Hy het uiters opgewonde geraak en het my omtrent verskreeu.

Ek kon reageer dat niks in my voorlegging nie op bewysbare feite berus nie. My aanspraak is nie dat my gewese koerant Die Volksblad die baanbreker was nie; wel dat hy gedoen het wat binne die beperking van sy lesers se ontvanklikheid vir die nuwe politiek moontlik was.

Maar die heel belangrikste: hy het resultate gelewer. By die kruispad het die meerderheid Vrystaters vir hervorming en teen regse radikalisme hul kruisies getrek.

Of dit op Louw indruk gemaak het, twyfel ek. Hy het voortgegaan om hom vir nog twee Vrydae selfversekerd teen luisteraarskritiek te verweer, sonder om my weer kans te gee.

Ongetwyfeld sou sekere luisteraars Louw op die skouer wou klop en sê: “Goed so!” Selfs wildvreemdes het my egter gebel om solidariteit te betoon. Onder ‘n pak briewe was van ou bekendes van wie ek lank nie gehoor het nie. Dus het daardie “inkwisisie” darem ‘n goeie doel ook gedien!

Later het dit uitgelek dat ook van Louw se eie kollegas hom voor stok gekry het. Hulle was professioneel verleë, omdat hy tegelyk aanklaer, regter en laksman probeer wees het – ‘n vreemde rol vir ‘n joernalis wat besig is om n onderhoud te voer.

Vandag kan ek nogal die humor in die situasie raaksien, want ek was nog in my pajamas toe hy my die oggend op Melkbos bel, en het – soos my gewoonte was as ek ontsteld raak – later met die gehoorbuis teen die oor in die slaapkamer op- en afgemarsjeer, totdat die telefoon met ‘n slag van die bedkassie getuimel het!

Maar ek sal nie ontken dat ek geruime tyd briesend was nie.

Genoeg daaroor. By Chris Louw se heengaan, is ek werklik spyt dat ek hom nie later jare kon uitvra oor hoe hy nou oor daardie konfrontasie voel nie. Uit sy jongste skrywes het dit immers toenemend duidelik geword dat sy entoesiasme vir die huidige Suid-Afrika in verskeie opsigte skerp aan die taan was, en sy frustrasies dienooreenkomstig aan die toeneem.

‘n Mens kan selfs wonder in watter mate politieke ontnugtering bygedra het om hom só “gatvol” te maak dat hy op 57 gekies het om nie langer te leef nie. (HvD)

LIEDERLIKE LIEGSTORIES

More uit Melkbos

Oornag het 38 plakkerskrotte op die Seepuntse Promenade, vlakvoor bakens soos die bekende Bordeaux-woonstelle, verrys toe ‘n Griekwastam sy voorvaderlike regte op die Seepuntse strandfront kom opeis.

Dié nuus het mense oor die lengte en breedte van ons land ‘n week of wat gelede, om dit sag te stel, laat stik. Saam met die e-pos was ‘n handvol foto’s. Op een is die Bordeaux-blok prominent. Agter toring Leeukop.

Maat die media bly swyg hieroor soos die graf. Later begin die besef deurbring: iemand het, met watter motief ook al, ‘n klomp internetgebruikers ‘n poets gebak, gekul of mislei – kies maar die regte woord. Die foto’s waarmee die liegstorie geloofwaardigheid help gee is, is klaarblykliik met fyn manipulasie iewers op ‘n rekenaar geskep.

Nou weet elkeen wat nie onder ‘n kalkoen uitgebroei is nie, dat e-posse gevaarlik misleidend kan wees. Selfs die gewone stroom welmenende beroepe om steun vir skynbaar edele aksies is dikwels ‘n front vir skelmstreke – só is ons al dikwels gewaarsku. Daarom weerhou ek sonder uitsondering my steun vir alle petisies, gebedskettings en wat nog. ‘n Mens weet nie wat daaragter sit nie.

Gevaarliker as bogenoemde in ‘n land waarvan die senuwees maar taamlik rou en uitgerafel is, is doelbewuste politieke misleiding, soos die storie van die plakkers – opgedis met die sousie daarby dat dit ‘n regstryd van vyf jaar kan inlui, en “ if you thinking of buying a beachfront property – think again!”

Raad het ek nie juis nie, want hoe stuit jy ‘n leuenaar wat sy gif via die internet by goedgelowige mense inpomp?

Al wat ek kan aanraai, is: hou gerus maar die media dop. Koerante en die radio, selfs TV, sal bepaald nie so ‘n storie onopgevolg laat verbygaan nie. As dit nie die koerant haal nie, is dit loutere bog, soos die vals internetfoto’s van Mugabe se huis en Mbeki se vliegtuig destyds loutere bog was.

Een ding bewys hierdie stelling van my onbetwisbaar: dat die waarheid nie sonder die tradisionele media as korrektief staande sal kan bly teen die bombardement van internet-knoeiers nie.

Kom ons praat maar net oor koerante – my klein area van spesialistekennis. Hulle word deesdae uit baie oorde verguis, en hulle kry dit nie altyd honderd persent reg nie. Maar skaamteloos lieg soos internet-grapjaste lieg hulle nie.
Punt.

Nee wat, diegene wat só internet -behep is en dwaaslik glo, praat of optree of koerante se tyd verby is, kan gerus gaan nadink oor die noodsaaklike rol wat hulle speel, en toenemend sal moet speel, om te sorg dat die gemeenskap dermate juis ingelig is dat hulle die regte besluite kan neem – wat een van die media se kernrolle in ‘n gesonde demokrasie is. (HvD)