Dec 12, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Ek het gevra en die antwoorde het flink gekom, meesal met sterk oortuiging uitgespreek.
Die uiteinde is dat die Van D’s se kreef op 17 Desember kombuis toe gaan.
Dis Tokkie se pot wat wen – HvD se kole is uitgestof.
Tussen ons gese, na al die vriendelike raad het ek skielik begin twyfel of ek gekonfyt genoeg is om kreef te braai dat dit nie rubber word nie.
Ek krabbel liewer terug en vat nou die slag vir my ego as die aand van 17 Desember – dat my kreef op die kole dalk nie aan die verwagtinge voldoen nie.
‘n Kort skande is beter as ‘n lang verdriet, se Johan van Wyk. Ek stem.
Maar eendag, eendag, gaan ek nog Una se resep probeer. (HvD)
Dec 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Voel jy vuur en vlam oor jou Harley? Dan is hierdie “vurige” fees uitgeknip vir jou.
In ‘n advertensie in vanoggend se “Burger” lees ek Harley-Davidson, Kaapstad, “vuur” sy tiende verjaardag.
Vir ‘n oomblik wou-wou ek wonder of hier dalk ‘n slimkop aan die werk was. Is dit ‘n sinspeling op die vurigheid van die fiets?
Ek hoef nie lank te gewonder het nie.
Net in die volgende lyntjie staan daar jou werklikwaar: “Kom in en vuur ons 10de verjaarsdag met jou deal van die dekade!”
‘n Mens wil sommer vuur spoeg as hulle so mors met jou taal! (HvD)
Dec 10, 2009 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Nee, hierdie knewels is nie die manskappe wat op 17 Desember kole of kookwater toe gaan hier op Melkbos nie.
Dinge het egter mos ‘n manier om soms onverklaarbaar saam te loop. En juis gister, pas nadat die Van D’s se Groot Kreefdebat in hierdie ruimte op die agenda geplaas is, daag die skouspelagtige foto’s hierbo per e-pos op.
Net om ‘n mens nederig te hou as t ware!
Dis Swakopmund-eksemplare daai, vriendelik (en hopelik sonder bymotiewe) versend deur Henri van Biljon, mede-Melkbosser met diep wortels in die ou Suidwes.
Nee, die meisie se naam ken ek nie.
Nee, die finale beslissing oor die lot van ons krefies (klem op die verkleinwoordjie) op 17 Desember is nog nie gevel nie. Dit begin egter in ‘n rigting mik – hou hierdie spasie dop, soos hulle se. (HvD)
Dec 9, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Dispuut is darem ‘n sterk woord, maar ‘n element van diskordansie kan nie ontken word nie oor die vraag hoe die kreef moet gaar kom: kole of kookwater.
Kreef is nie gereeld op die Van Deventers se spyskaart nie, maar is wel op 17 Desember wanneer spesiale vriende, Chris en Annette van Rensburg, kom kuier – buitendien twee wat beloning verdien vir ‘n winderige aand lank-lank gelede in Luderitz toe, met groot inspanning, in ‘n storthokkie kreef vir ons en ons kinders gaar gemaak is.
Hoekom ek daardie aand só op die agtergrond was, kan ek nie meer ná al die jare onthou nie, maar my vriend Chris, destydse buurman in Bloemfontein, wat hondsiek was, was al hoesende en proesende in die rol van sjef. Annette was ‘n sjarmante en entoesiastiese assistent.
Die diskoers oor die regte metode 17 Desember – een wat lekker kuier moontlik sal maak sonder om smaak in die proses in te boet – het begin kort nadat die beskikbaarheid van die Weskus-lekkerny vir die geleentheid bekend geword het.
Tokkie het al hier op Melkbos aansienlike welslae met kreef behaal, soos die aand toe die foto’s hierbo geneem is. Nie verrassend vir ‘n Vrystaatse meisie nie, staan en val sy egter by die beproefde kookwater-metode.
Jy kan maar sê sy is, soos die kreef self, aldus André P. Brink, in die titel van een van sy minder onvergeetlike boeke , “gewoond daaraan”. Buitendien is sy ten gunste van ‘n omvattende reinigingsproses voordat dié koningskos op die tafel kom. Sy hou, om brutaal eerlik te wees, nie van die “gemors” in ‘n kreef se kop nie.
Ek spreek met minder deurlugtige ervaring van die onderwerp, maar kom sterk op vir die kole-idee met die oog op ‘n gesellige tydjie om die braaier, natuurlik met ‘n koue wittetjie in die hand.
Buurvrou Una Beukman is ‘n Weskusser van faam en ken seekos of sy dit uitgevind het. Ek klop toe by haar aan en sy laat weet die volgende:
“Jy sny dit op sy maag oop van bo tot onder, spoel onder skoon water af,
maak ‘n lekker botter- en suurlemoensousie, gooi rugkant op die rooster en drup met sous. Draai om en braai maagkant, nou nie so lank soos skaaptjops nie, maar jy sal sien as die vleis wit word. Draai miskien so twee keer om op elke kant ná so 4-5 minute se braai. Dan eet jy dit maar so uit die dop
en die sousie loop teen jou kennebak af. Lekkerder as lekker.”
Ek vermoed die feit dat 16 Desember Versoeningsdag is, het ‘n rol gespeel; Una se geesdriftige kennersadvies het egter waarskynlik die deurslag gegee dat onse krefies kole toe gaan die aand as Chris en Annette kom kuier.
As blog-vriende oor die plan, of oor Una se voorgestelde formule vir goeie kreef, ‘n eiertjie wil lê, wil ek hulle aanmoedig om nie beskroomd te wees nie.
Ons wil graag lekker kreef eet saam met die Van Rensburgs. (HvD
Dec 8, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Wie luister na veligheidsaankondigings op vliegtuie?
Ek wil nie lelik wees met die spesie lugpendelaars nie. My indruk is egter dat hulle in die algemeen nie ore het vir die mededelings oor nooddeure, suurstofmaskers, reddingsgordels onder die sitplek en daardie klas ding nie.
Trouens, die meeste vroetel voort, gesels of blaai verwoed in die lugdiens-tydskrif om daarmee hul vlak van sofistikasie te beklemtoon – “ons vlieg só dikwels dat ons nie hoef te luister nie!”
Met Airlink se vliegtuie wat deesdae die “klein mistykies” inryg – vyf in ses maande! – kan situasies ontstaan dat ‘n mens nogal jammer raak dat jy nie geluister het nie, reken ek. (Kom ons los dié onderwerp maar liewer daar, ander sê ek netnou iets oor Airlink se bemanning waaroor die Gelykheidshof my dalk gryp!)
My eintlike punt is om Kulula ‘n pluimpie te gee. Waar die algemene praktyk is om die aankondigings lusteloos af te rammel, gee Kulula syne woema met ‘n skeutjie humor.
Nou die dag toe ons op Lanseria opstyg. sê die Kululua-kêrel byvoorbeeld die kanse dat ons ekstra suurstof sal benodig, is omtrent só gering as dat Julius Malema ooit sal sin praat. ‘n Proesbui het van ry een tot by ry dertig getrek. (By Mango sou dit ry 32 gewees het – hulle pák jou in!)
Ewenwel ek het ook al ‘n Kululua-meisie vroom hoor aankondig: diegene wat kan swem moet links uit die vliegtuig in nood, dié wat nie kan swem nie, “ dankie dat u met Kulula gevlieg het!” Nogal spitsvondig.

In die sestigs is die eerste Holiday Inn in Suid-Afrika by Mtubatuba geopen. Persmense is met ‘n gehawende DC-6 van die Randse lughawe gevlieg vir ‘n Romeinse “bacchinaal”. Ons het op rolle fluweel skuins gelê en wyn gedrink uit reuse-glasbekers wat goud gespuit is.
Die ou Douglas was ‘n wonderlike vliegtuig, die eerste met lugdruk-beheer in die kajuit, genoeg ruimte om vryelik te beweeg en eersteklas-diens deur oulike lugwaardinne. Daardie spesifieke ou het duidelik al deur die meule gegaan, met stukkende matte en só.
Toe die Pratt & Whitney Double Wasp-motore begin brul, seg die vlieënier krakerig” : “Ladies and gentlemen, in case of any extra oxygen being needed ………we’re all buggered!”
Daardie speelse opmerking het my vir die duur van die vlug – totdat ons op Mtubatuba met ‘n gewone bouersleer tot in ‘n vragmotor se bak moes klim – nogal met intense konsentrasie regop laat sit! (HvD)