MAAN-JIFIEK!

‘‘Teen die oosterkim is ‘n volmaan aan’t deurkruip tussen die eerste takke wat reeds hul blare begin afskud het vir die winter. Mayafudi neem hom voor om langer wakker te bly. Die bos in helder maanlig gebaai, is ‘n verruklike gesig. Hy wil dit eers ten volle indrink. Volmaan was nog altyd vir hom ‘n tyd van dankbare betowering – hoewel die teenoorgestelde ook weer sy eie bekoring het: ‘n pikdonker bos met die see van helder sterre so naby dat ‘n olifant kan voel hy sal een vir een met sy slurp uit die lug kan pluk.”

Oor die betowering van volmaan in die bos is ek en die verbeelde olifant van my bosboekie “Mayafudi” (Tarlehoet, 2005) dit van harte eens.

Winter of somer, kombineer die gedugte Bosveldbome en die helder maan om
skilderagtige patrone in die lug of op die grond te trek.

Die hart bons dat op ons aanstaande besoek, van 26 Desember tot 10 Januarie, opnuut ‘n volmaan in die bos beleef gaan word.

‘n Baie spesiale volmaan is dit, want vir eers is dit op 31 Desember, Oujaarsaand. Ten tweede is dit ‘n sogenaamde “bloumaan”, die tweede volmaan in een kalendermaand. So iets gebeur net elke twee tot drie jaar.

Om alles te kroon, is Oujaarsdag ook my en Tokkie se troudag. Ons sal daardie dag 43 lank in die eg verbind wees.

As iets baie seldsaam gebeur, het die Engelse ‘n uitdrukking: “Once in a blue moon”. Dis einste hierdie “bloumaan”-verskynsel wat die oorsprong van daardie gesegde is.

Dit gebeur net een keer elke twee tot drie jaar, het ek reeds gemeld. Of dan ongeveer 41 keer per eeu. Watter voorreg is dit dus nie vir my en Tokkie nie dat hierdie ons derde in Sabiepark gaan wees, as my sommetjies reg is.

Van die eerste keer, 31 Julie 2004, het ons nie eens geweet nie – eers agterna gehoor. Op 30 Junie 2007 het ons egter vir n vale foto’s geneem. Ons het foto’s van my en Tokkie op ons motorpad met die (bra kleinerige!) maan doer ver bo; ook van ons kinders Brent en Marisa Claassens met hul tweeling, Jacob en Thomas, en die maan in die agtergrond, en van ons met die tweeling (foto hierby).

Die volgende “bloumaan” is in Augustus 2012. Hoop die ou lyf hou nog dat ek dit dan my vierde in Sabiepark kan maak.

Intussen neem die opgewondenheid toe oor die magiese viering van die oujaar met ‘n vuurtjie en ‘n flessie goeie rooi in die helder maanlig. Hoop Sabiepark se diere voer vir ons ‘n spesiale verrassing vir dié aand in die skild.

Dalk stem hulle saam met HvD en Mayafudi, of Mahatma Gandhi wat die volgende mooi woorde op skrif gestel het: “When I admire the wonder of a sunset or the beauty of the moon, my soul expands in worship of the Creator.”
(HvD)

HEMEL EN DIE HEL

More uit Melkbos

Valkoog Danie Krynauw van Melkbos lees in die begrafniskennisgewings van “Die Burger” gister nog’n inskrywing raak wat hy bloggenswaardig ag.

Ek stem van harte met die ou sondaar saam, en haas my om dit in hierdie ruimte verder uit te dra:

” Tydens ons laaste saamkuier het ons nog planne gemaak om saam Karoo toe te gaan. Ons sou twee aande in die ‘Hel’ gaan oorslaap. Toe ‘chicken’ jy uit en gaan eerder Hemel toe.”

Danie se kommentaar is: “Goeie keuse!”

Ook daaroor kan ek nie van hom verskil nie! (HvD)

PLASTIEK-PROTEAS!

Middag uit Melkbos

Spesiaal vir Magriet Malan van Bellville – ken haar van geen Adamskant af nie – hiermee ‘n versie uit die uwe se hekelboekie, “Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof”, wat in 2003 verskyn het.

Die versie heet “Rommelrosie” en is in simpatie en solidariteit met haar brief in vanoggend se “Die Burger” waarin sy dit betreur dat die “voorportaal” tot die skone Kaap, die N1 van die Paarl se kant af, só ontsier word deur, soos sy dit stel, duisende stukkies rommel wat deur die suidooster teen die draadheining vasgewaai word.

So lui my versie:

Soos ‘n selsonsroos in die Se’doos
Waai ‘n plastieksak in ‘n droë tak;
‘n Moedswillige toeris hou hom dom:
”Is dit werklik jul nasionale blom?”

Magriet, ek het ook al in wanhoop in my lug gegooi en na die pen gegryp oor ‘n belangrike Suid-Afrikaanse “voorportaal” wat soms gruwelik lyk. Dit is die hoofroete na die Krugerwildtuin van Hazyview af. Daar kan jy nie eens die suidoos blameer nie. Dis sommer net doodgewone morsjorse met absolute minagting vir hul mooi land en die toeriste wat dit kom besoek, wat daardie stuk pad só besoedel.

Met die Hazyview-munisipaliteit self ook nie sonder blaam nie. Dié het in sy wysheid verordineer dat die stortingsterrein teenaan die pad ontwikkel word. Magriet, jy moet sien hoe dit daar lyk as die wind daardie gemors skep!

Ek wil tog pleit dat die sokkerbaronne die emosie rondom die wêreldbeker probeer konstruktief kanaliseer in ‘n nuwe, meer gefokusde “hou-ons-land-skoon”-veldtog as die vorige wat maar min opgelewer het.

Laduma! Teken ‘n doel aan vir ‘n rommelvrye Suid-Afrika! (HvD)

Naskrif: Vanoggend is op die nippertjie besluit om die rugbyfliek “Invictus” in die Bayside-sentrum in Table View na ‘n ander teater te verskuif. Die eerste fliekgangers betrap toe die skoonmakers midde in ‘n verbete stryd om die verstommende spul lekkergoedpapier, plastiekglasies, kartonbokse, springmielies, wynbottels en wat nog wat van gisteraand se vertonings opgehoop het, op te ruim. My oë het omtrent uit my kop geval toe hulle die derde propvol sak uitdra!

ELKE KRIESELTJIE NUUS

More uit Melkbos

Hoe lees jy jou koerant?

Party pik-pik; ander bestudeer hom van hoek tot kant.

Ek skat soveel maniere bestaan om jou koerant te lees soos om jou vrou te soen. Elkeen doen dit op sy eie manier.

Ek was een van die hoek-tot-kant-lesers. Nadat ek afgetree het, het ek progressief luier geword. Tokkie vang my uit dat ek goed mis, wat ek nooit sou gemis het nie. Gelukkig het ek wat ‘n mens kan noem “verkenner-lesers”. Hulle verken elke krieseltjie nuus en laat weet: Lees gerus op bladsy soveel die volgende.

Dankie, vriende, dat julle so as my oë en ore ageer.

Een van die deeglikste koerantlesers wat ek ooit raakgeloop het, is Ton Vosloo, voorsitter van Naspers. Hy verslind papier, daardie kêrel, en dwing mense om hom om ook wyd en deeglik te lees – anders wag verleentheid.

Ton het nou die dag in die Kaap die begrafniskennisgewing raakgelees van Ian Crabtree, eerste parkhoof van Sabiepark. Sy voorsprong bo gewone lesers is sy wye spektrum van kennis. As hy ‘n naam herken, bring hy dadelik die kloutjie by die oor.

My oud-kollega Herman le Roux is ook in daardie klas. As hy met vakansie gaan, laat hy sy koerante ophoop. Keer hy terug, gaan hy met n fynkam deur almal. Sy tradisionele taak is om elke jaar rondom Kersfees ‘n lys saam te stel van al die sportlui wat in daardie jaar langboompies toe is.

Hou maar dop. Herman se lys kom. Kyk maar of jy hom kan uitvang!

Op Melkbos is ‘n egpaar, Danie en Esbé Krynaüw, wat fyn lees: elke nuusbrokkie, ook elke inskrywing in die Kennisgewingkolomme, die sogenaamde “Hatch, match en dispatch”-afdeling van die koerant, of te wel wie’t getrou, wie’t n babatjie gehad, wie’s heen.

Danie is een van my Josua’s. Hy laat weet gereeld: Kyk hierna, kyk daarna.

Hy stel ook blogonderwerpe voor, soos die volgende: “Hennie, jy kan gerus blog oor wat mense onder ’sterfgevalle’ kwytraak”. Hy noem drie voorbeelde wat wys dis die moeite werd om ook daar rond te snuffel:

“Hy sal voortleef in sy erflating aan ons …”

“Mag jy lekker rus by Betsie en Jaco…”

“My Angel boy ,Scotty , thank you for loving
me the way you did.
Your loyalty and love will always be
Remembered.
I wrote your name in the sand
but the waves washed it away.
Then I wrote it on my heart and that’s
Where it will always be.

“Your loving mom and girlfriend and all your human friends”

Scotty se van word, aldus Danie, ook aangedui. Dié mense was duidelik lief vir die hondjie, besluit hy, en ek kan nie anders as om saam te stem nie, (HvD).

Naskrif: Wat die illustrasie betref: nee, koerante kry daagliks stapels nuus – veels te veel vir die beskikbare kolomme. Koerant uitgee is ‘n proses van selekteer en verkort op ‘n ingrypende skaal. Onvermydelik bly van die beste berigte soms uit, en haal vrottes die koerant. Die menslike oordeel is, helaas. nie altyd onbesproke nie.

TOT SIENS, PIET UYS

Naand uit Melkbos

Piet Uys, spanmaat van Frik du Preez en Mof Myburgh in die spanne van die Blou Bulle en die Springbokke in die beginjare van die 60’s, is oorlede, lees ek vanoggend in Rapport.

Piet Uys se dood, op 72, tref by my ‘n snaar. Hy kom uit die era toe ek lief geword het vir Loftus en die Blou Bulle – en sommer op rugby in die algemeen versot geraak het.

Ek groet hom met die foto hierbo, waarvan hierdie afdruk waarskynlik die enigste is. Hy druk hier n drie vir Bobbies (Polisie) teen Tukkies. Te laat om te keer, is Proppie Goosen, studentemaat wat vir Tukkies, Noord-Transvaal, Natal, O.P. en S.W.D. skrumskakel gespeel het. Proppie is n afgetrede landmeter en woon met sy mooi vrou, Lettie, op Outeniekwastrand (dalk Glentana?)

Hy en Nic Boje. wat met sy mooi vrou, Chrissie, op Stilbaai afgetree is, was ‘n droom-skakelpaar.

Die fotograaf is Dirk Cloete, Ingenieurstudent, wat met sy kamera en motorfiets daardie tyd ‘n bekende figuur op Tukkies se kampus was. Die foto was in die Tukkie-studentekoerant Die Perdeby, waarvan ek in 1961 die redakteur was.

Tot siens, Piet. Jy was ‘n Meneer. Ek glo die grote Frik pik ook vanaand ‘n traan uit die oog. (HvD)