VEERTIG JAAR LATER, DIE SINFONIA

Middag uit Melkbos

Die Van Deventers gaan aan boord wees wanneer die pragskip die MSC Sinfonia Dinsdagaand uit Tafelbaai vaar Durban toe. Herinneringe sal amper vier dekades terugrol na ons eerste romantiese vaart tussen dié twee stede met die Pendennis Castle in 1970.

Op die foto hierbo op die dek van die Pendennis is ons bloedjonk. Ek was 29 en Tokkie vyf jaar jonger. Ons was sonder kind of kraai. Johan, ons oudste, is in 1971 gebore. Dinsdag vaar ons oudste kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens (5), die kinders van ons jongste. Marisa, saam met Oupa en Ouma.

Dié twee tel die slapies al lank, en toe Ouma gister, eergister vir hulle vertel hoe opgewonde sy is, antwoord Jacob ewe ernstig: “Ek is ook opgewonde, Ouma.”

Ai, om so oor die dekreling te hang en dop te hou hoe Tafelberg al hoe kleiner en kleiner word…dis mos die lewe! ‘n Ekstra dimensie Dinsdag sal wees dat ons Kaapstad se liggies agter ons laat Die vorige keer het ons in helder sonlig uitgevaar.

Ons kwartiere in 1970 was, in ooreenstemming met ons beursie, maar taamlik beskeie. Ons was iewers in die boeg van die skip ingedruk. Hiertdie keer sal ons die see uit ons kajuit kan sien. Ons sal ook kan loop op die nege dekke waar ons wil.

Op die Pendennis het ‘n ketting daardie deel van die dek afgesper waar die ouens met die min pitte nie durf kom nie. Maar ag, ook aan ons kant was dit net ‘n plesier om smiddae saam met ons nuutgevonde bootvriende te sit en Pimms no. 1 drink terwyl die skaduwees langer rek.

Vyftien jaar later, in 1985, is die gesin met die Griekse lynboot die Constellation na Mauritius. Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het.

‘n Politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna.

Vir dié moeite kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatlywe nie, maar ook op die indrukwekkende proporsies van ‘n fris vroulike kollega, wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop gekruip het.

Die see op daardie vaart was rof, bitter rof. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Toe vorder ons weens die reuse-deinings teen ‘n die gang van ‘n slak in stadige pas. In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer. Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op daardie eksotiese vakansie-eiland.

Dié ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei. Maar die lus was behoorlik geprikkel.
‘n Jaar later is ons met Oceanos (spreek uit Okeanos) van die Epirotiki-redery op ‘n vierdaagse vaart na die Griekse Eilande. Dit was die dae van die Tsjernobil-kernramp, met onvoorsiene gevolge vir die Van Deventers.

Toe ons in Athene se hawe, Piraeus, aan boord gaan, kry ek in ons kajuit ‘n program vir dag een met die volgende skoknuus: “11:00 – The MTS Oceanos sails for Istanbul (Turkey), a distance of 354 nautical miles.”

Istanboel! Turkye! Is ons dan op die verkeerde boot? Ek skrik my bloeddruk deur die dak. Toe ek uitasem by die betaalmeester kom, kon hy my gerus stel: “Nee, die verkeerde boot is dit nie. Weens Tsjernobil het baie passasiers kop uitgetrek. Twee vaarte moes toe saamgegooi word.”

Van Istanboel is ons na Mykonos, Santorini en daardie plekke. Dit was ‘n vakansie duisend – veral die ure op die dek met die stewige voorraad Suid-Afrikaanse wit wyn wat ons in ‘n yslike “toksak” saamgebring het om die buitensporige pryse van aan-boord-alkohol vry te spring. Deesdae mag jy dit nie meer doen nie. Hulle besnuffel glo jou koffers van hoek tot kant.

Tokkie onthou geamuseerd die gedoente met haar haardroër. Dié was minus die regte konneksie. In haar drasak wat altyd vir elke soort noodtoestand ingerig is, was egter wel ‘n muurprop van Europese model. Sy vra toe die kêrel in beheer van die kajuitwaardinne vir ‘n skroewedraaier. Hy was dadelik suspisieus. “Screw driver? What for?”

Toe sy verduidelik, kry hy ‘n spasma. “Wil u dan die Oceanos (onthou die “k”) die lug inblaas?” Nee, hy stuur die skeepselektrisiën. Dié daag toe op, nie met ‘n skroewedraaier nie, maar twee stukkies hegpleister. Sy raad was skokkend aards: plak die kaal drade sommer met die hegpleister aan die muurprop se gaatjies vas! Daardie haardroër is op daardie vaart nooit uit die tas gehaal nie.

Die Oceanos het so diep in ons harte gekruip dat ek skoon bewoë was toe hy, darem heelwat later, blinkpens bo in die dieptes van die Indiese oseaan aan die Suid-Afrikaanse Wildekus wegsink.

Mag die MSC Sinfonia voorspoediger vaar … (HvD)

WOELWATER-WEDSTRYD

Middag uit Melkbos

Elke oupa en ouma het seker pakke foto’s van hul kleinkinders, en is ook nie skaam om dit rond te wys aan almal wat wil kyk (of nie will kyk nie).

Hierdie ene van ons klein Jacob Claassens is in Sabiepark geneem. Die twee langnekke kon kwalik hul verbasing wegsteek toe die klein kortetejie skielik voor hulle opdoem.

Jacob (nou 5) was toe 15 maande oud. Hy en sy tweelingbroer, Thomas, was op hul eerste Sabieparkbesoek by oupa en ouma.

Ek het die foto gaan opgrawe n.a.v. die Huisgenoot-wedstryd vir foto’s van Mooi Oomblikke waarin kinders figureer.

Dis te laat vir trane – Huisgenoot het al die finaliste gepubliseer waaruit lesers hul “gunsteling-kleinding” moet kies – maar ek wonder of Jacob en die kameelperde wat hom so uit die hoogte betrag, nie dalk ook vir ‘n troosprysie in aanmerking sou kon kom nie. (HvD)

DIE KAP VAN DIE BYL

More uit Melkbos

Op ‘n gevorderde ouderdom het Margot Asquith speels gelamenteer: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Brood en begrafnisse, met ander woorde, in “plein” Afrikaans.

Dié dame het ‘n groot waarheid raakgevat. Trouens, omtrent al wat ook in my eie lewe in die laaste jaar of tien meer geword het, is die pyne, die sentimeters om my middel en die begrafrnisse wat ek bywoon.

Dit kap in ons bos, sê ons ou mense van die dood-natuurlike proses wat hom rondom ons voltrek. Dit is immers ‘n eleganter manier om die toenemende optog van tydgenote langboompies toe te beskryf as om die ding sommer op sy naam te noem.

Uit die gekap, -kap, -kap in die bos kom die titel van my boek “Byl in my Bos”, wat pas by Griffel Media verskyn het.

Wat bedoel ek met “my bos”? Ek definiëer hom ruim as die bos waarin ek klein was, en waarin ek nou ‘n ou boom geword het met baie jaarringe en ‘n skurwe bas. Dis as ‘t ware my lewensbos.

“Byl in my Bos” handel enersyds oor persoonlike herinneringe aan ‘n 130-stuks oorlede politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie in ‘n koerantloopbaan van 36 jaar saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël, wat vooruit gegaan het.

Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders kan so ‘n wandeling tussen die langboompies deur darem dodelik vervelig geraak het!

Oor die soort inligting wat lesers in “Byl” te wagte kan wees, word die sluier op die agterblad van die omslag só effens gelig. Vir wat dit werd is, sit ek graag vandag daardie blad volledig hier op my blog:

“Oor die ‘leiers en verleiers’ uit ‘sy bos’ gee Van Deventer kostelike glimpsies. Een staatshoof sou ‘n skaapkop met sy knipmes takel. ‘n Ander het die skrywer met die hand lemoenskyfies gevoer. ‘n Deftige mevrou van Libertas se delikate doilietjies is in tronk-kamerpotte uitgespoel!

“Lees hoekom ‘n topredakteur as ‘n ‘swaar vermomde engeltjie’ en sy kollega as ‘n ‘goeie bliksem’ beskryf is; oor ‘n koerantveteraan wat in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed Kabinetskuiwe reg voorspel het, en oor die skrywer wat ‘n koeël in sy kuiltjie gekry het – toe hy onskuldig was!

“Van Deventer kap heerlike anekdotes oop: oor ‘n indrukwekkende galery “bekendes, rykes, slimmes, skones en sommer doodgewones”. Hy onthou die sluipmoorde op Hendrik Verwoerd en Chris Hani – maar vergeet nie die getroue tuinman Daniël wat ‘sy lewe’ verloor, en teruggekry, het nie.

“Die leser word toeskouer by vuurwarm direksievergaderings en vername etenstafels; hy hoor geheimpies oor ‘n onwaarskynlike lid van die Afrikaner-Broederbond se lojaliteit; ‘n formidabele volksmoeder se guitigheid by boere-opskoppe; ‘n omstrede skilder se eskapades met naakte modelle…

“Van Deventer verklap watter vrou die ‘onuitwisbaarste indruk’ op hom gemaak het, wie hy onthou soos sy eerste soen en wie ‘n liefdesbrief van 114 bladsye gekry het. Hy verswyg ridderlik die naam van die mooi ouderling wat, kaal bolyf, knielend voor haar leraar gestaan het!”

Wel, dis dan dit. Hoop hierdie voorsmakie het ‘n paar mense lus gemaak om “Byl” te lees! (HvD)

GASVRYHEID TEEN ‘N PRYS

More uit Melkbos

Ek wil nie graag dierbare, goeie mense in die gesig vat of seermaak nie, maar ek het nog nooit trek gehad in onthale met kontant-kroeë nie. Miskien is ek net ouderwets, maar ek glo as jy iemand nooi, is jy verantwoordelik vir die te ete en te drinke. Jy laat nie jou gaste opdok nie.

As jou begroting onder druk is, nooi jy eenvoudig minder mense of bied minder aan. Ek bedien liewer “bokswyn” of tuisgemaakte limonade as om gaste ten duurste te laat betaal vir hul whisky, brandewyn of jenewer.

Uitnodings met die mededeling in ‘n hoekie onder op die kaartjie of briefie dat ‘n kontantkroeg beskikbaar is, is redelik algemeen deesdae, ek weet. Nou-ja, dis moeilike tye, maar as ek enige sê het, sal my advies wees: liewer nie. Jy plaas jou gaste net onder onnodige druk.

Veral by bruilofte skep só ‘n “drink-en-betaal”-stelsel soms pynlike ongemak. Een gas het sy beursie vergeet en is dan van ander afhanklik. ‘n Ander is die gulheid vanself en koop vir almal drankies. Maar dan is dit eintlik sy broodgeld wat in sy vriende se kele verdwyn.

Die vreemdste van vreemde uitnodigings het ek pas ontvang, sal liewer nie sê van wie of wat nie, maar kan darem verklap dis geen armlastige instelling wat my nooi nie.

‘n Vriendelike keuse word tussen twee onthale gebied: ‘n middagete in ‘n spoghotel in Sandton of ‘n skemeronthaal in een van Kaapstad se deftigste vyf-ster- adresse.

Voor ‘n sekere datum moet jy “registreer” vir watter een jy wil bywoon (of dalk albei ook, as jy wil). Maar dan die vangplek: vir die middagete is die “registrasiegeld” $35 en vir die onthaal $20.

Dis gasvryheid teen ‘n prys, boeta (betaal nou en hou die wisselkoers dop!) Dan dink die gasheer blykbaar die eer om genooi te word, is só groot dat die gaste oor hul voete moet val om te “registreer”.

Wel, wat my en my huis betref, is die antwoord ‘n onmiddellike en abrupte “nee dankie”. Ek het só vinnig laat weet dat die gasheer besorgd (?) verneem het of my gesondheid na wense is!

As ek verkeerd of ‘n vreemdeling in Jerusalem (of sommer net suinig) is, is ek jammer, maar dis nou maar een maal hoe ek oor uitnodigings voel en basta.

Dis hoeka lekker kaalvoet hier by my eie huis.

KATTE-VERSKRIKKERS

More uit Melkbos

Daar is inderdaad meer as een manier om, spreekwoordelik, ‘n kat dood te maak – nie net met ‘n behendige kap of swaai van ‘n graaf soos die tuinman Daniël destyds in Bloemfontein om die bedreiging van die bure se “Snuffels” vir Tokkie se wit duiwe af te weer nie.

Nadat ek in ‘n vorige blog (28/10) my lot bekla het oor die grys kietsie wat luiters hier rondwals en snags op die onheiligste tye die alarm aktiveer, het welwillende bloglesers met ‘n verskeidenheid rate vorendag gekom.

‘n Blikkie tuna wat ‘n week in die son gestaan het, skyn redelik wyd beproef te wees, hoewel die verspreiders van sulke advies ‘n sekere beskroomdheid oor hul identiteit openbaar.

Ander raad behels die aanwending van sitronella-olie op strategiese punte. Katte verafsku glo die reuk. Wel, wel … met sitronella voer ons in die bos die stryd teen muskiete. Ons brand allerlei sitronella-kersies, -fakkels en dies meer, en was ons selfs met sitronella-sepies. Om te weet van die veeldoeligheid verbreed die kennis. Dankie.

Uit Nederland laat weet ‘n vriendin sy kan onthou dat haar ma in die ou dae in Pretoria “zoopoo” gebruik het om katte uit die tuin te verwilder.

Daardie “zoopoo” koop jy nie in ‘n spuitkannetjie nie. Die prinsipe was dat leeumis huiskatte verjaag, soos party mense hier te lande onwelkome honde met bottels water van hul grasperke probeer hou.

Een of ander slim Koos van der Merwe het die dieretuin-idee gekaap en dit bemark as “Zoopoo” ( lees “Zoepoe”).

Ongelukkig kan die vriendin nie onthou of dit gewerk het nie. ‘n Ander komplikasie is verkrygbaarheid. Ry ek Tygerberg-dieretuin toe met ‘n skopgrafie? En wat as die leeu nie genoeë neem met die versamel-aksie in sy/haar hok nie?

Nou die aand was daardie vriendin Amsterdam toe vir ‘n uitvoering van “Amandla Mandela, the musical”, wat sy terloops nie juis sterk aanbeveel nie.

Sy sien toe in die pouse by Carré hoe hulle duiwe van mure weghou –
Amsterdam ‘n groot duiweprobleem (soos sy probleem met die vragte “hondepoep” wat troetel-Wagters op sy sypaadjies deponeer).

Die ondernemende Hollanders weer die duiwe met duiwe- “spikes” –
só ‘n strook met gevaarlike lang penne. ‘n Mens kan dit met katte ook probeer, meen die vriendin (en dalk skrik dit boosdoeners terselfdertyd af!).

Moeilikheid is net die verdekselse kat wat hier so lastig is, is só ouderwets dat ek wonder of hy/sy nie sulke “Katspikes” (Nederlands) of “Katspykers” sal aansien as ‘n nuttige hulpmiddel om ‘n jeukmaag teen te krap nie.

Gelukkig is daar goeie nuus uit Melkbos. Dalk het die kat geskrik vir die raad wat instroom. Hy/sy loop die laaste paar nagte wye draaie. (HvD)