TEDDIE, TEDDIE 007!

Die versteekte loerkameratjie met sy legio spioenasie-gebruike (en misbruike) het nou ‘n spesiale naam gekry, sien ek. Dit heet die “nanny cam”.

Koop ‘n “nanny cam” vir Kersfees en beloer jou bediende!

Só word die “ogie” wat jy in enigiets kan sit, van ‘n teddebieer tot ‘n potplant, tot ‘n muurhorlosie, brutaal ge-adverteer.

Party advertensies is nog brutaler. Die ene in ‘n Melkbos-biljetjie wat mev. Van D se oë laat rek het, kondig aan “beperkte Kersfeesvoorraad” is beskikbaar vir almal wat “gatvol” is oor vermiste kos of kruideniersware, vreemde hare in hul beddens of tandeborsels wat snaaks proe. Grrr!

Kinders word soms afgeknou, en die behoefte van ouers om te weet wat agter hul rûe aangaan, is nie onbegryplik nie. Maar ek wonder darem oor die inbreuk op privaatheid wat dit behels.

En die kans vir misbruik wat die onortodokse “Kersgeskenkie” skep. Sien juis in Jacksonville, Florida, is ‘n ou vasgetrap wat met sy “nanny cam” ‘n kaal meisie in haar badkamer afgeloer het.

Voorgestelde naam: “cutie cam”. Of dalk: “booby trap”! (HvD)

OUMA-PORTEFEULJE

Vir ‘n ”spesiale ouma” het ek, met haar bereiking van oumastatus, op 26/4/2004 ‘n versie geskryf wat my insigte in daardie stadium weerspieël het.

Ek het gemeen:
Oumas moet kan kook en brei,
Party kan ook nog lekker vry;
’n Vet lot is al oor die muur,
my eie is vol vuurplesier.

In die vyf, amper ses, jaar wat intussen verloop het, het ek nog allerlei ander ouma-eienskappe ontdek en leer ken. Ek gaan nie uitwei nie, maar een daarvan wil ek met ‘n paar foto’s probeer uitbeeld. Noem dit die magiese band tussen ‘n ouma en haar kleinkinders.

Daardie band laat hulle onder meer mekaar aansteek om op foto’s saam buitengewoon te skitter. Kyk byvoorbeeld na die foto’s van Ouma Tokkie en die tweeling wat twee weke gelede op ons boot- en treintoer geneem is.

Die foto van haar en Michael is geneem pas nadat hy in Maart 2008 as wildvreemde en ietwat verwilderde pleegkindjie in ons lewens gekom het. Op dié foto straal Ouma en die seuntjie wat haar vierde kleinkind sou word, albei ‘n besonderse vrede en harmonie uit.


Vir Marisa en haar jongste, Christopher, het ek in dié portefeulje ‘n plekkie gevind, omdat ek nie deur mammas beskuldig wil word van ‘n blinde vooroordeel vir oumas nie. (HvD)

HAND OP DIE SKOUER

HvD en Wiekie Moolman

HvD en Manie Steyn

Middag uit Melkbos

Aan ‘n hand op die skouer kan allerlei betekenisse geheg word. Een betekenis, in my oë, is hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in 48 uur met twee jarelange – amper lewenslange – vriende hand op die skouer afgeneem te word.

Een, Manie Steyn van Krugersdorp, het sy aanstaande 70ste in Krugersdorp gevier. Ons is Tukkiemaats van 1960 af, net-net duskant 50 jaar lank. Die ander is Wiekie Moolman, ook van Krugersdorp, wat op Melkbos kom kuier het. Ons is skoolmaats van 1954 af. In Potch-Volkies se Jack Pauwkoshuis was ons in 1957, 52 jaar gelede, die enigste twee matrieks wat ‘n kamer gedeel het.

Ek is in die versoeking om te konstrateer dat ons ‘n meisie ook “gedeel” het. Die vorige keer dat ek die storie van daardie “delery” vertel het, het ek egter uit vroulike geledere slae gekry. Ek verset my dus teen die versoeking.

Dat Manie en Wiekie albei Krugersdorpers is, is een van daardie eienaardige samelope van omstandighede wat soms voorkom. Hulle woon ‘n klipgooi (darem ‘n stewige een!) van mekaar af aan weerskante van die Key West-sakesentrum in Krugersdorp-Noord. Maar hulle ken mekaar nie.

Nietemin, die uwe se stram skouer het met ‘n skielike skietpyn gereageer toe ek my arm lig om die ietwat langer Manie se skouer beet te kry. Wiekie is weer korter (en veel-veel skraler) as sy ou kamermaat. Ná die seerkry met die Maniefoto het ek dit egter gerade geag om die skouervattery net aan Wiekie oor te laat.

Ek gaan nie in vir onnodige fisieke pyn nie, en, soos die wyse donkie, stamp ek nie my kop twee keer teen dieselfde klip nie.

Maar wat wou ek eintlik sê? Eintlik net dit: dat min dinge kosbaarder is as ou vriendskappe. Soos iemand opgemerk het, is drie vreugdes van die ouderdom ou vriendskappe, ou boeke en ou wyn.

Manie, Wiekie, gelukkig is die elmboog darem nie te seer om nog so ‘n enetjie op ons vriendskappe te klink nie! (HvD)

weLKoM iN kAaPsTAd

More uit Melkbos

Een muur van die indrukwekkende nuwe R1,6 miljard se eindpuntgebou van die Kaapse Internasionale Lughawe – waarlik eerstewêrelds in styl en omvang (‘n ronde 50 000 vk. m) – word oorheers deur ‘n banier wat lyk of ‘n bewerige letterskilder dit op ‘n sinkplaatpad geproduseer het.

Dié banier lui: “Welcome to our new terminal. Proudly Cape Town”. Die letters dans oneweredig op en af. Party spring boontoe uit. Ander tuimel na benede.

As dit by ‘n hawe se eindpunt was, sou jy seker kon sê die reuse-letters lyk bra seesiek – steierend op wankelende bene op ‘n skip wat deur die deinings op en af ploeg.

Synde op ‘n lughawe, is die beeld wat by jou opkom, een van ‘n kwaai turbulensie en die vlieënier se stryd om die stampende lugskip op ‘n vaste baan te hou.

Die meisie by die inligtingstoonbank was uit die veld geslaan toe ek haar vra of dit die bedoeling was om ‘n soort St. Vitus-karakter met die banier te skep.

Nadat sy lank gekorrel het, het vir haar ‘n lig opgegaan oor wat my kwel. Weet nie of dit sedert Vrydag dringend herstel is nie, maar kyk gerus deeglik, en hou maar aan die naaste reling vas! (HvD)

NAAR, LELIK NAAR, DE AAR

Middag uit Melkbos

Dit was nie my voorneme om hierdie relaas oor my terugreis uit Durban op die Shosoloza Meyl op ‘n negatiewe noot te begin nie. Njannies. Met vratte en al bly ‘n treinreis, enige treinreis, ‘n belewenis.

My illustrasie het my egter gestonk. Hoe begin jy liries skryf oor sonsondergange en wat nog as die foto bo jou blog lyk soos ‘n oorlogsone wat onder ‘n missiel deurgeloop het?

Ja, daardie gapende dakke is werklik die hartverskeurende gesig wat jou begroet as jy De Aar se stasie binnery. Ek het die foto laat Sondagmiddag uit wa 8, kompartement G van die Shosoloza Meyl op pad na Kaapstad geskiet, en moes dit eenvoudig vir wyer konsumpsie hier publiseer.

De Aar: tuiste van Olive Schreiner. De Aar: een van die hoofslagare van Suid-Afrika se eens vooruitstrewende spoornetwerk. Nou lyk hy só. De Aar, De Aar, hoe vreeslik naar!

Terwyl In dié trant, kan ek maar net so wel ook my sê oor Durban sê en klaar kry. Hy’s ook naar (en gaar), glo my. Dié sonskynstad van vroeër lyk of ‘n ewige nag oor hom gedaal het. Bitterbessiedagbreek … bitterbessienag.

Die plek is kapot van verwaarlosing en agteruitgang. Google gerus “Death of Durban”. Daar sal jy tonele sien wat jou laat gril.

Boonop het een of ander misleide owerheid verordineer dat die hele strandfront – vermoedelik met die oog op 2010 – “opgegradeer” word. Die stootskrapers is ingestuur. Zat het oorgebly. Vir vakansiegangers in Desember wag bittere ontugtering. My advies sou wees: bly weg!

Die Wêreldbeker kan maar kom en gaan. Oor sulke verwoestingswerk swaai geen s.e.b.-maatskappy in ‘n jaar of twee ‘n towerstaffie nie.

Durban en De Aar is nie al vrotkolle op die roete nie. Maar hulle is die ergste. Oor die mindere gruwele swyg ek liewer, want ek wil my nie self in ‘n depressie inskryf nie.

Nou die treinreis. ‘n Vriendin, Marlene Scholtz van Bloemfontein, beskryf dit, aan die hand van vorige Shosoloza-ekskursies soos volg:

“Ek het veral die stadige pas van die trein geniet, so asof hy nie wil
klaarmaak nie, en dat mens sommer só hoog sit en uitkyk. Ek het
meeste van my tyd sommer net só teen die kussings gelê en gekyk
na die veranderende landskap. Wat ‘n plesier.”

Ek moet Marlene komplimenteer. Sy vat die “lekker”mooi raak. Moet sê om die son oor die heuwels en valleie van Natal te sien sak, die eerste sagte môrelig op die Vrystaatse vlaktes tussen Bethlehem en Kroonstad te sien skyn, sonsondergang tussen Kimberley en De Aar in die Karoo mee te maak; en ‘n vurige sonsopkoms tussen die Bolandse berge duskant die Paarl te beleef, is salig. Ek was ook ure voor die venster vasgepen – opnuut verwonderd oor ons mooi land, geseën met soveel natuurlike skoonheid.

Slegs ‘n treinrit bied jou die weelde van sulke onbelemmerde natuurwaardering in beweging.

Vir die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (5), was die treinrit van oor 36 uur een groot avontuur. Om op die boonste banke rond te klouter en aan die klimleertjie rond te swaai, was hul idee van vetpret, uur ná uur, en basta! (Ek het ‘n foto van hulle en Ouma Tokkie van onder af waarop jy net tande en knieë sien! )

Dan was ons trein betyds oor die hele reis. Amper op die minuut. Dit wil gedoen wees. Die treinbeddegoed is skoon en aangenaam. Die personeel is in die algemeen hoflik en hulpvaardig. En die prys van ‘n treinkaartjie – dis seker een van die laaste winskopies in hierdie tyd van multi-inflasie en anderlike ekonomiese teenspoede.

Maar sindelikheid sal moet groter aandag kry. Anders gaan die Meyl ‘n bepaalde segment passasiers afskrik. Jy wil nie die stort vermy omdat jy nie kans sien om kaalvoet op sy vloer te trap nie. Jy wil ook nie die toilet met argwaan betree nie.

Ander ding: toe ons opklim, kom ons agter die kouewaterkraantjie in ons kompartement is droog. Die joviale treinbestuurder raai hy’s dalk “uitgeblok”, want verduidelik hy, om probleme “uit te blok” is makliker en goedkoper as om ‘n fout te herstel. In Kimberley kom ‘n loodgieter kyk. Hy bevestig die diagnose.

‘n Mens kan nie help om te wonder wat alles in die liewe, nuwe “ S.A.S. en H.” sê maar oor tien jaar “uitgeblok” gaan wees nie.

Van “blok” gepraat: op ‘n paar blokkie ys sou hierdie reisiger, met die oog op sy skemer-roetine, met entoesiasme gebie het. Maar van Durban tot op Bellville was geen ys te koop nie; nie in die (verslete en verbeeldinglose) sitkamer/eetkamer-waens nie; ook nie op stasies soos Bloemfontein en Kimberley nie.

Hier’s gulde kans vir ‘n entrepreneur, want weet julle hoe smaak vuurwarm Klippies en Coke!? (HvD)