Oct 23, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die Krugerwildtuin se S3-rivierpad al langs die Sabie af, van die Krugerhek tot by Pretoriuskop, is olifantwêreld. Veral die eerste paar kilometers van die pad moet ‘n mens maar dophou vir ‘n glimpsie van ‘n slurp – of meer! – in die digte oewerbos.
Oor die olifant-ervarings op daardie pad kan ek heelwat vertel, want Sabiepark lê net aan die oorkant van die rivier – jy sien die groen oase van sy piekniekplek en verskeie Sabieparkhuise trouens van die S3 af – en dit is een van die paaie in die Wildtuin waarop ek ongetwyfeld die meeste ry.
Om 30, 40 minute of langer in ‘n stoet agter ‘n befoeterde olifantbul aan te tou, kan vir sommige frustrerend wees. Dit was egter een van my S3-ervarings.
Verskeie ouens het moed opgegee en met moeite op die smal paadjie omgedraai. Ons was egter op pad huis toe en moes maar geduldig wag vir ‘n kans om verby die humeurige ou grote te glip.
Toe was dit net “taaiers en gruis” (my vriend Jan Scholtz van Bloemfontein se uitdrukking) soos die “Bosbus” (my destydse kombi) grommend uit sy blokke vlieg. Al ander opsie was om die kombi in die bos te abandoneer en tussen die krokodille en seekoeie deur oor die Sabie te swem!
Een Sondag ná kerk was ons en Dawie en Annatjie Strydom van Outeniekwastrand met die Honda CR-V, wat die “Bosbus” intussen vervang het, op pad huis toe. Op die nimlike S3, net binne die Wildtuin, draf twee olifante vinnig voor ons verby.
‘n Ou met buitengewoon fris tande het ons ná verskeie besoeke aan Sabiepark “Langtand” gedoop. Sy handelsmerk het dadelik sy identiteit verraai. Omdat dit ‘n stillerige rit was, het ek stilgehou. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters.
By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie is. Huismoles dalk? Ander teorieë is ook geopper.: “Dis sommer net ‘n slurp-geselsie”; “hulle speel net”; “is romanse nie dalk in die lug nie?” Wie sal ooit weet?
Met dié foto van die “slurpgeselsie” (?) tussen “Langtand” en sy maat sit ek vandag my stuk-stuk-reeksie van ongewone dierefoto’s voort. (HvD)
Oct 19, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
“Môre, buurman!”
“Môre, buurman!”
“Môre, buurman!”
Dit is oggend hier in ons klein hoekie van Melkbosstrand. Een ná die ander word die alarms in Penguin Place afgeskakel: piep-piep, piep-piep, piep-piep.
Ons “keep” nou “up with the Jones’s” deur te weet presies hoe laat hulle soggens opstaan. Die volgorde is in sement gegiet as ‘t ware. Dis eerste die Van Deventers, dan die ………………….., dan die ……… ….(wil nie op die laatslapers se tone trap nie!)
“Ecquid novi? ” het die ou Romeine mekaar doerie tyd op die markplein begroet: “ Wat’s nuut?”
Wat’s nuut inderdaad! Nee, ek weet elders in die land (nie net in Gauteng nie!) is hierdie oggendkoor van piep-piep-pieps lankal algemeen. By ons is dit nog nuut en vreemd.
Melkbos loop nog voor onder die hawes van misdaadvryheid, soos die jongste polisie-statistieke weer wys. Ons is dankbaar. Stadig maar seker slaan veral enkel-inbrekers egter, helaas, hul kloue ook in ons idilliese dorpie in.
Die huisalarms word meer; die diverse “armed responses” se klandisie neem toe, soos mense – onder wie minstens twee nabye bure – kragtige alarms ryker word. Die oggendkoor neem toe in omvang en volume.
Eintlik skryf ek nie om my oor dié verskynsel van ons tyd te verknies nie. Ek rapporteer graag dat vir my nogal iets geselligs in die oor-en-weer ”môre-sê-ery” opgesluit is. Met die piep-piep-pieps kommunikeer ons hier in ons straatjie aan mekaar: “Alles wel hier by ons, dankie.”
Dit kwel ietwat dat ‘n ondernemende aspirant-inbnreker ook die kodes sal kan ontsyfer, en kan uitwerk wie slaap nog en wie nie. Maar laat ons nou nie slapende honde wakker maak nie.
In wat ‘n jaar of drie gelede bestempel is as een van die beste nuwe versetgedigte in Afrikaans, Pirow Bekker se “Ek het ‘n huisie aan die Rand”, speel Bekker, n oud-kollega by Die Volksblad, in op Fagan se “Ek het ‘n huisie by die see”, wat deur Laurika Rauch gewild gemaak is.
Dié gedig sluit só: “Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag . Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag”
Briljant, briljant!
Mag ek ‘n (minder briljante!) persoonlike “parodie” op Pirow se poging uit Melkbos aanbied? .
Ek het ‘n huisie by die see,
klipgooi van die Kaap.
Hier verklap die piep-piep-pieps
hoe laat die bure slaap. (HvD)
Oct 16, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Laat my maar uit die staanspoor in alle eerlikheid erken dat ek ‘n aansienlike ongeskooldheid geniet t.o.v. Jungiaanse teorieë oor die ingewikkelde werkinge van die menslike psige.
Selfs t.o.v. “die toegankliker” Sigmund Freud kwalifiseer my kennisvlak my as ‘n “intellektueel agtergeblewene” , ondanks ‘n abortiewe aanslag op ‘n Honneursgraad in die Sielkunde net ná die draai van die 50’s aan Tukkies.
My oud-kollega Cas van Rensburg het ‘n boek of boeke geskryf wat waarskynlik nuttig kon gewees het om op hierdie terrein n ingeligter wese te word. Ek het skandelik nagelaat om dit te lees – soos ‘n hele paar ander boeke van ‘n hele paar ander kollegas ook. Hulle het my waarskynlik in eie munt terugbetaal, want nie al my boeke/boekies tot dusver het ewe goed verkoop nie!
Ewenwel, wat ek eintlik wil deel, is my magtelose frustrasie oor my onvermoë om tot die kern van op die oog af eenvoudige drome deur te dring. Die afgelope paar nagte ryg ek mallerige drome oor die koerantwese in, met my in die meeste gevalle as ‘n soort nar wat in die web van onbeholpenheid verstrik raak.
Laasnag was ek in ‘n koue sweet oor die eis om as ’t ware man-alleen ‘n koerant uit te bring – wel, darem met die hulp van wyle Johan Parreira. Maar Parreira was knapper met sy vuiste as op ‘n tikmasjien – ‘n verskuldigde eer wat ek hom ook laat toekom in my aanstaande boek, “Byl in my Bos”, wat eersdaags by Griffel verskyn.
Meen, een aand wou ‘n bladplakker by” Beeld” my, die nagredakteur, met sy skerp plakkersmes met alle geweld die ewigheid inhelp toe Parreira dringend ontbied word om sake te kom beredder. Sy intimiderende teenwoordigheid het die bladplakker vinnig gekalmeer en hy’t my later na die veiligheid van my motor vergesel. Sulke talente is ook ‘n bate in die emosioneel-gelade atmosfeer van ‘n koerant voor spertyd.
Maar ek loop “Byl in my Bos” vooruit. Koop liewer die blerrie boek, soos Nataniël sou sê.
Die droom dan: dis ek en Parreira en die horlosie, en ons sukkel om iets vir die voorblad te kry, want dit was voor die tyd toe jy elke dag iets oor ’n peperduur partytjie of buitensporige motor van die een of ander hoë tot voorbladnuus kon oppomp. Van Deventer, altyd só vol idees, sit met sy hande in sy hare. Paniek pak hom beet.
Die volgende oomblik: hier loer J.P. Nel (nou by “Son”) om die deur. Waar was hy toe ek hom broodnodig gehad het? Weet nie, maar hy kom in ieder geval nie in die rol van ridder op ‘n wit perd nie. Hy kom net as boodskapper: die vleis is op die kole!
Kyk, ek is lief vir braaivleis, maar elke ding het sy tyd. ‘n Paar minute voor saktyd is nie braaivleistyd nie. Ek stuur Nel na die hel. Maar toe is ek werklik alleen. Parreira het hom waaragtig die uitnodiging vleispotte toe laat welgeval.
Mense wat my ken, sal weet hoe ek in sulke omstandighede bloeddruk en desibels sou opjaag. Maar toe pomp vroulief Tokkie my in die ribbes. “Wat skreeu jy so?” Nou ken ek ongelukkig nie die einde van my droom nie.
Die vorige nag begin my droom stemmig met ‘n voorbeeldige kerkbyeenkoms wat uitloop op’ n “informele Nagmaal” waar gemeentelede onbegeleid ‘n broodjie breek en ‘n kelkie wyn wegsluk. Om ‘n ronde tafel sit so tien mense van wie ek net een gesig herken: dié van my gewaardeerde oud-kollega by “Die Volksblad” Sarel Venter wat in elk geval stoer gereformeerd is en dus kwalik by daardie informele ronde tafel verwag sou word. Ekskuus, Sarel.
Die storie kry ‘n nare kinkel toe dit blyk n jafel met ‘n gestreepte Tukkiebaadjie (die geliefde rooi, blou en goud) het te entoesiasties Nagmaal gevier. Hy kom uit die kerk geslinger. Tokkie kyk hom afkeurend aan, en die volgende oomblik pak sy vrou my vrou met mening. Dis ‘n geruk en ‘n gepluk.
Dit kon ek darem nie toelaat nie. Toe ek my kom kry, is ek midde-in die geveg, met swaaiende elmboë, iets waaaraan ek in my stoutste drome nie sou dink nie. Ek slaan nie aan vroue nie! Ek dink in elk geval die aggressor het in daardie stadium die aftog geblaas, maar ek is ook nie seker nie. Dis mos die frustrerende van drome.
Nou wonder ek of kennis van Jung sou kon help. Sou Cas van Rensburg dalk kon lig werp? Of is drome maar net soos dit soms lyk: gekke stories sonder enige boodskap of betekenis? (HvD)
Oct 14, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
So naïef is ek nie dat ek nie die risiko’s besef van lysies maak nie. Jy stel jou eenvoudig op as teiken vir ander wat met goeie of minder goeie bedoelinge hul skietysters op jou wil korrel.
Ná nou anderdag se stuk oor die goue oues van die 50’s was daar reaksies, privaat en in die openbaar, wat my tog laat jeuk het om ‘n lysie te probeer maak.
Wat is werklik my, sê maar, top-20 populere liedjies van daardie era? Dalk tas ek verskriklik mis, want sekere liedjies wat toe treffers was, het vinnig hul glans verloor; ander wat in die bondel verdwyn het, is vandag nog immergroen. Nat King Cole se pragtige ‘When I Fall In Love’ was destyds byvoorbeeld nêrens; Pat Boone se “I almost lost my mind’ was op elke “hit parade”. Vandag is hul gewildheid net mooi omgekeerd.
Uiteindelik het ek probeer om ‘n ewewig na te streef tussen liedjies van die 50’s wat doerie tyd in my bloed was, en dié wat my ná al die jare steeds – of éérs – bekoor. Onder laasgenoemde tel drie orkeswerke, die bekroonde temamusiek uit die rolprente ‘The Third Man’, ‘Limelight’ en die obskure prentjie ‘Unchained’. Al drie is vandag veel hoër in my estimasie as in die 50’s.
Elvis Presley het my hoofbrekens besorg. Daardie musiek-fenomeen het in die 50’s begin blom. Baie van die eerste Presley-treffers val ietwat rof op die ouer oor. My oplossing was om een Presley-ballade, ‘Love Me Tender’ in te sluit, en een van sy beste meer tipiese liedjie, ‘Don’t be cruel’.
Elvis se ‘It’s Now Or Never’ (‘n verwerking van die Italiaanse lied ‘O Sole Mio’) sou bepaald hoog op my lys gewees het. Dit is egter ‘n 1960-model.
Van Perry Como was sy ‘Catch A Falling Star’ en ‘Magic Moments’ in die 50’s sy nommer-eens. Ek het ‘More” gekies, omdat ek daarmee ‘n romantiese assosiasie het. Ook Debbie Reynolds se ‘Tammy’ haal my lys weens ‘n jong liefde wat ek met die fliek en die liefjie in verband bring. Gun my dié plesiertjie, asseblief!
Nat King Cole se ‘Unforgettable’ en ‘Mona Lisa’ was amper-ampers, maar ‘When I Fall In Love’ is darem in ‘n klas van sy eie. The Platters het my ook laat kopkrap. My keuse is ‘Smoke Gets In Your Eyes’. ‘Great Pretender’ en ‘Twilight Time’ was egter ook sterk aanspraakmakers.
Van Patti Page wou-wou ek die vrolike ‘Mockin Bird Hill’ insluit. Maar dit sou beteken ek moet by haar ‘Tennesee Waltz’ verbygaan, want net vir die grote Elvis en Bing het ek twee plate elk op my lysie gegun.
Van Harry Belafonte het ‘Banana Boat Song’ net sy neus voor gekry voor ‘Island in the Sun’ en ‘Mary’s Boy Child’; en van Dean Martin ‘That’s Amore’ net voor ‘Memories Are Made Of This’.
Van Bing Crosby vat ek ‘White Christmas’, al is dit nie ‘n persoonlike sterk gunsteling nie en, na my oordeel, taamlik onvanpas in ‘n land soos Suid-Afrika met sy somerkersfees. Is enige lied van die 50’s egter ná sestig jaar wêreldwyd nog só geliefd? Ek twyfel.
Maar ek vat darem ook ‘True Love’ (Bing en die beeldskone Grace Kelly) – ‘n liefdesliedjie wat die hartsnare roer.
Hier’s my twintig, in alfabetiese volgorde (die uitweg van die lafaard!)¨
‘Banana Boat Song’ (Harry Belafonte)
‘Don’t be cruel’ ( Elvis Presley)
‘Harry Lime’s Theme’ uit The Third Man (Anton Karas)
‘High Noon’ – ‘Do Not Forsake Me’ (Tex Ritter)
‘I Believe’ (Frankie Laine)
Love Letters In The Sand’ (Pat Boone)
‘Love Me Tender’ (Elvis Presley)
‘More’ (Perry Como)
‘Oh Mein Papa’ (Eddie Calvert)
‘Que Sera Sera – ‘Whatever Will Be, Will Be’ (Doris Day)
‘Smoke Gets In Your Eyes’ (The Platters)
‘Terry’s Theme’ uit Limelight (Guy Lombardo)
‘Tammy’ (Debby Reynolds)
‘That’s Amore’ (Dean Martin)
‘Tennessee Waltz’ (Patti Page)
’The Three Bells’ (The Browns)
‘Tom Dooley’ (Kingston Trio)
‘True Love’ – Bing Crosby en Grace Kelly)
‘Unchained Melody – Eternally’ uit Unchained (Les Baxter)
‘White Chistmas’ (Bing Crosby)
(HvD)
Oct 13, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Sabiepark se hienas raak nou glanspersoonlikhede, of ‘celebrities’, in die moderne idioom.
Die foto’s hierbo kom uit November se Weg. Die luiperdmannetjie het ‘n vlakvarkie in Maroelalaan vasgetrek en in ‘n jakkalsbessieboom opgehys.
Die hiena regs het geduldig (!) op ‘n los gelukkie gewag.
Toe val ‘n sappige boudjie tussen die tak en die mond op die grond. Middagete op ‘n skinkbord vir die honger aasdier.
Op 28 September was ‘n ander Sabieparkse hiena in Die Burger – ene wat ek by my braaier afgeneem het toe hy kom snuffel het met die houding van: “Wat eet ons vanaand?”
Laasgenoemde het vir die fotograaf R1 000 se kruideniersware verdien as een van drie wenners in ‘n kompetisie vir braaifoto’s.
Spyt my waternat om te rapporteer dat eersgenoemde Weg se R1 000-prys misgeloop het. ‘n Witrenoster wat ‘n motor bydam om haar kalfie te beskerm, was die pryswenner. (HvD)