BYL IN MY BOS – GESELSIE MET SARIE

More uit Melkbos

“Byl In My Bos”, die jongste boekie uit hierdie oord, is nou vinnig op pad en behoort binnekort van die pers te kom. Phyllis Green van die tydskrif Sarie het my ‘n paar vrae gevra wat op Sarie se webwerf, www.Sarie.com, gepubliseer is.
Saam met die onderhoud is ‘n uittreksel uit die boek en ‘n wedstryd waarin drie eksemplare gewen kan word.

Belangstellendes kan op die Sariewerf klik op “My Lewe” en dan op “Boeke”.

Hier volg die onderhoud in vraag-en-antwoord-formaat:

5 Boekminute: Hennie van Deventer

1. Hoe het jy die titel vir jou boek gekies?

Ons ouer garde beleef intens hoe kwaai “in ons bos gekap” word. Die “ Byl” bied ten minste ‘n elegante idioom vir daardie (doodnatuurlike) werklikheid teenoor onelegante idiome soos “bokveld toe”.

2. Waarom die formaat van die boek?

Die formaat is eintlik ‘n ontsnaproete. “Byl” is my huldeblyk aan tydgenote van verskillende generasies – van die gedugstes tot doodgewones. Die stapel materiaal was oorweldigend. Ek moes uitdun sonder om verskeidenheid in te boet. Toe kry ek die idee om die “Byl” in te span … .

3. Hoe het jy besluit watter mense sluit jy in en watter nie?

Spontane seleksie. Party mense en hul stories het hulle eenvoudig self na vore gedring. Skitterende kandidate het ongelukkig deur my sif geval.

4. In jou koerantloopbaan het jy baie mense ontmoet oor wie jy ook geskryf het. Is daar een wat ‘n besondere indruk op jou gelaat het?

In ‘n loopbaan van 35 jaar ontmoet ‘n koerantmens geweldig baie mense wat korter of langer ‘n impak maak. Dis ‘n byvoordeel van die beroep. Jammer, ek koes liewer vir die waagstuk om name te noem.

5. Was daar al ooit iemand wat jy ontmoet het, wat jy gevoel het jy kan die mens se storie nie skryf nie?

In “Byl” slyp ek nie byltjies nie, maar draai ek ook nie doekies om nie oor karakters wat my lewe vergal het, soos die “Wit Terroris.” Nee wat, elkeen se storie kan geskryf word. Jy moet net bly grawe.

6. Die bos is jou wegbreekplek. Waarom?

Klink dit of ek met “bos” oor die kop geslaan is? Ek is lief vir die spreekwoordelike “bos” waarin ek oud geword het, asook vir die regte bos met sy diere, bome, kampvuurtjies, sterre en stiltes. Dié is waarlik in my bloed. Daar skop ek skoene uit en lewe voluit.

7. “Seun van Deventer – onbekende vader” is ‘n outobiografiese vertelling oor jou eie pa en jou herkoms. Jy sê daarin: ”Ek verwyt my dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak en te laat agterkom.” Is familie en wortels belangrik vir jou?

Te laat, te laat het ek besef hoe belangrik. Toe ek in die stadjie Deventer ronddwaal waar my stamvader vandaan kom,en by my oupa Jacob Hendrik se graf in die distrik Babanango staan, toe voel ek: ek is nie sommer deur die wind hier aangewaai nie.

8. Vir vandag se jong joernaliste is die name Piet Cilliè, Schalk Pienaar en Willem Wepener legendaries, veral ook oor die staaltjies wat oor die groot name vertel word. Jy het in jou dae as joernalis met almal te make gehad. Was daar ‘n joernalis wat ‘n besondere rol in jou loopbaan gespeel het?

Die grotes het elkeen sy merk op Van Deventer gemaak. Maar die leerskool van die koerantwese is veel ruimer as ‘n enkele mentor of twee. Van die kollegas wat ek as leermeesters die hoogste aanslaan, tel nie onder die ikone nie.

9. Van die eksentrieke joernaliste waarmee jy te doene gehad het, wie was die vreemdste?

Allerlei geheimpies glip in die bladsye van “Byl” uit. Joernaliste is nie verniet al “salaried eccentrics” genoem nie. Dat die meeste ‘n klap van die windmeul weg het, is egter ‘n mite. Ek bring graag hulde aan al die goeie, beskaafde joernaliste met eersteklas waardes wat ek die voorreg gehad het om te leer ken.

10. In jou vertelling oor Willem Wepener sê Wepener dat die koerantman se taak “is of behoort te wees – ‘brandsiekinspekteur van die volk.’” Volgens jou mening, is dit steeds die taak van joernaliste vandag of het die fokus van joernalistiek verander? Of het joernaliste verander?

Style kan verander, substansie is onveranderlik. As koerante sou ophou om sere en swere aan die nasie uit te wys, sal hulle hul plig liederlik versaak. Koerante kry baie kritiek. Ook ek verstaan nie
al die nuwerwetsighede nie. Maar kom ons gee hulle ten minste dié lof: hulle spaar nie die roede nie.

11. Jy staan bekend as ‘n redakteur wat nie nonsens gevat het nie en van jou redaksielede was selfs bang vir jou. As jy nou terugkyk oor jou loopbaan as redakteur, sou daar dinge wees wat jy anders sou benader het?

Bang vir my? Met vele kollegas, ouer en jonger, deel ek steeds hul lief en leed. Die periodieke e-possies, oproepe, selfs kuiertjies om ‘n wyntjie of twee is hartverwarmend. My passie vir die koerant sou ek nooit minder entoesiasties kon uitleef nie, maar, nou-ja, miskien het ek my redaksie wel soms te geniepsig geboelie.

12. Dink jy jou aanslag en uitkyk oor mense het so met die aanstap van die jare meer genaakbaar geword?

Ek dink graag so, maar dan is ek natuurlik nie onbevooroordeeld nie, né! As jy my kleinkinders sou vra, glo ek hulle sal Oupa darem ook nie beskryf as hard of kwaai nie.

13. Wat gee hierdie tipe skryf aan jou in vergelyking met jou skrywe as beroepsjoernalis?

Die joernalis maak mense soms woedend. Dis onvermydelik. Ek mis nie daardie vurige kole op my hoof nie. Die ekstra vreugde van ‘n boekie is dat jy hom op jou boekrak kan sit. Wat jy op die web pleeg, lei soms tot verrassende wisselwerking met totaal onbekendes. Dit verskaf my ook baie plesier.

14. Het jy vir jouself ook so ‘n grafskrif geskryf vir eendag?

Nooit! Ek ken hierdie ou bokker te goed, met vratte en al. Maar ek is vrek nuuskierig oor wat ander gaan sê! (HvD)

PADKOS-PLESIER

More uit Melkbos

‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.

In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.

Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?

As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!

My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.

Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.

Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.

Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.

In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!

Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.

Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.

Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.

Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas (5), is so versot op padkos soos hul Oupa. Daar’s amper n kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.

Vir “groot etes” word by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!

Ek verwonder my altyd oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.

By geleentheid het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” al ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.

“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.

“Waar moet hy sit?”

“Sommer ook nog hier by my voete!”

‘n Nuwe padkos-kultuur wat ek nou eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.

Lydia, ‘n Sotho wat by ons werk, is ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” is ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd begin hoenders gaargemaak word: twee vir die reis en twee vir die uitklim.

Lydya se padkos lyk vir my heerlik. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie! (HvD)

PAMPOENE … EN PAMPOENE

BREYTEN KOOP ‘N PAMPOEN BY ‘N BOEREMARK IN NEW YORK

Middag uit Melkbos

In ‘n bekende kinderliedjie sing Doris Brasch van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ‘n paar ander nikswerd-weggooigoed.

Toe ek jonk was, is dit plus-minus waar pampoen in my waardestelsel geklassifiseer was: as iets vir die ashoop. Die enigste pampoen wat in my kinderdae in my oë ‘n deugdelike funksie verrig het, was die ene wat tot Aspoestertjie se koets omgeskep was.

Trouens, my vooroordeel teen pampoen was so sterk dat ek in Standerd 5 amper daaroor slae gekry het. Ons het van Durban Potchefstroom toe getrek en ek moes die middag met die trekkery by ‘n losieshuis eet. ‘n Bord boerekos is voorgesit met ‘n ruim skep pampoen. Dié het ek in my broeksakke geprop – het nooit besef dat ek later sou moes verduidelik watse kolle op my broek uitslaan nie.

Eers toe ek na Tokkie begin vry het, en in Hertzogstraat 5, Bultfontein, haar ma, Marietjie, se voortreflike pampoen geproe het (ek het gedink ek eet heerlike patats!), het my gesindheid jeens dié nederige groente radikaal verander.

Ek eet deesdae graag pampoen, maar dat die pampoen so ‘n sentrale plek in Breyten Breytenbach se poësie beklee, wis ek nie. Dit lees ek Saterdag in die “Die Burger” in die naweekbylae BY.

Sedert hy in sy bundel “Katastrofes” die eerste keer oor die fascistiese pampoen geskryf het, het dit so ‘n deurlopende Breytenmotief geword dat van sy vriende op sy verjaardag pampoendag vier, en dit ook gedoen het toe hy in die tronk was, is van die nuwe nuwe kennis oor Breyten wat ek in BY verkry het. (Ek het verder o.m. ook gelees deesdae reken Breyten “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap”. Ek is dadelik kombuis toe …)

Dié stories herinner my aan die enigste ander pampoengedig wat ek ken. Dit kom uit die pen van Hans du Plessis en is in 1976 geskryf toe ons saam aan die Harvard-universiteit in Amerika was. Die tema van Hans se gediggie was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.

Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe ‘n tengere drie, “pampokie” begin noem. Die naam het nogal ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers!

Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste, kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die grootste pampoen kan kweek.

In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandsde korrespondente nogal lief daarvoor om mense se groot pampoene af te neem en vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as so ‘n pampoenfoto nie die koerant haal nie.

Uit nog vroeër tye onthou ek die gewoonte om pampoene op ‘n plat sinkdak
te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Ek weet nie.

Hier naby my op Melkbos het die gewoonte onlangs by ‘n mooi moderne huis in Charles Hoffestraat herleef, sien ek. Twee pampoene pryk op die afdakkie by die voordeur.

In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n winkeltjie in die distrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana, wat in jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort het.

Die nuwe eienares is ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, is sy skoon uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim op die dak en kom met ‘n yslike kampioen-pampoen grond toe, wat sy in my hande prop.

“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was.

Hierdie storie is spesiaal bedoel vir Julius Malema. Ongelukkig sal dié … amper sê ek pampoen … dit nie lees nie. (HvD)

“TE HEL MET SPEL!”

More uit Melkbos

P.W. Botha en Koedoe Eksteen in gelukkiger dae. Op die foto hierbo is hulle gemoedelik saam op ‘n jagtog in 1987 op die plaas van Pieter Jacobs (links) in die Suid-Vrystaat. Ja, Koedoe, jy kry mense met lang geheues …

Nadat my oud-kollega Johan van Wyk, prof. Andries Brink, Niel van Stellenbosch en Pieter Meyer van Oudsthoorn netjiese kommentaar gelewer het op Eksteen se swymelende politiek-korrekte reeks van drie artikels in Die Burger sal ek maar die versoeking weerstaan om ook saam te praat.

Nie dat ek nie heelwat op die hart het oor sy skryfsels nie, want die nimlike Koedoe wat nou met so ‘n onwaardige drang tot selfverontskuldiging so onbehoorlik sy eie basuin in sy onbekookte artikelreeks geblaas het, was een van die voorste skeppers uit die pappotte van apartheid, onthou.

Ambassadeur by die V.N., direkteur-generaal van die SAUK, gewillige gas by gesellige jagtogte van mense uit die P.W. Botha-binnekring, gretige deelnemer aan berade van die Afrikaner-Broederbond oor die toekoms van die land – noem maar op.

Kom ons los dit daar. Vandag se klippie in my skoen is veral oor ‘n klein “onthullinkie” onderlangs in een van sy artikels: dat hy vir die Staatspresident ‘n brief met ‘n spelfout geskryf het en toe daaroor gekapittel is.

Eksteen glo klaarblyklik: Wat is ‘n ou spelfoutjie nou tusssen vriende? Hy spot selfs dat P.W. Botha tyd kon vind om oor so ‘n beuselagtigheid moer te trek.

Ai, ai – asof dit nou iets is om te roem dat die baas van die SAUK ‘n slordige brief aan die land se Staatspresident skryf! As ek Eksteen was, sou ek liewer ‘n sluier oor daardie insident wou trek as om op grond daarvan die ontvanger van die brief by te kom.

Neem my gerus maar daarvoor kwalik, maar ek is een van daardie outydse garde wat glo in alle hoflikheid teenoor mense vir wie jy skryf, en ook uit respekte vir jou taal, gee jy om oor die suiwere gebruik van Afrikaans, en is jy besorg oor die kwaliteit van geskrewe kommunikasies waaronder jy jou handtekening sit.

Ek is bevrees in my oë openbaar die storie van die “spelfoutjie” ‘n krakie in die mondering van die man wat dit gepleeg het. Vir die man wat daardeur gegrief is en dit onomwonde uitwys, lig ek egter die hoed.

As ek dit sê, is ek nie net agter Koedoe Eksteen se bloed aan nie. Te veel mense glo: “Ag, te hel met spel!” – veral as Afrikaans die lydende party is.
Gruwelike verminkings kom soms uit die penne van anderstaliges wat eenvoudig te laks, te sorgeloos en te minagtend is om op hul Afrikaans te let. “Anything goes”.

Dis al erg genoeg. Wat erger is, is Afrikaanssprekendes wat nie net in hul spreektaal goedsmoeds brou nie, maar toenemend ook in hul skryftaal.
Ek kry briewe van mense wat van beter behoort te weet, maar wat duidelik nie omgee nie, of doelbewus ongedissiplineerd skryf om “in” of “modern” te wees.

Selfs van ons gerekende publikasies is nie vry te spreek nie.

Iemand met gesag behoort, soos P.W. Botha, ‘n vermanende wysvinger vir hulle te swaai as hulle so met hul taal mors. (HvD)

GRENSLOSE OUERLIEFDE

PIET, PETRO EN PIETA THERON BY TOKKIE VAN DEVENTER

Die hartsbegeerte om werklik met gevoel oor ander mense se wonderlike moed, geloof, opoffering, en toewyding te skryf, stuit soms teen die onvermoë om die regte woorde te vind.

Die resultaat is stamelende hulde, soos dié wat ek vandag aan Piet en Petro Theron van Bloemfontein wil bring nadat hul jongste seun, Pieta (38), Saterdag ná ‘n lang stryd in ‘n hospitaalbed in die Rosestad oorlede is.

‘n Doodgewone blindedermoperasie op Pieta het 10 jaar gelede weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop. Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie.

Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom gepak.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta was skielik Piet en Petro se “groot baba”.

Piet, ‘n oud-kollega van my by Die Volksblad, het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur eers Pieta se sweisonderneming sonder ervaring oor te neem. Vir die oud-joernalis – self n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde nuwe lewe. Maar nood leer bid. Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Later het hy ‘n onderneming begin wat ter wille van sy seun meel in swart woonbuurte verkoop. Hy was, amper onvermydelik, in sy nuwe rol die slagoffer van Suid-Afrika se misdaadgolf toe ‘n gewapende roof op hom uitgevoer word. Hy het opnuut vasgebyt, en ook op hierdie terrein sy staal getoon.

Petro, wat ‘n knap sportvrou was op haar dag – gewig en werpskyf was die jong Petro du Plessis van Bethulie se kos – sit die laaste jare met ‘n rug wat haar sleg opkeil. Soos sy Pieta versorg het, is egter ‘n toonbeeld van opofferende moederliefde soos jy ver sal gaan soek. Rugoperasies of te nie, was sy altyd getrou op haar pos om Pieta op te tel waar hy op die grond lê en krul, hom te voer of wat vereis word.

Piet en Petro het Pieta se kinders onder hul vleuels geneem en op hulle ongekende liefde uitgestort. Oupa en Ouma was onwrikbaar dat hulle ‘n vol lewe moet lei. Hulle het daarvoor hul harte en beursies oopgemaak. Hulle het die kinders op uitstappies en vakansies geneem. Hulle het vir hul die beste geleenthede geskep.

Wanneer die twee deelneem, is Oupa en Ouma altyd by. Die dag nadat Petro die laaste keer na ‘n rugoperasieuit die hospitaal ontslaan is, bel ons Bloemfontein toe om te verneem hoe dit gaan. Toe hoor ons: sy’s by die netbalbaan waar haar kleindogter ‘n wedstryd speel!

In Maart 2007 was die Therons twee maande lank met Pieta in die Kaap, waar hy in die Constantiaberg-kliniek drie breinoperasies ondergaan het. Brein-chirurgie was die enigste hoop.

Hoe Piet en Petro hul kind daardie twee veeleisende maande ondersteun het, was ‘n openbaring. Elke dag was hulle van vroeg tot laat langs sy bed, ware voorbeelde van die geloof, hoop en liefde waartoe die Bybel ons oproep.

Spanning, onsekerheid, bekommernis – dié was daar ongetwyfeld in daardie tyd konstant oorgenoeg. Maar die Theronne was rotsvas, twee onwankelbare ankers vir Pieta en ‘n bron van besieling vir hul vriende.

In hierdie ruimte het ek daarna geskryf:
“Die goeie in mense aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend. Dit word die norm waarvolgens almal almal oordeel. Laat iemand net nie aan ons verwagtinge voldoen nie – dan is ons gou om klippe te gooi.

“ Vir ‘n hele paar vriende ………. wil ek vandag dankie sê dat hulle my opnuut die goeie in mense laat raaksien het: hoe blymoedig, moedig, gelowig en opofferend mense kan wees; hoe hulle kan vasbyt en hulle in die tergendste omstandighede nie laat onderkry nie.”

Ek het natuurlik Piet en Petro in gedagte gehad.

Die gesinnetjie is blymoedig terug Bloemfontein toe – drie opgewonde en dankbare mense, want dit het gelyk of die operasies ‘n sukses was en of vir Pieta ‘n beter lewe kon voorlê.

Uiteindelik was die pad nog maar lank en steil. Die rehabilitasie het nie heeltemal verloop soos verwag is nie. Pieta was maar steeds in en uit die hospitaal. Van die begin van die jaar was die agteruitgang merkbaar, maar soos Petro deur haar trane opmerk: “Ek wou dit nie erken nie.” Sy is met hom van die een dokter na die ander.

Enkele dae gelede is Pieta weer na die hospitaal gehaas. ‘n Nood-pasaangeër het vir n kort rukkie die hoop laat opvlam. Toe pak die ontsteking hom met ‘n frontaanval. Saterdag bel sy broer Jannie met die treurige boodskap: “Pieta rus nou.”

Piet en Petro vind berusting in die wete dat Pieta nooit weer deur n epileptiese aanval teen die grond geslinger gaan word nie. Dat sy spraak nie nog verder en verder gaan agteruitgaan nie ….

Die huis sonder Pieta gaan skielik leeg wees. Hulle gaan hom verskriklik mis. Maar die Theronne is goed toegerus om ook hierdie beproewing te bowe te kom – dit weet hul vriende wat hul hantering van hierdie groot pyn in hul lewens bewonder, en bevoorreg was om hul ongelooflike toewyding van die laaste ttien jaar van naderby te beleef.

* Piet en Petro het nog twee seuns, Jannie van Pretoria na wie hierbo verwys is, en Dawie, die oudste, van Kimberley. Hy is die afrigter van die Griekwas. (HvD)