Aug 8, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
‘n Dawerende gebrul laat my en Tokkie uit die bed in die Honda spring en in Wildevylaan gaan leeus soek.
Wel, leeus het ons nie gekry nie, maar ‘n hiëna-spektakel wat sommige Sabieparkers sal laat dink ons skiet spek. “Ses hienas in Sabiepark? Ag. kom nou.”
Om die storie voor te begin moet ek begin met die afsterwe van ‘n ou blouwildebees wat die laaste weke brandmaer hier rondsteier. Sat sy einde naby was, was duidelik, veral toe die ou vir hom op so ‘n soort van ‘n klipkoppie ‘n laaste lêplekkie gaan uitsoek , waar hy so doodstil tussen die klippers nogal ‘n profiel vertoon wat ‘n mens nie kan miskyk nie.
In die nag voor die gebrul ons uit die bed jaag, is die ou blouwildebees by sy voorvaders versamel. Ons kry hom toe aan ‘n tou agteraan ‘n Toyotabakkie waar hy op sy laaste reis na ‘n driffie langs ‘n spruit gesleep word.
Agterna draf twee hiënas vol verwagting. Ons swaai ook by Worsboomlaan in en tref op die toneel van die blouwildebees se laaste rusplek nie net twee hiënas aan nie, maar vier. Een eet, drie dwaal net rond.
Op pad terug Wildevy toe, kom nog twee vleisvreters skewekop aangewaggel: een ‘n hoogs dragtige wyfie.
Op Tokkie se voorstel, draai ek om blouwildebees toe –
net betyds om al ses die kadawer te sien takel. Dis net ‘n see van onwelriekende lywe in een bondel kolle saamgepers, wat aan die “karmenaadjie” ruk en pluk en sagte gromgeluide laat hoor, waarskynlik van plesier. ‘n Koninklik karnaval van die karivore!
Later swaai ons met vriende weer in Worsboom in. Toe was vier van die ses se vleislus blykbaar al bevredig, of dalk het hulle net ‘n blaaskansie gevat. Net twee hiënas was troe nog besig om met hul woeste kake repe bokvleis los te skeur
Die vriende was Dawie en Annatjie Strydom. Van Rustig 333 Dis dalk die twee ou Sabiepark-veterane se laaste besoek. Die ouderdom is nie vir sissies nie!
Ons ry toe ‘n “koebaairit” al met die rivierpad langs Onder-Sabie toe en van daar die res van die driehoek oor Tshokwane na Skukuza. Die wild het werklik in getalle uitgekom om tot siens te sê: troppe, troppe buffels, sebras en blouwildebeeste., hope olifante, krokodille, kameelperde en koedoes en plate rooibokkies.
Baie spesiaal was ‘n swerm van 100 plus(!) nimmersat-ooievare in lang kolonne by die Sunsetdam, twee flukse ratels tussen Tshokwane en Skukuza en ‘n renoster in ‘n koeltetjie skaars ‘n klipgooi weg.
Daar was ook ‘n amper-luiperd en ‘n amper-jagluiperd, maar geen amper-leeu nie. Die oggend se gebrul was al op die leeufront, maar wat, leeus is ook nie alles nie. (HvD)
Aug 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Sabiepark
Miskien moet ek uitreik vir die tafelblad voordat ek hierdie woorde neerpen (“Touch wood, sê die Engelse), maar ons beleef aan die bobbejaanfront die rustigste jaar sedert ons kennismaking met Sabiepark in 1998.
Geen strooptog op die voorstoep of ander bose aktiwiteitwat wat die gemoedsrus versteur en omvangryke skoonmaak-operasies verg nie.
Ja, daardie ou vrinne met hul sekelsterte het al by die watergat kom drink en enkelinge het dit al tot op die stoep gewaag. Maar in die algemeen behou hulle (tot dusver) vanjaar ‘n eerbiedige afstand.
Dank jou die duiwel vir die verandering in gesindheid en/of gedragspatroon by ‘n lotjie wat die Van Deventers al erg suur gehad het. Sal ek byvoorbeeld die daardie snikhete somersdag vergeet toe hulle in die swembadjie kom afkoel het?
Natuurlik moes ons die water daar en dan uittap en die skropborsels uithaal. Die stoepkussings was self maar ‘n yslike gemors. Om van die stoepteëls nie te praat nie.
Daar was – nog erger – die dae dat hulle deur die amper ondeurdringbare Van Deventerskanse gebars het om binnenshuis ondersoeke ter plaatse te kom loods. Maar sal ek my bloeddruk nou onnodig aan strawwe eise onderwerp deur sulke onplesierige skandes en skades in herinnering te roep?
Die doel van hierdie skrywe is immers nie om ou koeie (of bobbejane) uit die sloot te grawe nie; bloot om ‘n welkome wending te rapporteer en oor ‘n moontlike oorsaak te bespiegel.
Die oorsaak is dalk aan ‘n verwisseling in leierskap toe te skryf. Die nuwe aanvoerder lyk bepaald minder boosaardig en uitdagend as sy (saliger?) voorganger. ‘n Tweede teorie is dat ‘n verandering in die Van Deventers se liggaamstaal agter die nuwe respekte kan sit waarmee die inwoners van Wildevy 154 bejeën word.
Ons KYK hulle nou eerder as om op en af te spring en nare geluide voort te bring om hulle af te skrik.
Die kyk-advies kom van ‘n vriend in Amerika, Ben Coetzee, wat jare her by Nasionale Parke was en nie heeltemal die Van Deventers se gebrek aan welwillendheid jeens die bobbejaanspesie deel nie. “So, jammer man, maar ek sukkel om my vreugde oor jou ongemanierde gaste te onderdruk,” het hy sy sienswyse op ‘n keer openhartig gestel.
Dit was nadat hy en sy seun, Dirk, in 2005 in die Krugerpark kom foto’s neem het vir sy eersteklas-boek, “Birth of an African Landscape”, en hulle oor ‘n hele paar dae en ‘n hele klompie kilometers slegs een bobbejaan gesien het.
Nêrens het hy gelees of gehoor van enige kommer oor die bobbejanegetalle nie, het Ben laat weet, en hy het al aanvaar hulle het uitgevrek onder Natuurbewaring se neuse. Toe bereik die uwe se klagtes hom daar in Memphis se wêreld waar hy en Jeanette hulle ingegrawe het (selfs Amerikaanse burgerskap verwerf het).
Ewenwel, simpatiek of nie so besonder simpatiek nie, had Ben toe nogal ongewone raad. Hy het die volgende speletjie aanbeveel wanneer bobbejane om die motor rondhang:
“Sonder om sterk en direk na enige individu te kyk, soek ‘n nie-dominante, ondergeskikte uit, kyk dan direk na haar en maak groot oë (net groot oe, nie ander bewegings nie). Sy sal skrik en indien sy bly sit, oral om jou kyk maar nooit weer na direk n jou nie, terwyl sy jou wel uit die hoek van die oog belangstellend dophou.
“Probeer dieselfde met ‘n meneer in die trop. Hy sal ietwat van stryk gebring word maar heel anders reageer, iets sinneloos doen, soos krap, opstaan, paar treë stap en weer sit, of wat ookal (displacement activity) nie gewoond om so geintimideer te word nie.
‘‘Pure mens.’
Ben het spesifiek gevra dat ek dit asseblief nie tuis op die werf probeer doen nie , maar na ‘n semi-geslaagde eksperiment met die “ vuil-kyk-formule” op pad na Skukuza was die Van D’s toe tog hier by Tarlehoet ‘n bietjie stout.
As die resultaat daarvan was die ongekende bobbejaan-skietstilstand wat ons nou belewe, vra ek nie eens askies vir ons ongehoorsaamheid nie! (HvD)
Aug 3, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Sabiepark
Vier meter van die swembadjie se rand, tien meter van waar ek hier sit en skryf, is ons bosplek Tarlehoet se watergat en langs hom die voëlbad wat deur die vreemde weë van die dieredemokrasie ook amper meer drinkplek as badplek geword het.
‘n Mens sou kon sê dat ‘n verskeidenheid dors diere as ‘ t ware met hul keelgate gestem het om die gemesselde klipbadjie vir hul drinkdoeleindes te annekseer. Hou maar daardie badjie dop as hy vol is – die diere, klein en groot, kom en gaan.
Ode aan Sabiepark, of aan Tarlehoet, kan volledig wees as dit nie ‘n buiging na die twee drinkplekke insluit nie.
Om ‘n dier te sien drink, het mos ‘n spesiale bekoring. Miskien is dit die trillende onrus van hul spiere; miskien die brose kwesbaarheid teen allerlei vorme van kwaad wat skielik uit die bos kan bars, maar iets, iets, aan drinkende diere is daar wat die waarnemer instinktief na sy verkyker of kamera laat gryp.
By Tarlehoet se twee drinkplekke is al die volgende besoekers waargeneem: koedoes, blouwildebeeste, sebras, duikers, hiënas, vlakvarke, rooibokkies, gebande muishonde, skilpaaie, nagapies en ‘n duisternis voëls, waaronder bloukuifloeries, tarentale en neushoringvoels.
Streng gesproke moet die muskeljaatkat ook op die lys kom; dis sy kontrei, maar nóg ek nóg Tokkie het hom nog ooit op ons werf sien drink. Die reuse-landslak het ons inderdaad hier sien drink, maar uit die swembad. Dit diskwalifiseer die vreemde verskynsel van insluiting op ons lys “drinkebroers”.
‘n Prikkelende gedagte is dat olifante dalk ook al hier gedrink het. Ons het foto’s van ‘n olifant vlakby die drinkgat toe ‘n paar van die ou groot kokkedore enkele jare gelede deur die heining gestap en ‘n paar bome in Sabiepark kom omstoot het. Maar ons weet nie of daardie ou sy slurp in die water gesteek het nie.
Een van ons eerste gewaarwordings van diere by ons watergat was kort nadat ons in 1998 Sabieparkers geword het. Vroeg een oggend het ek uit die badkamervenster ‘n groepie blouwildebeeste by die watergat sien aantree. Hulle het nie lank gebly nie. Tokkie se verwyt was dat my “luidrugtige manier van tande borsel” hulle verdryf het!
‘n Jaar of drie gelede is ons diep in die nag gewek deur ‘n verskriklike geplas. Toe ons opvlieg, kry ons in die flitslig vier hiënas aan’t spoke in die water. Hul gevroetel met hul snoete het die teorie laat ontstaan dat hulle aas kom herwin het wat hulle vroeër daar gebêre het. Dis glo ‘n hiënagewoonte.
In die dae voor die luiperds Sabiepark se vlakvarkbevolking so hartverskeurend uitgedun het, was hier twee ou grotes wat graag op ‘n warm dag in die water kom afkoel het. Hulle het klaarblyklik nog nie gehoor: varke moenie in die water mors nie, want die ander diere wil dit drink!
Ewenwel, koedoes het ons tot verlede week, vreemd genoeg, nog net by ons voëlbad sien drink. Nou het ek foto’s soos die ene hierby van die jong bul by die watergat.
Twee dae later het ‘n mooi rooibokkies tot ons plesier die eerste keer na ons wete by een van ons drinkplekke (ook die watergat) kom krom rug trek – altyd ‘n sierlike gesig. Ongelukkig was die kamera nie byderhand nie. Voordat ek kon korrel, het hulle snuf in die neus gekry.
Maar koedoes en rooibokkies by ons watergat: dit is twee eerstes van die wintervakansie van 2009 wat in die annale opgeteken moet word.
Die okkasie van die naweek was Skukuza se halfmarathon. Dis nogal ‘n aardigheid om die gewapende “beamptes” met hul R1’s en 458’s by elke kilometermerk aan te tref. Maar ook geen wonder nie: voor die wegspring (met ‘n geblikte leeubrul) moes die helikopter ‘n renoster, ‘n leeu en ‘n luiperd van die roete afkeer!
Die halfmarathon was in sonskynweer. ‘n Dag later was hierdie wêreld grys en koud en het plek-plek aansienlike buitjies uitgesak. Ons beleef ‘n anderster winter in die bos. (HvD)