DIE JOOD SE NEUS

More uit Melkbos

Binne hoorafstand van vier vroue rondom hul sestigs, trek die trant van hul gesprek hierdie ou gryse se aandag.

Hulle praat, klink dit, oor hoe onskuldig en onkundig hulle vier dekades gelede was teenoor hul moderne jong sussies van hierdie permissiewe, noem-alles-op-die-naam-tydvak waarin ons leef.

Alles wat my gespitste ore opgetel het, sal ek nie uitblaker nie. ‘n Man het sy eer.

Ene opper egter ‘n aangeleentheid wat, ek meen, tog ook van historiese belang is. Dit is hoe uitbundig sy altyd op haar skool se sportbusse saamgesing het: ”Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus is sonder vel.”

Sy het doodgewoon nie die vaagste benul gehad dat in hierdie weergawe van die liedjie ‘n transponering van organe voorkom om dit mak te maak nie.

Een tydgenoot bely sy was presies in dieselfde bootjie. ‘n Tweede is verras oor die verwysing na die Jood se neus. By hul (plattelandse) skool in die goeie ou Vrystaat was dit in haar vlegseldae die Jood se pens wat nerf-af was.

Die vierde dame in die geselskap was in ‘n gerekende Meisieskool in Bloemfontein. A nee a, sy het geweet die liedjie het sy oorsprong in die Joodse besnydenis van die Ou Testament, lig sy haar verstomde vriendinne in.

Die ander drie bly stil en spreek hul ontsag uit dat nommer vier op so ‘n tedere ouderdom so ingelig kon gewees het.

Moenie sleg voel nie, meisies. Dat julle so “dom” was, het bygedra tot jul oulikheid vir ons seuns-garde uit die 30’s en 40’s wat julle so van ver af verafgood het. Juis dit het gemaak dat ons julle op voetstukkies geplaas en as sulke begeerlike wesentjies beskou het.

Regtig, net om aan julle handjies te vat, het ons op allerlei plekke onbeheerbaar laat “tingle”, om nou maar die rondborstige Wiid-vroutjie van Centurion hier aan te haal.

Vandag se skoolmeisies sing seker nie meer “Valencia” nie. Wonder egter in watter idioom hulle na daardie Joodse orgaan sou verwys het wat in die liedjie ter sprake is.

Van transponering van organe in kinderstories gepraat. Ek is geen kenner van Pinnochio nie. Sal my egter min verwonder as ‘n nuwe weergawe die een of ander tyd opduik waarin dit nie sy neus is wat groei elke keer as hy ‘n liegstorie kwytraak nie.

Maar dan weer: dalk sal so ‘n resultaat hom aanmoedig om des te meer doelbewus te lieg! (HvD)

VYFTIENDE TJEK

Oupa Hennie, Ouma Tokkie, Jacob, Thomas en Christopher by Tarlehoet se naambord.

Middag uit Melkbos

Vakansieplesier kom mos in drie fases. Dis die uitsien daarna, die direkte belewenis daarvan en dan agterna die herbelewenis wat kom met die uitsortering van jou foto’s, wat elk by wyse van terugflitse sy eie herinneringe bring.

Wat die wintervakansie in Sabiepark betref, is ek by fase 3. Ons het Donderdag aangeland in ‘n Kaap wat saans koeler word as wat ek onthou. Dan het ek gedink vanjaar se Laeveldse winter het byt!

Sonder dat ek presies boek gehou het, sou ek reken hierdie was plus-minus die Van Deventers se twaalfde wintervakansie in die bos sedert ons ons wegloop-plekkie Tarlehoet aangeskaf het. Die foto’s – hope en hope daarvan – getuig dat die lekkerte om daar te gaan oorwinter geensins afgeslyt geraak het nie.

Die ander soort leefstyl – sonder elektrisiteit, elke aand se vuurtjie, Skukuza se kerk, Wildtuin-uitstappies, gholfbaan-ontbyte en dies meer – is klaar genoeg om tam batterye te herlaai. Dan kom die natuur se gawes en die saamkuier met familie en vriende as bonus op bonus; iets soos ‘n dertiende en veertiende (selfs vyftiende!) tjek vir ‘n kripvreter.

Kleinkinders is die Here se geskenk vir ‘n oumens, het John Vorster gesê. Van ons “geskenke van die Here” word die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (5), nou al Sabiepark-veterane. Kon dit werklik al hul vierde besoek gewees het? Hul kennis van die veld, diere en voëls bevestig dit. Hulle het, onder leiding van hul pa, Brent, hulleself boonop as prima-vuurmakers ontpop.

Vir Christopher (5 maande) was dit ‘n eerste kuier, ietwat gekompliseer deur ‘n dreigende eerste tand. Maar as hy en sy mamma, Marisa, eers begin speel en jil, is tandekry gou vergete. ‘n Middelslag-koffer het vir die kleine C. onortodokse maar gerieflike slaapplek gebied by meer as een piekniek.

Oupa en Ouma Hennie en Tokkie hoop werklik hul voetjies – en ook hul pleeg-nefie, Michael van Deventer, s’n – gaan nog baie spore op Tarlehoet se werf trap.

Kuiers om die kampvuur met ou en nuwe vriende is beter oumens-medisyne as Timjan en perdesalf. Twee studentemaats van 50 jaar gelede, Pierre le Roux en Johan Bekker, was onder vanjaar se kuiergaste – ‘n buitengewone voorreg dat vriendskap so kan hou en hou.

Onder die nuwe Sabieparkvriende is Gert en Caroline (uitgespreek Karoliene) Pols van Heerhugowaard. ‘n Internet-vriendskap het gestalte gekry toe hulle by Tarlehoet se motorpad indraai. Later het hul kinders, Nick en Helen, opgedaag met hul gades, Guus en Marleen. Toe was op die stoep die volgende Nederlandse stede verteenwoordig: Heerhugowaard, Groningen, Utrecht, Haarlem en Rotterdam. Die mooie Marleen het in die gasteboek geskryf: groeten uit Deventer. Sy ken sowaar die stad aan die Ijssel waar die uwe se oer-wortels lê.

‘n Rekenaar-probleempie is met die gesamentlike Hollandse vernuf vinnig reggedokter. En as die gesellige kuiertjie op Tarlehoet se stoep my van een ding oortuig het, is dat Hollanders ewe veel van hul wyn hou as hierdie “emigrant” wie se stamvader, Gerrit Jansz, hom in 1687 as vryburger by Stellenbosch gevestig het.

Die toetse teen die All Blacks en die Wallabies het Sabiepark se TV-kamer soos nooit tevore nie uit sy nate laat bars. Maar ek sweer dis daar, met ‘n bier en ‘n stukkie biltong in die hand, veel geselliger en lekkerder as op die paviljoen.

‘n Stukkie swaar was dat Dawie en Annatjie Strydom deur kwinte en kwale van die ouderdom gouer moes omdraai huis toe as wat hulle graag sou wou. Weet nie of hulle weer hul geliefde Sabiepark sal kan geniet soos vir so baie jare nie. Maar so haal die tyd ons almal in.

Aan die dierefront was die ongetwyfelde hoogtepunt die luiperd-vangs in Maroelalaan, Sabiepark. My vinger op die Canon se sluiter het skoon die bewerasie gekry toe ek die pragdier en sy prooi, ‘n vlakvarkie, eers mooi in fokus het. Ses hiënas het in Worsboomlaan hul eie vleisfees gevier toe een van Sabiepark se blouwildebeeste weens ouderdom sy kop neerlê.

By Tarlehoet se watergat het o.m. koedoes, sebras, rooibokkies, bobbejane en vlakvarke kom drink. Die duikertjie Witnek het ‘n vaste opvolger gekry. Die eerste muskeljaatkatjie in jare is deur Tokkie opgemerk.

Gebande muishondjies en tarentale was gereelde besoekers. Die enigste oorlewende volstruis was na ‘n lang afwesigheid teenaan die huis

Die bosnagape het so tuis geraak dat hulle selfs ons kaas nie ontsien het nie.
Hul onversadigbare piesanglus het vir menige huismoles gesorg. Ook ‘n uil en vrugtevlermuise was na donker op die stoep bedrywig. Die klein nagapies moes hulle maar die mededinging (en bedreiging) laat welgeval.

By die piekniekplek het olifante ‘n tradisionele strooptog uitgevoer en o.m. n paaltjieheining platgeloop.

In die Wildtuin was ‘n 100 of meer nimmersat-ooievaars by die Sunsetdam ‘n hoogtepunt. Op die pad tussen Onder-Sabie en Tshokwane het ons troppe wild soos lanklaas gesien. Twee ratels het vir ‘n Van D-eerste gesorg. Lake Panick, met sy verskeidenheid watervoëls, seekoeie, njalas, bosbokkies en nog wat, was, soos altyd, ‘n vrugbare en lonende uitkykplek.

Tokkie hou niks van die volgende versie nie. Maar ek het hom een aand langs die kampvuur uitgedink en gaan hom hier neerpen. Daarmee, tot siens Sabiepark tot in Desember:

Eendag sal ek wel moet groet
Vir oulaas en finaal,
Stilletjies sal ek bly hoop –
Eers as die Here my kom haal. (HvD)

LUIPERDVANGS IN SABIEPARK

More uit Melkbos

Uit my hope foto’s van die luiperdvangs einde Julie in Sabiepark het ek sommer vinnig tien gekies vir ‘n albumpie op Picasa.

Die eerste foto’s is van die fris luiperdmannetjie in ‘n driffie nadat hy die jong vlakvark in n jakkalsebessie in Maroelalaan opgehys het.

Die res is van die feesmaal later die middag.

Die foto van die luiperd met die vlakvark in sy bek is geneem toe hy dit, baie onverstandig, in sy kop gekry het om sy prooi grond toe te bring en in die bos verder te gaan verslind.

Die wagtende hiënas het so vinnig op die vleiskos toegesak dat die luiperd vinnig terug is in die boom.

Die volgende oggend het ‘n ongeskonde vlakvarkboudjie op die grond beland. Die hiënas het dus nie vergeefs gewag nie!

Die album kan besoek word by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer

Die titel is “Luiperdvangs in Sabiepark”. (HvD)

‘N KLIP IN DIE BOS

PETER MALAN BY DIE HUILBOERBOON MET DIE RAAISELAGTIGE KLIP

Middag uit Melkbos

Geld groei nie aan bome nie … ook nie klippe nie.

In Sabiepark is ‘n klip in ‘n boom wat lyk of dit saam met die boom kon gegroei het. Hoe anders verklaar ‘n mens daardie bielie se teenwoordigheid hoog en droog in ‘n mik van ‘n huilboerboon (ai, watter gedugte boom!) drie meter bo die grond?

Peter Malan het die tamaaie klip jare gelede in Maroelalaan ontdek op een van sy gereelde staptogte kruis en dwars in die park. Dit weeg maklik 60 kilogram …. en dis net ‘n konserwatiewe raaiskoot. Dalk is dit swaarder, want soortgelyke klippe op die grond kry jy nie geroer nie.

Niemand kon die eienaardige verskynsel nog vir Peter geloofwaardig verklaar nie. My eie instintiewe teorie was klaarblyklike bog. Dit het ek gou ingesien. Geen sprake kan tog bestaan dat die klip daar neergesit/opgehys is toe die huilboerboon nog jonk en heelwat kleiner was nie.

Watte brose jong takke sou immers daardie gewig kon dra; wat nog te sê van soos ‘n wafferse kampioen-gewigopteller in die lug opstoot?

Die troos is dat ek, volgens Peter, nie al een is wat so klaarblyklik misgetas het oor die oorsprong van daardie klip in die boom nie. Die meeste mense raai maar dit moet die boom self wees wat dit op die een of ander duistere manier gekry het op die plek waar dit nou stewig rus.

Wel, as dit nie die natuur was nie, moet dit mensehande wees. Mense het darem die piramides ook gebou!

Maar wanneer, hoe en waarom?

Iemand gooi ‘n klip in die bos dat die klip drie meter hoog in die huilboerboon dalk met die draai van rieme in ‘n lang vervloë era verband kan hou. Soos ek die prentjies uit my skoolhandboeke onthou, was die klip vir daardie aktiwiteit egter onder aan die riem, nie bo nie.

Of wat praat ek alles? (HvD)

RILLINGS OOR ‘N GAS

More uit Sabiepark

‘n Geskokte kollega van weleer rapporteer met rillings dat Die Burger Saterdag verskyn het onder die hand van ‘n gasredakteur, die nimlike Antjie Krog.

Dié het haar genadiglik kortstondige redakteursoordeel uitgeoefen deur onder meer die spotprent en ‘n pikos-artikel uit te gooi en ‘n strokiesprent in daardie ruimte te plaas of so iets.

Wat ook al die presiese gegewe, stuur die mededeling (en die blote idee) terstond ook ‘n rilling deur hierdie lyf.

Dis asof ‘n proefbuis met varkgriep-virusse telefonies, deur Telkom se lyne in die Kaap tot in my Nokia-handstel hier in Sabiepark, by my afgelewer is.

‘n Gasredakteur – bid jou dit aan!

Het iemand al gehoor van ‘n gas-chirurg, ‘n gas-vlieënier of selfs ‘n gas-sweefstokarties, ‘n gasvragmotorbestuurder of ‘n gaskassier by ‘n bank of supermark?

‘n Redakteur dink duidelik min van sy posisie as hy sulke studentikose grapjastery in ‘n koerant van betekenis toelaat. My probleem is dat hy ‘n beroep wat respek verdien, daarmee beroof van sy professionaliteit en op die swaargewig-tradisies van ‘n dagblad ‘n geringskattende soort rieldans uitvoer.

O wee, waar gaan ons heen?

Naskrif: Oorspronklik het ek geskryf me. Krog het die hoofartikel uitgegooi. Dit was nie die informant se skuld nie, maar die ge-informeerde wat vrot geluister het. Daar was ook ‘n onnodige geniepsige opmerking oor die redakteur wat by nadenke liefs verwyder is. (HvD)