Jun 6, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Geween en gekners van tande is opnuut in sekere geledere aan die orde nadat Fluffy, leier van Fernkloofreservaat op Hermanus se hoof-bobbejaantrop, op die tweede verdieping van ‘n spoghuis in die woonbuurt met dieselfde naam doodgeskiet is.
Op die foto word die ou grote, wat sy naam gekry het weens sy lang maanhare, onwaardig van die toneel van sy afsterwe gedra-sleep – nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe jammer dit ook al is dat so ‘n lot diere tref, bestaan egter ‘n ander kant van die saak wat die pro-bobbejaan-faksie nie altyd kan of wil verstaan nie.
As iemand wat self al heelwat onder bobbejane gely het, vra ek diegene wat so begaan is met trane in my “navy-blou oë: wat op aarde moet die arme slagoffers doen? Verwag julle hulle moet net eenvoudig aanvaar bobbejane swaai die septer en hul eie lewenskwaliteit is sekondêr?
Bobbejane word ‘n nasionale plaag, sê my vrou, Tokkie, en sy het dit nie mis nie te oordeel na die stroom berigte van bobbejane wat mense alle hel op aarde gee. By Kaappunt, Bettiesbaai, Hermanus – waar nie al nie – moet geviktimiseerde huisbewoners hul eiendomme barrikeer om stropende bobbbejane uit te hou. Kwaaddoeners breek in en saai verwoesting. Deure en vensters word slinks verwyder; ys- en koskaste oopgeruk en geplunder.
Selfs motors op ”veilige” parkeerplekke is nie bobbejaanbestand nie. Die kese krap die rubber uit, verwyder die ruite en hou dan jollifikasie met wat ook al binne te ase is. Lugdrade word geknak.
Kos word uit verskrikte kinders se hande gegryp. ‘n Mens ys oor die gevaar dat iemand – veral ‘n kind – wat doodonskuldig by ‘n piekniekplek n toebroodjie sit en eet, so toegetakel moet word. Om ‘n wang met daardie skerp kloue oopgevlek te kry, is bepaald nie ‘n aangename vooruitsig nie. Plastiese chirurgie en selfs permanente skending kan jou voorland wees.
In die bos noem ons bobbejane die “mafia van die diereryk”. Dit is geen lieftallige troetelnaampie nie. In Sabiepark is mense se huise al binne deur ‘n trop bobbejane histeriese bobbejame dermate verwoes dat geen enkele stukkie breekgoed of ander glasware heel gebly het nie. Seffs die mure is so betjorts dat dit oorgeverf moet word. Rooi wyn is op wit sitkamermeubels uitgegiet.
Die skade is enorm en die oorweldigende stank bly lank hang as herinnering van die diepe ellende wat jou getref het. Jy huil nie net ‘n dag of twee nie!
Ook ons eie huis het verskeie kere deurgeloop. ‘n Yslike gat is amper dwarsdeur die grasdak gegrawe. Die gaas voor die vensters is aan flarde geruk. ‘n Kleintjie was een keer ure lank binne toegesluit. Veldwagters moes kom om hom te ontset – bolle oweral. Ek en ‘n mannetjie het mekaar in die kombuis trompop ontmoet.
Op die stoep lê die tafel en stoele gereeld pote in die lug. Op ‘n warm dag is die swembadjie ‘n gewilde trekpleister. Die water is pikswart en onwelriekend na so ‘n swempetalje. Sit ons vir die voëltjies kos uit word die houer taks om taks uit die boom geruk en teen die grond geslinger.
Een moedswillige ou het twee dosyn eiers van ons kombuisblad geroof en binne sigafstand die een na die ander welbehaaglik uit die dop gesuig.
Op die warmste dag moet die huis – elke liewe venster – deeglik gegrendel word as ons gaan stap. Elke gas word gewaarsku: pas op vir die bobbejane!
Volgens Leon Steyn, ’n omgewingspesialis van die Overstrand-munisipaliteit, kan die dood van Fernkloof se leier tot ’n bevolkingsontploffing of dissiplineprobleme in die trop lei. “Ander mannetjies in die trop sal waarskynlik nou begin baklei om ’n nuwe leier te bepaal. Gewoonlik is dit ook net die leier wat met die wyfies mag paar. Nou kan enigiets gebeur.”
Hierdie stories hoor ‘n mens telkens. Jy hoor ook: probleembobbejane is die gevolg van mense se onverantwoordelikheid. Jy hoor, ten slotte – en dit maak my ferplie die duiwel in – dat sekere plekke eintlik aan hulle behoort; “hulle was voor ons hier”.
As die plek aan hulle behoort, moet hulle dan gerus maar die heffing betaal en vir die instandhouding opdok, is my wederwoord.
Presies wat die antwoord is, weet ek nie. Maar leeus en luiperds kan tog nie meer in stede se strate ronddwaal nie – nie in Kaapstad nie, nie in Johannesburg nie, selfs nie in Nelspruit nie, al was hulle “voor ons hier”. Ook bobbejane sal moet terug na die onbewoonde klowe, berge en boswêreld waar hul soewereiniteit nie deur mense begrens word nie.
Slim mense SAL ‘n plan moet bedink.om die bobbejaangevaar hok te slaan en as daardie plan dan sou wees om die wapen teen die boggom-kommando op te neem, dan is dit hartseer en alles, maar dan moet ‘n mens doen wat ‘n mens moet doen. . (HvD)
Jun 6, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Een middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.
‘n Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?”
Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van amper 50 jaar my foto-albums – en my lewe! – sou oorheers: Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n mooi en talentvolle Bultfonteinse meisie.
Min het ek geweet dat Dirk instrumenteel sou wees in my en Tokkie se ontmoeting twee jaar later op n partytjie in Bloemfontein by sy ouer broer, Ben, wat ‘n kollega by Die Volksblad was. Kupido Dirk – dit was nogal onverwags!
Min het ek ook geweet dat ek en Tokkie, na heelwat wik en weeg, op ‘n grys Vrydagmiddag, 5 Junie 2009, in ‘n leërige Groote Kerk in Kaapstad ter herdenking van daardie ontmoeting die semi-staatsbegrafnis van die nimlike Dirk Cornelis du Toit in die teenwoordigheid van ‘n sprinkeling van sy ANC-“comrades” sou bywoon.
Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa, Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier.
Tokkie en Dirk se paaie het op n piekniek op Maselspoort en daarna weer by die Bloemfonteinse Kunswedstryf gekruis. Hul gemeenskaplike liefde vir die klavier het ‘n band tussen hulle gesmee wat op n “skoolkys” uitgeloop het.
Dirk het matriek aan die Hoërskool Boshof met ‘n string onderskeidings geslaag en het toe Tukkies toe gekom om Ingenieurswese te “swot”. Sy klavierspel was iets besonders en hy moes heel dikwels vir Kollege-tehuis se seniors uithaal en wys. Ongelukkig het hy die Menere vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die destydse treffer “Tell Laura I love her”.
Dirk was nie gelukkig op Tukkies nie; nie as ienk in Kollege nie en ook nie as student in die Ingenieurswese nie. In 1963 is hy Kovsies toe om in die regte te studeer. Aan die nuwe alma mater sou hy later ‘n regsprofessor word.
‘n Jaar later, in 1964, het Tokkie na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Ek was toe parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe. Sy is deur Dirk genooi.
Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword – ‘n meisie om wie die jong manne draai .’n Week later was ons eerste afspraak – ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger. Op 31 Desember 2008 was ons 42 jaar getroud.
Toe Dirk onverwags op 65 sterf, was ons aanvanklik onseker of ons begranis toe moet gaan. Ten einde laaste het ons besluit: as dit nie vir Dirk was nie, het ons nooit by mekaar uitgekom nie – “for better or for worse” Tokkie had buitendien ‘n groot bewondering vir Dirk se ouers, Oom Sarel en Tant Miem.
Die begrafnis was allesbehalwe opbeurend. Die roubeklaers was hoofsaaklik ANC-liede, onder andere die adjunk-president, Kgalema Motlanthe, wat die woord gevoer het. N’kosi Zikelelel I’Afrika is sonder begeleiding gesing en ‘n “struggle”-lied is aangehef.
Die wit gesigte was skaars: Dirk se vrou en drie dogters, een skoonseun, Marthinus van Schalkwyk, Renier Schoeman, ek en Tokkie en ‘n paar ander. Ben was nie daar nie. Ook nie Dirk se suster, Helena, of sy drie kleinkinders nie.
Dit was ‘n eensame begrafnis, was ek en Tokkie dit op pad huis toe eens terwyl die reëntjie neersif. Die arme Dirk was vervreem van sy eie mense. En die ANC-brigade wat uit lojalititeit teenoor die Afrikaner-oorloper kom afskeid neem het – hoe gou gaan hulle hom nie waarskynlik vergeet nie?
Maar ek is nie spyt ek het gegaan nie – al was dit ‘n vreemde geleentheid en al het Afrikaans skaars gefigureer (hoewel Oom Sarel ‘n onderwyser en dosent in Afrikaans was). Deel van Dirk du Toit, die wegloperkind, se laslappie-nalatenskap was immers dat hy my en Tokkie by mekaar gebring het. Hoe anders kon ons lewens nie verloop het as daar nie iemand soos Dirk Cornelis du Toit was nie! (HvD)
Jun 3, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Die seisoen leen hom tot nog ‘n rugbystorie, meen ek. Om nie in dieselfde diep donker gat as Helen Zille te val nie, word geslagsgelykheid in vandag se storie nagestreef.
Vergeet ‘n slag die Bulle. Hierdie is die storie van ‘n rugbywedstryd tussen die Fisio’s en die Radio’s (almal asters) by Tukkies vroeg in die jare sestigs – of eintlik die storie van Santie en die joppie-op-haar-koppie; ‘n buitengewoon onortodokse variasie op die tema skrumpet.
My bron is ‘n informele boekie, “Herinneringe van Oud-Tukkies” wat in 1988 die lig gesien het. “Die skrumpet” het anoniem verskyn, so gejukstaposisioneer dat ‘n wye vermoede posgevat het dat die uwe die outeur was. Dit was nie ek nie, maar ek sou nie skaam gewees het om outeurskap te erken as dit ek was nie. Allesbehalwe. Dis ‘n eersteklas-storie.
Vir die groot wedstryd het die meisies hul kêrels se toks geleen, en in hare, Kosie, se toksak ontdek Santie toe die vreemde affêring, wat net lanklaas ‘n wasmasjien gesien het. Na heelwat kopkrappery word dit deur deur ‘n gesaghebbende spanlid as ‘n skrumpet geïdentifiseer.
“Met een van die fris slotte se hulp word die veters ongemaklik stewig oor die vaal haartjies, onder die ken en agter die een oor verby gespan. ’n Dik, tosselagtige deel bons los oor haar voorkop – seker waar ‘n veter afgebreek het.”
So verplaas die anonieme skrywer die leser na die kleedkamer.
Dan draf hulle op die veld, eers die Radio’s en toe die Fisio’s. Santie draf voorlaaste op. Ene Lepellip herken eerste die flappende hoofbedekking. Hy sak agteroor, lam van die lag. Van die vroulike toeskouers lag ook, aldus die outeur, sommige met insig, die ander net om nie uit te wees nie. Die arme skeidsregter byt die fluitjie in die een hoek van sy mond vasen grinnik deur sy tande.
Van hierdie punt af pleeg ek skaamteloos plagiaat. Anoniem laat die gebeure ontplooi in ‘n verteltrant wat ek nie sal probeer oortroef of selfs net ewenaar nie. Die aanhalingstekens is ter erkenning aan ‘n eietydse meester van die vertelkuns. Hy (of sy) rapporteer die verwikkelinge aldus:
“ Santie, met haar dieper insig, kom gou agter dat sy die hoofbron …. nee, die enigste bron van laginspirasie is. Nie onnosel nie, merk sy op dat al die betraande oë wat nog oop is, op haar kop gerig is. Nou-ja, dan speel sy maar saam.
“Die oorryp piesangagtige aanhangsel se bokspringery kan sy nou beheer deur ‘n knik van haar kop, kerplaks op haar linkerwang, kerplaks op haar regterwang en kerplaks op haar neus.
“ Sy speel nou vir die ‘stands’. Snaaks, waar’s Kosie? Hy lag dan so graag.
“ As sy maar kon weet! Kosie, moedverloor en bleek om die kiewe, het stilletjies sy fiets gesoek en haastig afgesit koshuis toe. Daar het hy lam-lam op sy bed gaan lê, en in tamatiestraat sy kop met die kussing bedek.
“Rustyd breek aan. Ons heldin trakteer die menigte fotograwe met haar knikkop hier’s-jy-daar’s-jy-toertjie. Almal dink net aan die persprys vir die Grappigste Foto van die Jaar!
“Maar nog is dit het einde niet. Die ouens wat besig was om op die ander veld te oefen, het kom uitvind wat aangaan, en terstond besluit dat die meisie met haar joppie-op-haar-koppie-wedstryd veel meer opwindend is.
“Dié wat nie meer kan lag nie, lê flou onder die bome, dié wat nog kan lag, lag nog en dié wat nog nie gelag het nie, staan nader om te lag.
“Maar aan alles kom ‘n einde, en so ook aan Santie en haar piesangdans.
“Arme Santie. Soos die spreekwoordelike verontregte vrou was sy ook die laaste om te weet. En so was daar ook meer as een gretige spreekwoordelike beste vriendin wat gebrand het om haar die waarheid mee te deel.
“ ‘Santie, jy weet dit was nie n skrumpet nie?’
“ ‘Nie? Wat was dit dan?’
“ ‘ Het jy nie broers nie?’
“ ‘Ja, maar hulle is nie voorspelers nie.’
“ ‘Het jy al ooit n man in n buustelyfie gesien?’
“ ‘Nee!’
“’ Hoekom dra hulle dit nie?’
“ ‘Ag man, jy’s laf! Hulle het mos nie die regte goed nie!’
“” ‘Nou juis! Meisies het ook nie die regte goed vir daardie e…skrumpet nie… Santie? …Santie? Hoekom word jy so bleek? O vadertjie …. Ous, kom help! Santie het uitge-paas!’”
Fluit, fluit, my storie is uit. (HvD)