NESSUN DORMA X 3

As ek my verbeelding oortyd laat werk. kan ek sekere scenario’s optower waarin middernagtelike besoeke welkom, en selfs opwindend, kan wees. Meesal beteken dit slegte nuus – veral namate ‘n mens ouer word en die potensiaal vir speelse verrassings verklein.

Hier by Penguin Place 11, Melkbosstrand, was kort op mekaar se hakke drie onthutsende nagbesoeke, elk met sy eie negatiewe ondertone en emosionele reaksies.

Nommer een is aangekondig deur die dringende gelui van die voordeurklokkieom 13:00. Ek is vervaard uit die lakens. By die voordeur tref ek ‘n hulpvaardige sekuriteitsman aan, flits in die hand, rewolwer aan die heup; oorgehaal vir aksie.

Hy’s verbaas om my verbasing waar te neem. Ek het hom dan ontbied. Nee, ek het nie. Dis mos Penguin 8. Nee, dit is nie, dis Penguin 11 – daar staan dit lewensgroot teen die muur (foto). Jammer meneer.

Wawyd wakker is ek toe, v ir ure, en vies – natuurlik.

Nie lank daarna nie gaan die sekuriteitslig op die voorstoep om 0:200 aan en bly aan. Gewoonlik is dit ‘n rondloperkat of die tak van ‘n tuinstruik wat die lig aktiveer. Maar dan is hy aan en vinnig weer af. Hierdie keer bly hy onheilspellend aan.

Insomnia pla soms op die regte tyd. Ek snap dadelik dis iets anders as ‘n kat of ‘n tak op die stoep wat die lig so lank maak brand. Die volgende oomblik verskyn ‘n gesig in die gleuf van die gordyn voor die kamervenster. Ons kyk meer as ‘t ware in die oë.

Haai, skree ek hard. Tokkie word wakker en, hoewel onbewus van die aard van die bedreiging, trek sy dadelik ook die krane van haar stembande oop. Die gesig verdwyn. ‘n Rug glip vinnig teen die trappe af.

Eers toe skep ek asem om die paniekknoppie te druk. Die alarm begin skel.

Heelwat later daag die gewapende patrollie op. Die man flits oor die grasperk, met sy beskeie flitslig., en kondig aan die skuldige is seker vort oor die werfmuur.

Daardie treurige ou flitsie is ontnugtering nommer een. Die oppervlakkige ondersoekie ontnugtering nommer twee. Daar is ook ‘n ontnugtering nommer drie en nommer vier. Nommer drie is dat huishulp Lydia deur die hele kommosie rustig voortslaap. Nommer vier is dat van die bure geen kik kom nie – nie eens ‘n oproepie om te vra wat skort dan nie?

Sedertdien slaap ek nog ligter as gewoonlik. Maar juis in die brose staat kom neem ‘n verlore Eskimohond sy intrek in die singeltjie voor ons huis. Of dit uit verlange is na die verre Suidpool of na sy Melkbosse eienaars van wie hy om die een of ander rede geskei geraak het, weet ek nie. Maar hy huil sy nagte om, sonder ophou, hartroerend en uitmergelend. Nessun dorma,die derde maal!

Mense, julle moet hierdie grysaard se oë sien. Soos stukke lewer sit hulle daar in my kop. (HvD)

SPAAR R30 – AS ONS HET!


As jy in die donker knipoog, weet net jy wat jy doen. Hierdie advies word gewoonlik aan die adres gerig van mense wat traag (te suinig) is om te adverteer. My probleem is vandag ietwat anders: dit lê by die blikskottels wat wel adverteer, maar dan nie kan lewer nie.

Hulle “knipoog” in die lig, maar as die klant op daardie “knipoog” reageer, begin hulle stamel, of krabbel selfs terug. Die “knipogers” self is dan die mense wat nie weet wat hulle doen nie.

Mense, ek praat van al daardie “spesjils” wat in volbladadvertensies, invoegsels in koerante, advertensiepamflette, op TV en waar nie oral nie groot en ondubbelsinnig geadverteer word – spaar R10, spaar R20, spaar R30 …..

Jy spring opgewonde in jou vuurwa, wikkel haastig winkel toe (soms kilometers der klometers) en dan weet hulle van geen sout of water nie. Jou moeite, tyd, koste en teleurgestelde verwagtinge maak op niemand enige indruk nie. Moenie eers probeer kwaad word nie. Dit help nog minder.

Dis te sê as jy gelukkig genoeg is om iemand se aandag te trek. Want dikwels staan jy maar soos kiepie daar tussen die rakke rond, advertensie in die hand, terwyl winkelassistente en rakpakkers se eindelose selfoongesprekke sorgeloos voortsleep. Soms word die gesprek darem vir ‘n stonde onderbreek om die verwarde klant met ‘n krom vinger of ‘n slap arm na ‘n ander rak weg te wuif.

Pas is ‘n bepaalde fabrikaat babadoek teen ‘n winskoopprys as ‘n “spesjil” vir vyf dae aangebied. Op dag nommer een het ons kinders berge begin versit om van daardie doeke in die hande te kry vir hul amper driejarige wat nogal n roes op doeke is. Op dag vyf het die voorraad nog nêrens opgedaag nie – in elk geval nie by een van die vier of vyf takke waar aangeklop is nie. Een bestuurder was, tot sy ewige eer, so skaam oor die vrot diens dat hy ander, duurder doeke teen dieselfde prys aangebied het.

Maak jou maar daarvoor klaar: dikwels word te kenne gegee dat jy die aap is wat teen jou oogvelle vaskyk – maar, verrassing, verrassing, dan skitter die geadverteerde produk inderdaad in sy afwesigheid

Gewoonlik is die verskoning dan ‘n botte: “Jammer, ons het dit nog nie ingekry nie.” Dring jy dan daarop aan om te weet waarom ‘n onbeskikbare produk geadverteer word, word eenvoudig skouers opgetrek of die blaam op “hoofkantoor” gewerp omdat dié vir die advertensies verantwoordelik is.

Weet die linkerhand dan nie wat die regterhand doen nie? Ek vra maar net.

Die vrou in ons huis, het op die spoor van ‘n aanloklike hoender-aanbod ‘n keer dieselfde traak-my-nie-agtigheid teengekom. Sy laat haar nie maklik afskud nie. Ten einde laaste het sy iemand oorreed om in die pakkamer te gaan soek. Eureka – daar word die berg “spesjil”-hoenders toe op ‘n onverwagte plek ontdek.

Hoe lank dit daar sou gestaan het, as mev. T. nie so vasgeskop het nie, is enigiemand se raaiskoot.

‘n Buitengewoon eerlike jong dametjie het een dag die kat uit die mou gelaat oor ‘n praktyk wat dalk meermale voorkom. Ja-nee, die goeters in die advertensie is wel “agter in die stoor”, maar kom vanaand eers rakke toe.”Ons vat ‘stock’ en as ons dit nou uitpak, is daar meer goed om te tel!”

Newwermaaind die arme klant wat aan ‘n lyntjie (en vir die gek) gehou word!

‘n Nuwe gier wat van Amerika oorgewaai het, is om omgekrapte klante met ‘n sogenaamde “rain check” te probeer paai. Ekskuus dat ek so brutaal moet wees, maar daardie “rain checks” beteken in my ervaring maak bokkerol. Dis nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.

Pick’ n Pay, Spar, Checkers, Shoprite, die lot, ek praat met almal van julle. Maak julle ore oop, menere, en doen tog iets aan hierdie enorme frustrasie van jul mishandelde klante. Roer julle en kry jul blerrie “spesjils” op jul blerrie rakke. O ja, en vat daardie “rain checks” en steek dit gerus …. aan die brand! (HvD)

ABEL VANG TOE SKRIK!

Die gewels wat ou Abel laat "skrik vang" het Voor Christo, die man in die saal, was daar Abel, Gert, Daniël, Pieter, Dumisa, Klaas en nog ‘n boel ander. Moenie skrik nie, dis maar net ‘n lysie van Tokkie se verwers in aansluiting by die vorige blog “Engel met die verfkwas”.

Een het uit lojaliteit die bure se verwende kat doodgemaak. Nog een het uit dankbaarheid ‘n potplant kom aflewer. ‘n Derde wou graag die veeleisende mevrou tevrede stel, maar uit senuagtigheid keer hy toe ‘n emmer water op haar kop om. So het elke verwer sy eie storie…

Abel is in dier jare 80 in Bloemfontein gekontrakteer om die Van Deventerwoning van kleur te laat verwissel. Een probleem: hy ly aan hoogtevrees en Genl. Van Schoorstraat 1 se hoogste gewels was nogal ver bo die grond.

Onderlangs het Abel hom knap van sy taak gekwyt. Die eerste oggend toe hy die uitgerekte leer moet bestyg, begewe sy moed hom egter. Tokkie hoor die krete in die kombuis en hôl. Abel is driekwat teen die leer op en klou soos ‘n apie.

“M …..s (die aanspreekvorm wat voor die era van politieke korrektheid algemeen was vir vroue van die heerserklas), ek vang skrik!” Die uiteinde was dat Tokkie moes leer vashou vir ‘n vale en Abel paai-paai grond toe aanmoedig. Steierwerk is laat kom.

Vir Gert het sy op ‘n fiets in die straat sien ry toe sy n verwer nodig kry, en gehou van wat sy sien. Sy keer hom toe voor en vra: ”Kan jy verf?” Nee, hy’t nog nooit ‘n kwas in sy hand gehad nie. “Ek sal jou leer.”

Gert was ‘n leerder van buitengewone stoffasie. Nie lank daarna nie toe’t hy sy eie besigheid en hy verf als wat voorkom. Op dag kom hy by die huis aangery om met ‘n breë glimlag oor sy nuutgevonde voorspoed te rapporteer. Vir die leermeesteres bring hy ‘n dankie-geskenk: ‘n potplant.

Daniël was eintlik meer tuinman as verwer om doodeerlik te wees. Maar as die verfgier my vrou pak, sal sy in enigiemand se hand ‘n kwas druk. Ewenwel, op ‘n dag tel sy ‘n groen ID-boekie in die straat op. Die foto verklap dit behoort aan Daniël.

Twee dae later daag Daniel op vir sy werkskof. Sy gesig hang. “Ek het my lewe verloor,” deel hy beswaard mee. Tokkie bring die groen boekie te voorskyn. Daniël se gesig helder op: “Ek het my lewe teruggekry.”

Die dankbaarheid stoot sy lojaliteit nog ‘n paar kerwe op. Na ‘n vakansie rapporteer hy trots dit gaan goed met haar wit waaierstert-duiwe. Almal is nog daar.

Die bure se kat het wel ‘n slag in die boom kom sit. Toe hy die kat bemerk, gooi hy hom egter met ‘n klip. Toe die kat die grond tref, slaan hy hom dood met die graaf en gaan begrawe hom in die agterplaas.

“Ek het vir hom gesê: ‘Jy sal nie weer vir hierdie duiwe kyk nie’”, sê Daniël – en hy lag “gie-gie” sonder tande oor sy daad van trou.

Die arme Pieter wat die emmer hier op Melkbos op T. Se kop omgekeer het, was na die embarasserende insident en die vuurwarm skrobbering lank skoonveld. Later het hy darem skoorvoetend weer kom verneem of vrede herstel is.

Dumisa, ‘n aangename werklose jong man met ‘n obsessie oor selfone, is in die verafgeleë Sabiepark deur T. in die verfkuns ingewy. Hy was ‘n ent weg in die slaapkamer toe hy onraad merk – die kleure verskil. Hy kon sy oë nie glo nie oor die slim vrou van Kaapstad se “boereraat” nie.

T. het luiters ‘n blik kitskoffie uit die kas gehaal en ‘n paar lepels”na smaak” bygevoeg. Die kleur was daarna piekfyn.

Klaas was ‘n man met ‘n reputasie. Ek bel een dag die Diabetiese Vereniging in Johannesburg en in die loop van die gesprek laat val ek teenoor die destydse sekretaris, Japie Dreyer (nou ook al oorlede), dat ek (a) op Melkbos woon en (b) Tokkie besig is om die huis te laat verf. Jy kon my met ‘n verfkwasssie omtik toe hy ewe droog verneem: Wie verf jou huis? Is dit Klaas?

Dit was inderdaad Klaas. Hoe Japie dit in Johannesburg kon raai, het ek eers verstaan toe die boeke opval.

Japie was een van die bekende Dreyer-dinastie van Philadelphia met diep wortels op Melkbosstrand. Hy het dus geweet Klaas is ‘n verwer van faam in hierdie kontrei.

In sulke diep spore moet Christo nou stap. Die arme kêrel het minstens hierdie ou se simpatie – maar ek hou dit diplomaties vir myself. (HvD)

ENGEL MET DIE VERFKWAS

Engel met die verfkwas

Engel met die verfkwas

As dit gereent het in die Vrystaat en die boere trek hul John Deeres uit die store, het my kollega Johan van Wyk in Stop van Myne (sy rubriek in Die Volksblad) altyd wrang kommentaar gelewer: “Die blerrie fools ploeg al weer.”

My Tokkievrou verf al weer. ‘n “Blerrie fool” sal ek haar vredesonthalwe nie noem nie, maar om jou siel so te laat versondig, is darem ook nie die toppunt van wysheid nie.

Tokkie se moeilikheid is die standaarde wat sy stel. Sy’s boonop verslaaf aan verf. Sy’s oor verf omtrent soos – nog ‘n Johan van Wyk sêding – ‘n hoender oor ‘n winkelstoep.

Toe sy 60 geword het – sal nie uitlap hoe lank gelede nie! – het ek Pierre van Manen, nog ‘n oud-kollega, gevra om Tokkie as die “engel met die verfkwas” te skilder. Die resultaat is hierbo. Mooi, Pierre – ek dink jy het knap gedaan.

Die oorsprong is iets wat een keer deur een van die Van Deventer-kinders kwytgeraak is en toe in die gesinskring die status van folklore verwerf het. Dit is dat sy in die hemel sal aankom en onmiddellik sal begin rondkyk waar ‘n bietjie verf of vernis nodig is.

Ewenwel,sy wag al lank om die huis weer oor te verf. Verlede week of so hoor sy van ‘n “goeie verwer”wat in die buurt bedrywig is, en katrol hom dadelik in.

Van toe af is dit sy en Christo.

Waarvoor die stomme Christo hom nie klaargemaak het nie, is dat sy die dak sal opklouter en oor sy skouer kom loer. Dan laat sy haar ook nie onbetuig nie. Christo jy moet sus, Christo jy moet so …

Van sy skeptisisme oor van haar uitsprake maak sy korte mette:”Jy moenie dink ek praat sommer nie; ek het my ‘papiere’.” Dié verrassende mededeling verower terstond sy respek.

Van toe af dra haar uitsprake meer gewig – buiten in een opsig. As hy krakies dokter, hou hy daarvan om dan hier, dan daar te peuter. Dit frustreer T. eindeloos.

Later fomuleer sy wat ek as die Wet van Tokkie wil laat opskrywe iewers: “Kyk, Christo, as ek ‘n aartappel skil, dan vat ek hom en ek skil hom klaar. Ek skil nie ‘n bietjie hier en dan ‘n bietjie daar nie. Verstaan jy?”

Ja, hy verstaan, sê Christo.

Nou-ja, helaas bestaan natuurlik ‘n verskil tussen verstaan en onthou. Gistermiddag is daar weer kommosie toe Christo vergeet.

T. is stomend.

“Ai,” sug Christo,”mevrou moet tog nie so kwaad word nie. ‘n ‘Painter’moet aan so baie dinge gelyk dink, toe vergeet ek skoon van mevrou se aartappel!”

Die woord wat sy uitgesis het toe sy die storie vir my kom oorvertel, is verwant aan die aartappel-bedryf. (HvD)