May 22, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Jy is buitengewoon as jy nie, soos amper almal om jou, ‘n “trooskombersie” of meer het nie. Of dit nou ‘n verslete ou baadjie, ‘n knipmes met ‘n stamboom of ‘n geliefde pyp is (manlik); serpies (Hilda van Sewende Laan), ‘n handsak of ‘n stukkie spesiale juweliersware (vroulik), of ‘n verrinneweerde teddiebeertjie (kind) – so klou die meeste van ons vas aan dingetjies wat vir ons sentimentele waarde het, en wat dikwels net vir ons mooi is.
Kyk maar na die TV-advertensie van “Goggatjie” se skeerbeker van Absa I-Direct op TV. Sy huis is rot en kaal besteel, maar “Goggatjie” dink dadelik aan die veiligheid aan sy bekertjie met die skerpneus-gesig wat seker ‘n lang pad saam met hom gekom het. Dan …o wee… die spinnekophart van ‘n vrou ….
Op die foto is Michelle du Plessis van Centurion en haar draadhoender wat die hele wêreld saam met haar rond toer. Ek kry dit op www.Beeld.com se lekker rubriek My Storie. Michelle het die hoender, “Chicken” in Centurion gekoop toe sy vir haar onderhoud gegaan het om op ‘n luukse-boot oorsee te gaan werk. Van toe af is hulle onafskeidbaar. “Chicken” sal jy altyd in haar handbagasie kry.
Die beskeie hoendertjie was al oral. In die hele Suid-Afrika, Kanada, Los Angeles, Miami, Fort Lauderdale, San Diego, San Fransisco, Hawaii, Bora-Bora, Tahiti, Fiji, Australië, Nieu Seeland, Pago, Somao, Gwam-eilande, Yap-eilande, die hele Meksiko, Guatemala, Panama, Bahamas, Barbados, Karibiese Eilande, Peru, Ecaudor, Kuba, Venezuela, Colombia, Costa Rica, Japan, Hong Kong, en nog vele meer.
Elke plek wat hulle besoek het, het gesorg vir ‘n foto of tien vir bewys, skryf dié mooi nooi op Beeld.com. Gelukkige hoendertjie!
Hierbo het ek teddiebeertjies in die kategorie geplaas van n “trooskombersie” vir ‘n kind. Wag ‘n bietjie. Heelparty grootmense, soos die skone Dezi (Elma Postma van ‘n Boer soek ‘n vrou), erken sonder skroom dat hulle steeds saans iets sags (soos n teddiebeertjie uit die kleintyd) bed toe vat. Gelukkige teddiebeertjie!
My eie “trooskombersies” behels nogal ‘n bonte versameling. Ek raak maklik geheg aan allerlei wat vir ander waardeloos kan voorkom. Snags geniet ek byvoorbeeld my drinkwater uit ‘n emalje-koffiebekertjie wat beter dae geken het. Dit was ‘n speelse geskenkie by my laaste einde-van-die-jaar-partytjie by Naspers in 1997. Wonder wie van die ander kollegas nog hul bekertjies het, maar vir my proe water uit geen ander houer presies so verfrissend nie.
Twee kieries lê na aan my hart., Die eerste is van swarthout. My seun, Johan, het dit vir my laat maak met die eerste geldjies wat hy verdien het as koerantseuntjie van Die Volksblad in Bloemfontein. Ek was verras en ingenome. Vandag is die kierie vol merke, soos dit onder meer al deur honde op die strand bygekom is, maar dit bly ‘n spesiale HvD-besitting.
Kierie nommer twee staan in Sabiepark – ‘n meesterstuk van inheemse Transvaalse kiaat met ‘n bielie van ‘n vlakvarktand as handvatsel. Dit was ‘n geskenk van my kollega Jan Scholtz, ‘n vakman soos min wat met hout kan toor.
Op Sabiepark is ek en my Jan Scholtz-kierie ‘n onskeibare tweemanskap. Maar daardie kiaat-kierie het my groot laat skrik op ons eerste kuier nadat dit in my lewe gekom het.
Ek en Tokkie stap piekniekplek toe. Op pad tref dit my soos ‘n donderslag: “Waar’s my kierie dan?” Ek het hom nie by die huis gesien nie, en nee, my vrou weet ook nie. Met elke tree styg die ongelukkigheid. Later is in my gemoed geen twyfel meer nie: my geliefkoosde kierie is gesteel.
Dalk vir muti? Renosterhoring verskaf glo net die regte doepa vir ‘n kwynende libido. Daardie aanspraak is nie onbekend nie. Waarom dan nie ook vlakvarktand nie? Die potensiële gebruike van vlakvarktand eskaleer met elke tree wat ons loop.
By die piekniekplek bereik die spanning breekpunt. Ek moet dadelik gaan soek. Nou drafstap ek. Tokkie bly al hoe verder agter. Sy protesteer en hyg en sweet. Oor my skouer roep ek net na haar toe: “Jy kan by die huis in die swembad spring.” Ek bars behoorlik by die deur in. Soek agter die boekrak, skuif die kas met glase weg. Kyk selfs in die dak op.
In die kamerkas pluk Tokkie haar klere opsy. Veilig in die hoekie staan die kierie. Ons het klaarblyklik die vorige vakansie besef so ‘n waardevolle kierie moet deeglik weggesteek word. Toe steek ons dit amper te deeglik weg! Die geheues is ook nie meer wat dit was nie.
Na die hereniging laat ek my lippe so vee-vee oor die blinkgladde vlakvarktand. Tokkie wil ewe opportunisties weet of ek net so uit my vel sou wees as dit sy was wat weg was en weer gevind is. Volgende vraag! (HvD)
May 21, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die uitsig uit die Esplanade se hoofgebou
Skepties is die mens gebore. Goeie nuus klink soms eenvoudig te goed om waar te wees. As jy weer jou oë uitvee, is dit neusie verby met ‘n kans uit ‘n duisend.
Toe die nuus ons afgetredenes van die Probusklub op Melkbos bereik dat ‘n hotel op Hermanus vir ‘n winterpromosie kamers teen R60 per nag per persoon aanbied, was die wantroue geweldig.
Die boodskapdraer is skeef aangekyk omdat hy sulke onsin glo. Een ervare hand in die toerismebedryf het ernstig verklaar: “Kyk, ek sê nou vir julle as ‘n hotel R60 per nag vra, is daar fout.” Vee die ding van die tafel, was sy oortuigde advies.
“Sal ons nie gaan kyk nie?” het versigtiger lede gewonder. Josua-verspieders is uitgestuur. Die eerste verslag het bevestig daar is wel so ‘n aanbod. Onsekerheid oor sekere aspekte het egter voortgeduur.
‘n Tweede rapport is ingewin – en ‘n derde. Die proposisie het al hoe belowender begin lyk.
Maandag en Dinsdag het die Van D’s en Van W’s (my swaer en skoonsuster van Klaradyn in Brackenfell) in die motor geklim na die Hotel Esplanade op Hermanus toe. Die nuus is eintlik nog beter het dit intussen geblyk: R460 vir ons vier vir twee nagte (d.w.s R57,50 per nag per persoon), met ‘n tweegang-ontbytjie (graankos, een eier en ‘n vleiskossie, koffie en roosterbrood) ingesluit.
Met die ligging van die Esplanade in Marineweg kan niemand fout vind nie. Dis regoor die sogenaamde “kookpot” (Boiling Pot) met ‘n wonderlike uitsig oor die baai en reg in die toerisme-hart van Hermanus, stapafstand na Village Square met sy pikante eetplekkies en geskenkewinkels.
Op pad na die versteekte stegie na die parkeerplek aan die agterkant van die hotel ry ons by ‘n uithangbord verby: R550 per nag. Dit vir een mens vir een nag! En minus ontbyt! Ons glimlag behaaglik.
Ons keuse van akkommodasie het geval nie op kamers in die ou hoofgebou wat see toe front nie, maar ‘n tweekamer-huisie in die boomryke binneplaas; pure Griekeland met die witgepleisterde mure, blou deure en kosyne en slierte bougainvillea.
Kyk, die meubels is nie nuut nie. Maar dis stewig en netjies. In die slaapkamers is antieke hang- en spieëlkaste. Die vertrekke is ruim en skoon. Die badkamers is netjies geteël. Die kombuisie is goed toegerus. ‘n Bonus is ‘n beskutte binnehof met ‘n private braaiplek.
My swaer Fanie het uitgewerk dis presies 100 tree van ons deur tot by die bankie teenaan die “Kookpot” waar hy, volgens hom, heeldag sou kon sit en vir die malende branders kyk. Van so lank stil sit was egter geen sprake nie. Vlakvoor die hotel loop gerieflike sement-wandelpaaie verby, kilometers langs die skilderagtige kus af. Selfs ‘n lid van die kieriekommando (vra my) kan daardie paadjies en die hout-trappe teen die rotshange aandurf. (Moet ook nie ‘n wandeling onder die melkhoutbome tussen Voëlklip en Grottobaai mis nie.)
Vir Fanie, ‘n boekeslaaf, was daar egter nog beter nuus. By die agterhek uit (waar jou motor veilig, agter slot en grendel geparkeer staan) is twee boekwinkels met historiese skatte. Een is die bekende Hemingways. Net buite daardie hek wag ook trosse winkeltjies om ontgin te word.
In vanoggend se Burger is ‘n berig oor ‘n gids van restaurants wat waarde vir geld bied. Op enige sodanige gids vir hotels sal Hermanus se Esplanade ongetwyfeld sterk meeding vir eerste plek. Trouens, as iemand ‘n gids sou uitgee van te-goed-om-waar-te-wees-blyplekke sal die Esplanade ook my kandidaat wees vir die boonste sport op die leer.
Dalk nog net een keer tevore in my lewe het ek ‘n ewe verrassende te-goed-om-waar-te-wees-ervaring gehad. Dit was om in 1976 vir ‘n Amerikaanse “quarter” (25c) op die veerboot van Manhattan na Staten Island te ry met ‘n manjifieke uitsig op die stadsprofiel van New York.
Om jou hele Hermanuskuier spotgoedkoop te hou, gaan koop vir jou vis en skyfies by die Lusitania in die hawe, bring ‘n dag deur in die asemrowende Fernkloof-natuurreservaat en drink saans ‘n ottermaklottertjie uit Boland Kelders se Bon Vinoboks. Ja, ook ‘n doodgewone “Koekemoertjie” kan plesier uit die lewe put!
Naskrif: Die Hotel Esplanade betaal my geen sent vir hierdie getuigskrif nie. Wat my betref, verdien hy elke woord. (HvD)
May 17, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Idols of Idles?
Van die hele Idols-gedoente weet ek soveel soos die spreekwoordelike kat van saffraan. Van die rampsalige debakel rondom Jason en Natasha kon ek egter nie anders as om kennis te neem nie. Meen, die media was op hol asof die 2010-sokker van ons weggeraap is of iets.
Soos dit vir my lyk, het oorywerige ondersteuners van die twee finaliste die selfoonnetwerke so met sms’e gebombardeer dat die spulletjie, soos my ouma altyd gesê het, “toetentaal gekollapseer” het. Miljuisende stemme het ongeteld in die lug bly hang – wat, terloops, die begrip “spookstem” in my boekie ‘n nuwe betekenis gee!
Nietemin, uiteindelik is die verklaarde wenner toe eintlik die verloorder en word die ware wenner as ‘n mede-wenner uitgeroep – of iets in daardie trant. Nie dat dit my juis beroer nie.
Wel duik by hierdie onkundige twee vrae op wat ek graag eerstens aan die adres van Idols-eksperts en tweedens aan die selfoon-ghoeroes wil rig.
Vraag nommer een is watter geloofwaardigheid enige uitslag van enige kompetisie kan hê as begeesterdes maar mag bly stemme uitbring of dit uit die mode raak. Ek lees iewers van ‘n dametjie, meen ek, wat op die rand van ineenstorting was omdat haar 40 stemme vir Jason nie betyds kon deurgaan nie. Veertig stemme van een mens vir een kandidaat – goeie aarde!
Sulke absurde verwringings van die demokrasie lyk vir hierdie waarnemer na ‘n uitnodiging vir manipulering en die resep vir meer fiasko’s as net die huidige verleentheid wat me. Patricia Scholtemeyer en haar M-Net-slimjanne met soveel eier op die gesig gelaat het.
Idles (soos hierbo met die Idols-logo) tong in die kies gespot word, is mos dan ‘n beter naam vir die program wat klaarblyklik uit en uit niks anders as ‘n bogspul kan wees nie.
My tweede vraag is ietwat ernstiger. Denkende aan al die noodsituasies wat enige tyd enige plek kan opduik, wonder ek wat die lot van ‘n dringende sms of oproep na ‘n dokter, die polisie, brandweer en dies meer gaan wees as dit in so gruwelike verkeersknoop in die eter vasgevang sou raak.
Eers 24 uur later by sy bestemming kom? Dan is die slagoffer al dood, beroof of verkrag, die huis afgebrand of die motorkapers ver weg met ‘n gesteelde kar. Selfs ‘n kontrak wat van ‘n vinnige antwoord afhanklik is, kan so sneuwel – of erge huweliksonmin gegenereer word. In sulke gevalle is daar nie die geleentheid om later die gemors te beredder nie, en is verskonings te laat vir trane.
Ekself het al helder oordag, sonder enige kompetisie van Idols-beheptes, ‘n selfoonmaatskappy se noodnommer probeer skakel oor ‘n man wat met sy kop op die bedrywige N1 naby Colesberg lê – in die pad van duisende motorwiele wat teen 120 k/pu van noord na suid voortsnel. Wat ek vir my moeite gekry het, was die mededeling dat al die “konsultante” op daardie oomblik besig was, en daarna geblikte musiek – eindeloos.
Ander belangrike oproepe word telkemale gestuit deur die sein “network busy”.
Slaan my dood, maar ek sal nimmer as te nooit begryp dat instansies wat weet dat hulle vermoë (kapasiteit) in normale omstandighede op die rand van ooreising is, hulle blootstel aan sulke ligsinnige avontuurtjies soos die Idols-stemmery nie.
Tensy dit uit naakte gierigheid is. (HvD)
May 16, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

BYL IN MY BOS
‘n Bekende het my een keer nogal kortgevat toe ek hom uit verbeelde hoflikheid meedeel dat iets oor hom in ‘n aanstaande boekie uit my pen sou verskyn. “Wat wil jy hê moet ek doen?” wou hy iesegrimmig weet. “Moet ek uithardloop en jou boek gaan koop?”
Ek wys graag vandag die omslag van waarslynlik die uwe se laaste boekie, Byl In My Bos, wat in Augustus/September sy buiging maak.Wat wil ek hê moet julle doen? Natuurlik wil ek graag hê julle moet uithardloop en die boekie koop, maar darem nie nou al nie. Dus sal ek nader aan die tyd weer herinner.
Van daardie omslag het ek die bekende boekemeisie Chrisna van Rensburg, uitgewer van Kakkerlak (“Te kort jou skoonheidsduur, roos van my hof …..”), wat die Engelse noem ‘n “sneak preview” gegee. Haar kommentaar? “Sjoe, dit is verskriklik mooi! Is dit ‘n foto? Lyk eg en pragtig.”
Hoop nie Chrisna gee om dat ek haar sonder oorlegpleging hier aanhaal nie. Mag ek egter maar sê dat ek nes sy daaroor voel?
Die skepper is die kunsfotograaf Kevin Factor van Johannesburg wat deur my dogter, Marisa Claassens, met sy kamera en ‘n pak pragfoto’s by ‘n uitstalling in die Knysnabosse raakgeloop is juis terwyl ek naarstiglik op soek was na ‘n bosfoto vir my omslag.
Ek wou bome hê, maar ook afgesaagde/afgekapte boomstompe wat die aktiwiteit van die “Byl” illustreer. Ek het by Kevin aangeklop en hy het oornag met dié treffende komposisie vorendag gekom – ‘n kompilasie van twee foto’s uit sy foto-argief.
Laat ons maar hoop dat die boekie self nie te veel by sy prag-omslag gaan afsteek nie!
Julle besef seker al teen hierdie tyd wat daardie “Byl in die bos”is. Dis die ene wat bly kap en kap totdat dit hier op ouderdom amper 70 onheilspellend yl hier om ‘n mens word.
Byl in die Bos bevat persoonlike herinneringe aan ‘n 130-stuks oorlede politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit langboompies toe is.
Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders sou ‘n boek oor die dode darem dodelik vervelig kon gewees het!
Oor die ‘leiers en verleiers’ uit my bos word hopelik verrassende glimpsies gegee. Een staatshoof sou byvoorbeeld ‘n skaapkop met sy knipmes takel. ‘n Ander het hierdie koerantredakteur in die jagveld met die hand lemoenskyfies gevoer. ‘n Deftige mevrou van Libertas se delikate doilietjies is in tronk-kamerpotte uitgespoel!
Hoekom is ‘n topredakteur as ‘n ‘swaar vermomde engeltjie’ en sy kollega as ‘n ‘goeie bliksem’ beskryf? Byl in my Bos verskaf die antwoorde. Daar word ook vertel van ‘n koerantveteraan wat in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed Kabinetskuiwe reg voorspel het, en van die skrywer wat ‘n koeël van ‘n jaloerse eggenoot in sy kuiltjie gekry het – toe hy onskuldig was!
Die boek handel oor “bekendes, rykes, slimmes, skones en sommer doodgewones”. Die sluipmoorde op Hendrik Verwoerd en Chris Hani word onthou – maar ook die getroue tuinman Daniël wat ‘sy lewe’ verloor, en teruggekry, het.
Volgens die agterplat word die leser toeskouer by vuurwarm direksievergaderings en vername etenstafels; hy hoor geheimpies oor ‘n onwaarskynlike lid van die Afrikaner-Broederbond se lojaliteit; ‘n formidabele volksmoeder se guitigheid by boere-opskoppe; ‘n omstrede skilder se eskapades met naakte modelle…
Ten slotte word verklap watter vrou die ‘onuitwisbaarste indruk’ op hvd gemaak het (Tokkie uitgesluit!), wie ek onthou soos my eerste soen en wie ‘n liefdesbrief van 114 bladsye gekry het. Ek verswyg egter (ridderlik) die naam van die mooi ouderling wat, kaal bolyf, knielend voor haar leraar gestaan het!
Naskrif: Ja, die “Byl” hou nie op kap nie. Ons klas van 1957 het in September 2007 50 jaar na matriek op Potchefstroom saamgetrek vir ‘n reünie. Toe was minstens 15 van die 81 al uitgekap. Sedertdien het nog drie bygekom – die laaste twee, Mornay du Plessis en Ina van Niekerk, in die twee voorafgaande weke, albei na botsings teen vragmotors. (HvD)
May 14, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die wonderskone Sistynse Kapel
Almal wat al ‘n geliefde knipmes in ‘n boks by die laaste kontrolepunt op ‘n lughawe of elders aan “sekuriteit” moes prysgee, ken die skerp pyn van verlies. Ek ken iemand wat op die lughawe net daar omgespring het om ‘n koevert te gaan koop en haar Leatherman – ‘n geskenk van ‘n geliefde – vir vriende te pos. So is haar waardevolle besitting op die nippertjie gered.
‘n Boer maak n plan, lui die gesegde. Nie in elke noodsituasie met ‘n dreigende mesverlies is dit egter strategies haalbaar om om te spring en ‘n alternatief te bedink nie. Soms ontbreek die tyd eenvoudig. Soms was dit klaar so ‘n enorme operasie om tot by daardie kritieke punt te vorder dat omdraai ondenkbaarder is as om maar vir ‘n stukkie van jou hart tot siens te sê.
Die Sistynse Kapel in die Vatikaan bevind hom bepaald in laasgenoemde kategorie. Om daar in te kom om Michelangelo se kunswerke te bewonder, moet jy vroeg roer en nie van die ongeduldige soort wees nie.
So gebeur dit toe dat ‘n Vrystaatse boer en sy gade op ‘n eerste besoek aan Italië, en ‘n eerste abortiewe besoek aan die kapel omdat hulle die vorige dag te laat by die regte hek opgedaag het, uiteindelik saam met twee vriende voor in die tou staan. Maar o wee. Messe en ander potensieel skadelike instrumente moet asseblief daar in ‘n groot boks gedeponeer word.
“Waar kry ek dit weer?”
“Jy kry dit nie weer nie.”
Hierdie stuurse mededeling dompel onse boer in diepe vertwyfeling. Sy Joseph Rogers is nie sommer so ‘n mes nie. Dit het karakter en ‘n geskiedenis wat ‘n bundel kan vul. Sy Pa is daarmee deur allerlei avonture, en voor hom ook sy Oupa. Hy is die derde generasie wat die erfstuk in voogdyskap hou.
Nou het die pynlike oomblik aangebreek dat die ketting skynbaar deur ‘n meedoënlose burokrasie se onverbiddelikheid verbreek gaan word; hier in die verre vreemde russen mense wat nie jou taal praat of die taal van jou hart kan vertolk nie.
Nadat sy vurige pleidooie als op dowe ore geval het, besef die boer hy’s by ‘n kruispad. Om sy mes waaraan soveel sentiment kleef, goedsmoeds in ‘n boks te smyt en weg te stap, breek sy hart. Aan die ander kant het hy ver gekom en lank gewag om te kan staan onder die manjifieke dak waar die groot meester meer as vier jaar lank, regopstaande, agt ure per dag, ses dae per week intensief geskilder het.
Die boer swig, skiet sy mes met ‘n laaste verlangende blik in die boks en betree met die swaar gevoel van verraad in sy hart die wonderskone gange wat miljoene de miljoene besoekers al aangegryp en selfs tot trane beweeg het .
Buite die kapel, bespreek hy en sy drie reisgenote die grootse ervaring. Almal is verruk, maar hy bly sugtend oor sy mes, en wonder vir oulaas of hy mie tog maar die sielevoedsel van Michelangelo se skilderkuns moes opgeoffer het om sy mes te behou nie.
Vir oulaas?
Inderdaad, want op die daardie oomblik delf sy vriend in sy baadjiesak en haal ‘n gehawende Joseph Rodgers te voorskyn.
“Hier’s jou mes.”
Dit blyk al die bewakers van die Vatikaan het hul aandag vir ‘n oomblik dermate verslap dat die boks onbewaak gestaan het. Die vriend gryp toe sy kans en “steel” blitsvinnig sy vriend se dierbare mes onder die Italianers se neuse uit terug.
Die boer was oorstelp.
“Dit was nou ‘n edele diefstal,” stem ons almal saam toe die “mes-dief” ons nou die aand aan ‘n etenstafel op Melkbos in sy geheimpie inlaat. (HvD)