HULLE WILLIE WENNIE!

Sireli Naqelevuki - los skoenveters en nie lus vir speel nie.

Sireli Naqelevuki - los skoenveters en nie lus vir speel nie.

Dis nou amptelik hier van onder Tafelberg: die Stormers willie wennie.

Kanse was daar wel om vandag se Super14-stryd teen die Brumbies in Canberra te wen, maar die een na die ander is weggesmyt.

Pap in die hande, jeukvoete, lusteloosheid, en skrikkerigheid vir seerkry is deesdae sinoniem met Stormer-rugby.

Pap in die hande? Ek verwys na aanslaan op aanslaan – so asof die manne die jitters kry as die bal in ‘n goeie posisie na hulle toe kom.

Jeukvoete? Ai, daardie simpel steekskoppies! Met Schalk Burger op volle vaart en die doellyn oop voor hom was dit vanoggend die (voorheen) vuurvreterflank se beurt om ‘n belaglike skoppie te los – te hard en te ver. ‘n Seker drie is verlore.

Lusteloosheid? Kyk na my lippe. Dit spel Sireli Naqelevuki.

Skrikkerigheid? Hoeveel besit moet nog by die afbreekpunte afgestaan word voor Erasmus besef vasberadenheid, moed en die wil om die bal met hul lywe te beskerm, is skaars kommoditeite in hierdie Stormerspak?

Kyk, ek is nie ‘n Stormer nie. Vir die onthalwe van Suid-Afrikaanse rugby kry my hart egter seer as ‘n span met soveel groot name en soveel talent soveel sukkel. Jean de Villiers se drie vanoggend was ‘n juweel. Hy bly kookwater. Sy spanmaats laat hom egter gedurig in die steek.

In vanjaar se Super14 is die Kaapse span van Rassie Erasmus regtig ‘n bitter pil om te sluk. Ek kry my vriende wat steeds (maar al hoe halfhartiger) “Province” skree, bitter jammer. (HvD)

KABOEM – DAAR LÊ DIE DUIKER!

Witnek, Sabiepark se gryse duiker. Die afwesige horinkie is die skuld van 'n jonger rammetjie.

Witnek, Sabiepark se gryse duiker. Die afwesige horinkie is die skuld van 'n jonger rammetjie.

Om ‘n bok te skiet, is om ‘n leuen te vertel, aldus JL van Schaik se uiters nuttige Afrikaanse Spreekwoorde en Uitdrukkings.

‘n Leuen? Dis darem ‘n baie harde en brutale uitspraak, meen ek – ook na aanleiding van die duikertjie wat in my eie bokkie-bloggie hieronder sommer ‘n impala geword het (of andersom).

Nietemin, genoeg gewroeg en genoeg boete gedoen oor daardie “ligte mistykie”.

Hier’s ‘n ander soort bok-skiet-storie wat hopelik ‘n glimlag sal uitlok:

‘n Omie met iets in die 80 jaar onder die belt, besoek sy huisdokter vir ‘n roetine-ondersoek. Dit gaan uitstekend met hom, lig hy die dokter in. Hy het nog nooit hupser gevoel nie. Sy 21-jarige bruid is juis swanger met sy kind. Wil gedoen wees, nê!

Die dokter gaan maar rustig voort met sy stetoskoop en goeters. Toe hy klaar is, sê hy hy wil vir die omie ‘n storie uit die jagveld vertel. Sy een vriend is ‘n kranige jagter. Op ‘n dag is hy baie haastig. Hy gryp toe sy sambreel pleks van sy geweer, In die veld gewaar hy skielik ‘n duiker agter ‘n bos. Hy lig sy sambreel. Kaboem! Daar lê die duiker.

“Met die sambreel, dokter?”

“Met die sambreel.”

“Onmoontlik,” sê die omie. “Iemand anders moes daai duiker geskiet het.”

“Presies,” sê die dokter. (HvD)

VREUGDEJARE NA 90

Mense – ek ook – raak maklik stellings kwyt soos dat hulle asseblief tog nie te oud wil word nie.

Wel, Ouma Marietjie van Wyk (eggenote Tokkie se ma) was op 7 April 2004 90 jaar oud. Toe was sy nog nie ‘n oumagrootjie nie.

Op Dinsdag 7 April 2009 was sy 95. Sy is in ‘n rolstoel en soms gaan dit maar kreun en steun. Sy straal egter weens die vreugde van vyf agterkleinkinders.

Al vyf was op haar verjaardagete hier in Penguin Place 11, Melkbosstrand. Dit was vir haar ‘n fees om hulle so rondom haar te he.

Op haar skoot is die jongste aanwinsie, Christopher Claassens.

Aan weerskante is die tweeling Jacob Claassens (links) en Thomas Claassens. Agter links is Alesandro Brochetto en regs Michael van Deventer.

Christopher is twee maande. Sy ouboete, Jacob en Thomas, word op 26 April vyf. Hulle is die kinders van Brent en Marisa (ons dogter) Claassens.

Alesandro is 8 maande oud. Hy is die seuntjie van Lorenzo en Corlie (dogter van Ouma se seun, Fanie) Brochetto.

Michael is twee jaar en 8 maande oud. Hy is die pleeg-seuntjie van Johan (ons seun) en Mariza van Deventer.

Produktiewe jare gewees van 90 tot 95, en Ouma hoef nie ‘n vinger te verroer het nie! (HvD)

DUIKERS EN IMPALAS

Hoe verduidelik ‘n mens as jy duikers en impalas so deurmekaarklits asof dit een soort bok is, soos die uwe in sy vorige blog?

Die ergste van alles: niks en niemand kan blameer word nie buiten die gebrek aan konsentrasie en oorhaastigheid aan my eie kant. Mea culpa, kort en klaar.

Jammer, lesers. vir so ‘n liederlike blaps – met Gekkedag al iets van die verlede!

Ek was salig onbewus van hoe ek kleigetrap het, totdat Jeanette Coetzee uit Amerika vra: “Hoe dan nou?”

Die waarheid is natuurlik dat die luislang by Cullinan ‘n impala ingesluk het. My luislang-stories uit Sabiepark gaan almal oor duikers.

My ore tuit as ek vriend en vyand galmend hoor lag oor die grote verleentheid.

Geen ridderorde vir HvD nie, hetsy die Ridderorde van die Impala,die Ridderorde van die Duiker…of selfs die Ridderorde van die Luislang! (HvD)

RIDDERORDE VAN DIE IMPALA!

‘n Luislang-lummel het verlede week naby Cullinan n impala gevang en selfs die koerant gehaal oor sy kortdaatstuk. Nou misgun ek die ou grote nie sy ete of sy publisiteit nie, maar in Sabiepark het ons al geleer dat luislange nogal lief is vir impalavleis.

Geen toejuiging wag egter daar op die aggressor nie. Ons Sabieparkers is deur die bank aan die impalas se kant. Trouens, in die algemeen bestaan ‘n natuurlike aangetrokkenheid tot hierdie alleenloper-bokkies. Hegte verhoudings kom tot stand. Van die mooiste Sabieparkstories spruit uit sulke mens-bokkie-verhoudings.

Een is die storie van Bok-Bok. Dit begin toe Annatjie Strydom van Rustig (erf 333 uit Apiesdoringlaan) so tien jaar gelede een dag in haar tuintjie werskaf. Sy hoor ‘n vreemde geluid.Dit klink soos ‘n gekerm van iets wat in groot nood verkeer. Voetjie vir voetjie begin sy agter die klank aan beweeg. Sy is egter skrikkerig. Sê nou ‘n luiperd spring iewers uit! Maar dis of ‘n magneet haar trek.

Met gespitste ore beweeg sy stadig deur die droë lopie agter hul lapa. Die gekerm raak sagter, kom sy nou agter. Terselfdertyd raak sy bewus van geluide wat soos ‘n stoeiery klink. Toe bemerk sy ‘n duikerooitjie wat teen ‘n wal op en af hardloop. Haar oog val ook op ‘n opgekrulde jong luislang in ‘n sloot. Die ooitjie is skynbaar met die slang in ‘n hewige stryd gewikkel. Die dapper bokkie hardloop teen die wal af en gee hom ‘n skop. Dan weer bult-op. Dan weer af teen die wal. Sy skop en sy skop.

Annatjie staan versteend. Sy sien nou die luislang het ‘n duiker-lammertjie in sy dodelike greep. Elk keer as die lammertjie in doodsangs blêr, versterk die greep. Die slang knyp sy prooi al hoe vaster en vaster totdat die koppie skynbaar leweloos grond toe sak. Die agterpote gee ‘n laaste swakkerige skoppie.

Die ongelykheid van die stryd maak Annatjie kwaad. Sy weet net sy wil daardie duikertjie uit die slang se kloue kry – ook ter wille van die ooitjie wat so onverskrokke bly storm en skop om haar kleintjie te probeer red. Op daardie oomblik kom haar man, Dawie, en hul dogter, Lientjie, aangery. “Ouboet, kom help my!” skreeu sy vir hom.

Dawie aarsel. Die natuur moet sy gang gaan, is sy eerste reaksie. Die Strydoms staan egter vasgenael. Na ‘n rukkie gaan haal Lientjie die kamera. Dawie neem ‘n foto van die slang om die bokkie waaruit die laaste asem skynbaar nou gepers is. Sy tongetjie hang slap uit sy mond.

“Ouboet, ons moet help,” hou Annatjie vol. En asof hy haar hoor, blêr die bokkie ‘n laaste wanhoopsblêr. Dawie neem ‘n vinnige besluit. Hy gryp ‘n vingerdikte stok en druk dit in by die hoek van die slang se bek wat styf om die lammertjie se nek sluit. Hy woel die stok in sy keel af. Toe gebeur ‘n snaakse ding: die slang laat sy prooi skielik los. Hy rol weg en seil na sy gat agter ‘n klip ‘n entjie verder.

Die duikerooitjie het op kort afstand staan en kyk. Ook toe Dawie haar kind optel en hom na die lapa dra, staan sy steeds asof gehipnotiseer. Dawie onthou op daardie oomblik sy ma se resep as iemand groot geskrik het. Bring gou suikerwater, vra hy. Annatjie roer vinnig ‘n paar lepels suiker in ‘n beker water en bring dit vir haar man. Dié het intussen voel-voel vasgestel geen bene is blykbaar gebreek nie. Die duikertjie wat net sy twee hande vol lê, het dalk tog ‘n kans. Dawie dwing die mondjie oop en laat stadig ‘n paar druppels suikerwater inloop. Hy herhaal die proses ‘n paar maal. Toe gooi hy ‘n bietjie water oor die lyfie. Hy voel hoe sy in sy hande begin beweeg.

Toe hy haar neersit, is sy egter te swak om te staan. Haar bene vou onder haar in. Uit die hoek van sy oog gewaar Dawie die ma het intussen stadig nader gekom. Sy staan by die punt van die lapa en kyk pleitend na haar kind se weldoeners. Dawie tel weer die kleinding op en sit haar versigtig op haar voete neer. Wonder bo wonder bly sy regop. Val-val begin sy na haar ma toe waggel. Dadelik soek sy ‘n speen. Steeds onvas op haar voete, begin sy gretig drink. Die ooitjie knip geen oog nie. Sy staan net daar, doodstil, en laat haar kind drink totdat sy genoeg het. Toe stap sy weg, steeds ewe bedaard, met haar kind wat amper dood was, agterna. ‘n Oomblik van groot vreugde vir die Strydoms. Hul ervaring laat hulle besef hoe groot die veggees van ‘n dier is.

Die volgende oggend is Annatjie weer by die lapa doenig. Hier kom die ma en haar kind aangestap. Asof hulle wil kom sê: baie dankie julle wonderlike mense. Hulle staan ‘n bietjie daar rond en gee toe heel rustig pad. Trane van aandoening het in die Strydomhuis gerol.

Die Strydoms is huis toe op Outeniekwastrand in die Suid-Kaap. Toe hulle ‘n jaar later in Sabiepark kom, stap ‘n volgroeide ooitjie uit die bos nader. Glad nie wild nie. Annatjie twyfel g’n oomblik nie. In haar hart is sy seker dit is die outjie wat sy en Dawie gered het. Voorheen het sy nooit vir diere kos gegee nie Nou is sy egter so opgewonde dat sy dadelik ‘n bietjie pap uitgooi. Sy roep: “Bok-bok”. Die ooitjie kom dadelik nader.

Twee jaar hou dit so aan. Sodra die Strydoms uitgepak het, hier kom Bok-Bok. Sy gaan lê onder ‘n jakkalsbessie en hou hulle dop. As hulle roep “Bok-Bok,” wikkel die oortjies en kom sy vinnig nader. Veral as aartappelskille op die spyskaart is. Sy kom ook vir koolblare of ander kos. Die derde jaar kom Bob-Bok nie. Soos dit maar in die natuur gaan, was sy spoorloos. Dalk het ‘n luiperd haar gevang. Of ‘n luislang… Dawie en Annatjie se trane het weer gerol.

Bok-Bok se aanvaller is nie die enigste luislang wat oor ‘n duiker sy moses in Sabiepark teëgekom het nie. ‘n Veel groter en gedugter uitgawe het vir sy gesondheid ook te naby aan ‘n duikerooitjie gekom. Nog dragtig boonop. Die eienaar wat daardie duikertjie as sy eie aangeneem het, Piet Möhr, het nie ‘n oomblik geaarsel nie. Hy storm met ‘n sambok op die bedreiging af en moker die monsterslang links en regs. Dié koes en sis van woede. Die houe bly egter reën totdat die slang die aftog blaas.

‘n Paar jaar was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, in Sabiepark. So ‘n week voor Kersfees vertrek hulle vroeg die oggend om te gaan gholf speel. Op die motorpad sien hulle ‘n lang dik sleepspoor. Hulle bespiegel dat dit ‘n luislang kon wees. Hulle was nie verkeerd nie.

By die kantoor hoor hulle later die luislang was besig om ‘n duikertjie in te sluk. Toe val ‘n luiperd hom aan. Die luislang was in ‘n krisis. Al wat hy kon doen, was om sy prooi uit te spoeg ten einde te ontsnap of terug te veg. Maar dit was te laat. In ‘n japtrap was hy ‘n luiperdmaal. Die duikerkarkas het onaangeraak eenkant bly lê.

Johan en Mariza het dadelik die dooie duikertjie gaan soek. Hulle kry die kadawertjie toe op die toneel van die aanval net langs ons motorpad en neem ‘n foto – ook een van die luislang se sleep.

Daardie luiperd verdien die Ridderorde van die Impala! (HvD)