Apr 20, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Hoekom? Hoekom? Hoekom? Oupas en oumas moet bontstaan om al die raaisels op hul ontdekkingsreis van grootword vir die kleingoed te verklaar.
Oupa en Ouma Hennie en Tokkie – veral Ouma Tokkie – word weens hul vermeende status as ”kenners van die bos” meer as normaalweg met veldverwante vrae gepeper.
“Ouma, hoekom het die bobbejane ouma se eiers gesteel?”
“Ouma, hoekom is die nagapies bang vir die uil?”
“Ouma, hoekom is die kameelperd se poef so hard?”
Oorgenoeg egte “hoekoms” bestaan dat ‘n mens nie nog in jou lewe kunsmatige hoekoms nodig het nie.
“Ouma, hoekom sing die tannie dat kraanvoëls nie kan vlieg nie?”
“Ouma, hoekom kan ons nie ook in die Wildtuin rondstap nie?”
Die vraag oor die kraanvoëls is op grond van ‘n Carike Keuzenkamp-CD met die titel “Alle Voëls Het Vere”. Alle voëls het vere, sing die duursame Carike daarop, maar nie alle voëls kan vlieg nie. Die hoender, eend, kalkoen, pikkewyn en – verkeerdelik – ook die kraanvoël word dan deur haar onder die nie-vlieëndes geklassifiseer.
Die komplikasie is dat die seuntjies met hul eie oë gesien het hoe kraanvoëls in die koringlande tussen Welgemoed en Melkbos sierlik opstyg en land. Ouma het ook vir hulle ‘n pragfoto oor ‘n dubbelblad in die tydskrif “Weg” gewys met ‘n swerm kraanvoëls in vlug.
Hoekom jok die tannie dan so? Die versoeking is om taamlik kras te antwoord, maar uit billikheid sing die tannie ook maar net liedjies wat deur ander mense vir haar geskryf is. Die misleiding van kindertjies hoort dus voor ‘n ander deur.
Die ambisie om in die Wildtuin rond te stap, is geïnspireer deur ‘n boekie met die titel “Wikus gaan Wildtuin toe”. Wikus is ‘n beertjie. Hy en sy vriend Wim, die muis, stap alte heerlik in die Wildtuin rond en kuier by die minsame leeus, renoster, seekoeie, ens.
Op die oog af lyk dit heel onskuldig. Ouma moet egter mooi verduidelik hoekom Wikus en Wim mag gaan waar Jacob en Thomas nie durf gaan nie.
Wel, Wikus is natuurlik ‘n beertjie en Wim ‘n muis. Dit is hul paspoort tot die bos. Maar die kinders assosieer met die twee. Albei kan immers praat. Dit verg voetwerk om te verduidelik hoekom ‘n pratende beertjie salig op sy gemak met wilde diere geselsies kan aanknoop en kindertjies nie. Dan het hulle boonop ‘n maatjie Wim by die speelskool, wat sake nie makliker maak vir Ouma nie.
Die boekie, deur Human & Rousseau uitgegee, blyk, by nadere ondersoek, nie van Suid-Afrikaanse oorsprong te wees nie. Sy oorspronklike titel het ‘n Franse klank – of dalk Spaans. En wat weet Europeërs nou van gevaarlike diere en Wildtuinkulture ? Hulle klim sommer lag-lag uit hul motors om ‘n beter hoek vir ‘n foto te kry as roofdiere langs die pad lê en smul of olifante tussen die bome skuil. Dit het ek al meermale met my eie oë gesien.
So vreeslik ernstig is die saak seker nie, maar dat die sorgvrye Wikus en Wim in die Van Deventer-sfeer vrae laat ontstaan het, is seker. Hopelik het die verduideliking dat ‘n sagmoedige maanhaar op die geduldige bladsye van ‘n boek en ‘n potensiële verskeurder van allerlei ander diere, kindertjies en grootmense in die bos ‘n perd van ‘n ander kleur is, tog ingesink.
Uiteindelik knaag die vraag steeds: is die uitgewers van CD’s en boeke vir kinders altyd voldoende daarop bedag dat hulle klein kindergemoedjies kan verwar – veral met allerlei onlewensgetroue goed wat om minder duidelike redes uit die buiteland ingevoer is. (HvD)
Apr 18, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Ouma op haar 95ste verjaardag
Almal wat weet hoe geweldig lief my Tokkievrou vir rooi is, sal begryp hoe dit gekom het dat Ouma Marietjie in haar middel negentigs vir Kersfees ‘n helder rooi nagrok present gekry het – waarskynlik haar eerste.
Vanselfsprekend het die rooi nagrok nie ongesiens verbygegaan nie in die tehuis vir bejaardes (of haar “koshuis”, soos sy dit noem) waarin Ouma die laaste jaar of twee tuisgaan. Trouens, die geskiedenis van die nagrok sedert Kersfees is nogal … om die minste daarvan te sê… taamlik kleurryk.
Laat my egter by die begin begin. Dit is toe Tokkie skuins voor Kersfees by ‘n winkel verbystap, die verleidelike kledingstuk tussen Kersversierings uitgestal sien en op die daad besluit dis sommer bog dat oumense altyd net pastelkleure moet dra.
Sy kry dadelik die bevlieging om dit vir Kersfees vir Ouma te koop – vir eers omdat dit vir haar so treffend is en ten tweede omdat dit van katoen is. Dit hanteer makliker as sy wanneer Ouma, wat nie meer mobiel is nie, opgetel moet word en so.
Toe Ouma die eerste aand getooi in rooi die lakens van haar bedjie oor haar trek om te slaap, loop die storie in die tehuis oor die amper 95-jarige veteraan se rooi nommertjie. Almal”oe” en “aa”. Die verbaasde nagmatrone kon haar oë nie glo nie, het sy Tokkie die volgende dag meegedeel.
Nie lank daarna nie – die kontantstrokie was nog in Tokkie se handsak – verdwyn die rooi nagrok skoonveld. My vrou is omgekrap en maak geen geheim van haar wrewel nie. ”Soek hom!” eis sy. Elke dag gaan verneem sy of hy die nagrok al uitgekom het.
Vyf lange weke lewer die soektogte niks op nie. Die nagrok is weg soos ‘n naald in ‘n hooimied. Toe, nadat ‘n ernstige kennisgewing in die personeelkamer opgesit is, peul die vermiste kledingstuk geheimsinnig iewers uit. ‘n Lid van die personeel kom triomfantlik daarmee by Ouma se kamer ingestap, glad gestryk en mooi netjies opgevou.
Wat die misterie van sy lang afwesigheid verdiep, is dat die synaat van die splinternuwe kledingstuk oopgeskeur is – ‘n feit wat noodwendig tot allerlei bespiegelings lei. Mense met romantiese verbeeldings skets scenarios van ver paaie wat dalk in die tyd van afwesigheid bewandel is en woelige ervarings wat in ‘n sogenaamde hygroman nie uit pas sou wees nie.
Nietemin, die skeur word netjies herstel, en sake gaan weer hul normale gang. Tot so skuins voor die Paasnaweek. Toe kom Tokkie by die huis aan met die nuus: die rooi nagrok se lêplek is weer leeg. Suspisie glinster in haar oog; sy sweer hy’s vir die Paasnaweek “uitgeboek”.
Ouma vier op Dinsdag 7 April haar 95ste steeds minus haar Kersgeskenk van haar liefhebbende dogter, wat nou grimmig beduie een rooi ding wat sy nog nooit gehad het nie is rooi stoflappe. As die nagrok weer uitkom, gaan sy hom vir daardie edele doel stukkend knip en die stukkies aan die tehuis skenk.
Ek ken egter my vrou en neem haar nie ernstig op nie. Toe die nagrok enkele dae gelede weer sy opwagting maak, is die voorneme om die skêr in te lê vergete. Trouens,Tokkie se blydskap is aansteeklik. Ek raak self skoon opgewonde oor die vonds, al het ek die nagrok nog nooit gesien nie.
In elk geval is die naat hierdie keer ongeskeur. Wat seker dui op versigtiger hantering deur die liefhebber van rooi wat vermoedelik die versoeking van bruikleen nie kon weerstaan nie. Of dalk op ‘n saaier uitstappie? (HvD)
Apr 16, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

In die netjiese gebou op die foto, een van Melkbos se nuweres, was aanvanklik ‘n oulike koffieplekkie (wat gevou het) en ‘n videowinkel (wat nie veel langer as sy buurman gehou het nie). Nou huisves die gebou met die groot glasruite soos ‘n KFC-winkel ‘n eiendomsagentskap en die poskantoor.
Tot drie maande gelede was hier nie ‘n volwaardige poskantoor op ons dorp nie – net ‘n sogenaamde agentskap. Die het bestaan uit ‘n toonbankie in die hoek van ‘n gesellige ouwêreldse skryfbehoeftewinkel. Toue daar kon soms nogal lank raak, maar die atmosfeer was aangenaam. Niemand het ongeduldig of gefrustreerd geraak nie.
Ons Melkbossers het gehou van ons poskantoortjie soos hy is, en van die gawe, hulpvaardige mense wat altyd ‘n woordjie oor die weer ingekry het as jy ‘n pakkie kom wegstuur of ‘n brief registreer.
Toe besluit ‘n beleidmaker hoër op in die SA Poskantoor (“Whe deliver, whatever it takes”) ons dorpie het opgradering nodig. Melkbosstrand se poskantoor (poskode 7440/7441) skuif oor Sesde Laan uit Lynn Green se karaktervolle winkel tot die gebou wat jy voorheen besoek het vir ‘n koppie koffie of om ‘n video uit te neem.
Gerieflik ruim en alles. Een ongeluk: vir die eerste weke was die rekenaar nie gekoppel nie. Vir enige besigheid wat effens meer gekompliseerd is as om ‘n pakkie seëls te koop, moes jy Big Bay of Table View toe, minstens vyftien kilometer ver, met die gevolglike bykomende koste, om van tyd en beslommernis nie te praat nie.
“Hou moed, hou moed,” het die opgeruimde poskantoorman jou verseker – maar sy verleentheid was dag na dag sigbaarder oor die rekenaar wat met ‘n donker, dooie oog daar staan.
Die eerste keer toe ek instap en die rekenaar werk, was ‘n blye dag. Die poskantoorman was duidelik gelukkig, en ek was so meegevoer deur sy verandering in luim dat ek spyt was ek het nie n pakkie om iewers heen te stuur nie as ‘n soort simboliese bevestiging dat ons ou dorpie, wat poskantoorsake betref, uiteindelik geärriveer het.
‘n Dag of wat gelede week stap ek weer by die poskantoor in, hierdie keer inderdaad met ‘n pakkie onder die arm.
“Ai, meneer,” sug die poskantoorman beteuterd.
Ek sien dadelik die groot waaier in die middel van die vloer is morsdood. Die ligte brand nie.
‘n Kopknik bevestig my naarste vermoede. Ook die rekenaar is weer donker en dood. Ek sal maar moet Big Bay of Table View toe.
Moontlike oorsake van die nuwe penarie word bespreek, en die teorie word geopper dat die SA Poskantoor moontlik nie sy kragrekening betaal het nie. Dis nogal snaaks. Die klandisie grinnik, en die poskantoorman grinnik maar verleë saam.
Op pad terug van Big Bay af gaan loer ek weer in om simpatie te betoon. Die waaier woer-woer weer, die ligte brand en die rekenaar se skerm flikker. Melkbos se poskantoor is terug in besigheid.
Die rekening-teorie was toe nie korrek nie. Wat wel in die geskarrel ontdek is, is dat daardie winkel om die een of ander rede nie munisipale kragvoer kry soos sy bure nie. Dis afhanklik van ‘n kragboksie – daardie kontrepsie-dingetjie teen die muur waarin jy krag laai wat jy vooraf by Pick n Pay of ‘n vulstasie koop.
“Ek het n bestuurder uit ‘n vergadering laat haal,” rapporteer die poskantoorman ingenome oor sy vinnige hantering van die probleem.
Vir sy flinkheid verdien hy ‘n klop op die skouer. Maar ons arme Melkbossers stap steeds bra benieud daardie stoeptrappies op poskantoor toe. ‘n Mens weet nooit wat binne wag nie.
Dan kyk ons verlangend oor die straat, na ons agentskappie waar die rekenaar net gaan staan het as Eskom teenspoed kry. En dan is ons onseker of dit inderdaad ‘n stap vorentoe is dat ons nou so voor in die koor is om ons eie poskantoor hier te hê. (HvD)
Apr 14, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Een storie lei tot ‘n ander. Die geselsie oor medisyne in die inskrywing hieronder het twee lekker pillestories gegenereer.
Nommer een is oor ‘n ouma wat haar dokter oorleef. Die nuwe baas van die praktyk vra dat sy vir hom ‘n lys bring van al die medisyne wat sy drink. Hy ontdek taamlik ontsteld sy drink o.m. die Pil.
Hy soek versigtig na woorde om die saak diplomaties aan te roer. “Tante, hierdie een pilletjie kan ons maar van die lysie verwyder. Dis vir geboortebeperking.”
“Nee, dokter,”antwoord sy,”hou hom net daar.”
“Hoekom, tante?”
“Dis om beter te kan slaap?”
“Beter slaap? Dis nie ‘n slaappil nie.”
“Laat my beter slaap,” hou sy vol.
“Nou hoe dan?”
Die tante verduidelik: Elke oggend maak sy enetjie fyn en dokter die lemoensap daarmee. Dan skink sy ‘n groot glas vir haar 16-jarige kleindogter wat lief is vir rondrinkink.
“Dokter, nou kan sy maar laat uitbly. Ek lê nie meer wakker van bekommernis nie!”
Storie twee: ‘n Oupa maak so plus-minus tegelykertyd kennis met ‘n gehoortoestel en ‘n setpil. Hy kom kla by die dokter hy hoor skielik weer sleg.
Dié loer in die oor en kry daar ‘n setpil.
“ Oom, dis mos die verkeerde plek vir hierdie pil!”
“Ai, dokter, nou weet ek waar is my gehoorstel!” (HvD)
LEES OOK: VAT DAAI MEDISYNE!
Apr 13, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die antiekse Griekse simbool vir medisyne oor die wereld heen.
‘n Medisynegrappie wat, vermoed ek, so oud is dat ek dit in een van my Tukkiejoolblaaie (1958 – 19620) sal vind as ek net hard soek, vertel van die ou wat met ‘n slepende kwaal dokter toe is.
Die dokter diagnoseer en skryf medisyne voor. Die dankbare pasiënt betaal die dokter kontant, want hy glo die dokter moet ook leef.
Hy is met sy voorskrif apteker toe, kry sy pille en betaal kontant, want hy glo die apteker moet ook leef.
Hy kom by die huis en spoel die pille in die riool af, want hy glo hy moet ook leef.
As die herhaling van die ligsininnerige storie dalk die indruk wek dat by die uwe ‘n negatiewe ingesteldheid jeens medisyne bestaan, haas ek my om skuld te ontken. Trouens, ek glo in medisyne – nou nie in alle primitiewe boererate en toordokters se “tradisionele medisyne” nie, maar wel in die formele medisyne wat ingevolge ingewikkelde formules deur hoog geleerde wetenskaplikes ontwikkel word.
Gade Tokkie beweer selfs ek is ietwat van ‘n medisyneslaaf wat hoopvol hande vol pille sal sluk vir toestande wat ‘n bietjie meer sonskyn op die vel, ‘n bietjie meer oefening en ‘n bietjie minder aardse plesiere (soos wyn en lekker kos) ook sou kon regdokter.
Ek is veral ‘n getroue medisynegebruiker wanneer ‘n dokter, soos verlede week gebeur het, skoon brandwyn vir ‘n knaende hoes aanbeveel! TvD neem dit met n knippie sout. Die dokter, ‘n geloofwaardige man, het my egter verseker hy het dit op mediese skool geleer. Hoekom sal ek ‘n slim professor aan ‘n mediese skool se insigte bevraagteken?
Die “moet-ook-leef”-grappie kry egter relevansie in die lig van ‘n nuwe dissipline wat TvD my in my 69ste jaar op die ondermaanse geleer het. Dit is om die dokumentasie wat saam met ‘n mens se medisyne kom noukeurig te lees. Voorheen het ek dit as afvalpapier beskou; nou besef ek dat daardie opgevoude stukkie dun papier waardevolle inligting en adviese bevat.
Onder die opskrif “Waarskuwings” kry veral die bejaarde nogal stof wat die hare kan laat rys – of kan laat uitval, na gelang van die aard van die middel. Dit blyk dat iemand bo 65 nie sommer kan indons en medisyne gebruik soos ‘n jonger broer of suster nie. Allerlei onplesierige newe-effekte skuil vir hom/haar soms agter die onskuldige voorkoms van die kleinste wit pilletjie.
‘n Middel wat bloeddruk beheer, kan byvoorbeeld jou toonnaels laat ingroei (grappie!), ‘n pilletjie om beter te slaap, kan jeukende aambeie veroorsaak (grappie!) en ‘n preparaat om n trae spysvertering aan te wakker, kan die liefde kortwiek, as u weet wat ek bedoel (grappie!).
‘n Nogal ontstellende gedagte is dat verskillende medisynes in jou liggaam teen mekaar kan stoei soos ‘n huis wat in homself verdeel is. Die een drink jy om ‘n bepaalde doel te bereik, die ander dra in hom ‘n gif wat juis die bereiking van daardie doel kan verongeluk, belemmer of aktief teenwerk.
Uiteindelik kry nie een die oorhand oor die ander nie en bereik die getroue drinkery elke oggend voor ete en elke aand na ete niks meer nie as die handhawing van die status quo.
Dit is nogal iets om aan te herkou, veral as stories toenemend by jou uitkom van ou mense wat omtrent op sterwe na dood was, maar na alle medisyne gestaak is, skielik met merkwaardige herstel geseën is – uit die siekbed tot in die blomtuin met ‘n sonhoed, vurkie en graaf as ‘ t ware.
Gelukkig of ongelukkig is ek nie juis lief vir tuinwerk nie. Daarom drink ek maar steeds my medisyne getrou. Mag die beste medisyne wen! (HvD)