Mar 11, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die kroeg is nie oop nie omdat hy toe is. Dieselfde geld HvD se Blog vir die volgende week of wat.
Hiermee word die vensters en deure gegrendel en die luike laat sak terwyl die familie Van Deventer – die hele boksemdaais – in Kammarus op Buffelsbaai gaan kuier,speel, braai en rus (HvD).
Mar 9, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die leerkurwe duur voort. Gister moes ek bely ek het ‘n lalreier vir ‘n wouadpie aangesien. Vandag se korreksie geld ‘n swartwou (Engels: yellowbilled kite) wat ek ‘n ruk gelede hier as ‘n bruinslangarend uitgeken het.
Ekskuus vir die wals. Maar dit gee my darem kans om weer die foto te wys waaroor ek myself nogal op die skouer klop. Ek moes vinnig my Canon in gereedheid bring toe ons die waardige meneer met sy murgbeen op die teerpad van die Krugerhek af Skukuza toe raakloop.
Die verkeer was redelik druk en hy het nie lank bly sit nie. (HvD)
Mar 9, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Terwyl dit op HvD se blog die seisoen vir gevleueldes is, hier is ene wat ek reggekry het na die kleitrappery met die lalreier en die swartwou.
Ja, dis ‘n saalbekooievaar wat hier luiters in die teerpad afstap. Met die sierlike saalbek kan niemand egter eintlik ‘n fout maak nie – tensy hy ‘n aap (woudapie?) is.
Die saalbek het ons raakgeloop op die Doispane-teerpad tussen die Phabenihek en die Krugerhek. Trouens, daar was twee in die pad, maar nooit na genoeg aan mekaar vir ‘n groepfoto nie.
Daarmee dan eers oor en uit. Ons maak die die Van Deventer-voelgids toe vir ‘n ruk. (HvD)
NASKRIF: Wie stem nie saam nie dat die saalbek uitgeknip lyk vir die taak om vir die reenboognasie se mammas babas te bring?
Mar 8, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Voëlkyk is nie vir sissies nie. Dit verg konsentrasie en vinnige koördinasie om die verkyker te gryp, die onderwerp van kop tot toon te bestudeer en deur ‘n proses van eliminasie blitsig by ‘n diagnostiese bevinding uit te kom.
As jy boonop aan ‘n kleurswakte ly soos die uwe – skakerings van rooi-groen is waar dinge vir my kwaai begin lol – bevind jy jou gou in tamatiestraat. Is die snawel geel of rooierig? Is die pote swart of bruin? Het die vlerk wit strepe of kolle? Later is jy so verward dat jy vir jouself lieg.
Om dan nog die duisternis name ook te probeer memoriseer — party onlogies, ander die vrug van ‘n ryke verbeelding – is ‘n reusetaak. Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, reiers, sterretjies, valke en vinke raak ‘n gewone sterfling maklik verdwaald.
Vergewe dus dat ek ‘n ruk gelede ‘n foto (die nimlike hierbo) op hierdie blog gesit het met die selfversekerde bevinding dat dit ‘n woudapie (‘n soort rietduikertjie) is wat ek by Lake Panic naby Skukuza gekiek het.
Dit is nie ‘n woudapie nie, maar ‘n lalreier – ‘n soort reier waarvan ek totaal onbewus was totdat Herman en Rina le Roux van Johannesburg die foto mooi bekyk en tentatief die korrekte identifisering gewaag het.
Hulle had gelyk. Aan hulle, en al die ander wat ernstig voel oor hul voëls, hiermee ‘n vertraagde verskoning vir ‘n bona fide misleiding.
Ek het dit nou op die hoogste gesag gesag, nog hoër as Herman en Rina, dat my “woudapie” inderdaad ‘n lalreier was.
Gelukkig skryf Tokkie in haar Newmans ons voëlwaarnemings in potlood en het sy altyd ‘n uitveër byderhand om foute reg te stel.
Nou soek ek ‘n woudapie, die ware Jakob, met ‘n seer hart! (HvD)
Mar 6, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Die tonele op TV waar Schabir Shaik gimlaggend en skynbaar perdfris die “dood tegemoet stap”, herinner aan Mark Twain se beskrywing van sy premature doodsberig as ‘n “oordrywing”.
Wat ons hier beleef t.o.v, mnr. Shaik se “teminale fase” is op die oog af dan – a la mnr. Twain – ten minste ‘n “growwe oordrywing”!
Nou kyk, dit is seker raadsaam om jou nie te veel op te werk oor die spekvet Schabir se mediese parool “om in waardigheid te gaan sterf nie”. Anders bereik jou eie bloeddruk dalk sulke ekstreme hiper-vlakke dat jy omkap terwyl hy nog in Morningside sit en kipper eet vir ontbyt.
Daarby is die dood natuurlik ’n (dood-)ernstige saak. Laat ‘n mens jou van ligsinnighede weerhou. As ‘n skeppie galgehumor in orde is, sal ek egter graag meedoen. Vir my lyk dit of mnr. Shaik dalk, volgens gewone waarnemings, op pad is om ‘n “eerste” te behaal wat vir hom seker ‘n plek in die Guinness Book of Records sal verdien.
Waar ander belangrike mense tot dusver na hul dood in staatsie gelê het, sal mnr. Shaik waarskynlik in staatsie rondloop!
Ek het hierbo na Mark Twain verwys. Ernest Hemingway was na ‘n vliegongeluk in 1953 eweneens die slagoffer van ‘n te haastige doodsberig. Hy het die “grafskrifte” – soos hierdie berigte by koerante bekend is – sorgvuldig gelees.
“Daar was sekere onakkuraathede” het hy later van hom laat hoor,” maar daar is ook mooi dinge gesê wat onverdiend is. Die meeste van die doodberigte sou ek nie naastenby so goed kon skryf nie!”
Wat sou die koerante oor mnr. Shaik skryf?
‘n Laaste storie in die trant kom uit die Londense Times wat per ongeluk lord Desborough se doodsberig gepubliseer het in plaas van die oorlede Bessborough syne.
Die erg ontevrede oorledene het gebel om te kla. Hy kom toe by die redakteur se sekretaresse (dit was voor die dae van p.a.’s) uit: Ek lees in die Times ek is dood.
Sy: “Verskoon my, u edele, maar waarvandaan praat u?”
Van Morningside af, demmit!
Om op ‘n ernstige noot te sluit. My vriend Chris van Rensburg van Bloemfontein/Kleinmond spreek die wens uit om in hierdie dae ‘n redakteur te kon wees. Hy sou op die voorblad van sy koerant n kassie plaas om die naderende dood van Schbair Shaik af te tel: een dag nader, twee dae nader ….
Chris, die vraag is net: wat maak jy as die kassie naderhand ‘n jaar oud is? Dan sit jy darem met stokou nuus op jou voorblad, ou maat! (HvD)