SWAELTJIE-FOTO’S

Hierbo pryk ‘n nie-professionele (eintlik maar taamlik amateuragtige!) eie montasie van die ses swaeltjiefoto’s waaroor in Amerika, Europa en elders emmers vol trane gestort is – sien die blog hieronder: ” ‘n Swaeltjie se smart.”

Die volgorde is links bo, regs bo, middel links, middel regs, links onder en regs onder.

Die eerste foto is van die wyfie in die pad nadat sy deur ‘n motor getref is. In die volgende drie foto’s probeer die mannetjie angsbevange help deur haar te voer en uit die pad te probeer sleep. Die laaste twee foto’s wys sy hartseer en verslaendheid.

Geen erkenning word aan die fotograaf gegee nie, omdat ek nie weet wat sy naam is nie. (HvD)

O VIR ‘N VISUM NA LONDEN!

Vanpas ge-das vir die East India Club - al lyk ek verder soos 'n voelverskrikker!

Vanpas ge-das vir die East India Club - al lyk ek verder soos 'n voelverskrikker!

Visum-skok, basuin koerante die slegte nuus uit. ‘n Skok is dit absoluut en inderdaad om nou R1 000 bloedgeld op te dok vir ‘n visum vir Engeland. Die een of ander lomperd het hier sleg gegly, en dis om van briesend te word dat ons so gestraf word vir sulke lamsakkige onbeholpenheid op regeringsvlak.

Ontsteltenis oor die visum-bokkerop loop wyd. Kom ons los dit maar eenkant – en gesels liewer oor die wonderlike Londen. Wat ‘n stad! Dis mos ‘n plek wat sommer baie diep in Suid-Afrikaanse harte kruip.

In ‘n peiling onder Suid-Afrkaners oor hul gewildste kuierstad sal die Britse hoofstad aan die Theems seker moeilik geklop word. Na ‘n bietjie wik en weeg kry hy ook my stem. Want Londen is ‘n stad met ‘n kloppende hart. Sy duisternis attraksies en aktiwiteite lok jou weer en weer.

Ek was een van die bevoorregtes wat in my lewe heelwat “amptelik” kon reis – veral as redakteur. In Londen was ek veel meer kere as in Oos-Londen. Maar na al my besoeke was ek steeds nie uitgekuier nie – dit verklap die tinteling in my bloed wat ek in 1999 weer ervaar het toe ek, met mev. Van Deventer en ons dogter, Marisa, aan my sy, al daardie bekende landmerke te voet en uit ‘n rooi bus vir oulaas in die oog gekry het. Ook al 10 jaar gelede – tyd vlieg!

Trafalgar, Piccadilly Circus, Big Ben, Buckinghampaleis, Hyde Park, ‘n lekker pub … oral waar jy kom, voel jy tuis! Dis daardie gemaklike tuis voel in Londen wat jou liefde wen en jou laat voel die nuwe visumvereistes is soos om ‘n tolplaza voor jou voordeur op te rig!

Iemand wat moeg is vir Londen, is moeg vir die lewe, het ‘n wyse opgemerk. Ek sekondeer. Pas net op vir Londen op Kersdag. Dan rol hulle die sypaadjies op, sluit die plek toe en steek die sleutel weg! Openbare verkeer knars tot stilstand. Dit het ons nie besef nie. Die gevolg was ‘n triestige niksdoen-dag in St. John’s Wood (waar ons woonstel destyds was) op 25 Desember 1999. Ons armsalige Kersete was oorskiet-toebroodjies, rosyntjiekoek en jenewer!

‘n Week later was dié ontnugtering vergete. Londen se Nuwejaarsparade was ‘n verrassing van ‘n lekkerder soort. Die Engelse het dit – met selfvertroue wat aan Amerika herinner – the world’s greatest parade – gedoop. Nie sonder grond onder hul voete nie.

Presies op die middaguur op 1 Januarie, toe Big Ben sy twaalf slae slaan, het die prosessie by Westminster-brug in beweging gekom. Vir 100 minute het Londen se vernaamste strate – Whitehall, Regent Street, Piccadilly — daarna ‘n prettige, raserige kleurefees geword.

Hier was die rolverdeling van 10 000 op 1 Januarie 2000: 25 van die wêreld se beste mars-orkeste, verskeie pelotons Amerikaanse tamboernooiens, straat-artieste, reuse-ballonne, koetse, narre, Noag-karre…

Oorspronklikheid was die wagwoord. Ons het ons so verstom dat ons net-net betyds by Heathrow was vir ons vlug huis toe. Hopelik leef hierdie jolige tradisie nog voort.

Herinneringe aan Londen kan hemelsbreed verskil. Een kies ‘n ongelooflike opvoering in die West End, ‘n tweede ‘n kriekettoets op Lord’s, ‘n derde die marmerprag- en- praal van die afdelingswinkel Harrods in Knightsbridge se Food Hall.

Tokkie, weet ek, onthou veral ‘n toneeltjie in die katedraal St. Paul’s, bekendste meesterstuk van die argitek Sir Cristopher Wren.

Sy vestig my aandag een middag op ‘n jong blinde paartjie wat, styf ingehaak en koppe omhoog, die atmosfeer indrink. By die bushalte hoor hulle ons praat Afrikaans. Hulle stel hulleself bekend. Die twee kom van Namibië af – stoksiel-alleen in ‘n groot wêreldstad met hul wit wandelstokke, avontuurlus en moed.

In my herinneringe het my Londense “huis-weg-van-die-huis”, die East India Club aan St. James Square, ‘n ereplek. Dié klub, ‘n vinnige stappie van Piccadilly Circus af, is so stywenek Engels dat my beste leerbaadjie “te informeel” geag is vir die ontbytkamer waar die Lords en die Sirs die London Times en Daily Telegraph oor hul tee en roosterbrood sit en lees. Ek is ferm weggewys om my ordentlik te gaan aantrek!.

‘n Ander keer toe ek op pad uit in ‘n kortbroek in die voorportaal verskyn, was die ge-uniformde deurwag stamelend van skok! Hy sou my “naaktheid” met ‘n laken wou bedek.

In die ongemaklike gesprek wat volg, kom dit toe uit hy’s self ‘n Suid-Afrikaner (van iewers aan die Oos-Rand) en pas maar net die reëls toe, want die werk is bestendig en die fooitjies is goed. Wiens brood mens eet…. (HvD)

VRIENDE VIR EWIG VIR EWIG VEREWIG

In ‘n Suid-Afrikaanse galery van beroemde honde sou Jock of the Bushveld ‘n ereplek beklee. Dié onverskrokke baster-staffie (kleinste van ‘n werpsel wat in 1885 in die Laeveld geteel is) was by uitstek ‘n jaghond. Dapper en meedoënloos. Hy het vir niks teruggedeins nie, en het instinktief geweet hoe om ‘n gewonde bok plat te trek of hoe om ‘n leeu besig te hou totdat die doodskoot knal.

Van Jock staan ‘n beeld in ‘n tuin op daardie mooi grensdorp in Mpumalanga, Barberton, ook beelde en kentekens oral op die platorand van die oostelike Drakensberg, en in die Nasionale Kruger-wildtuin, waar een van die nuwer kampe na Jock heet. Die boek Jock of the Bushveld deur Percy (later sir Percy) Fitzpatrick word nie om dowe neute nie as een van die klassieke Suid-Afrikaanse werke gereken. Die avontuurlike lewe van Jock is ook twee keer verfilm.

Pole het ook ‘n Jock (in Pools: Dzok) wat met ‘n monumentjie verewig is. Dzok van Krakau het mense aangegryp met sy onwrikbare trou aan sy baas vir wie hy ‘n jaar lank in wind en weer pal bly wag het op die plek waar dié rondom 1990 deur ‘n hartaanval neergevel is. Die beeld (op die foto) van die hond (van onsekere ras), omring deur oop mensehande, is werklik treffend en lok die toeriste in strome na sy staanplek langs ‘n besige straat aan die buitekant van die ou stad se mure.

Die inskripsie lui eenvoudig:

Dzok, die hond

Die mens se getrouste viervoetige vriend ooit versinnebeeld ‘n hond se grenslose toewyding aan sy meester.

Karel de Pauw het uit Londen laat weet van Dzok se beeld na aanleiding van die geselsie oor honde (Honde met harte vir honde) ‘n rukkie gelede. Hy skryf sy vrou is n Pool en het aan die Universiteit van Krakau studeer. Op ‘n besoek aan die ou stad enkele jare gelede het hulle op die monument ter ere van Dzock afgekom. Die naam Dzok was vir sy vrou vreemd en het hom laat wonder of dit nie van ons eie Jock afgelei is nie.

Helaas kon niemand in Pole tot dusver lig werp nie en hy kon nog nie uitvind of Jock of the Bushveld ooit in Pools vertaal is. Op die internet kry ek toe ook iets van Dzok (met die naam Jock in hakies), wat die indruk wek dat die vermoede van die een of ander konnotasie tussen ons Jock van die Bosveld en Dzok van Krakau wyer bestaan as net by Karel.

Al wat opgeteken is, is dat vele mense hulle na sy baas se dood oor die treurende Dzok wou ontferm. Hy wou niks van hulle attensies weet nie. Net die woord Dzok het enige reaksie uitgelok. Sal dit nie lekker wees as ‘n leser hiervan dalk weet hoe Dzok sy naam gekry het nie?

Nog ‘n kopkrapper: hoeveel monumente ter ere van honde bestaan oor die wêreld? Ek sal liewer nie probeer raai nie. Een sal egter dadelik by Kapenaars opkom.

‘n Onvergeetlike gelukbringer van die Vloot in die jare veertig tuur naamlik nou al hondegeslagte lank oor die water naby die hawe van Simonstad – in brons. Hy was die Deense hond Just Nuisance; ‘n kameraad, ‘n metgesel, selfs ‘n beskermengel van matrose van die Britse vloot in die Tweede Wêreldoorlog.

‘n Hond wat met ewe veel liefde onthou word, is Greyfriars Bobby van Skotland, ‘n Skotse terriër vir wie ‘n standbeeld in die hoofstad Edinburgh opgerig is.

Bobby se roem begin by ‘n wonderlike vriendskap tussen hom en ‘n skaapwagter, Jock (weer ‘n Jock!) K, saam met wie hy elke Woensdag mark toe is, en daarna vir ‘n middagete by Traill’s Dining Rooms in Greyfriars Place daar naby.

Een dag in 1858 word Jock in die pad gesteek. Bobby gaan soek hom en kry hom in ‘n vuil stegie in Edinburgh. Hulle oornag saam op ‘n hopie strooi in die kelder van ‘n derderangse losieshuis – maar die volgende oggend staan Jock nie op nie. Hy is dood.

Drie dae na die begrafnis, presies eenuur die middag soos altyd, was die eienaar, John Traill, verbaas toe Bobby instrompel op soek na kos. Hy het hom ‘n been gegee. Nege jaar lank het dit so aangegaan. Toe word Traill in die tronk gestop omdat hy ‘n hond sonder lisensie skuiling gebied het. Die volgende dag was die hele storie in die koerant die Scotsman onder die opskrif: Strange Story of Dog.

Een wat die berig gelees het, was die burgemeester, William Chambers. Hy neem toe self vir Bobby aan, betaal sy lisensie en gee hom die reg van vrye toegang tot die stad.

Tot Januarie 1872 verdwyn Bobby van die toneel. Toe verskyn in die Scotsman ‘n doodsberig. John Traill het hom laat begrawe in ‘n blomtuin naby die Greyfriars-kerk.

‘n Standbeeld is daarna opgerig op die hoek van Candlemaker Row en die George VI-brug. Die graf van sy skaapswagtervriend, Jock, het ook ‘n grafsteen gekry, geskenk deur Amerikaanse bewonderaars. En by Greyfriars Place 6, waar Traill se eetplek was, is ‘n bronsplaket: Greyfriars Bobby het hier geëet 1858 – 1872.” (HvD)

BY DIE DOOD VAN ‘N OLIFANT

Alexander se vriend probeer hom oplig. (Foto: Beeld)

Alexander se vriend probeer hom oplig. (Foto: Beeld)

In die Krugerwildtuin het mans, vroue en kinders “getjank dat die water rol” oor die dood van die olifantbul Alexander – een van die wildtuin se grootste ivoordraers. Eintlik het die trane emmers vol gerol oor die ontroerende afskeid van ‘n vriend wat agtergelaat is.

Dié het, aldus die noordelike dagblad Beeld, aasvoëls en hiënas van Alexander se karkas probeer verdryf, sy gevalle vriend met sy tande probeer optel en – toe dit misluk – op hom gaan sit en hom met urine probeer “laaf”.

Beeld het met meesleurende berigte en pragfoto’s oor die natuurdrama berig. Die Burger, hier in die Kaap, het die menslike storie (“human interest” op sy allerbeste) onverstaanbaar en tot sy eie skade afgeskeep.

Dat die dood in olifantgeledere nie sommer net ‘n onvermydelikheid is wat vinnig oorwaai nie, word keer op keer opnuut onderstreep wanneer toeskouers – soos nou met Alexander se vermeende hartaanval naby die Mopani-ruskamp – bevoorreg is om dié sensitiewe diere se “begrafnisrituele” te sien ontvou.

Toe ek ‘n jong joernalis was, in die jare sestig, het die sage van Hapoor en Ouma in die Addo-olifantpark mense aangegryp. Toe Ouma sterwend was, het Hapoor haar die genadeslag toegedien deur die haar brein met sy tand te deurboor.

My kollega Ollie Olwagen, skepper van allerlei liedjies en versies, het ‘n liedjie daarvan gemaak: “Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…” Na ‘n paar biere het ons dit uit volle bors gesing. Drank kan ‘n mens simpel maak!

Met my eie oë het ek nog nie sulke olifant-smart soos dié van Alexander se verpletterde vriend beleef nie. Na ure se waarnemings van olifant-gedrag van Sabiepark se uitkykdek langs die Sabierivier af en heelwat naleeswerk klop die gebeure naby Mopani egter absoluut met wat ek sou verwag het.

My olifantboekie, Mayafudi (ook in Engels oorgesit as Mayafudi – memories of an elephant) het ek beskryf as die “die produk van eie waarnemings, naleeswerk, vertellings, verbeelding en romantisering”. In die boekie is die fiktiewe dood van onder andere Mayafudi se ma, die matriarg Ukuthula (Vrede van binne), en sy tweelingsuster, Nkosikazi (Klein prinses), sentrale elemente.

Na Alexander se dood het ek Mayafudi weer van die rak gaan haal.

Die afskeid van Nkosikazi word soos volg beskryf: “In somber eerbetoning stap die oorlewendes van die trop later stadig om en om die slagoffers, hul slurpe hoog gelig asof in ‘n laaste saluut. In ‘n koor galm hulle hul bewoënheid uit. Daarna begin die slagspanne om die karkasse op te sny en te bewerk. Die olifante slof verwese weg. Hulle kyk nie weer om nie. Wat verby is, is verby.”

Toe die matriarg haar kop neerlê (na ‘n doodskoot deur ‘n sitrusboer) , speel ‘n veel omvattender ritueel hom af: “Haar trop vorm in broeiende stilte ‘n sirkel rondom haar soos ‘n ondeurdringbare ringmuur. Hulle loop stadig, doodstadig, twee keer om en om. Dan steek hulle onseker vas.

“‘Die bejaarde Moholoholo (haar man) tree na vore en streel die groot lyf stadig met sy slurp. Dit is soos in ‘n rituele slurpoplegging. Groot teerheid straal uit die aanraking. Daar is iets sags in die skuur van sy growwe vel teen hare.

“Mayafudi se emosies is in ‘n warboel ….. Die volgende oomblik is dit of ‘n vreemde mag hom beetpak en vorentoe druk. Hy onthou hoe Ukuthula baie jare gelede ‘n vasgekeerde renostertjie in die modder te hulp gesnel het, Net so druk hy nou sy tande versigtig onder sy moeder se kop in. Hy beur met mag en mening. Hy kry haar egter nie opgelig nie.

“Net langs die ooptetjie waar Ukuthula se bene onder haar geswik het, is ‘n opgeskote maroelaboom. Mayafudi stroop ‘n slurp vol takke en blare van die boompie af en probeer die groenigheid in die koei se mond indwing. Dit lok geen reaksie uit nie.

“Hy sien hoe ‘n jong kalfie, een van sy halfbroers wat ‘n noue band met Ukuthula gehad het, nader kom. Hy probeer hom in die beskermende holte tussen sy ouma se voorbene inwurm asof hy melk soek. Ook hierdie poging om tot haar deur te dring, is vergeefs. Die ou olifant lê net, bloedbevlek en doodstil.

“Asof iemand ‘n bevel gegee het, beweeg die res van die trop skielik ‘n entjie agtertoe. Mayafudi, sy vader, Moholoholo, en ‘n ouer suster, Matcheleni (Die Spoggerige Een) bly alleen by Ukuthula agter, volgens instinktiewe olifant-protokol. Dit is die naastes se intieme afskeid.

“Die ander olifante keer die rug op die troostelose toneeltjie asof hulle nie kan verduur om dit langer te aanskou nie. Hul slurpe hang lusteloos grondwaarts – ‘n teken van hul diepe hartseer en rou.

“Ook die drie naasbestaandes by haar draai na ‘n laaste kyk in Ukuthula se rigting en ‘n laaste druk met hul slurpe om dat hulle heel van haar wegkyk. Die een na die ander gee dan ‘n tree terug en raak haar vlugtig aan met ‘n swaaiende agtervoet. Daarna kry die trop kans om die laaste eer te kom bewys. Die roubeklaers pluk bondels blare en gras. Hulle werp dit op en rondom die karkas soos kranse….” .

Hoekom ek die drang ervaar het om Mayafudi te herbesoek? Sekerlik nie met die oog op bemartking nie. Die boekie is in ieder geval gratis te lese op my webwerf, www.hennievandeventer.com Beskou dit eerder as my huldeblyk hier van ver aan Alexander en sy vriend, en ‘n persoonlike saluut aan die hartstogtelike olifantliefde wat ons deur hulle opnuut geopenbaar gesien het. (HvD)