Jan 7, 2009 | Hennie van Deventer se Blog

Hier is hy in sy boom – die kalant wat in Sabiepark soveel beroering veroorsaak het deur sy prooi by ‘n huis se stoepstrappies op te sleep.
Die volledige storie is in die blog hieronder. Die foto is verskaf deur Cheryl Sterk van Sabiepark. (HvD)
Jan 5, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
‘n Yslike luiperdmannetjie wat ‘n rooibokram tot op jou stoep sleep vir ‘n vroeë ontbyt ‘n meter van jou voordeur is nie juis die klas verrassing waarop ‘n Christenmens voorbereid is as jy om 05:30 vreemde geluide op die stoep hoor nie.
Trouens, in hul onderskeie beddens het die gesin Liversage van erf 246, Sabiepark, misnoegd lê en wonder hoekom die bobbejane – die eindeloos lastige “mafia” van die park – daardie oggend, 22 Desember 2008, so vroeg reeds hul posisies in die gemakstoele kom inneem het.
Vir Lindi, die dogter, het dit gelukkig nie by wonder gebly nie. Sy is nuuskierig op haar tone voordeur toe vir ‘n ondersoek ter plaatse. Deur die glasvoordeur kyk sy toe vas in die vurige oë van die groot kat met sy prooi in sy bek – gereed om te begin weglê aan die homp vars vleis aan sy voete.
Toe sy die ongelooflike toneel voor haar waarneem, het Lindi haar eers boeglam en toe wawyd wakker geskrik. Haar krete het vinnig die res van die gesin uit hul katels laat vlieg.
Volgens Etienne, gesiene onderwysman van Natal, was dit “die grootste ontdekking van ons nagenoeg 24 jaar verblyf in Sabiepark”. Ek verstaan sy sentimente ten volle.
Hy vertel: “Na ‘n paar oomblikke van indringende oogkontak het die luiperd syne geknip, sy prooi as ‘n vroeë Kersgeskenk aan ons gesin prysgegee en al sluipend die stoep verlaat.
“Deurmekaar opgewondenheid en besluitloosheid rondom die ‘Kersgeskenk’ het gevolg totdat Gait-Jan (Gait-Jan Sterk, adjunk-parkbestuurder) ingeroep is om oor Sabiepark-eiendom, dood of lewend, uitspraak te gee. Hy het nie geweifel nie: die bok behoort steeds aan die jagter en natuurlik sy hiëna-opponente wat Sabiepark met hom deel.
“Die bok is binne sigafstand van ons stoep naby die grond in die mik van ‘n boom vasgemaak en elke lid van die gesin het ‘n beurt gekry om met sy oë vasgenael op die karkas op die toneel te waak.
“Teen sononder, asof ‘n teken gelykdtydig gegee is, het vier hiënas uit een rigting en die luiperd uit ‘n ander op die prooi toegesak. Hoewel die getalsoorsig in die hiënas se guns was, het die luiperd sy stem behoorlik dik gemaak en kort-kort ingestorm om sy pond vleis te eis.
“Die verskeuring van die bok en die geknars van beendere het geruime tyd geduur, met die luiperd wat elke af en toe vir sy lewe moes vlug met twee of meer hiënas kort op sy hakke. Intussen het die verkeer en die toeskouergetal op ons werf so toegeneem dat dit aan Parkstasie herinner het – dog hoe meer siele, hoe meer vreugde!
“Teen 22:00 het die hiënas ‘n laaste verbete aanslag op die luiperd geloods, en hom die keer reg oor ons werf tot binne ‘n groot maroelaboom gejaag. Terwyl die luiperd doodluiters, dog uitgeput, op ‘n dwarsstam lê, het voertuie rondom die boom saamgetrek en kameras het behoorlik geflits.
“ Dit is toe dat luiperd se kind besluit het om te gaan kyk of sy bok nie dalk nog op ons stoep lê nie! Hy het uit die maroela gespring en met al die voertuie in gelid agter om aan, reg op ons huis afgepyl.
“ My eerste gedagte was: wat nou van Lindi wat wat oomblikke tevore nog niksvermoedend op die verligte stoep naby die vuurmaakplek gesit het?
“ Die luiperd het ons huis met ‘n passie genader, op die stoep gespring, naby die oop voordeur vasgestel dat hy definitief van sy prooi beroof is, by die steeds goeiende kole verbybeweeg en in die nag verdwyn.
“En Lindi? Gelukkig was sy, soos die res van haar gesin, in ‘n voertuig – dus buite die gevaarsone!
“Terwyl ek en Sophia en die kinders die gebeure van 22 Desember nog tot laatnag herkou het, het ons geweet hierdie was ‘n dag toe moedernatuur asemrowend pragtig in ons rigting geglimlag het.”
Tot so ver Etienne Liversage en sy “Kersverhaal” wat seker een van die buitengewoonste van Kersfees 2008 moet wees. Hierdie arme drommel, wat salig onbewus van die hele tedoe by sy eie vuurtjie geen kilometer van die aksie af gesit het nie, sal nie nou probeer lieg en probeer voorgee dat hy nie groen van die jaloesie is nie.
Werklik, Etienne, Sabiepark het julle een van sy wonderlikste belonings gebied. Saam met verhale van allerlei leeu-avonture – van aksiebelaaide vangste tot wilde jagtogte – van onverwagte olifant-‘invalle’ en ‘-padversperrings’, vorige luiperd-dramas, besoeke van jagluiperds en wildehonde, buffelaanvalle en wat nog sal jul ervaring gewis in die annale van Sabiepak opgeteken staan as een van die goue oomblikke in sy bestaan van dertig jaar hier aan die Sabierivier, neffens die Kruger-Wildtuin.
Geniet die herinneringe!
(Hierdie luiperdstorie is vroeër kortliks in my blog vermeld. Etienne se vertelling in kleur en geur regrverdig egter ongetwyfeld die oorvleueling, glo ek. Hoop om darem later ‘n foto of foto’s by te sit. HvD)
Jan 1, 2009 | Hennie van Deventer se Blog
Die eerste dag van 2009 het hier aangebreek met ‘n troppie rooibokkies wat rustig voor ons kamervenster wei; die ge-zoem van ‘n swerm bye in die haak-en-steek by die hoek van die swembad wat amper oornag oortrek geraak het met fyn, wit blommetjies; ‘n piet-my-vrou wat immer hoopvoel bly roep, en die Sabierivier wat nog sterk druis op sy kronkelpad Mosambiek toe na die wonderlike reën in die Laeveld.
Op die program vir Nuwejaarsdag is ’n klein vuurtjie in die skaduwee van die groot maroela voor die huis en ‘n worsie op die rooster opgekikker met ‘n koue wit wyntjie. Klink dalk onmerkwaardig – vir ons is dit hemels.
Oujaarsaand is ‘n tjoppie, ‘n broodjie en ‘n kaasworsie gebraai (‘n spesiale bederfie vir die vierjarige tweeling, Jacob en Thomas) en in die swembad uitgelate “ring-a-ring-a-Rosie” gespeel. Eweneens hemels.
Oujaarsdag is ook my en Tokkie se troudag. Gister is nommer 42 herdenk. Haar keuse vir ‘n spesiale aktiwiteit was om met ‘n fles koffie en ‘n broodjie by Lake Panic te gaan sit. Onder die voël-weelde was die sku en skugter woudapie – ‘n ligte, amper bleek, klein rietduikertjie wat ‘n mens selde sien.
Later is Onder-Sabie toe en via die Salitjepad terug. Hoofmoment was ‘n trop olifante, 30 of so, wat die teerpad oorsteek naby die Sunsetdam. Op die Salitjepad het ons meer kameelperde (en in groter groepe) as in ‘n lang ruk gekry, verskeie plat op die grond. Net die lang nekke steek bokant die ruie gras uit.
‘n Vreemde gesig op die rit was die hope duiwe in klein groepies soos ‘n erewag in die bome langs die Salitjiepad (ja, duiwe, nie troupante nie!). Kan iemand lig werp op wat dit beduie?
Uit die rapport blyk dit seker dat wildbesigtiging nie hierdie vakansie juis groot hoogtes bereik nie. Die bosse is eenvoudig te ruig. Dit het nie om dowe neute 15 dae in hierdie geweste geverg nie voordat ons Dinsdag ons eerste Vyf Grotes kon afrond met ‘n maanhaar op die Doispanepad.
Die ou grote was ‘n laat ontbyt aan die geniet aan ‘n impala wat hy by ‘n agtelosige luiperd gegaps het. Die luiperd het pas met moeite sy prooi in ‘n boom gehys, net een happie gevat en toe eers gaan rondloop. Toe hy terugkom, het Mnr. Maanhaar grommend eiendomsreg oorgeneem.
Die luiperd het vies in ‘n boom sowat 50 meter sy wonde gaan lek. Dit is waar ons hom gesien het. Later, nadat ons ons pad tussen al die motors oopgebeur het om die vretende leeu in aksie te sien, is ons op aandrang van die tweeling terug om die luiperd uit die boom te sien klim. Toe beloon hy ons moeite. Die opgewondenheid was groot toe hy met ‘n grasieuse sprong op die grond land.
Ons was waarskynlik net tien minute of ‘n kwarter te laat om die maanhaar oor die pad te sien stap en die impala uit die boom te ruk. Maar 10 minute kan in Wildtuinterme ‘n lang-lang tyd wees!
Die hordes klein dartelende rooibokkies sorg gelukkig konsekwent vir plesier.
Op voëlgebied is dit ‘n vrugbare besoek. Buiten die woudapie, het ons ook al die skaars wit ooievaar gesien, trouens twee keer op een dag. Drie baie spesiale voëlwaarnemings was twee saalbekooievaars wat doodluiters saam voortmarsjeer op die teerpad – waarheen weet niemand nie; ‘n luislangarend met ‘n vet murgbeen (ook op die teer), en twee vorstelike breëkoparende in ‘n boom teenaan die pad.
Swerms rooibek-kweleas is volop. Ons het so naby aan ‘n troupant stilgehou dat ons kon sien hoe hy hortend in die hitte asemhaal. Die kap-kap-geluid wat hy maak, het ek nie voorheen gehoor nie.
Die sterkbos wat oral flambojant begin blom (nerens mooier as in die Onder-Sabie-omgewing nie) en die ewe dieprooi vlam van die vlakte op die Phabenipad is, volgens Tokkie, ‘n prentjie. Hierdie ou is ongelukkig rooi-groen-kleurswak. By my gaan dit verby.
By die huis het die skerpioene hulle gevestig as Gevaar Nommer Een van hierdie vakansie. Hulle skuil oral in donker hoekies. Die teenwoordigheid van “oorkruipers” (hulle kruip nie regtig in mense se ore nie) het die kinders die kans gebied om avontuurlik te raak en hulle met ‘n toutjie van die grond te “vis” voordat hulle in die veld losgelaat is. Die groot verskeidenheid motte wat saans lig kom soek, is van die mees onwelkome gaste, so ver dit die kinders aangaan.
Die veldlikkewaan wat kom water drink, dra ‘n ongewone element by tot die lewe in die veld. Die nagapies kruip skemer na skemer uit Johan en Mariza se neste hoog teen die nok. ‘n Bosnagaap kondig gillend sy besoeke aan. Die duikertjie wat Witnek se skoene moet volstaan, is klaarblyklik ewe lief vir pitjies, maar is nog glad nie gemaklik met mensegeselskap nie. Hy verkies die kombers van die donker. (HvD)