VIR ‘N WARE BOSVAKANSIE

HvD se Blog is nie ‘n advertensiebiljet nie. Allermins. Hier gesels ons sommer net oor dit, dat en die ander.

In die omstandighede het ek tog geoordeel dat dit nie verkeerd sou wees om bogenoemde hier op te sit nie.

Wat is die omstandighede? In kort maar net dit dat die Van D’s tot die treurige gevolgtrekking gekom het dat ons Sabiepark – waarvoor ons baie lief is – nie meer ten volle kan benut nie.

‘n Kombinasie van stygende jare, afnemende kragte, kleinkinder-betrokkenheid en koste sal meebring dat ons boshuis onvermydelik lang, lang tye agter slot en grendel gaan staan en stof vergaar.

Daarom het ons besluit om te verhuur, verkieslik aan buitelanders wat minstens 7 dae wil vertoef en op bogenoemde voorwaardes.

Die huur is Euro 90/ USD 110 per dag vir ‘n maksimum van vier en Euro 20/USD 30 per ekstra persoon.

Vir Suid-Afrikaners kan ons op ander formules ooreenkom, afhangende van behoeftes.

Mag ek vra dat lesers van die blog die aandag van vriende en/of vriende se vriende wat moontlik sal belang stel, op die geleentheid sal vestig?

My kontakbesonderhede is:

Hennie van Deventer
27 (0) 21 553 1761/ 0832528165
hvandeventer@mweb.co.za

Dankie. (HvD)

MAMMA, WAAR KOM BABAS VANDAAN?

Ooievaars bring babas. Met die stukkie mitologiese onsin het die meeste van ons grootgeword. Eers later het ons ontdek ander faktore speel ‘n deurslaggewende rol om ‘n nuwe bondeltjie in sy bababedjie te besorg. Soos in die geval van Kersvader (of Vader Krismis, soos ek die ou man met die wit baard leer ken het) is pappa se bydrae nie te versmaai nie.

Die mite leef voort in die ontwerp van miljuisende babakaartjies, geïllustreer met allerlei variasies op die tema van ‘n ooievaar wat toegewyd op pad is met sy kosbare vraggie wat in so ‘n hangmatterige affêring uit sy bek hang. Die gebruik om ooievaar-tees te hou, is springlewendig.

Op die internet is meer as een webwerf waar ‘n mens ooievaar-kaartjies kan bestel. Party is baie oulik en kreatief. Ek kry niks kommissie vir die verwysing nie, maar gaan krap gerus rond by www.storks.com.

Wat de ongeluk bring HvD vandag by ooievaars, kan u wonder. Laat ek verduidelik. Dis die “Mr. Delivery” hierbo op die foto wat ek en Tokkie nou anderdag op ‘n stillerige toggie in die Kruger-wildtuin langs die Salitjepad raakloop. (Eeienaardig, né, die totale betekenisverskil tussen raakloop en raakry!)

“Stop,” gebied sy en pluk haar Newmans uit. Ek verneem toe die witooievaar (Ciconia ciconia) is nie so ‘n volop gevogelte in hierdie gedeelte van die wêreld nie. Minder volop selfs as die pragtige saalbek met sy opvallende rooi-en-swart gebande snawel, en veel minder volop as ander boeties en sussies soos die wolnek met sy glansende swart verekleed, en veral die swart ooievaars, die kleinswart (of blouwang) en die grootswart, ‘n blinke bielie met ‘n wit pens en onderstert.

“Nie verassend nie,” merk ek op, “in die lig van die werkslas hier te lande.” Meen, baie meer swart babatjies moet in Suid-Afrika afgelewer word as wittetjies, nie waar nie? Tokkie vind hierdie poging tot humor onvanpas, en ons ry verder sonder om die ooievaar-kwessie verder uit te pluis.

Tuis gekom, wil ek dadelik probeer bepaal waar die mite van die ooievaar wat babas bring sy oorsprong het. Dalk is my bronne nie so honderd persent betroubaar nie, maar ek lees toe iewers dat dit juis die witooievaar is wat in hierdie geval die werkesel is (nie die swartes nie!), en dat die storie waarskynlik ontstaan het omdat witooievaars die gewoonte het om op geboue in stedelike gebiede in hul habitats in Europa neste te maak. Jy sien hulle dus gereeld in “menslike” omgewings.

Klink nie onrealisties nie, hoewel ek in Ian Sinclair se gids die waarneming teenkom dat die kleinswartooievaar en die witooievaar op hul somerbesoeke aan Suid-Afrika dikwels saam op oop lande en bewerkte grond aangetref word. In stede en spesifgiek oor my eie huise in Bloemfontein, Randburg, Welgemoed en Melkbosstrand het ek nog nooit so ‘n witte sien rondfladder nie. Maar, natuurlik, die dae dat by die Van Deventers ‘n bondeltjie kon opdaag, is ook dekades al verby.

Dat hy babas bring, is in elk geval nie die witooievaar se enigste aanspraak op roem nie. Die goeie mense van Pole, (tog nie Poland nie!) Litaue en die Oekraïne glo dat witooievaars harmonie bring vir ‘n gesin op wie se eiendom hulle broei – dalk nog ‘n rede vir hul afwesigheid hierlangs!

Die witooievaar is die nasionale voël van Pole en Litaue. Dit is ook die simbool van die stad Den Haag in Nederland. Die beroemde Poolse digter Cyprian Kamil Norwid noem Poolse ooievaars in sy gedig “My song”:

“For the land where it’s a great travesty
To harm a stork’s nest in a pear tree,
For storks serves us all …
I am homesick, Lord! “

In die weste van die Oekraïne is die witooievaar bekend as buziok. Daar word dit verbind met die begin van ‘n nuwe gesin in ‘n nuwe huis. In die Oekraïne word die voël ook beskou as die Boodskapper van die Lente omdat dit een van die eerste voëls is wat na die winter na daardie land terugkeer.

In Afrikaans het ons ‘n ooievaar-spreekwoord wat na my wete taamlik onbekend is. Dit lui: “Een ooievaar maak nog nie ‘n herfs nie.” Die Engelse weergawe is: “One swallow doesn’t make a summer.” Die betekenis is duidelik: moenie veralgemeen nie.

Met ander woorde, moet nie na die laaste paar blogs met hul voëltemas sommer nou aanvaar dat HvD oorboord gegaan het en volslae voël-verskrik geraak het nie! (HvD)

‘N AREND VAN ANDERSTER VERE

Luislangarend? Sê net weer!

Nee, natuurlik sal jy hom nie in ‘n Roberts- of Newmansvoëlgids of enige ander voëlgids kry nie vir die eenvoudige rede dat so ‘n arend nie bestaan nie.

Tog het ek oor ene geskryf. Doodernstig. In enkele blogge terug rapporteer ek oor ene wat ons tussen die Krugerhek en Skukuza raakgeloop het waar hy doodluiters op die teerpad aan ‘n lekker dik murgbeen weglê.

“Wat vir n ding is ‘n luislangarend?”, konfronteer mev. Van Deventer my daarna.

“Nog nooit van een gehoor nie.”

“Nou hoekom skryf jy dan van ene?”

Toe ek verbaas gaan naslaan, moet ek haar gelyk gee. “Luislangarend” staan dit in daardie blog swart op wit. Ek kon slange vang oor daardie “ligte mistykie”…

Vir daardie “vlug” van die verbeelding as ‘t ware kan ek nie juis ‘n verduideliking aanbied nie. ‘n “Senior oomblik”, sal party sê. Ek verkies om van “senior oomblikke” eerder in terme van oomblikke van oumens-brijantheid te dink. Maar dis ‘n ander storie…

Dalk was my verstand net ietwat “lui”.

My “luislangarend” is die ene op die foto. Dit lyk vir my (en Tokkie) soos ‘n bruinslangarend. Kyk die geel bene sonder vere. Maar dit kan dalk ook ‘n swartslangarend wees. Arende is vir die leek maar ‘n verwarrende spesie. (Net die vorstelike breëkop en die visarend is onmiskenbaar!)

Nietemin, askies vir die wals. Bruinslangarend is dit waarskynlik, swartslangarend moontlik, luislangarend hoegenaamd nie!

‘n Ander onbedoelde glipsie word graag reggestel. By die foto van die luiperd in die boom in Sabiepark het die belangrike feit onvermeld gebly dat die foto deur Charles Parsons jr. geneem is. Jammer, Charles. Ek haas my om krediet te gee waar krediet toekom. (HvD)

PAS OP VIR TE MAK RAAK!

Jacob Claassens (4) met 'n "oorkruiper" aan 'n tou.

Oor die gevare van kaalvoet loop in die wildernis het ek my iewers – in my bosboek Buurman van die Wildtuin, meen ek – ewe slimjan uitgespreek. Teen my eie verstandige advies in braai ek egter hierdie vakansie in Sabiepark een aand ‘n vleisie met (in polisieterme) ongeskoende voete.

Weet julle hoe brand die kooltjie van ‘n vurige vleisbraaivuur as jy hom diep in die sagte kussing van jou voet wegtrap? Tokkie was dadelik byderhand met ‘n blokkie ys. Maar ek het omtrent ‘n riel gedans.

Vandag, twee weke later, sê ek nog les op. Om 11:00 is in die dagboek neergepen: “Dr. Meintjes.” Dis nou dokter-sake met die voet wat maar net nie wil gesond word nie. Dan voel dit beter; dan brand dit weer of daardie nimlike kooltjie steeds gloeiend iewers skuil.

Glo die teken van ‘n tweedegraadse brandwond.

‘n Mens raak maklik te mak vir die bos daar in Sabiepark. Jy weet hiënas en ander gevaarlike diere kan enige oomblik om die hoek van jou huis stap, maar jy werskaf maar rustig voort met jou rug na die gevaarkant. Jy weet oral is slange en skerpioene, maar as die natuur roep, waag jy dit gou-gou in die donker kaalvoet badkamer toe. “Homo sapiens” is ‘n vleiende betiteling. Aan ‘n mens se domheid is eenvoudig geen grense nie.

Met skerpioene had ons hierdie drie weke oor Kersfees en Nuwejaarsdag meer insidente as ooit tevore. Ek kan aan minstens tien uitgevrete kalante dink wat net-net misgevat of mis-getrap is. Brrr! Tog, toe ons wegpak, haal die uwe ewe onbehoedsaam ‘n geblokte foto van twee olifante in n diepe slurpgesprek van die stoep-braai se skoorsteen. Ek deins terug toe ‘n vet skerpioen op die een punt vir my sit en gluur, oorgehaal vir aksie.

“Daar’s twee,” kondig Tokkie aan. Jou waarlik. Op die ander punt teen die donker klinkermuur sit klaarblyklik Mev. Skerpioen met haar vrag van wriemelende skerpioen-telgies spierwit op haar rug ingeryg. HvD kon sy vingers letterlik lelik verbrand het.

Om skuifdeure toe te hou, is een van die basiese boswette. Voordat jy kan sê mes, glip ‘n opportunistiese slang na binne. Maar ‘n mens se geaardheid is mos maar so dat hy sy kop (anders as ‘n donkie) twee keer moet stamp.

Op ons laaste dag skuif Tokkie die gastekamer se deur op ‘n skrefie oop om na die dag se skoonmaak die matjies terug te gooi. Die tweeling, Jacob en Thomas, roep in n koor: “Hy’s in!” “Hy” is die likkewaantjie wat ons kort tevore onder die Honda sien skarrel het. “Kan nie wees nie,” wil Tokkie nog argumenteer. “Is”, hou die twee seuntjies vol. Tokkie begin soek. Daar kry sy die meneertjie onder die bed – min lus om pad te gee.

Uiteindelik is die besoekertjie deur Tokkie met ‘n besem verdryf. Heerlike avontuur vir die jillende kinders. Maar dit kon ‘n slang gewees het! En dit het blitsvinnig gebeur – in ‘n breukdeel van ‘n sekonde.

Net dae tevore keer ons terug van ‘n uitstappie en tref Lucy, die huishulp, grootoog aan. “A snake, a big one,” is hier om die huis van die huilboerboon se kant af vorentoe. Hy’t hier langs die swembadjie af verby die haak-en-steek ge-“walk” en ge-”walk” en hy skuil nou in die wilde katjiepiering so ‘n entjie van die voorstoep. Gelukkig het ons paaie nie weer gekruis nie.

Met ‘n nare onbekende gogga-spesie het dit wel. Die plaaslike mense noem dit ‘n “wit mot”, maar die beskikbare insekteboeke bied nie veel leidrade nie. Ewenwel die ding het ‘n angel soos n wafferse perdeby, nee erger, en waar hy vasbyt, spat die sug. Tokkie se toon het deurgeloop. Dit was nie n mooi gesig nie.

Al die spuite, smere en brand-dinge om die slaapkamer gogga-vry te hou, laat die plek, om die kinders aan te haal, saans soos ‘n “muskietfabriek” ruik. Weens die kollektiewe krag van al daardie afweermiddels tesame het Tokkie se nagtelike aanvaller darem ook sy rieme styfgeloop. Sy wit vlerke was netjies toegevou toe my vrou hom in ‘n diepe koma voor die bed aantref. Hy het mierkos geword.

Witmot nommer een se twee maters wat ons in die badkamer aangetref het, was egter nog onheilspellend lewendig. Dankie tog, die kinders se tone het nie in daardie pynlike slagysters beland nie.

Moet sê die aanslag van so n verskeidenheid vlieënde, kruipende, stinkende, bytende en stekende klein verpestings het naderhand op die twee se senuwees begin werk. ‘n Kindjie weet mos nooit agter watter welwillende gegons skuil ‘n venynige brandpyn nie!

Maar met die “oorkruiper” – ‘n variasie op die tema van ‘n duisendpoot wat egter net honderd pote het (en hy kruip ook nie regtig in jou oor nie) – het albei hulle buitengewoon dapper betoon. Tokkie was nog op pad om ‘n skoppie en ‘n borsel vir die verwydering van die grillerige affêrinkie op die vloer te gaan haal, toe hulle ontdek jy tel hom sommer met ‘n toutjie op. Onwetend dat hy deur daardie daad van vertroue sy eie graf grawe, beskou die “oorkruiper” enige toutjie wat na hom uitgehou word, blykbaar as ‘n potensiële reddingstou – ten minste uitkoms uit die gevaar wat ‘n vasberade vrou met ‘n skoppie en ‘n borsel vir ‘n onwelkome gogga inhou.

Wel, ons moet maar almal ons lesse in die natuur leer, nie waar nie! (HvD)

WOUDAPIE – SO BY MY KOOL!

“Woudapie se voet, man, dit was seker maar ‘n groenrugreiertjie of iets.”

Vir die skeptiese vriend wat hierdie onvriendelike kommentaar staan en lewer het op nou anderdag se blog oor waarnemings by Lake Panic naby Skukuza, het ek belowe hy gaan sy woorde saam met sy brekfispap moet opeet.

Wel, belofte maak skuld.

Hier’s my foto. Groenrugreier? Watwo!

Trouens, ons het daardie oggend ‘n groenrugreier ook gesien.

‘n van die sku en skaam woudapie nie net hierdie enetjie nie, maar drie. Ongelukkig was hulle altyd net te ver uitmekaar vir ‘n groepfoto.

My lens is nie een van daardie kanonlope waarmee die professionele voel-fotograwe rondloop nie. (HvD)