PRAAT-PRAAT IN ‘TOMEITO’-STRAAT

Praat-praat land jy maklik in Tamatiestraat – of is dit nou ‘Tomeito’-straat? Ja-nee, die slaggate in kommunikasie met vreemdes is velerlei. Party praat in vreemde tale. Ander praat (in naam) ‘n bekende taal, maar verfomfaai dit so met hul aardige aksente dat ‘n doodgewone kooptransaksie in ‘n koeterwaalse konstrernasie kan ontaard.

Op die nog nuwerige webwerf www.lekkerafrikaans.com vertel Ben Coetzee van Collierville, Tennessee, wat al byna 10 jaar in die VSA woon – hy en Jeanette is al burgers – vrolik oor kommunikasiegapings wat steeds ontstaan.

Jeanette het net daardie oggend weer omtrent gesukkel om aan die outjie by die “Fresh Market” se verstand te bring sy soek “a quarter pound of pastrami”. Die terme is presies reg, maar die vreemde klankie in die stem bly hom ontspoor. Daarna is dit selle storie met elementere “ham”. Dis nie eens of sy ‘n Engelse “banana” i.p.v. Amerikaanse “benena” vra nie, “tomato” i.p.v. “tomeito”, of “butter” i.p.v. “budduh” nie, bekla Ben sy lot.

Ben se Amerikaanse kollegas was stomgeslaan en geamuseerd om te verneem hy het vanjaar ‘n bietjie lank gesloer om sy “deck” skoon te maak en te verseel, vertel hy. Nadat die verwarring uit die weg geruim is, het hulle aanbeveel dat hy, met sy uitspraak, liewer van sy houtplatform moet praat. Diegene wat hulle “deck” (“dick”) wel jaarliks aldus sou moet behandel, moet dit gerus liewer stil hou!

“Deck”… “dick”, nou–ja. In Nederland gebruik hulle vir daardie stukkie van die manlike anatomie ‘n drieletterwoordjie wat die rede was waarom die Nederlandse koerante konsekwent na ons minister van buitelandse sake in die ou bedeling as min. Roelof Botha verwys het!

In daardie stamdland moet onse mense maar bepaald ons woorde tel – anders verstaan hulle ons verkeerd. Juis Saterdag was in By ‘n brief van Gerie de Waal van Kuilsrivier wat in Amsterdam plesierigheid veroorsaak het met haar beleefde navraag waar hulle op die bus moet “klim”. Die reaksie het haar verstom, maar die ander passasuers laat kraai. Mevroutje, u mag oweral opklimmen. U mag zelfs op het dak klimmen. Bent u een aap? In Nederland stappen wij op de bus, hoor!”

Name skep allerlei komplikasies. Ene Gerhard Venter wat nou in Australie woon, vertel op www.beeld.com sy Gerhard het nie lank Gerhard gebly nie, want hy het gou opgegee om vir almal, van kollegas tot staatsamptenare, telefoonbemarkers en deur-tot-deur-verkoopsmense, te probeer verduidelik dat ‘n “v” ‘n “f” is waar hy vandaan kom en dat ‘n “g” ‘n “gee” is, nie ‘n “gh” nie. Mettertyd raak jy gewoond aan die nuwe naam, en kort voor lank dra jy trots aan” Ghe-haa-hd Wen-tor”, soos jy dit half-foneties sou se, laat hy weet.

Toe die Van Deventers in 1976 in die VSA was, bel ek ‘n klasmaat Bill Wheatley (later een van NBC se grootbase). “Hello Bill.” “Hi, Hello Hennie.” “Oh you recognized my voice?” “I did not recognize your voice, but you’re the only man in the world that calls me Bull.”

Anneke Pelser berig uit Doebai (ook op www.beeld.com) om van agter af vorentoe te lees, is doodeenvoudig vir haar Arabies.Sy weet daarvan soveel as “‘n kameel van saffraan”. Vingertaal of handgebare, selfs lyfstaal, is daar meer werd.

Omdat padaanwysings niksseggend is (Al Dabei’a en Rawdat),dieselfde plekname verskillende spellings het en die GPS die meeste van die tyd nie eens die nuutste paaie aandui nie, gebeur dit dat die Pelsers gereeld agter hul neuse aanry. Wolkekrabbers en snelwegwisselaars verskyn mos oornag. G’n GPS – al is hy ook sy gewig in olie werd – kan tred hou nie.

Nou die dag ry hulle agter ‘n tenkwa. Agterop word ewe ernstig in vet wit letters verkondig: ” NON HAZAR DOOS WASTE LIQUID”. Klink gevaarlik, meen sy!

Wat my om die een of ander rede bring by die mooi storie waaraan die flukse kondoomuitdelery op Vigsdag my weer herinner het.

My storie is oor ‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, wat met ‘n Spanjaard, Jose Antonio Martinez D’Soler, getroud is. In haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette stap sy by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop.

Sy vra toe vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.

“‘n Aarbeigeur, mevrou?”

“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”

“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”

“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”

“Haai, mevrou.”

Eers toe blyk dit sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het verwarring gekom. Die verlee apteker dag sy soek kondome! (HvD)

ALLESANDRO DOMENICO STEFANO

Ek was gister by ‘n doop-seremonie van ‘n seuntjie met die gewigtige name Allesandro Domenico Stefano Broccehetto. Die Stefano kom van die Stephanus van my swaer Fanie van Wyk, trotse oupa van die knaap.

Stephanus (Fanie) het Stefano in sy familiedooprok wat al geslagte lank kom, met groot sorg die twintig tree of wat van die motor af teen steilerige trappies gedra na die houtdek onder groot bome waar die plegtigheid plaasgevind het. Ondanks sy amper 70 somers is die “naamgenoot” my swaer se eerste kleinkind. Sy hempsknope was kwaai onder druk met die kosbare vraggie in sy arms! Ouma Maretha is nie minder ingenome nie.

Die moeder van die baba is Corlie, Fanie en Maretha se dogter. Die vader is Lorenzo Broccehetto – so Italiaans van afkoms soos ‘n Alpha-Romeo. As jy met hom praat, sal jy egter nie agterkom hy is minder Afrikaans as sy vrou, skoonouers of hierdie oom nie. Hy sou ‘n Bronkhorst (klink nogal Broccehetto-rig) kon gewees het – selfs ‘n Van der Merwe.

Hierdie familie-agtergrond maar net om by die vraag uit te kom waaroor ek agterna oor die vonkelwyn en oesters en ander lekkernye so in my enigheid gesit en tob het. Dit is: wat gaan van al daardie welluidende name word? Wat gaan die klein Allesandro Domenico Stefano se noemnaam eendag wees?

My gade, Gesina Susara (sy is Fanie se suster), het Tokkie geword het – die afkorting vir Tokkelossie, wat haar vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar was omdat sy so ‘n klein kortetjie was. Toe sy in 1962 by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege aankom, was daar ‘n abortiewe poging om Tokkie te vervang met Donsie – gelukkig abortief, want ek sou darem nie graag op my oudag met ‘n Donsie van 60-plus getroud wou gewees het nie!

Ewenwel, dis geskiedenis. Maar wat dit relevant maak, is dat Broccehetto junior dalk – ondanks die indrukwekkende stapel name – maklik ook nog weens die een of ander fisieke eienskap of om ‘n ander rede iets totaal onverwant aan sy doopname kan word, soos Buksie of Bles. Of Porky, Shorty of Whitey. Tokkie deel mee hy is ge-oormerk vir Allesandro. Skoolmaats kan dalk besluit om hom Al of Broch te noem, en dit kan bly vassteek.

Die weë van name is soms onpeilbaar en ingewikkeld. My neef Ben Smith is daarenteen ‘n man met ‘n naam wat ‘n eenvoudige pad geloop het. Geen onvoorspelbare of verrassende kronkelweë nie. Hy is Benjamin gedoop, wat gou in sy lewe Ben geword het. Sy ma, my Tant Minnie, het hom net Benjamin genoem as hy iets aangevang het waaroor sy “haar hare uit haar kop kon trek” (haar gunsteling-gesegde). Ditto wat sy vrou, Hannetjie, betref – bedoelende nie dat hare uit die kop trek ook haar gunsteling-gesegde is nie, maar dat Ben eweneens haar geduld soms seer beproef en dat sy hom dan ook Benjamin noem.

Maar eintlik is Ben Ben. Hy was dit vir sy personeel; hy is dit vir sy kinders, kleinkinders en die huishulp. Dit is soos hy dit wil hê.

Hannetjie is ook nie ‘n vrou wat op formaliteit staan nie. Tog, om een of ander rede,het haar skoondogter Michelle (Brent se vrou) haar altyd ge-missus Smith. Nog altyd. Die komplikasie daarmee het eers ontstaan toe die klein Smithies, dis nou Brent en Michelle se kinders, Teegan en Kyle, begin praat.

Oupa is Ben, kort en klaar. Maar wat noem hulle ‘n ouma wat hul ma Mrs. Smith noem? Granny Smith sou om klaarblyklike redes nie deug nie.

Toe word sy, heel vindingryk en kreatief, Apples. (HvD)