Die aarde bewe

Soewenier van 'n kort plesier...

Soewenier van 'n kort plesier...

My vriend Piet Parlement (op sy dag ‘n bekende lid van die ou Volksraad) het op Melkbos kom kuier. Ek herinner hom aan die aand toe die aarde gebewe het. Hy lig sy glas in ‘n speelse heildronk en ons lag lekker saam oor sy woonwa-fase.

Piet is ‘n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ‘n woonwa, het hy wyd begin lees oor die onderwerp. Partymaal het hy sommer by woonwaparke ingery en met ‘n verskeidenheid eienaars geselsies aangeknoop.

Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag. Hy doen toe sy keuse, en met ‘n meevallertjie uit ‘n vergete niggie se boedel stap hy by ‘n handelaar in om sy droom te verwesenlik.

‘n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ‘n ontspanne vakansie. Piet begin as ‘t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ‘n gesinsuitstappie kan haak.

Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hoeveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ‘n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ‘n blouselblou meer waarin ‘n kantige bergkruin op sy rug lê.

‘n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ‘n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg ‘n vuurtjie aangesteek. Bier in die hand, strek Piet hom later agteroor uit op ‘n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.

Teen slapenstyd was hy in ‘n romantiese stemming. Gelukkig was die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ‘n perfekte dag liefdevol af te rond.

Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ‘n aardbewing?” vra ‘n benoude stemmetjie. “ Hoekom skud die karavaan so?” koor ‘n ander. ‘n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ‘n Verduideliking is geverg, en is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie.

Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief. “Onder watter hofie? ” “Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord. Omdat hy nog altyd ‘n man met ‘n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel. (HvD)

AS MY SKIP KOM …..

Die gesin Van Deventer op Mikonos in 1986 met die Oceanos agter ons.

Die gesin Van Deventer op Mikonos in 1986 met die Oceanos agter ons.

Die Kaap was lanklaas so deur skepe betower. Oral het mense die laaste paar dae met kameras en verkykers oor duine geklouter om die die 300 meter lange reuse-vliegdekskip USS Theodore Roosevelt met sy 85 vliegtuie in die visier te kry. In die hawe was die missielkruier die USS Monterey ‘n trekpleister soos min.

Almal het bespiegel waar die Roosevelt se onsigbare waghond – ‘n kernduikboot – vasgemeer lê. Dalk naby Robbeneiland? Almal was verstom oor die asemrowende statistieke soos dat die skip se bemanning van 3 200 (die SAUK praat van 5 000) meer as 1 000 kg spek in ‘n maand verorber. “Moenie al ons ‘bacon’ oplaai nie,” het iemand juis Sondag benoud gepleit terwyl ons van Sunset Beach dophou hoe die voorrradehelikopters sonder ophou heen en weer vlieg.

Dan het ek, arme, eenvoudige landrot, voorheen gedink die Pendennis, die Constellation en die Oceanos is allemintig!

Met die Pendennis Castle het ek en vroulief Tokkie in 1970, jonk en nog kinderloos, ‘n romantiese eerste bootvaart onderneem, van Kaapstad na Durban. Ai, om so oor die dekreling te hang en dop te hou hoe Tafelberg oor die diepblou see al hoe kleiner en kleiner word …. dis mos die lewe, pappa!

Ons kwartiere was, in ooreenstemming met ons beursie, maar taamlik beskeie. Ons was iewers in die boeg van die skip ingedruk. ‘n Ketting het daardie deel van die dek afgesper waar die ouens met die min pitte nie durf kom nie. Maar ag, ook aan ons kant was dit darem net ‘n plesier om smiddae saam met ons nuutgevonde bootvriende te sit en Pimms no. 1 drink terwyl die skaduwees oor die Indiese Oseaan langer rek.

Met die Griekse lynboot die Constellation is die gesin in 1985 na Mauritius. Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het. Vir die kapteinsete was die voorgeskrewe drag “black tie”, d.w.s. aandpak. ‘n Ander aand was daar ‘n kostuumbal.

‘n Skerpsinnige politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul nagtelike kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming.

‘n Boeiende roetine het hom amper elke uur op die uur afgespeel. Eers rys Mnr. Politikus waardig uit sy dekstoel. Hy staan nonchalant so ‘n bietjie rond. Hy kyk in alle rigtings. Daarna stap hy doelgerig na die trappies. Vir die volgende 20 minute of wat was hy dan afwesig.

Nouja, ‘n mens van vlees en bloed kan jou nuuskierigheid ook net so lank in bedwang hou. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna. Vir sy persoonlike moeite en opoffering kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatylywe nie, maar ook op die veel indrukwekkender proporsies van ‘n fris vroulike kollega van die tydskrifte-afdeling wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop kruip. Ook vir haar was die bodek die aangewese uithangplek vir haar daaglikse dosis sonaanbidding.

‘n Nare herinnering is van die uwe se duim wat in ‘n sware kolos van ‘n buitedeur se pad gekom het. Met die baftablou nael en ‘n kloppende pyn is ek na die skeepsdokter wat tot my ontnugtering wou weet of ek nie vir hom ‘n skuifspeld het nie. Sy behandeling sou wees om die skuifspeld warm te maak en dan ‘n gaatjie in die nael te druk vir die bloed om te ontsnap, het hy my meegedeel. Dit het my terstond laat besluit die pyn is nie regtig so erg nie.

Tokkie verbind die ongeluk by die deur nou nog met die gereelde uitstappies na die bodek. Hoe sy daardie vurk by die hef kry, weet ek nie. Dis sommer pure moedswilligheid, vermoed ek.

In elk geval met daardie Constellation is ons toe op pad na Mauritius. Maar die see was rof, hoor. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Toe vorder ons weens die reuse-deinings boonop teen ‘n slakkegang. In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer.

Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op Mauritius. ‘n Gedaan Vauxhall-taxi moes sy ry ken om by al die plekke uit te kom waar ons wou draai: Port Louis se mark, die Pamplemousses-tuine, Trou Aux Biches se akwarium, Le Touessrok en die eilandjie Ile Aux Cerfs waar die danseressies en die inhibisielose kollega tuis sou voel.

Ons was net betyds vir die Constellation se vertrek op sy terugwaartse vaart met ‘n harde fluit en onaardse rammeling in sy enjinkamer. Die ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei.

Maar die lus was behoorlik geprikkel. Ontmoet nou Hennie-die-skipper. Minder as ‘n jaar later is ons met Oceanos (spreek uit Okeanos, asseblief!) van die Epirotiki-redery op ‘n vierdaagse vaart na die Griekse Eilande. Dit was die dae van die Tsjernobil-kernramp, met onvoorsiene gevolge vir die Van Deventers.

Toe ons in Athene se hawe, Piraeus, aan boord gaan, kry ek in ons kajuit op die bed ‘n prgram vir dag een met die volgende ontnugterende mededeling: “11:00 – The MTS Oceanos sails for Istanbul (Turkey), a distance of 354 nautical miles.”

Istanboel! Turkye! Is ons op die verkeerde boot? Ek skrik my bloeddruk deur die dak. Toe ek uitasem by die betaalmeester kom, kon hy my gerus stel: “Nee, die verkeerde boot is dit nie. Weens Tsjernobil het baie passasiers egter kop uitgetrek. Twee vaarte moes toe saamgegooi word.”

Istanboel, hier kom ons dan! Ons is die oggend vlugtig oor die Bosphorus en oral in die stad rond, en Tokkie kon nog tyd inruim om twee Turkse matjies aan te skaf – nogal mooi en nie te peperduur nie.

Volgende stop was die kleurryke eilandjie Mikonos – soveel romantieser as die Langebaanse kloon; daarna daardie Griekse kroonjuweel op die kruin Santorini met sy panoramiese helderblou see-uitsigte en Kreta.

Dit was ‘n vakansie duisend – veral die ure op die dek met die stewige voorraad Suid-Afrikaanse wit wyn wat ons in ‘n yslike sak saamgebring het om die buitensporige pryse van aan-boord-alkohol vry te spring. Deesdae mag jy dit nie meer doen nie, verstaan ek. Hulle besnuffel jou koffers glo van hoek tot kant.

Die Oceanos (onthou die “k”) het so diep in ons harte gekruip dat ek skoon bewoë was toe hy, darem heelwat later, blinkpens bo in die dieptes van die Indiese oseaan aan die Suid-Afrikaanse Wildekus wegsink.

Tokkie onthou van daardie vaart geamuseerd die gedoente met haar haardroër. Dié was minus die regte konneksie. In haar drasak wat altyd vir alle soorte noodtoestande ingerig is, was egter wel ‘n muurprop van Europese model. Sy vra toe die kêrel in beheer van die kajuitwaardinne vir ‘n skroewedraaier. Hy was dadelik suspisieus. “Screw driver? What for?”

Toe sy verduidelik, kry hy ‘n spasma. Wil sy dan die Oceanos eiehandig die lug inblaas? Nee, hy stuur die skeepselektrisiën, wat toe opdaag nie met ‘n skroewedraaier nie, nota bene, maar twee stukkies hegpleister. Sy raad was skokkend aards: plak die lewendige kaal drade sommer met die hegpleister aan die muurprop se gaatjies vas! Daardie haardroër is op daardie vaart nooit uit die tas gehaal nie.

Daar was ook die insident met die toebroodjies. Ons seun, Johan, moes saans voor slaaptyd ‘n broodjie eet om sy bloedsuiker te stabiliseer. Tokkie verduidelik vir die kajuitwaardin en sy knik instemmend. Maar hier kom sy aan met ‘n berg brood, hopeloos te veel vir Johan of selfs vir almal van ons. Tokkie vra sy moet die volgende aand minder bring. Weer knik sy instemmend. Toe daag sy op met dubbeld soveel.

My advies was om nie verder te onderhandel nie. Toe sluip Tokkie maar soggens in die skemer dek toe om die dankbare albatrosse met die oorskot van die brood gelukkig te maak. Maar toe sien sy iets waaroor sy tot vandag toe wroeg: hoeveel swartsakke met die vorige aand se bottels en oorskietkos sonder seremonie in die see gestort word.

Arme , arme see. Hoe morsig moet dit nie op sy bodem lyk nie met al die groot skepe wat kruis en dwars oor die oseane vaar? Dink net hoeveel swartsakke moet die Theodore Roosevelt nie uitskud nie nadat sy 3 200 manne (of 5 000?) so smaaklik gëeet en gedrink het soos ons in die koerante gelees het! (HvD)