DANKIE, MAX, EN TOT SIENS

“Gee my bril. Ek moet briewe skryf.” Dit was die sterfbedwoorde van Boy Stockenström(71), kampioen-briefskrywer wat in 1972 in Johannesburg oorlede is. Dié afgetrede geskiedenisonderwyser het in sy leeftyd iets soos 2 000 koerantbriewe geskryf.

Ek verbeel my nie ek is in die kranige Stockenström se liga nie. Sedert ek 1997 by Naspers weg is, het my koerantgiere egter ook heel dikwels in meningskolomme tot uiting gekom. Koerantkwessies, Belhar, geskiedskrywing, Luke Watson, kollegas wat oorlede is – dit is o.m. onderwerpe waaroor ek ‘n stuiwertjie in die armbeurs wou werp.

Vandag sê ek nie soos Stockenstrom: “Bring my bril; ek moet skryf” nie. Ek sê: “Bring my pen dat ek dit toeskroef; ek sal nie sommer weer (koerantbriewe) skryf nie.” Hierdie joernaal is inderdaad ‘n soort persoonlike waterskeiding. Ek wil nie sê nooit weer enige persdebat vir my nie (‘n mens weet nooit nie!), maar ek sê tog sonder huiwering: nie sommer weer nie.

Ek verwag eerlik nie dat iemand oor my voorneme sal trane stort of dat my bydraes gemis sal word nie. Maar oor een aspek wil ek my tog aanmatig: ek wil graag dink dat my motivering ter sake kan wees.

My kernrede is dat hedendaagse debatte te veel ontaard in ‘n “kontaksport” (“bloedsport”?). Die dryfveer is: as jy nie met iemand saamstem nie, trap hom! Briewe dwaal soms baie ver van die kernkwessie en raak uitermate neerhalend en persoonlik. Soms verdring die skrywer se ego (of ander agendas) die saak heeltemal en neem die “eie ek” onbeskroomd oor.

In my redakteurstermyn (1980 – 1992) was dit doodgewoon beleid dat die brieweredakteur beskerming teen persoonlike tirades verleen. ’n “Briewebussie” het nog bestaan waarin kort redes, in telegramstyl, verstrek is vir briewe wat snippermanjie toe is. “Te persoonlik” en “nie onder n skuilnaam nie”, was konsekwent van die primêre beweegredes. Tye het verander, goed en wel, maar daardie was ‘n stukkie bedagsaamheid wat ek mis.

Max du Preez se frontaanval in By van 15 November speel ‘n rol in my besluit. Sy vendetta is nie vir my lekker nie. Ander briewe uit ander oorde het egter ook ‘n rol gespeel, veral een skuilnaambrief in Die Burger (15/10), kamma uit “Koeberg”, met ‘n onaangename sinspeling oor teenstanders van Belhar se Christenskap. “Boetman Genade” se kakebeen is oop. Ek slaan egter doelbewus nie terug nie.

Vir Du Preez sal ek die pluimpie gee dat hy ‘n voorslag was in die eerste verslagspan van Beeld wat ek in die jare 70 as nuusredakteur aangevoer het. Op grond van botsende insigte en waardes het ongelukkig verwydering gekom. Dit behaag hom om, soos in By van 15 November, uit sy pad te gaan om my integriteit en geloofwaardigheid af te kraak.

My eerste impuls was om ewe strydend te antwoord. Toe kry die wysheid van die grysheid gelukkig die oorhand. Trouens, na ‘n rukkie se dink het ek besef ek moet eintlik vir Max du Preez dankie sê. Dit is daardie stuk van hom wat my oë finaal geopen het vir die nutteloosheid van blinde konfrontasie en vrugtelose debat, veral oor die komplekse koerantgeskiedenis van die onstuimige 80’s waarvan baie beterweters hul oppervlakkige begrip telkens openbaar. Dit is net nie goed vir jou gemoed nie.

Ek is amper 68 jaar oud, al 11 jaar lank afgetree op Melkbosstrand en wil verder my geseënde “herfsseisoen” rustig geniet na ‘n loopbaan wat heerlike werksbevrediging verskaf het, waarvoor ek nie in die minste skaam is nie en wat niemand, dankie tog, met ‘n enkele rubriek, artikel of brief ongedaan kan maak nie.

Betrokke raak by allerlei pennestryde is na dese nie meer vir my nie. My pen is toe. (HvD)

KAPING VAN ‘N STERFBED

'n Kombi Transporter uit die jare 50

'n Kombi Transporter uit die jare 50

Motorkapers raak al hoe waaghalsiger, openbaar al hoe minder menslikheid en betoon al hoe minder genade teenoor hul slagoffers. ‘n Resente kaping van bekendes in Pretoria se geliefde ou Kombi Transporter uit die jare 50 was teen hierdie agtergrond genadiglik geen groter verlies nie as dat ‘n gewillige ou tog-os met ver meer as 200 000 km op die klok uit hul lewens verdwyn het.

Naas die gewone kloekgeluide van meegevoel en betuiging van skok kon die uwe hom darem ook (en ek sê dit maar saggies, al was die omstandighede soos dit was) ‘n sardoniese glimlaggie veroorloof.

Laat ek gou verduidelik. Die glimlag was nie uit kwaadwilligheid nie; bloot omdat dit die gedagtes teruggevoer het tot die kaping van ‘n eenderster bussie in Bloemfontein jare gelede toe kapings – veral in die goeie ou Oranje-Vrystaat (ja, so lank gelede) – nog amper iets so vreemd soos seerowery was.

Die slagoffer in daardie geval se huwelik was na ‘n leeftyd saam op die rotse en die lewe het hom genadeloos gedruk. In sy broosheid en ontreddering besluit hy toe hy kan dit eenvoudig nie langer vat nie. Selfmoord is al uitweg.

Hy loop dae en tob oor die voortreflikste manier om ‘n einde aan alles te maak. Uiteindelik val sy keuse op ‘n beproefde metode: dié van die tuinslang. Hy gaan koop spesiaal by ‘n afslagwinkel (op sy vrou se rekening) ‘n netjiese nuwe stuk om aan sy geliefde Transporter se uitaatpyp te verbind.

Op ‘n kil wintersaand met feitlik geen maan teen die donker lug nie ry hy stadig Naval Hill op, soek vir hom ‘n verlate parkeerplekkie onder ‘n alleen-boom en spring aan die werk. Toe alles gereed is, en hy vir oulaas die sterre bo hom en die stadsliggies onder hom ‘n ruk in doodse stilte betrag het, skakel hy die enjin aan en laat die geduldige masjien egalig voortluier.

Stadig, stadig sink hy in ‘n diep slaap weg. Dieper en dieper.

‘n Onaangename gewaarwording wag: snerpende koue wat deur murg en been sny; ook ‘n seer lyf, soos een wat geruime tyd ongemaklik gelê het, boonop op harde klip.

Herinneringe aan sy verskriklike bedruktheid, sy groot besluit en sy laaste paar uur in die kombi maal deur sy benewelde kop. Sy oë fladder oop. Doer in die ooste breek die dag. Om hom is vaal winterveld, en ‘n ent verder ‘n kameelperd wat met ‘n lui tong ‘n paar blaartjies van ‘n boom stroop, sy oë nuuskierig op die vreemde, witgerypte figuur hier skuins voor hom.

Sy kombi! Die gedagte flits skielik deur die arme drommel. Wat het van sy kombi geword?

Hy strompel Bayswater se polisie toe, en vertel daar stamelend die verhaal van sy abortiewe selfmoord aan ‘n vaak konstabel, wat skielik geskok uitroep: “Jis, oom, toe steel die bliksems wragtig jou sterfbed onder jou uit.

“Siestog, nou het oom nog meer worries!” (HvD)

KWAAD VIR ‘N BED

Besoekers uit die Suide oornag die eerste keer by ou vriende op Potchefstroom en bewonder die styl en vakmanskap van die meubels in die gastekamer met verskuldigde eerbied.

Die indrukwekkende, swaar spieëlkas en bypassende hangkaste van donker embuia is die toonbeeld van vervloë elegansie. Jy kan in jou geestesoog sien hoe die stukke die boudoir van ‘n adellike dame van ‘n vorige era komplementeer, kompleet met donker brokaatgordyne en die weelderigste wolmatte.

Wat opval, is dat die nederige bed allermins by sulke erfstukke van formaat pas. Dis bra doodgewoon; die kopstuk eenvoudig ‘n vierkantige stuk donker verniste denneplank.

Aan die ontbyttafel word die lof van die meubels besing. Die eienaars stem saam dit is iets besonders, en skets die pad wat dit deur opeenvolgende generasies gevolg het voordat dit hier aan ‘n digte akkerlaning naby die Potchefstroomse Universiteit ‘n staanplek gevind het.

“En die bed dan? Waar en wanneer het dié verlore gegaan?”

‘n Stiltetjie sak toe. Dan bieg die gasvrou, langs wie, op ‘n hoë kleuterstoel, ‘n (baie) laat laatlammetjie sit.

“Dit was die dag toe ek die nuus kry dat ek op my jare weer swanger is. Ek was so be-ongeluk dat ek daardie blerrie bed nooit weer wou sien nie. Ek bel toe die pandjieswinkel om die dêm ding dadelik te kom haal!” (HvD)

KNOPPIE-KONSTERNASIE

Statistieke wat ‘n Zimbabwiese vriend aanstuur, laat my sommer stukke beter voel. Dit het niks te make met daardie droewige buurlandjie se inflasiekoers nie, maar met die mensdom se begrip vir die tegnologie wat hulle veronderstel is om met die flinke druk van ‘n paar knoppies te beheer en beheers.

My vriend, Piet Henning, ou Tukkiemaat wat nou ‘n boerdery by Chiredzi bedryf (met al die geografiese ellendes wat dit meebring), is die trotse eienaar van ‘n gevorderde nuwe drarekenaar (“‘n skoottoppie met menige toebehore en uitdagings “, noem hy dit) nadat sy vorige te wyte aan Zimbabwe se kragmanewales die gees gegee het.

Hy staan oorweldig deur die tegnologie, rapporteer Piet, en is in diepe verleentheid oor sy karige kennis. Hy ondervind moeite om die nuwe kontrepsie te dryf .

In sy uur van nood lees hy in ‘n koerant dat 58% van die mensdom wat ‘n selfoon, rekenaar en ander digitalia opgradeer, nie die nuwe speelgoed kan hanteer nie. Hulle moet die hulp van slimmer vriende en tegnici inroep.

Hy voel beter nadat hy die berig raakgeloop het, sê Piet. Nes ek nadat ek bevoorreg was om dit uit sy hand te ontvang. (Piet hou nou op Louis Trichardt vakansie, as lesers dalk wonder oor Zesa en so!)

My eie frustrasie van die oomblik is nou wel nie rekenaarverwant nie, maar ek weet hoe ontoereikend Piet moet voel na Saterdagmiddag se affêre hier op Melkbos met die TV-stel ( ‘n heel basiese model) toe my genant Jacob (4), een van die tweeling-kleinkinders, vyf minute voor die afskop van die toets teen die Skotte op Murrayfield op die afstandbeheer ‘n knoppie druk wat hy nie moes gedruk het nie.

Jacob is slim met knoppies – hy’t n slim Oupa met ander dinge. Ek skrik dus eers nie groot nie. Tot ek Jacob se gesig waarneem. Die intense konsentrasie waarmee die eerste paar eksperimentele reddingsdrukke gedruk is, maak al hoe meer plek vir verdwaasde magteloosheid.

Ek gryp die toestel en begin wanhopig druk. Die klank bly weg. “Tokkie!” roep ek, en my vrou storm onverwyld uit die kombuis omdat sy dáárdie klank in my stem herken. Ook sy druk vergeefs. Naas en Kie babbel opgewonde, maar ons hoor zat.

Tokkie bel Jacob se vader, skoonseun Brent, wat van knoppies meer weet as sy skoonpa. (My vriend Chris van Rensburg het op Brent en Marisa se troue voorspel dat hy in daardie opsig vir die Van Deventers ‘n aanwins sou wees, en Chris was nie verkeerd nie.)

Brent verduidelik rustig: druk dié, dan daai. Tokkie herlei die opdragte na my wat vlakvoor die skerm stelling ingeneem het. Maar daar’s nie sulke knoppies op onse nederige ou dingetjie nie.

“Bel my op die selfoon,” hoor ek vir Tokkie sê. Die volgende oomblik gryp sy die affêrinkie uit my hand met ‘n omge-elliede “gee laa’k sien.” Ek kry amper lekker toe sy die nare ontdekking doen dat my taksering reg was. Sulke knoppies ontbreek inderdaad op ons model.

Wel, uiteindelik is ek boontoe, na ‘n kleiner skerm maar met die bonus van ‘n donkerder vertrek. Brent was al by sy motor om die 35 km hierheen te ry om sy seuntjie se brouspul te kom regmaak toe sy vrou, Marisa, hom keer. Seun Johan kry toe van sy suster ‘n S.O.S. en kom maak vinnig-vinnig reg wat verkeerd is. .

Jacob, wat intussen stil soos ‘n muis die konsternasie betrag het, en boetie Thomas wat uit simpatie ook sy tongetjie ingesluk het, kom later sluip-sluip boontoe om die voorspoedige verloop van sake by die kwaai Oupa te kom aanmeld. Toe’s ek egter lekker hardekwas. “Dankie, ek kyk sommer hier klaar”. En ek doen dit.

Vir ‘n dag of wat het Jacob sy hande tuisgehou. Toe oorweldig die begeerte hom en Tokkie betrap hom weer met ‘ n handkontrole aan’t werskaf. “Jacob, jy speel weer met knoppies,” vermaan sy.

Hy het net sy kop laat sak. Toe kry hy ‘n ingewing: “Ouma, hou net my handjie vas.” Met haar ingebind in die proses en derhalwe mede-verantwoordelik vir wat ookal gebeur druk hy toe vinnig sy drukke met die ander hand – maar hierdie keer gelukkig sonder enige krisis.

Die storie eindig gelukkig. Wel amper. Die skerm is nog so donker dat dit elke aand lyk of Sewende Laan in die skemer afspeel. Maar Sondag kom Brent gelukkig.

Laat ek darem ook my eie stert prys. Hierdie week gaan soek ek raad by ‘n ekspert hoe om van die bonte redigeringsgeskiedenis op ‘n Wordsdokument ontslae te raak. Die ekspert bely sy onkunde. Ek kom huis toe en klik twee klikke. Die tweede bring my by die opsie: “accept all changes in document”. Voila – weg is die spul onsin wat my dokument soos Bloedrivier laat lyk het.

Mos gesê Jacob het ‘n slim Oupa! (HvD)

PIEKNIEK BY HLANGULENI

Vertel ons meer van Hlanguleni. Ek voldoen graag vandag aan daardie versoek wat ontvang is n.a.v. die blog oor Skukuza en die lysie van vyf in die tydskrif Weg wat vir die uwe 'n nuwe verkyker besorg het. Ek hou nog die pos vir my Pentax Sports Optic dop …

Vertel ons meer van Hlanguleni. Ek voldoen graag vandag aan daardie versoek wat ontvang is n.a.v. die blog oor Skukuza en die lysie van vyf in die tydskrif Weg wat vir die uwe 'n nuwe verkyker besorg het. Ek hou nog die pos vir my Pentax Sports Optic dop …

‘n Piekniek-ontbyt by Hlanguleni – dis nou Wildtuin met ‘n hoofletter W. As jy dit gelukkig tref, is jy dalk stoksiel-alleen. Moontlik baljaar olifante in die pannetjie oorkant die lae heining terwyl die geur van die roergereg in die skottel talmend met die natuurlike geure van die ongerepte Bosveld begin meeding

Nhlanguleni is afgesonder, stil, aards – eintlik primitief. Los maar jou selfoon in jou motor se paneelkissie. Die enigste sein – en dis bra floutjies – is as die foon doodstil met presies die regte hoek in ‘n halwe beker staan gemaak word onder die wellewende, mank opsigter se afdakkie.

Nhlanguleni het ons ontdek ná die sterk aanbeveling van ‘n amptenaar van die gewese Parkeraad se vrou. “Dit is waarheen ons Parkeraadmense altyd gaan. Dis nie juis op ‘n toeristeroete nie,” het sy verklap. Die eerste besoek was ver van die laaste!

Buiten dat Nhlanguleni so ongerep is – waarlik “unspoilt by human hands!” – het ons al op pad daarheen van die beste leeu-, buffel- en olifanttonele gesien.

Die skilderagtige Lugmagdam net voor jy Nhlanguleni bereik, is uit ‘n wildoogpunt ‘n Wildtuindam sonder weerga. Groot samedrommings sebras, waterbokke, blouwildebeeste, rooibokkies en seekoeie kom konstant voor. As jy gelukkig is, kry jy kameelperde, koedoes en buffels op die koop toe. Die Vyf Grotes is almal iewers daar rond.

Verskeie ander damme op die roete lewer gereeld verrassings en mooi foto’s.

Hoe kom jy daar?

(i) Ry van Skukuza noordwaarts Tshokwane toe.

(ii) Draai links af na die Mantimahledam. Bly dan op die grondpad verby N’watindlopfu, Jones se Dam en die Manzimhlophe-dam. Mik noordwaarts. Dit is die S36, die Nhlangulenipad.

(iii) Ná so 30 km sien jy die piekniekplek (aan die linkerkant) se watertenk.

Die natuur in daardie geweste is nie waffers nie, mar kanse is dat net een of twee ander motors – of geen – die bosatmosfeer daar met jou deel. Safarivoertuie vol buitelandse toeriste kom nie juis in groot getalle daardie wêreld nie.

Van ‘n groepie Japanners het ek egter daar die spoor gekry. De bedremmelde hekwag het raad gevra met die hopie jen wat hy as fooitjie in die hand gestop is. (HvD)