Hoede af vir die “vyand”!

Die komediant Victor Borge sit op die klawers en tokkel en sê kamma-ernstig oor die mikrofoon: “The Steinway people have asked me to announce that I’m playing on a (sê nou maar)Otto Bach piano.” Ek het gedink dis nogal skerp.

Voordat die Sonoppers my vra (dwing) om dit te doen, rapporteer ek hiermee dat die onderstaande blog oor ‘n Sonop-reünie deur ‘n Kollegeman geskryf is!

Ter agtergrond: toe ek in 1958 op Tukkies aankom, was daar drie manskoshuise: Kollege (op die kampus), Sonop en Voortrekker. Die mededinging was, om dit sag te stel, nogal intens. Liefde vir mekaar het nie juis oorgeborrel nie.

In die geledere van Sonop se eerstejaars was ‘n hele paar bekendes. Wat hulle van vriendskap gediskwalifiseer het, was dat hulle Sonoppers was – die “vyand”. Nou het daardie “Klas van 1958” van Sonop presies na 50 jaar na hul Ienkskap (dit beteken om eerstejaar te wees) in Pretoria reünie gehou. Hierdie “Kollegeman tot ek sterwe” voel gedronge om daaroor te skryf.

My eerste rede – in alle eerlikheid – is jaloesie. Dis ‘n onuitstaanbare gedagte dat die Sonoppers so kreatief en oorspronklik kon wees terwyl ons Kollegemanne – wat darem vir jou ‘n oulike klomp Ienks was, hoor – nie een eens ‘n vonkel in die oog gekry het oor die moontlikheid van so ‘n 1958 + 50-reünie nie.

Dit tref my persoonlik swaar, want ek is as’t ware Mnr. Reünie. Ek is lief vir reünies, genereer hulle, help reël hulle, laat my nie deur afstande afskrik om hulle by te woon nie en is in die algemeen die toonbeeld van betrokkenheid. Vroulief Tokkie, soos ek al vroeër hier rapporteer het, sê mos bytend al reünie wat ek nog moet bywoon, is dié van my speelgroepie!

Die tweede rede behels ‘n belydenis. Ek moet erken dat ek nogal graag daardie Sonop-reünie sou wou bygewoon het. Ongehoordsoos dit is, sou ek heerlik saam met daardie manne kon kuier. Ondanks die Sonop-etiket is hulle ‘n eersteklas-klomp. Ek hou van hulle!

Veertien Sonoppers van 1958 was daar: Daan Erasmus, Leon Windt, Anton Lombard, Gert Pretorius, Gerrie Almond, Gerrit Kruger, Kobus Kruger, Frans Boot, Stoney Steenkamp. Thys Oosthuizen, Hennie van Wyk, Johan Lamprect, Carl Fuchs en Fanie de Jager.

Met sewe van hulle – die helfte – het ek ‘n persoonlike konneksie. Ek en Anton was saam in matriek op Potch-Volkies. Ek en Carl en Johan Lamprect was saam in standerd vier en vyf aan Port Natal in Durban – ek het nog Carel se kleurbaadjie geleen Van Riebeeckfees in Kaapstad toe. Ek het teen Hennie van Wyk krieket gespeel op skool – hy was ‘n beter kolwer vir Lichtenburg se eerste span as wat ek ‘n snelbouler vir Volkies was. Ek en Daan Erasmus was albei Klerksdorpers. Ons was goeie maats. Onshet saam gery Pretoria toe met die Santa Maria, my Peugeot 203. Daan het my as jong verslaggewer op stories vergesel – selfs na ‘n moord op Potchefstroom. Gert Pretorius het my meisie afgevry en met haar getrou. Sy is ongelukkig bloedjonk in ‘n motorongeluk oorlede. Ek en Stoney was die vleuels van Tukkies se O/19 D-span.

Vyf van die veertien was, soos ek, Wes-Transvalers (nou Noordwesters). Ons het vir die Mielieboere geskree in die tyd toe bulle soos Johan Claassen , Dick Putter en Kranskop Bezuidenhout in die Wes-Transvaalse XV-tal was.

Anton Lombard het my van die reünie vertel toe ek en hy in Augustus in die Bosveld saam gekuier het. Sy foto’s en stories het die mond laat water. Ek het o.m. agtergekom – en dit sê ekwaaragtig met ‘n swaar hart – dat Sonop se karakter en tradisies beter oorleef het as Kollege s’n.

Die tipiese “Sonop-mansijoen” met dosyne gesteelde naamborde ens. leef voort. Sonop se “boerdery” is nog geil aan die gang. Daar is selfs nou ‘n krokodil (onheilspellend lewend) op die werf. Die Sonop-argief spog steeds met sy Pierneef-skilderye, die lot.

Die matrones word steeds “nonnies” genoem. Die Saterdagmiddagete was in die Sonop-eetsaal – “platvleis” en “gravy” en slaai nes vyftig jaar gelede.

Ai, ou dierbare Kollege, wat het dan met jou skeefgeloop dat jy soos die ou grys merrie van die liedjie nie meer is wat jy was nie? Waarskynlik het die Groot Trek in 1960 van die kampus af proefplaas toe mettertyd tog sy tol geëis. Kollege het net TE groot en TE onpersoonlik geword. Later het die Kollegekarakter en van sy mooi tradisies ietwat verwring geraak. Kom ons los dit maar daar.

Geluk aanSonop en die Sonoppers oorwat julle oor vyf dekades in stand kon hou, en ‘n pluimpie virCarl Fuchs met sy blink idee om na 50 jaar so ‘n reünie te reël. As Kollegeman lig ek my hoed vir julle.

Maar ek soek nie witvoetjie nie. Ek isgeen Hans Kakie nie. Kollege – soos hy was – bly bo. En die hegte Kollegeband van eertyds is darem ook nie daarmee heen nie, hoor. In 2005 is Kollege se 90ste met ‘n dinee in die Sportsentrum gevier. Groot stories is die aand daar gesels. Die volgende dag het n klomp tydgenote by Cas Jacobs se huis in Centurion skaap gebraai. Dit was ‘n fees.

In daardie groep was die Kollege-Ienks van 1958in die meerderheid. Daar was sewe van ons: Vossie Grey, Cas Jacobs, Piet Henning, Mornay du Plessis, Leon Engela, Giel de Swart en die uwe.Ons sewe en ons huisvoorsitter van 1958, Leon Visser, is op die foto by die volgende skakel:

http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Kollegemanne#

By dieselfde skakel is ook ‘n Augustusfoto van my Volkiemaat Anton (Sonopper) en Leonie saam met my (Kollegeman) en Tokkie op Tarlehoet in Sabiepark se stoep.

Moet iets in die water gewees het daar in die laat vyftigs dat ons generasie – hetsy Kollegemanne of Sonoppers – so uitblink in lojaliteit en groepsgees. Of wat praat ek alles? (HvD)

STORMFOTO’S

In die blog hieronder skryf ek oor die indrukwekkende stormfoto’s wat per e-pos rondgeblits is.

Bo is ‘n foto wat my oud-kollega Johan van Wyk van Stop-van-Myne-faam op Plettenbergbaai geneem het. Die reuse-branders het ruite op die vyfde verdieping van die Beacon Isle-hotel stukkend geslaan!

By die volgende skakel is vier foto’s wat in Kampsbaai en Bakoven in die Kaapse kom-gebied geneem is – ek weet nie deur wie nie:

http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Stormsee#

Ongelukkig was ek te dom om hulle groter te maak. Maar hulle maak impak, selfs in die klein formaat.

Ek dink die foto hierbo en die foto’s in my Picasa-albumpie Stormsee bewys my punt: dat koerante in die hantering van die storms ongelukkig deur internet-foto’s sleg getroef is. (HvD)

STORIE OOR ‘N STORM

wat ek as seuntjie by die skool ingepalm het. Die naam was – as ek reg onthou – Slaaptydstories. ‘n Storie oor ‘n storm het by my vasgesteek tot vandag toe. Ek onthou tot die illustrasies. Die ander stories het ek al lank vergeet.

In daardie storie tref ‘n woeste storm ‘n plaas. Die boer hôl beangs rond en skud ergerlik die nuwe jong werker wakker wat dwarsdeur die loeiende wind, donder en blitse rustig slaap. Die seun antwoord iets soos: “Ek kan maar slaap as die storms kom.” Daarmee bedoel hy: “My werk is deeglik gedoen – ek hoef nie bekommerd te wees nie.”

By die seun se woorde wil ek vandag aanknoop. As koerantmens vir amper vier dekades en steeds ‘n lojale leser van die papiermedia, wil ek my nek uitsteek en waarsku: “Koerante kan nie slaap as die storms kom nie.” Hulle sal moet uit in die wind en reën.

Die koerant wat nie wawyd wakker is nie, gaan nog deur die internet bloedneus geslaan word – nie net met die onmiddellikheid van laasgenoemde se oombliklike inligting nie maar ook met sy vermoë om massas visuele materiaal blitsvinnig en amper onbeperk uit te blits.

In my e-pos-inmandjie het indrukwekkende stormfoto’s die laaste klompie dae absoluut gereën: uit die Strand, Kalkbaai (die Brass Bell is skoon platgevee!), die Kaap se eie Atlantiese seekom, Port Elizabeth, Plettenbergbaai, noem maar op. Elke e-pos wat jy oopmaak, moker jou tussen die oë met sy skouspelagtige visuele impak.

Telkens staan jy opnuut verstom oor die hemelhoë reusebranders, die berge bibberende bruin skuim, die wier, seewater en klippe wat die malende waters in strate en op geboue, motors en mense stort….

Geen koerant wat ek in hierdie dae gesien het, het ‘n fotobeeld gebied met dieselfde trefkrag nie. Geen voorblad wou jou onwillekeurig laat uitroep nie: “Sjoe!” Trouens, van koerante se beste foto’s – in baie gevalle beter as die in dié koerant – was in galerye op hul webwerwe. Enigiemand – ook nie-lesers – kan dit kosteloos gaan besoek.

My opmerkings kom in die konteks van die slot van my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman wat in 1998 – ‘n jaar na my aftrede – gepubliseer is. Dit is geskryf toe die protagoniste van die sogenaamde “nuwe media” as’t ware al (baie prematuur) op die grafte van die koerante wou begin dans.

Stadig, stadig, het ek gemaan. “Hoe magtig die internet ook al is, en nog kan of gaan word, bestaan by ten minste hierdie kroniekskrywer, na veertig jaar in die enjinkamer van die koerantwese, min twyfel dat dit langs die koerant , en versterkend van die koerant gaan wees – nie as ondersteboloper van die koerant nie. Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.”

Krabbel ek dan vandag na tien jaar se aftrede terug? Nee, gelukkig darem nie. Ek dink eerlik nie koerante is skielik steierend of op hul laaste bene nie. Maar ek moet bely: ek het die gevaar en die uitdaging van die internet ietwat onderskat. Niks het daardie onderskatting tot dusver sterker beklemtoon as die Septemberstorms en die stortvloed e-posse daaroor uit alle oorde nie.

Koerantkollegas van die nuwe generasie moet asseblief nie dink hier op Melkbos sit ‘n vitterige, beterweterige en oorkritiese ou man, oorgehaal om hulle te kap hoe hulle hullself ookal teen daardie aanslag verweer nie. Trouens, gekonfronteer met die duisternis wonderlike digitale fotomateriaal niks verder as die klik van ‘n muis nie het ek self bra magteloos gevoel.

Ek is maar te dankbaar is ek is nie meer ‘n koerantmens nie, het ek teenoor my vrou, Tokkie, opgemerk. Dit sou my mal maak om soveel skitterende foto’s tot my beskikking te hê – voorbladfoto’s te kus en te keur – en nie herwaarts of derwaarts daarmee te weet nie.

Maar as ek alles klaar gesê het, en ek ook my eie onmag bely het om presiese advies te gee, wil ek tog waag om n knaende persepsie in ‘n vraag om te skep. My vraag is of ons koerante nie so effens die kuns verloor het om met ‘n groot storie – soos ons dit in die ou dae gestel het – die “skouers oop te maak nie”. Is die storms van 2008 nie te doodgewoon, amper pedestriaans, hanteer en die terrein vir die internet-kompetisie as’t ware braak gelaat nie?

Miskien sal ‘n goeie beginpunt vir enige nabetragting tog wees om die seleksie van foto’s vir publikasie krities te gaan evalueer, en ten tweede ruiterlik vir mekaar te sê daar was darem altyd blaaie met nuusies van sulke verbygaande aard dat hulle gerus skoongemaak kon word vir foto’s, foto’s, foto’s.

Onthou die slagspreuk: “Slaan die groot storie hard”! Onthou ook: een goeie foto is meer werd as ‘n duisend woorde! (HvD)

ERFPORSIES OP REIS

Kyk hoe reis die boedels al weer. Dis die beskrywing van my vriend Pierre le Roux van Mosselbaai van die langslewende weduwees wat so fluks met hul splinternuwe koffers aantree om die wye wereld te gaan verken.

Deesdae is oumens-reise egter nie beperk tot weduwees wat per boedel reis nie; ook egpare wat nog albei flink in die lewe is ploeg al hoe meer deur hul kinders se erfporsies vir ‘n verskeidenheid reis-doeleindes.

Sogenaamde “mid-weeks” loop binnelandse vakansiestemmmings oor van seniors met gryskoppe, stram ledemate, dik brille en ‘n skynbaar onuitputlike voorraad punte van vakansieklubs. Hulle bestee as’t ware hul “kinders se geld” goedsmoeds op hul eie plesier. Buitelandse vlugte is propvol oupas en oumas wat vir die kleinkinders in verre lande gaan kuier. Buite-seisoense bustoere lyk soos reisende ouetehuise.

Dat die Groot Reislus wat my generasie se oumense beetgepak het, boedels soms kwaai laat krimp, is gemene saak. Sommige kennisse leef tuis maar skraps om hul omswerwinge te kan bekostig. Hoe ook al, dit lyk of wyd ‘n opvatting posgevat het dat jy met jou geld kan maak wat jy wil, bie-dem die kinders. Hulle moet maar self opsnork.

Ek het ‘n Kaapse vriend wat nie doekies omdraai nie – as sy kinders iets by hom erf, moet ons maar weet dat sy beplanning skeefgeloop het!

In die Wildtuin het ek agter ‘n weelderige woonwamotor stilgehou waarin ‘n gryse dame staan en pannekoek bak het. Op die buffer was ‘n plakker: “We’re enjoying our children’s inheritance!”

Teen mede-seniors se ge-jeuk om rond te loop, het ek nie beswaar nie. Laat hulle reis soos hulle wil, waarmee en waarheen hulle ook al lus het. Laat hul boedels maar bloei en hul kinders se erfgeldjies krimp. Elkeen se begroting is ‘n private aangeleentheid. .

My frustrasie is egter dat jy so sukkel om vriende by die huis te kry. Iemand verjaar byvoorbeeld en jy wil hom of haar gelukwens. Jy bel en jy bel en jy bel. Dan kry jy net ‘n telefoon wat minute lank trieng-trieng-trieng-trieng. Soms kry jy darem ‘n stemboodskap: “Ons is nie nou beskikbaar nie….” Ander kere – wanneer die telefoon se eienaar uit vergeetagtigheid of onbeholpenheid die verkeerde knoppie gedruk het – kry jy ‘n fakslyn. Eina!

Jy moet leer om seisoene van afwesigheid te herken. In sulke tye is dit raadsaam om nie jou bloeddruk aan onnodige druk bloot te stel met eindelose mislukte oproepe nie.

In die winter is daar ‘n oumensverskuiwing wildtuine toe – veral wanneer die Krugerpark se konsessietyd vir bo-sestigs aanbreek. Maak gerus in Augustus ‘n opname van rondawel tot rondawel in gewilde kampe soos Olifants en Satara. Dis nie jongmense wat saans ‘n vuurtjie aansteek nie, pappa.

In die somer oorstroom die oues weer die kusoorde en stap die strande vol met hul kieries en groot hoede.

Tye wanneer vliegtuigkaartjies vanwee ‘n laer aanvraag ietwat goedkoper is, lees die buitelandse passasierslyste soms omtrent soos ‘n geriatriese sensus. Kleinkinders is immers – soos John Vorster destyds gese het – God se geskenk aan oumense, en die kinders werk deesdae mos van die Bahamas af tot in Doebai.

Dankie vir die vriende (bra min) wat so bedagsaam is om ‘n e-pos-adres te verskaf waar jy hulle by hul swerwer-kinders kan opspoor; en ook vir diegene wat hul selfone laat programmeer om goed bedoelde oproepies te ontvang van agtergeblewe vriende wat om watter redes ook al gewoonlik maar met Jan Tuisbly se karretjie ry.

En duime af vir daardies wat nie net geheimsinnig vir lang tye wegraak nie, maar dan skielik opdaag met ‘n gulhartige “hallo” en ‘n pak vol foto’s wat jy moet deurworstel. Dis nag! (HvD)

VRUG VAN VAKANSIE

Daar sit die aangename jong kerel toe voor my op my stoep in Sabiepark in absolute ongeloof dat ek twee maande lank in die bos kan kom sit en “niks doen” en – nog erger – al langer as tien jaar onproduktief afgetree is.

Ek hoor uit sy mond die verbaasde vraag waarmee elke afgetredene telkens maar weer gepeper word: “Maar hoe hou oom oomself besig?” Sy blik is amper verwytend. Hoe op aarde kan ‘n mens so ‘n nuttelose niksdoener wees?

Hoekom die onbegrip van mense soos die vriendelike gespreksgenoot gryskoppe soos die uwe gereeld skuldig laat voel en laat kriewel om te antwoord, weet ek nie. Ons skuld immers vir niemand verduidelikings nie. Ons het vir dekades ons brood in die sweet van ons aanskyn verdien, en kan darem seker met reg in die herfs van ons lewens ‘n bietjie agteroor sit, nie waar nie?

In elk geval, ek trap in die strik om ‘n antwoord te probeer formuleer. Ek vertel van ‘n bietjie skryfwerk hier en daar en van die eise van chroniese rekenaar-verknegting soos die een wat my beet het. Maar ek sien ek verloor hom. Webwerf? Blog? Picasa-albums? Watse bog is dit tog nie op die oor van ‘n energieke jong entrepreneur met kontrakte wat ophoop en geldjies wat steeds vinniger en vinniger inrol nie?

Toe ons groet, weet ek ek het hom nie oortuig nie. Wat hom betref, doen ek niks – “sweet all” soos die Engelse se. Ek sit by die see en speel met my vingers. Dan kom ek bos toe en sit die tydverkwistende vingerspelery net in ‘n ander habitat voort.

Aan hom sit ek die laaste paar dae wrewelrig en dink terwyl ek gebukkend voor die rekenaar sit en “werk” inhaal. Buiten vir die wavrag pos wat altyd wag as ‘n mens jou nes te lank verlaat, genereer elke vakansie mos maar sy eie verpligtinge.

Neem die verwerking van foto’s byvoorbeeld. Dit verg sorg, tyd en baie geduld, alla kragtie.

Danksy die wonder van die digitale kamera – nogal ‘n luukse waarteen hierdie ou lank vasgeskop het – is die klik van die se sluiter nou amper ‘n onwillekeurige aksie in elke vakansiefotograaf se arsenaal. Jy neem te veel foto’s, kort en klaar. Nou moet jy selekteer (en die weggooi is tog so pynlik), rangskik, in albums verpak en wat nog vir ‘n vale. Die vrees pak jou dat jy nooit betyds gaan klaarkry nie. En die volgende vakansie kom nader…

As ‘n mens ‘n vakansie agter die blad het soos die Van D’s hierdie winter in Sabiepark is daardie vrees des te meer geldig. Die oes aan foto’s is bepaald ver bo gemiddeld. En dis nie net te wyte aan ‘n ongedissiplineerde jeukvinger nie.

Twee maande lank het die leeus gereeld hier vlakvoor jou kom jag, die olifante in hul hordes kom afkoel, die buffels die riete swart gespikkel, die renosters kom drink, selfs ‘n vorstelike luiperd meer as een keer soos ‘n standbeeld op ‘n klip in die son kom bak. Dit was maar net enkele fasette van ‘n dierefees soos min.

Wie kan nou sulke wonderlike boservarings by hom laat verbygaan sonder om so ‘n bietjie kamerakoors te kry? Ek moet bely dat ek sukkel met die selfbeheersing; dat ek hopeloos te veel foto’s neem en dan later sit en swaarkry om orde te skep.

Pas het ek ‘n albumpie klaargemaak met foto’s wat ek een oggend vroeg in Augustus by Lake Panic naby Skukuza geneem het. Oor daardie twee uur van betowering het ek ‘n blog geskryf waarna lesers kan terugblaai as hulle wil. Die datum is 12 Augustus.

Dit was ‘n oggend van olifante wat in die water baljaar, klein olifantjies wat swemlesse kry, twee njalabulle wat paradeer, krokodille, seekoeie en hope watervoels van elke denkbare soort. Een ou seekoei was onder ons voete onder die houtvloer van die voelskuiling. Hy is – as ‘n soort toegif na die oggend se aksie – al proesende daaruit.

Net 24 foto’s het uiteindelik die snippermandjie oorleef. Hulle moet nog onderskriffies kry Die album met daardie foto’s kan egter solank besoek word deur op die volgende skakel te klik:

http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/LakePanic#

Op die foto bo die blog grawe een van die njalabulle met sy horing in die modder. Dit is glo ‘n vorm van “grimering” met die oog op ‘n bietjie liefde, hoor ek. Die grimmige groenrugreier op die stomp is ene wat deur die olifante van haar nes af geboender is op die eilandjie voor die skuiling. (HvD)