DANKIE VIR DIE LUISTER

Agter elke man is ‘n vrou. Hier – op spesiale versoek – is die vyf vroue wat Dinsdag by die HvD10-herdenking op Melkbos saam aangesit het.

Van links is Anet Pienaar-Vosloo, Bessie Raubenheimer, Lisa de Swardt (na wie ‘n lekker Akkerdraaise boetiekwyn nou heet). Tokkie van Deventer en Sannie Wiese.

Dankie, dames na wie ons luister, dat julle die geleentheid so opgeluister het!

Die storie van die luisterryke saamkuier en ‘n foto van die eggenote verskyn direk hieronder in die volgende blog (HvD).

TIEN GOUE JARE LATER

‘n Bekende Engelse omroeper wie se naam my nou ontgaan het, het vir hom ‘n monumentjie gebou met sy kreatiewe “verengelsing” van die Latynse spreuk tempus fugit – die tyd vlieg.

Hy (was dit dalk Eric Egan?) het dit omskep tot “tempus is fugitting like mad”.

Die tyd vlieg inderdaad dat dit bars. ‘n Dekade vlieg daarheen asof dit maar ‘n kort skoffie is.

Op 19 Februarie 1998, tien jaar gelede, is ‘n dinee in die Mount Nelson gehou om afskeid te neem van Hennie van Deventer, uitvoerende hoof van koerante.

Die Drie Tenore het gesing – so hard gesing dat Jeff Malherbe, ‘n direkteur van die Pers, later versoek het hulle moet nou ophou, asseblief. Ek was vieserig vir Jeff. Dit was tog my aand.

Ton het gepraat en mooi dinge oor die uwe kwytgeraak. Ek bere daardie toespraak iewers in ‘n laai vir ‘n huldeblyk wanneer dit nodig raak. Toe praat ek. Toe gee hulle my ‘n skildery van Tafelberg deur Dale Elliot (met ‘n boom op wat ek nie ken nie). Daarmee was ‘n loopbaan van 35 jaar iets van die verlede.

Agterop die spyskaart het ek geskryf: Ek was gelukkig om op die regte tyd op die regte plek omring deur die regte mense te wees. Daardie woorde geld my hele loopbaan. Dit geld veral my 12 jaar as redakteur van Die Volksblad en vyf as hoof van koerante.

Dit geld ook die span wat in my laaste jare die topbestuur van Naspers gevorm het. Wat ‘n voorreg om met manne van die stoffasie van ‘n Ton Vosloo, Eric Wiese, Salie de Swardt en Helgaard Raubenheimer in die Nasperssentrum aan die Heerengracht in die tuig te staan.

Dit was ook die span wat die aand saam met my en Tokkie in die Mount Nelson aangesit het.

‘n Rukkie gelede kry ek die idee om hulle weer saam te trek vir die herdenking van my tien jaar as los … los … wat sal ‘n mens dit nou noem om nie politiek inkorrek te wees nie?!

Gelukkig kon almal die datum op hul programme inpas. Dis nogal ‘n wonder want die klomp is gedurig op reis na eksotiese plekke, Dis net ou Hennie en ou Tokkie wat met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Op Dinsdag 19 Februarie 2008 kom ons toe saam by Penguin Place 11, Melkbosstrand. Die foto hierbo is daardie middag op ons stoep geneem. Van links is Helgaard, HvD, Eric, Salie en Ton. Die gades is op ‘n aparte foto.

Nog ‘n foto van die geleentheid is van Tokkie met twee skottels Weskuskreef – sulke dieprooi knewels. Ons het heerlik daaraan weggele saam met my knap vrou se ander lekker kos. Die Mount Nelson kan maar kom!

Voor die tyd en aan tafel het ons lekker gesels, baie gelag en vele “onthou-jy-nog-stories” gedeel. Koerantsake was hoog op die agenda. Ek gaan nie geheime verklap nie.

Een geskenk wat ek ontvang het, is ‘n bottel KWV-brandewyn 10 jaar oud – ‘n gewaardeerde simbool van my eie tien goue jare. Dankie, Salie.

Die immer kreatiewe Anet het uit Mayville, die Vosloos se herewoning in Oranjezicht, ‘n versie gebring met die titel ‘n Ode aan Hennie. Dit lui:

Daar was ‘n man met die naam van Hennie
hy’s nie ‘n ou wat aftree ken nie
Hy is ‘n man wat sy se wil se,
wat nie sommer maklik gaan le,
en wat nie glo die swaard is magtiger as die pen nie.

Dankie, Anet, dis woorde wat sterk aanklank vind by ‘n snaar in my hart.

In elk geval, die tyd drafstap inderdaad al hoe vinniger. In my geval is dit al op ‘n sterk galoppie – al lyk tien jaar vorentoe – 19 Februarie 2018 – nog ver-ver in die verskiet. Reken, dan sal ek al 77 wees. (HvD)

RAAMDASSE, KASDASSE EN DOOSDASSE

‘n Tekengrappie in ‘n Tukkie-joolblad van so vat-vat aan 50 jaar gelede spring skielik uit die vergetelheid kaplaks in my kop. ‘n Smous stoot ‘n waentjie in die straat en ‘n vrou kom hoopvol na hom aangedraf met ‘n swaaiende bra – as ek reg onthou, het ons toe nog van buustelyfies gepraat – in die hand. Die smous kyk haar meewarig aan: “No, lady, I said best prices paid for old brass (twee esse – bedoelende koper)!”

Tantor Coetzee was nog die tekenaar – wonder waar’s die ou Nataller met die groot lyf en ewe groot tekentalent nou.

Nou-ja, wat maak ‘n vrou met oortollige bra’s? Ek sou nie weet nie. Maar nog ‘n taaier probleem: wat maak ‘n man met sy oortollige (hardnekkige) dasse? Dis toe ek oor hierdie turksvy begin kopkrap dat die bra-prentjie voor my opdoem.

Ek praat van ‘n taaier probleem. Alte seker. Vroue dra nog bra’s – nuut of tweedehands. Daar sal altyd ‘n mark wees, want die jongste wilgerlatlyfie ontsnap nie vir ewig die meedoenlose voortgang van die tyd nie. Die das se tyd loop egter vinnig uit. Ek skat van die jonger geslag here se kasse is feitlik das-loos. Ouer here sit met rye dasse, maar knoop selde of ooit meer daardie smal strokie materiaal – wat eens so deftig geag is – voor onder die kin.

Ek besit drie klasse dasse. Dasklas 1 is my raamdasse (foto bo), dasklas 2 my kasdasse en dasklas 3 my doosdasse (boksdasse, as u wil). Met laasgenoemde is ek veral opgeskeep. Laat ek verduidelik.

In ons woonkamer (ook ‘n soort HvD-trofeekamer) op Melkbos is nege dasse netjies oopgespalk agter glas. Dis die dasse wat so plus-minus die storie van my lewe vertel: ‘n Van Deventerdas, ‘n Volkiedas. ‘n Kollegetehuis-das, ‘n Tukkiedas, ‘n Volksblad-das, ‘n Persgalerydas, ‘n Beeld-das. ‘n Nieman Fellow-das en ‘n UOVS-Raadslid-das. Oor hierdie dasse is ek sentimenteel.

Op die Van D-das verskyn ‘n familiewapen wat bestaan uit ‘n skild met drie horisontale bande (heroutstukke). Op die middelband is rose, rooi geknop. Die leuse kan mense wat die uwe ken dalk nogal kan laat glimlag: Ad Unitatem – Bevordering van Samehorigheid. Ons los dit maar daar.

Die Kollegedas vertoon ons koshuisgelukbringer Sarge Bourke by die Kollege-kanon. Daardie soliede geregsdienaar van sement is een aand in 1942 al gaan optel waar hy by ‘n huis in Gezina, Pretoria, oor ‘n beeldetuin van diertjies en dwergies en wat nog die wag gehou het. Sy naam is ook verewig in die Edel Roode-Bourkewyn wat Kollege op spesiale geleenthede soos sy 70ste verjaardag laat bottel het. Die noem van Sarge Bourke bring soete studente-herinneringe terug….

Die rooi Nieman Fellow-das is by die Coop op Harvard Square in Cambdridge, Massachsetts, gekoop – wat ‘n wonderlike winkel. Eweneens wek die das vele herinneringe aan ‘n onvergeetlike sabbatsjaar (76/77) in Harvard se poorte. In daardie jaar het ek Amerika leer bewonder. Dis ‘n groot land, nie net wat oppervlakte betref nie.

Dasklas 2 bestaan uit sowat 30 dasse wat op twee rakke in my hangkas hang. Ek dra maksimum 5/6 om die beurt kerk toe en omtrent nerens elders heen nie. Ek is een van die enigste roetine-dasdraers in die kerkraadsbanke. Die ander 24 versondig net my siel deur soms op die grond te beland as ek die kasdeure te vinnig toestamp.

Maar ek kan nie van hulle ontslae raak nie. Al is party ietwat verslete, is almal immers stylvol! Kyk, hierdie twee (van sy nogal) is in Londen gekoop; die silwer ene was deel van my bruilofs-uniform toe die kinders getroud is, nog ‘n silwer model is doop toe gedra, en twee (ook uit sy gesny, maar veels te breed bolangs om lekker te knoop) is uit Tokkie se winkel van destyds in Bloemfontein. Dan is daar verskeie rooi dasse (mooi dasse!).

Handelsname soos Fabio Milano, Vinuchy, Comme Soie deur Cravateur en selfs Pierre Cardin (my bontste das, die ene blomtuin) laat ‘n oumens tog darem ietwat vernaam voel.

Minstens ses stroppe het die een of ander Tukkie-verbintenis – wat seker vir my ‘n prys laat verdien vir lojaliteit aan die alma mater deur dik en dun. Een is my Laureatusdas – dit laat my lekker voel om hom daar te sien. Nog een is my Carel Boshoff-das – breed gestreep. Kollega Salie de Swardt het hom sy naam gegee n.a.v. verskeie TV-optredes deur die geagte regse professor, telkens met daardie streepdas onder sy adamsappel.

Dasklas 3 bestaan uit minstens 100, meesal van die varieteit korporatiewe das of klubdas. Hulle kom hoofsaaklik uit die 80’s – die goue era van die korporatiewe das toe die goed handevol aan goedgesindes uitgedeel is. Onthou julle nog?

Ek het in daardie doos gaan delf om afskeid te neem voordat Operasie Ontslae Raak in alle erns aangepak word. Toe ontdek ek dasse wat my darem aardig sal laat voel as hulle om enige hek hang – soos my ligblou Groot Trek-das (1838 – 1988) met die ossewa-motief, twee grensbesoekdasse wat uit die Bosoorlog dateer, dasse van Die Burger, Beeld en City Press, een van die FAK (lank lewe die Broederbond!) en een van die ATKV wat ek ‘n slag op ‘n jaarvergadering krities toegespreek het oor kultuurmense se vyandige koerantgesindheid in die ontuimige dekade 80.

In die doos is o.m. nog ‘n Harvard-das, ‘n Kovsiedas, ‘n Shimladas (deur die Kovsies se rugbymense om my nek gehang weens die een of ander welwillendheid wat bewys is), nog ‘n paar Tukkiedasse en die mooiste korporatiewe das van almal, Mondi se rooi diamantjiepatroon deur Giorgio – almal dasse wat by herbesinning te na aan die hierdie ou se hart le om sommer net uit sy lewe te laat gaan.

Al opsie, lyk my, is dan maar terug doos toe – tot anderdag, wie weet wanneer. Wat my ten slotte terugbring by my aanvanklike vraag oor wat jy met jou ou dasse doen. As jy HvD is, bere jy hulle klaarblyklik . So eenvoudig is dit. (HvD)

MORSEKODE, MORS(-IGE) KODE!

“Heyta da al julle leka dingetjies. Die naam is Adri en ek is di nuwe jeugwerkertjitji hie bydi kerk.

“Daar is n paar leka goetrs wat ons wil doen ini kwartaal soos soki hou, dalk n road trip, kamp. battle of the pool geeks, LAN- aande en moenie wory ni, di deurnagte gan nogsteeds da wees

“So, as julle verby di kantoor loop,ko groet, show ur beautiful face baby. Laat mens welkom voel hie man, hoe jo hart dan ?

“Mwah.”

Op Sondag 13 Januarie 2008 het hierdie ou gryse in die ouderlingsbank se hare omtrent orent gespring toe hy o.m. hierdie mededelings in sy (NG) gemeente se Nuusbrief sien. Hierdie harde inisiasie in sms-taal (fixit-taal?) was die begin van ‘n gemeentelike taalstryd waarin harde woorde al geval het.

Waar in die debat die uwe hom bevind, sal niemand wat hom ken seker vra nie. Een van die leraars wou weet of ‘n mens dit nie tog maar as ‘n nuwe soort morsekode moet sien nie. Daarop het ek vir hom kort en kragtig laat weet:

Goeie ou dae – morsekode; Nouse dae – morsige kode!

In elk geval, morsekode of morsige kode – ‘n kode is/was mos geen skryftaal nie. Eersgenoemde is ingespan om telegrafiese of radiografiese seine te stuur. Laasgenoemde se funksie is om bondige sms’e rond te blits. Dis al.

Kommunikasietaal op skrif met die jeug van ‘n gemeente? Kan mos nie wees nie.

Later het nog skokke gekom. “Enjoy Sondagskool! Mwah mwah A3’tji.” So is die jongklomp byvoorbeeld twee weke later aangemoedig.

Nog ‘n week later word ‘n Valentynsdans (dans!) aangekondig – “mwah mwah jule leka dingetjies”.

“Mwah mwah. Dit klink vir haar nogal verleidelik – so met die Sondagskool saam, ” is die rubriekskryfster Martie Meiring se kommentaar.

Maar alle grappies op ‘n stokkie. Is ek werklik ‘n verstokte ou reliek van ‘n verbygegane era as sulke goggas my so teen die bors stuit?

Buiten vir die klaarblyklike opvoedkundige implikasies – o.m. op die arme skole se stryd om ‘n nie-lesende kindergenerasie tog net te leer spel – sien ek immers in hierdie “morsige kode” ook verskeie ander rooi ligte.

Een van die kwellendste is die impak op dissipline. Ons kla graag oor dissipline wat oral by skole wyk voor wanorde. In dieselfde asem keur die kerk wanorde en dissipline-loosheid op die taalakker goed. Dit rym mos nie?

Liewe blog-lesers, ek wil julle nie verveel nie. Ek hou my storie kort en bondig. Moet darem net meld dat ek my vasloop in argumente soos dat hierdie sogenaamde “idioom van die jeug” kinders teruglok kerk toe. Alle ander oorweginge is dus sekonder.

Bring egter asseblief tog vir hierdie “oom” wetenskaplike bewyse dat prysgawe van taalstandaarde al iewers die towerstaffie was wat die jeug vir die kerk herower het. Watter gesaghebbendes kan aangehaal word? Watter ander gemeentes dien as model? Watter steekproewe is gedoen, ook onder die jeug self?

Moet die kerk dan agter elke nuwe smaak aandraf om kinders se guns te probeer wen? As die “smaak van die dag” is om openlik ‘n dampie te slaan of met dwelms te eksperimenteer, geen ons dan ook maar toe omdat “dit is wat die jeug wil he?”

Ek is 67, grys, passievol oor my taal, besorg oor kommunikasie-vaardighede wat onheilspellend tuimel en ongemaklik met allerlei nuwerwetsighede in die kerk. Dis teen daardie agtergrond wat ek hier hard en duidelik wil se: ek glo die kerk se taak is om die brood te bring, nie om vulsels na elke smaak aan te bied nie.

Want as jy eers begin toegee en toegee, beland jy op ‘n gladde glybaan. Waar trek verantwoordelike grootmense uiteindelik die streep?

Vir my lyk dit regtig of ons te maklik na strooihalms en foefies gryp. Die vraag is: wat gaan ons doen as ons na ‘n jaar ontdek ons het agter ‘n eendagwonder aangehardloop? Hoe gaan ons die gedane skade dan omkeer? En skade is onvermydelik as selfs die kerk nou al begin leer ons kan maar met spelling bak en brou soos ons lus het.

“Anything goes,baby. We’re cool, man, cool. Mwah.mwah!”

My e-pos-adres is hvandeventer@mweb.co.za . Pak my daar oor hierdie standpunt as julle wil. Ek belowe om kennis te neem van alles wat na my kant toe geslinger word – en daarop te reageer. (HvD)

VIR VALENTYNSDAG

Die Spaanse minnesanger Julio Iglesias het gesing: To all the girls I loved before..

Met sy trefferliedjie as my inspirasie, hiermee ‘n bossie rooi rose vir al my meisies van toeka tot nou.

Toemaar, toemaar, ek doen geen belydenis nie en ek lap ook geen geheim uit nie. Tokkie is al op die huidige horison. Sy is dit al vir 41 jaar. Maar in die v.T.-tyd was daar darem een of tweetjies wat ook pragtig en deksels oulik was.

Julle mag ook die geur van die rose saam inteug, meisies!

Oor die ontstaan van Valentynsdag bestaan natuurlik baie legendes. Soveel bronne, soveel weergawes.

Een storie wil dit he dat die oorlogsugtige Romeinse keiser Claudus II geglo het: ‘n verliefde soldaat is ‘n vrot soldaat. Hy vaardig toe ‘n verbod uit op huwelike van al sy weerbare manskappe.

Die goeie priester Valentyn se hart het gebloei vir die verliefde jong paartjies. Hy plaas toe sy lewe op die spel om hulle in die geheim, agter Claudius se rug, in die huwelik te bevestig.

Hierdie ou is al lank nie meer ‘n weerbare manskap nie. Maar hoera! vir Valentyn. Uit solidariteit met hierdie ridder van die liefde die volgende versie uit Penguin Place 11:

Keiser Claudius II had baie mag,
Hy bulder uit met groot gesag:
Basta trou – die slagveld wag;
Maar Valentyn se hart was sag,
Hy laat die bruidjies laaste lag!

Vrolike Valentynsdag Donderdag 14 Februarie.

(HvD)