Dit lieg jy mos!

Mens, dit lieg jy mos , se Katryn van Kakamas oor my lys pryse wat ek al in wedstryde gewen het (HvD se blog van so ‘n dag of drie gelede).

Wel, Katryn op die foto is die twee motors: bo die manjifieke Dodge SE (1972) met vroulief, Tokkie, agter die stuur en onder die spoggerige tweedeur-Valiant

Charger (1973) met ons seun , Johan, wat om die deur loer.

Ek het ook foto’s van die erf in Roodepoort en die vakansie by die Victoriawaterval, as jy nog getuienis soek. Die skottelgoedwasser het ek nie afgeneem nie.

Dan ontdek ek nog ‘n foto van my en Johan, elk met ‘n paar Pulsar-polshorlosies aan die arm. Ek het die goed gewen, vier of vyf, in ‘n wedstryd van Datsun (nou al lank herdoop tot Nissan) en nou die dag skoon daarvan vergeet.

Katryn vra: Hoe op deeske aarde is so iets moontlik?

Die storie van die twee karre (binne twee maande!) is opgeteken in my boek In Kamera in ‘n hoofstuk wat daardie boeke-orakel Cecile Celliers as “vervelig” beskryf het. Ek verveel nie graag lesers van hierdie blog nie; dus vat ek maar kort.

Die Dodge het ek gewen met ‘n limeriek oor die Nasionale Party (25 jaar na 1948) wat voltooi moes word:

Vir 25 jaar ‘n wakker party
wat gereeld die Opposisie
met mening kasty,
Nasionaal is sy naam,
hy kan baie hard slaan ,
dierie-diem-dieriediem, dieriedy.

HvD se wenstrofe (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely.”

Die beoordelaars, onder wie prof. Carel van Heerden van die U.V. het geoordeel dit het vers-tegniese meriete, en toon ook die beste verband met ander elemente, soos “slaan” en “kasty”, ens.

Later het dit my ore bereik dat Piet Aucamp, hoofsekretaris van die NP, buite homself was toe hy hoor die nuusredakteur van Die Volksblad wen die kar. Hy het geglo mense sal dink daar’s gekook. Hy wou opsluit ‘n ander wenner he. Die beoordelaars het vasgeskop. Hulde aan hulle – dit was ‘n heerlike kar!

Kort daarna was ek in Londen. Ek en my Londense kollega Chris Moolman sou die aand gaan rondloop. Toe hy by hotel aan Trafalgarplein kom, wil hy weet wat ek gaan doen met die kar wat ek gewen het. “Nee, ek ry hom,” antwoord ek. Eers toe kom hy uit met die storie daar’s ‘n tweede ene.

Hierdie keer was dit ‘n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op Johan se naam ingeskryf. Die begeerlikheid van die Charger het ek soos volg beskryf: “Vir die oog ‘n fees en so sterk soos ‘n bees, waarlik ‘n spogwa om trots op te wees.” Ongelukkig het ek die opbrengs vrot bele. In ‘n enkelpremie-polis! Johan kon ‘n beter slag geslaan het.

Vir die skottelgoedwasser moes ek ‘n wolhaarstorie uit my duim suig. Dit was iets in die trant van die vlieende piering wat na ‘n lang reis deur die ruimtes op aarde aangekom het. Die bevelvoerder soek toe ‘n “skottelgoedwasser” om sy tuig skoon te kry. “Maar dit moet ‘n General Electric wees,” dring hy aan. “Ek soek die beste – die piering is baie vuil.”

Victoria-watervalle toe is ons op Tanganda Tea se rekening. Die het ek beskryf as “the toast of teas”.

Vir die erf (hierdie keer op my ma se naam) moes ek ‘n reeks eienskappe van die mooi Wes-Randse dorp in volgorde van belangrikheid rangskik en ‘n slagspreuk skryf. Die wenpoging was iets soos volg: “Daar’s rus en vrede in Roodepoort se golwende groen heuwels.”

Slaan my dood, maar ek kan nie onthou hoe ek die Pulsars ingepalm het nie.

Slotsom: dit kon gedoen word (met die klem op die kon). Maar sulke “geluk” val nie uit die lug nie. Jy moet jou grysstof inspan!

Hoor jy, Katryn? (HvD)

(Naskrif: Ek moes eintlik ‘n foto gebruik het wat Tokkie se mini wys waarmee sy haar kar gaan haal het. Die wenner was daardie oggend nog fraaier as die prys!)