Dec 7, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

Op die NG gemeente Melkbosstrand se kerkalmanak vir 2008 verskyn die kerkgebou uit ‘n ander hoek – weer geskilder deur lidmaat Maré Bruwer en, soos haar vorige skilderye van die kerk, uiters vleiend. Jy kan die argitek (en die kommissie wat die planne goedgekeur het) gewis nie ‘n pluimpie gee vir hul estetiese waardes nie!
Dit daar gelaat. Die gebruik van die kerk as illustrasie by vandag se bydrae verklap natuurlik dadelik dat dit hier weer tyd is vir kerksake. Ek vra nie verskoning nie. Anders as baie mense se (wantrouige) vermoedens oor joernaliste – kan koerantredakteurs Christene wees, wou een ver-regse dominee in die onstuimige jare tagtig op ‘n keer driftig weet – is die kerk nie vir ons onbelangrik nie.
Verskeie dien in kerkrade, selfs in leiersposisies; oud-kollega wyle Fred Schnetler was aktief betrokke by die gemeentepublikasie van die NG moedergemeente op Malmesbury (ook Ben van Rensburg op Langebaan, Johan de Wet in Roodepoort en seker verskeie ander is deesdae “gemeentejoernalisteâ€) en ek neem graag deel aan kerklike debatte.
Die Burger het – ietwat prematuur, meen ek – die debat in sy briewerubriek oor Belhar gesmoor. In Kerkbode is die debat egter baie lewendig, In die jongste uitgawe skryf o.a. dr. Johan Botha, sekretaris vir Getuienisaksie van die NG Kerkfamilie in Kaapland, ‘n brief wat dadelik my aandag getrek het. Die opskrif is: Gods Gees het ons omgedraai.
Terwyl ek vanoggend op die strand stap, het ‘n reaksie in my kop begin broei. Ek is later rekenaar toe en my brief lê nou by Kerkbode. Ek plaas dit ook hier, want ek skat nie daar is ‘n vreeslike oorvleueling van leserskap nie. Hier volg my brief:
In Kerkbode van 7 Desember 2007 skryf ds. Johan Botha ‘n betekenisvolle brief waarin hy onder meer melding maak van “onverkwiklike en pynlike bydraes van dese en gene in die media oor die rol van Belhar….â€
Oor Esselenpark, Achterberg en sinodes merk hy o.m. op:
“ Gods gees het …. onder ons vaardig geword . Teen ons eie sin en wil is ons diep geraak …. ons kon as leierskappe …. op ’n roete ooreenkom, want die Gees het ons harte vir mekaar oopgesluit….â€;
“Dit is so, ons was nie almal daar nie. Maar as breë kerkleierskap, het ons ‘n wonder van die Here beleef.â€
Ek noem dit ‘n betekenisvolle brief omdat ds. Botha raakvat wat toenemend in die kerk aan die gebeur is: dat by sinodes te midde van spirituele belewenisse met groot impak op die teenwoordiges bepaalde koerse ingeslaan word. “Dese en gene†wat nie daar was nie, beoordeel kwessies meer beredeneerd, serebraal en uit ‘n realisties-praktiese hoek. Hul bydraes word dan deur dié wat wel “daar wasâ€, as “onverkwiklik en pynlik†beleef – koud, liefdeloos en eiesinnig.
Ek praat met die beperkte ervaring van een sinode, maar ek kry die indruk die styl wat daar by Goudini gegeld het, is deesdae algemeen: dreunsang wat jou hoendervel gee, aangrypende kleingroepie-gebede en meesleurende “gospelâ€-bydraes deur kunstenaars met charisma. Die klem val al hoe meer op atmosfeerskepping en spirituele opwekking eerder as op rasionele uitpluis van praktiese kwessies en debat.
Natuurlik kan ‘n mens nie meerdere kerkvergaderings se klem op die opsoek van die Here se aangesig op daardie innige, intieme manier per se negatief beoordeel nie. Die gevolg van besluitneming in sulke omstandighede is egter klaarblyklik: kampe wat ver by mekaar verby praat en toenemend polariseer.
Vir my en ander wat van hul eie studeerkamer-insigte afhanklik is, sou sinodale leiding oor “kerkhereniging†meer gewig gedra het as daar groter praktiese begronding was: as sake wat enorme tweespalt en krisis kan bring – die koste van die hele oefening, aansprake op die gesamentlike koek, eiendoms- en pensioenkwessies, samestelling van leierskap-strukture en dies meer – reeds realisties en deeglik deur die kerkleierskap deurtrap en op bevatlike, logiese manier aan gewone lidmate deurgegee was.
Ek kry ongelukkig die indruk dat van ons kerkleiers met hul koppe in ‘n wolke-waas loop. Hulle hoor en verstaan nie meer die lidmate wat in hierdie gebroke ou wêreld met hul voete plat op die aarde staan en met menslike vrese, bekommernisse en twyfel worstel nie. (HvD)
Dec 5, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

Op Oujaarsdag, 31 Desember, is dit presies 41 jaar sedert ek, swetend in ‘n swart wolpak, voor die kansel in die moederkerk op Bultfontein gestaan het met my pragtige jong bruid, Tokkie, aan my sy. Vandag moet ek my hoed vir haar afhaal, want dat sy 41 jaar by my uitgehou het, getuig van haar stamina.
Die laaste tien van die 41 jaar se huwelikslewe is deels op Sabiepark geslyt. Daar in die bos is sy ‘n voorslag. In Olifante Onbeperk, ‘n self-gepubliseerde boekie oor die tien jaar in Sabiepark, diep ek veral ons herinneringe aan olifante en olifant-ervarings daar langs die Sabierivier op. Onthou, dis waar Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant hul ontstaan gehad het.
Die boekie, met dagstukkies en hope olifantfoto’s, is aan Tokkie opgedra in ‘n proloog wat volgens my vriend Chris van Rensburg van Bloemfontein ‘n ode aan Tokkie is. Ek meen dit is gepas om aan die vooraand van die huweliksherdenking daardie “ode aan Tokkie” hier te herhaal – ook die (kenmerkende) foto van haar met verfkwas in die hand, besig om ons bos-Eden se naambord op te knap. Tien jaar se Bosveldson werk met selfs ‘n goeie stuk swarthout se gal!
Hier is dan wat in Olifante Onbeperk oor my vrou opgeteken is – en dit kom uit die hart:
“Tokkie van Deventer is die hart en siel van Tarlehoet. Sy was dit van dag een af. Sy is dit steeds na tien jaar. Hierdie boekie kan aan niemand anders opgedra word nie.
“Om ‘n huis in die ongerepte bos in stand te hou, is geen grap nie. Dis klipharde rugbreek-werk en verg buitengewone bestuursvernuf. Tokkie skrik nie vir werk nie. Sy is die uithaler-nutsman wat alles kan regdokter terwyl haar man met ditjies en datjies poer-poer. Sy’s boonop een van die bekwaamste bestuurders wat ek ken: ‘n raakvatter met ‘n skerp oog, gesonde oordeel en rotsvaste respek vir orde en metodiek.
“Sy is ‘n virtuoos met haar self-geprakseerde “bos-kreepy-krauley”. Ek wonder hoeveel duisend blaartjies (en hoeveel liters onsuiwer swembadwater) sy al deur daardie stuk tuinslang, vasgewoel aan ‘n langerige stok, opgesuig het. Sy weet alles van verwe en vernisse. As die verf te lig is, kleur sy dit sommer met kitskoffie tot die perfekte skakering. As ‘n kraan se wasser die gees gee, tower sy lag-lag ‘n plaasvervanger uit ‘n velskoen se riempieveter.
“Sy bestuur die septiese tenk (‘n sensitiewe affêre) met ‘n ysterhand; hou die slotte ge-olie sodat roes dit nie verteer nie; verdryf die goggas met haar “Doom Foggers” aan ‘n besemstok (om hoog by te kom); hou – soos ‘n wyse “maagd” – die lanterns vol lampolie, voer ‘n ewige stryd teen die miere met passie en geduld, munt uit as slangjagter en is ‘n bobbejaanverskrikker sonder weerga (wat ‘n onaardse lawaai met ‘n braaipan of kastrol kan voortbring).
“Tussenin bederf sy haar nagapies (stapels gekerfde piesang) en Witnek, die bejaarde resident-duikertjie, (hande vol pitjies) met ‘n hart vol moederliefde.
“Sonder Tokkie sou Sabiepark vir ons ander nie só lekker gewees het nie. Trouens, sonder Tokkie sou dit niks lekker gewees het nie. Punt.”
Hierdie is nie die eerste hulde wat ek oor my vrou op skrif sit nie sodat dit as getuienis teen my gebruik kan word. In In kamera word ’n hele hoofstuk aan haar gewy. Die titel, Die beste ding, verklap die kern daarvan.
Toe sy op 15 Maart 2006 60 jaar oud word het ek met behulp van die briljante Ollie Olwagen vir haar ‘n eie webwerfie op die been gebring. Ook daardie hoofstuk oor Die beste ding kom daarin voor, plus ‘n klompie versies en foto’s en wat nog. Die musiek – Ollie se keuse – is wonderlik. Gaan besoek daardie spesiale Tokkie-werf via www.hennievandeventer.com Kliek net op die balkie Tokkie 60 en siedaar: die hele Tokkie60 val voor jou oop. Moenie die luidsprekers vergeet nie!
Op die tuisblad van www.hennievandeventer.com is ook ‘n balkie Nog Tokkie. Dit neem ‘n mens na ‘n foto-album van mev. Van Deventer, van kleintyd op Bultfontein af toe sy nog die rondste ronde gesiggie gehad het.
Op daardie tuisblad is ook ‘n waterverfie van TvD in die gewaad van ‘n engel met ‘n verfblik en ‘n kwas in die hand. Dis ‘n opdragwerk deur my vriend Pierre van Manen vir haar 60ste. Engel met ‘n verfkwas het sy oorsprong in die kinders se spottery dat hul ma, as sy in die hemel aankom, dadelik sal begin rondkyk waar verf nodig is! (HvD)
Dec 1, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

Op my webwerf, www.hennievandeventer,com is ‘n balkie “KERKâ€. ‘n Kliek daarop bring ‘n mens by ‘n onvoltooide manuskrip met nog ‘n of/of-titel: Die een of is: Moenie skeur nie, dis ons kerk. Die ander is: Kerk op die voorblad.
Die boekie volg die pad wat ek met die Kerk geloop het sedert ek in 1957 op Potchefstroom in die moedergemeente (waar voor ek – voor die groot brand – op die foto staan) by die bekende dr. Beyers Naude belydenis van geloof afgelê het. Ek skryf oor my ervarings met die Kerk as ‘n gewone lidmaat vir 50 jaar – die langste verbintenis wat ek met enige instansie het – en as joernalis, uiteindelik dagbladredakteur, in turbulente tye.
In die manuskrip is heelwat oor my eie rol om die Kerk se denke, o.m. oor die netelige kwessie van kleur, te help verruim. Al moet ek dit self sê, kan ek klaarblyklik op grond van vorige bydraes kwalik beskuldig word dat ek ‘n remskoen vir groter eenheid is.
Iemand wat die moeite wil doen om daardie manuskrip te gaan lees, gaan dus waarskynlik my huidige standpunt oor veral die omstrede Belydenis van Belhar vreemd vind. Dit besef ek goed.
Ek raak egter toenemend vervreemd deur pogings uit die Verenigde Gereformeerde Kerk om Belhar as ‘n pistool teen die N.G. Kerk se kop te hou. Ek vrees ook toenemend dat Belhar die potensiaal het om die N.G. Kerk bitter seer te maak – dat ‘n groot wegstroming van daardie soort lidmaat wat die bestendige ruggraat van baie gemeentes vorm, kan voorkom.
Reeds in die manuskrip het ek na Belhar verwys as “‘n belydenis wat vir baie wit broers en susters alte veel politieke bagasie in hom omdra.†Ek het bygevoeg: “Die naam Allan Boesak is verreweg ook nie oral in N.G. kringe geliefd nie. Boweal skep die kwessie van ‘n bestaan in twee wêrelde met ingrypende verskille in kulture, standaarde en gebruike ‘n moeilik oorbrugbare kloof.â€
Verlede week het ek n.a.v. ‘n rubriek uit die pen van dr. Allan Boesak in Die Burger se briewerubriek weer kommentaar op Belhar gelewer. Syne was ‘n poging – met verdienste – om Belhar se klem op die armes uit ‘n teologiese hoek te motiveer. My standpount was dat hy, met respek, nie die kernredes vir die groeiende verset teen Belhar aangespreek het nie.
Die Burger vereis briewe van 400 woorde of minder. Ek moes dus sny. Hier volg die volledige oorspronklike bydrae oor die redes vir die verset, soos ek dit sien:
“Soek die redes binne politieke konteks, in persepsies wat oor jare in die harte van baie N.G.-lidmate vasgegroei het, en in die simbool van bedreiging wat Belhar geword het vir ‘n laaste stukkie eie leefwereld van mense wat in net meer as tien jaar reeds baie moes prysgee.
“Feit is dat die belydenis in hul oë in ‘n politieke konteks ontvang en gebore is. In die tyd en omstandighede toe Belhar deur die ou Sendingkerk en die V.G.K. omhels is, was teologie en politiek inderdaad so verweef dat dit feitlik onmoontlik geword het die belydenis van sy sware politieke bagasie te bevry.
“Ten tweede die persepsie. Dat Belhar ‘n eiesoortige kerklike “anti–apartheidsvlag” is wat gehys het, is ‘n indruk wat, reg of verkeerd, uit die staanspoor posgevat het. Die V.G.K kan stry, maar deur die jare het hy nie juis uit sy pad gegaan om daardie persepsie uit te wis nie. Huidige strydvaardigheid oor die ononderhandelbaarheid van Belhar vir kerkhereniging en die onwrikbaarheid om dit, kom wat wil, aan die N.G. Kerk op te dwing, sal ingewortelde persepsies net nog vaster in sement giet.
“Ten derde, moet begryp word dat hul kerk vir ‘n groot gros N.G.-lidmate ‘n laaste uiters waardevolle bastion is waarin die eie identiteit, karakter, kerklike tradisies en kultuur, verwagtinge, gebruike en standaarde uitgeleef kan word. Belhar is vir hulle die belhamel van ‘n aanslag daarop en lok derhalwe, heel verstaanbaar, ‘n sterk emosionele weerstand uit.
“N.G.-lidmate is oor die algemeen nie weerspannig ekskluwisties nie, volgens my waarneming. Trouens, die strewe tot uitreiking, samewerking en selfs gestruktureerde insluiting van “nuwe” lidmate uit ander groeipole staan in verskeie gemeentes hoog op die voorranglys – solank dit net nie via Belhar hoef te geskied nie.
“Al spel hulle dit nie eens vir hulleself in daardie terme uit nie, voel lidmate immers instinktief aan dat Belhar die dun end van die wig is. Word Belhar maar ter wille van die goeie vrede en vir groter harmonie gesluk, beteken dit die einde van die N.G.Kerk in huidige gedaante. ‘n Groot Kerk soos sy lidmate hom ken en lief het, verdwyn. ‘n Geheel nuwe Kerk met ‘n vreemde naam en ‘n ander lidmaatbasis kom tot stand. Die laaste bastion het getuimel.
“Dit sou baie struikelblokke uit die weg ruim as N.G-.lidmate gerus gestel kan word dat hulle nie die verdwyning van hul Kerk, sy naam en sy modus vivendi hoef te vrees nie. Om dit te bereik, sal ander brugbou-modelle geprakseer en oorweeg moet word as die enkelvoudige eenwordingsmodel wat nou op die tafel is.
“Voordat daardie besef nie deurgedring het nie, gaan sogenaamde “hereniging†ongelukkig nog met baie stampe en stote gepaard gaan, en gaan die N.G.Kerk uiteindelik die lydende party wees, vrees ek.†(HvD)
Dec 1, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

O gaats, daar gaan my ryding (lasbrief uit Magareng), my rekenaar (lasbrief uit Leekwa Teemane) en my TV-stel (lasbrief uit Emakhazeni) … en die balju dreig bloeddorstig: hy kom volgende week weer. Nuwes goeters gaan koop, kan ek maar op my maag skryf en met my hempie doodvee, soos my ouma sou gesê het, want die naam Jakob Hendrik van Deventer is op die “swartlys”. Ellende op ellende!
Sê weer, sê u. Goed, hier kom dit: dis die Wet op Administratiewe Verrigting van Padverkeersmisdrywe van die Nasionale Departement van Vervoer en die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK) wat so vir dese en gene smarte gaan veroorsaak. Dié drakoniese wet tree in 2008 in werking, en behels o.m. dat beslag gelê kan word op die roerende bates van motorryers wat na drie maande nog nie hul boetes betaal het nie. Oortreders kan glo ook by kredietburo’s geregistreer word, as ‘n mens Die Burger kan glo.
My keel trek toe, want ek moet boete doen – die stapeltjie “kennisgewings” rakende verkeersake is hier in Penguin Place 11 al heel frisserig. Hier is die lysie boetes wat ek om die een of ander rede in my Boetes-legger bewaar:
Magareng (Warrenton) – R800,000 en R150,00
Lekwa Teemane (Bloemhof) – R100,00
Emakhazeni (Belfast) – R250, 00 en R500,00
Mbombala (Witrivier) – R200,00
Richmond – R600,00
Swellendam – R150,00 (dis waar die netjiese kleurfoto van ‘n “voortsnellende” TY 24 hierbo deur ‘n wakker padvalk geneem is.)
Beaufort-Wes – R200,00 en R200,00
Laingsburg – R300,00 en R200,00
Kaapstad – R 250,00
Malmesbury – R150,00
Die totaal is ‘n verstommende R4 050,00. Voeg petrol- en tolgeld by (plus die verweer van jou motor en bande) en om agter die stuur in te skuif, word ‘n peperduur speletjie!
Nou weet ek wat wetsgehoorsame burgers se reaksie op my belydenis sal wees: wie nie wil hoor nie, moet voel! Maar wag ‘n bietjie, mense, gee die uwe tog net kans om te verduidelik. Glo my, ek is werklik geen roekelose jaagduiwel nie. Dit raak darem seker ‘n perd van ‘n ander kleur as ek met my hand op my hart kan verklaar dat slegs een van daardie boetes vir ‘n snelheid van meer as 120 km per uur was. Die grootste gros is in 80-sones versamel, ‘n paar in 60-sones en een – waaroor ek vantevore gerapporteer het – oor my nommerplaat.
En die meeste het ek darem al geheel of gedeeltelik betaal, terwyl in een geval (die nommerplaat-sage) die saak teruggetrek is en oor ‘n paar ander nog korrespondensie heen en weer gewissel word.
Oor al die 60- en 80-sones wat soos hare op ‘n hond se rug landwyd opspring om agtelosige voetgangers te beskerm, het ek sterk gevoelens. In vreemde omgewings is die oorgang van een spoedsone tot ‘n ander dikwels verwarrend. Jy dink nog jy moet 80 ry, dan sien jy – o gonna! – hier is dit 60. Dikwels is die een bordjie so kort op die ander dat dit onmoontlik is om jou snelheid vinnig genoeg te verminder tensy jy rem dat dit bars. Dikwels is bordjies so weggesteek dat die versigtige bestuurder wat op die pad konsentreer, dit eenvoudig miskyk.
My twee Warrenton (Magareng)-spoedoortredings is twee minute na mekaar gepleeg, albei in ‘n 60-sone. Om 09:15 op 7 September 2007 het ek glo 74 gery en om 09:17 ‘n hele 99. Buiten vir die aktuele vraag of ek nie hier twee keer beboet is vir een en dieselfde oortreding nie, lyk die tweede lesing vir my nogal betekenisvol. Klaarblyklik was ek besig om aan te stoot onder die indruk dat ek maar weer 120 kan begin ry. Maar verduidelik dit nou vir iemand wat nie wil of kan verstaan nie!
Wat ek graag sal wil weet, is of kameras ook in tydelike sones opgestel word – soos wanneer padwerke aan die gang is. Daardie tydelike bordjies kan immers na willekeur rondgeskuif word. Veral oor naweke lê van hulle in strepe plat soos ouens hulle omry. Maar omdat die oortredings (beweerde oortredings) dikwels honderde kilometer van jou huis gepleeg word, is dit onmoontlik om te gaan kyk presies waar en in watter omstandighede jy gevang is. Dan dok jy maar op, of versondig jy jou siel met die rig van vertoë.
Ek vra, want in die Karoo, tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka, sou die verkeer een Sondag vir 30, 40 kilometer teen ‘n slakkegang beweeg het as ons ons aan die bordjies gesteur het. By padwerke wat feitlik klaar was, was ‘n 80-bordjie en toe ‘n 60-bordjie maar gedoriewaar nooit weer ‘n bordjie met die blye nuus dat jy weer normaal kan ry nie. Almal het toe maar aangestoot – bordjie of nie bordjie nie. Gelukkig het geen “kennisgewing” opgedaag nie.
Een indruk waaraan ‘n mens moeilik ontsnap, is dat boetes van deurverkeer vir sekere munisipaliteite aan die hoofroetes ‘n substansiële inkomstebron geword het. Hulle vang jou nie t.w.v. padveiligheid nie, maar om hul munisipale koffers te sterk. Een so ‘n plek is Beaufort-Wes. Ek kruip al uit beleid deur daardie mooi Karoodorp soos ‘n trapsuutjies, maar dan trap hulle my nog telkens vas. Is dit nie duskant die dorp nie, dan daar in die Wawiel se omgewing. Elke keer so ‘n ietsie oor die 60.
En. Boeta, probeer nou onderhandel. Jy moet ‘n 011-nommer skakel – Johannesburg. Daar gee mense soos me. Charity Timema in gepoleerde stads-Engels antwoord. Daarna word jy in ‘n tou gerangeer soos by die wafferse oproepsentrum van die een of ander groot firma. Dan begin jy wag … en wag … en wag.
Ek weet dis onwys om te sê: fonteintjie, uit jou drink ek nie weer nie. Maar ek ooit weer agter die stuur inskuif vir die tog noorde toe? Skiet my dood. Dis baie goedkoper en vir jou siel gesonder om te vlieg – selfs met die risiko dat een (of meer!) van die motore kerplaks uit die hemele kan neerstort! (HvD)