Dec 16, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Ek het die sneeufoto hierbo gaan opdiep met ‘n doel.
Hope Kersboodskappe daag in hierdie dae per e-pos op. Veral een het my en Tokkie getref. Ek wou dit graag hier verder versprei en die foto van Johan (5) en Marisa (3) daaraan koppel.
Ongelukkig slaag ek – soos met Toekie se kaartjie in die vorige joernaal – nie om dit hierheen oor te plaas nie.
Die tema is hoe geseend ‘n mens is as jy ‘n dak oor die kop het, relatief gesond is, sonder vrees kan kerk toe gaan, leesvaardig is, ens. Dit is die uitverkorenes met wie dit so goed gaan.
Die boodskappies verskyn op die skerm soos ‘n mens van foto tot foto blaai – tipies Amerikaanse wintertonele. En op die agtergrond sing Elvis Presley (ja die nimlike!) Stille Nag. Laat niemand my probeer wysmaak die man het nie ‘n stem en kan nie sing nie.
As iemand gretig is om die boodskappies te lees, die foto’s te sien en Elvis se Stille Nag te hoor, stuur gerus vir my ‘n e-pos na hvandeventer@mweb.co.za
Ek sal dit graag die nodige distribusiewerk doen.
As ‘n troosprysie ‘n alternatiewe “sneeu-boodskap”. Klik op die webwerf http://www.thecompassgroup.biz/merryxmas.swf
Dit neem jou na ‘n Kersvader en ‘n koor van takbokke wat die ou treffer White Christmas vertolk. Die weergawe is glo die van die Drifters van 1954 rond.
Terloops, daardie foto van Joan en Marisa in die strate van Cambridge is op 26 Desember geneem, want op 25 Desember was daar g’n teken van sneeu nie. Toe ons die 26ste ontwaak, was dit in ‘n wit wonderwereld.
Ek het al voorheen gemeld dat ek nog nooit in Kerstyd so naby aan die Vader gevoel het soos in daardie sneeulandskap in die verre VSA nie. Dis die reine waarheid. (HvD)
Dec 14, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

Met hierdie skitterende beeld van die Kerstoneel (hierbo) wat met Michelangelo se kunssinnigheid en Job se geduld uit seesand geskep is, wens Hennie en Tokkie van Deventer almal wat hierdie webjoernaal in die volgende tien dae opsoek, ‘n vreugdevolle Kersfees toe. (Ons is gelukkig nog nie so politiek korrek dat ons julle net “feesgroete” of iets dergeliks toewens nie!)
Jammer, Melkbos is nie die herkoms van die betrokke seesand of strandkunstenaar nie. Ek het die foto al ‘n jaar gelede op Yahoo raakgeloop en gebere. Dit vorm vanjaar ook deel van ons gedrukte Kerskaartjie. Maar die onderskrif het ek ongelukkig verlore laat raak. Oor die wie-en-wat’s sal julle dus maar moet raai.
Vir diegene met klein kindertjies (en vir oupas en oumas!) wou ek graag hier ‘n vrolikheidjie invoeg. Dis ‘n buitengewone digitale Kerskaartjie wat ‘n oud-kollega, Toekie Oberholzer (nee Conradie), een keer uit Australie aangestuur het. Die tweeling is mal daaroor – ek moet dit oor en oor vir hulle oopmaak. Eers was twee keer op ‘n slag genoeg; nou dring hulle drie vingertjies in die lug aan op ‘n toegif!
Hoekom weet ek nie, maar die ikoon waarop ‘n mens moet dubbelkliek om die “kaart” oop te maak, het eenvoudig verseg om hom hierheen te laat verskuif. Al wat ek kan aanbeveel, is dat mense wat lus het, vir my ‘n e-possie stuur na hvandeventer@mweb.co.za . Dan stuur ek die kaartjie onverwyld.
Nog ‘n vrolikheidjie is die takbok-konsert op die volgende webwerf:
http://joecarr.ca/xmas/graphics/icqxmas.swf
Hoop dit maak oop en julle geniet dit.
Mag julle almal hierdie Kerstyd groot vrede in die hart ervaar – en onthou tog twee dinge, mooi asseblief:
(i) Daar is regtig nie iets soos ‘n Kersgety nie. Dit kom van die Engelse Christmas tide. Die see het getye. Ons praat ook van jaargetye. Maar Kersgety? Aikona. Praat liewer van Kerstyd. Dis kort en kernagtig en mooi Afrikaans.
(ii) Die aand van 24 Desember is regtig Kersaand, nie Oukersaand nie. Die Oukersaand-storie kom van Oujaarsaand. af. Christus is tog Kersnag gebore, nie Oukersnag nie. En die aand van 25 Desember is Kersfeesaand – dus geen gevaar van verwarring nie. (HvD)
Dec 12, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

Dit was altyd die “Oom” (Johan van Wyk) se ironiese kommentaar as die trekkers die oggend na goeie reens in die landerye begin dreun. Dan is al die moederverlorenheid oor misoeste en ander ellendes skielik weg soos mis voor die son.
Hierdie “blerrie fool” blog ook al weer. Hoe anders kan ek “die volk toespreek” oor wat op 31 Desember 2006 gebeur?
Dis ‘n herdenking – die herdenking van die huwelik tussen Jakob Hendrik van Deventer en Gesina Susara van Wyk op ‘n snikhete Bultfontein op 31 Desember 1966. Ek, swetend in ‘n swart troupak, en Tokkie, my sprankelbruid. Die begin van 40 jaar se saamloop.
Daardie nag het ons in die Hotel Winburg ons slape geslaap. Of in die keuse van “Winburg” enige simboliese betekenis te lese is, is nie ‘n onderwerp wat ek verkies om hier aan te roer nie.
Nou is Sondag 31 ons robyn-herdenking (ja, ek het haar dit laat naslaan).
Die foto van my robynvrou het ek hierbo vervierdubbel – een foto vir elke dekade se huwelikslewe.
Ek het spesiaal ‘n foto gekies van Tokkie in ‘n guitige stemming met ‘n rooi volstruisboa om die nek. (“tooi jou in rooi, my rooibloedvrou, om my vir altyd aan jou voete te hou…”)
In die boek In Kamera verklaar ek plegtig: Tokkie is die beste ding wat in my lewe met my gebeur het. Lees daardie huldeblyk gerus ook op hierdie webwerf by die skakel Tokkie60.
Ander geheimpies word ook daarin verklap – soos die een van die vlieende piering met ‘n koppie Vyf Rose-tee. Die is ‘n haarbreedte van HvD se kop verby. Sy het haar teiken gemis!
Nietemin, ek verklaar graag – ondanks daardie geslingerde missiel en ‘n paar ander noue ontkomings – ook in hierdie ruimte dat sy inderdaad die beste ding is wat in my lewe met my gebeur het. Wat ek In Kamera geskryf het, en wat op www.hennievandeventer.com/tokkie60/html herhaal is, bly vas, waar en ten volle operasioneel. G’n rede om terug te krabbel nie.
Vir haar se ek vanoggend (hoopvol) ek dink tog sy het my ook lief – sy steek dit net dem goed weg! Toe lag sy darem, een van daardie vrolike laggies van haar.
Ou vriende, nuwe vriende, enigeen wat hierdie lees, klink seblief op HvD en TvD op Sondag 31 ‘n glasie – en dink tog maar in deernis aan my wat al hoe vinniger verouder terwyl sy skynbaar die resep vir ewigdurende jonkheid ontdek het.
HvD
Dec 11, 2007 | Hennie van Deventer se Blog
Sedert my blog van 1 Desember het hier weer ‘n spoedboete op Melkbos opgedaag – die hoeveelste. Ek is op die R102 naby Somerset-Wes betrap dat ek 82 kilometer per uur in ‘n 60-sone ry. Die betrokke landdroshof is Blue Downs. Die boete is R300.
Die uwe – ‘n arme pensioentrekker – se totaal vir die jaar is op pad R5 000 toe!
Ter versagting het ek ‘n rympie geskryf in die hoop dat dit iewers ‘n hartsnaar sal roer:
Terwyl ek rustig, binne perke rits,
Kom ‘n ieder snel verbygeflits;
Terwyl ek wetsgehoorsaam ry,
Blits sware lorries woerts verby;
Nou’s kiepie al weer swaar beboet,
Hy jaag dan ‘n “verwoede spoed” –
Ek pleit net vir regverdigheid:
Hef a heart : skeld my tog kwyt!
Groete ( HvD)
Naskrif: Om alle misverstand uit die weg te ruim; my een Magareng-boete was R800, 00, darem nie R800 000 soos die agtelosige tikfout dit vir sommige kon laat lyk het nie!
Dec 11, 2007 | Hennie van Deventer se Blog

So breek die bewoë dag toe gister aan dat ons moet gaan teëls, matte, kaste en ligte uitsoek vir die nuwe oudaghuisie wat dakhoogte gemessel staan in ‘n Toskaanse (reg geraai!) aftreedorpie wat in Durbanville se wyke verrys.
Dit is ‘n taak wat ek met ‘n bepaalde swaarmoedigheid van gees aanpak. Ek bewonder tydgenote wat met geesdrif na dié nuwe fase in hul aardse bestaan uitsien en hulle met geesdrif in die projek werp om hulle, vir die laaste skof, met mooi dinge te omring. Ons is nie almal so nie – die uwe allermins.
Daardie huisie-in-wording sien ek as noodsaaklike euwel, elke baksteen ‘n dreigende herinnering dat die akute volgende stadium van die brille-en-pille-fase (hierbo uitgebeeld) met allerlei fisieke en geestelike kastydings gepaard gaan – nie die minste nie om die vertroude huis en haard op te skop, goeie vriende vaarwel toe te roep en na vreemde oorde met ‘n nuwe lewenstyl, dissiplines en ontberings te verkas.
Ek is – laat my maar gerdedelik erken – bitterlik negatief oor die plek. Ek sou verkies om nooit soontoe te verhuis nie. ‘n Reeds ontslape vriend wat die eienaar was van ‘n indrukwekkende herehuis op ‘n Noord-Vrystaatse plaas, het vir hom ‘n beskeie vakansiehuisie opgerig en meermale die suspisie uitgespreek dat sy vriende agter sy rug vra: ” Nou watse ou …huisie het ‘ou Karel’ nou hier gebou? ”
Wyle ‘Karel’ se …woord vertolk my eie gewaarwordinge rakende my “eenheid” presies. Dat teëls pleks van matte vir die slaapkamers uitgesoek word – dit hou makliker skoon en ruik nie so gou sleg nie! – dat die sogenaamde Toskaanse styl as vyeblaar gebruik word om liederlike pleisterwerk te probeer verdoesel, en ‘n straataansig waaroor die argitek tronkstraf sonder die keuse van ‘n boete opgelê behoort te word, help nie om my verharde hart teenoor eenheid 55 te verteder nie.
Ewenwel, ‘n vaste afspraak word met Colleen gemaak, want daar is ‘n lang ry gryse ou ooms en tannies wat eindeloos opruk om hul voorkeure te kom uitstippel: hierdie teëls vir die kombuis, asseblief, daardie kaste (beskikbaar in allerlei skakerings van donker tot lig), hierdie handvatsels en wat nog.
Colleen is jonk, blond en huppelend van hulpvaardigheid. Ek kondig somber aan ons soek net alles wat standaard is en daarmee basta. Geen enkele sent wil ek op daardie steen-des-aanstoots onnodig bestee nie.
Sy wys hoopvol na ‘n bordjie met ‘n verskeidenheid mosaïeks.
“Standaard?”
“Nee, dis ekstra.”
“Dan soek ek dit nie.”
Sy kry die boodskap. Alles verloop flink en vinnig totdat ons by die stoof kom. Die standaard-stoof is swart, deel sy mee en kyk vraend na ons. “As hy swart is, is hy swart.” Afgehandel.
En die gordynrelings? Baie mense verkies hul eie dekoratiewe kappe, stawe en dies meer, julle weet. “Standaard,” se ek streng.
Nou breek die tyd aan vir ligte uitsoek. Daarvoor ry ons na Vernon na wie ‘n plan van die huisie gefaks word om die seleksie te vergemaklik. Hy noem ‘n bedrag (die sogenaamde pc-bedrag, wat dit ook al beteken) vir ‘n D1 en ek moet se dit klink bra min. “Almal gaan oor,” kondig hy joviaal aan.
“Ons gaan nie oor nie,” vat ek hom kort. Laat ons die operasie dus uit die staanspoor reg aanpak, asseblief. Dit help nie ons begin duur ligte kies en ontdek teen die einde is ons tien of honderd of ‘n duisend rand oor nie. “Ek wil nie weer voor begin nie.”
Vernon steeks sy verbasing goed weg en lei ons na ‘n sysaaltjie met ‘n klaarblykliker goedkoper reeks as die versameling kristalkandelare en allerlei moderne blink ontwerpe wat die toonkamer versier. Dis dan hierdie of hierdie, beduie hy. Albei baie basies.
Binne vyf minute – dalk korter – is die ou takie afgehandel. Hy trek sy sompompie nader – ons is R100 kort, wat ‘n rekord moet wees. Twee klein bolletjies word tot die volgende grootte opgegradeer, en siedaar, ons is reg tot op ‘n sent (BTW ingesluit).
Sulke ekonomiese konserwatisme het Vernon nog nie gesien nie. Hy staar ons agterna – die arme drommels wat hul sentjies so klaarblyklik moet omdraai. Ek glo hy vertel sy vrou gisteraand van die vreemde klante … en verkry opsluit haar instemming om voortaan elke maand ‘n ietsie meer vir die spaarbussie af te knyp. Want so wil ‘n mens darem waaragtig nie meet en pas as die jare jou begin inhaal nie ! (HvD)
(Naskrif: Het ek dan niks positiefs oor die oord te se nie, vra Tokkie eendag toe ons in grimmige stilte tussen die skare bouers en hope bourommel op die perseel deur ons pad vind. Ek dink ‘n rukkie. “Ja, ek het,” antwoord ek. “Die dakpanne – ek hou nogal daarvan.” Na nadenke voeg ek egter by: “Maar bedpanne is vir ‘n ou mens uiteindelik seker belangriker as dakpanne…!” Toe lag sy darem.)