More uit Melkbos

“Het daardie omgewing nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!” So het ‘n fiktiewe tante telkens geantwoord as ‘n jong man wil weet wat van ou bakens op sy geboortedorp – die vellelooiery, ‘n klein kafeetjie op die hoek, die ou vulstasie met die handpompe en dies meer – geword het.

Die wellewende Louis Botha, in lewe administrateur van die Vrystaat, het graag die grappie vertel oor die jong man wat na ‘n lang afwesigheid sy wortels kom soek. Die trefpunt van Louis se storie was as die tante hom daaraan herinner dat sy dikwels sy doek moes vervang. “Ai, tannie,” antwoord hy dan, “het dáái omgewing nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!”

Louis se grappie het by my opgekom toe ek onlangs op ‘n uitgebreide reis drie sleutelpunte uit my eie jeugjare aangedoen het: Kimberley waar ek in 1947 (60 jaar gelede) begin skoolgaan het, Potchefstroom waar ek in 1957 (50 jaar gelede) in matriek was en Pretoria waar ek van 1958 tot 1962 (55 jaar gelede) ‘n Tukkie was. Vriende, het daardie omgewings nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!

In Kimberley staan ons beskeie ou skakelhuisie (meenthuis in die moderne idioom!) in Diagonalstraat darem nog – anders as op Potchefstroom waar albei wonings gesloop is. Dis die wittetjie links op die foto, verskuil agter die groot boom wat ek nie kan onthounie.

Daardie kontrei in die omgewing van die stasie het min verander. Selfs die kafeetjie op die hoek skuins oorkant die losieshuis lyk nog soos 60 jaar gelede. Net: die slanke Chev Fleetline staan nie meer in die straat geparkeer nie, en die afdraand by die romery op pad skool toe (Diamantveld Laer) blyk nou ‘n ou vulletjie te wees. In die verbeelding was dit ‘n perd van ‘n ander kleur waar die wind deur jou kuif gesuis het as jy met jou trapfiets daar van “bo” af laat waai!

Die pad van die Kaap af lei jou nou verby die Groot Gat. Daar rond het ek en my neefs Ben en Bertus ons vlieërs laat vlieg en kattekwaad aangevang. Maar dit lyk alte veel of ‘n groot hand goeters opgetel en rondgeskuif het. Die Groot Gat self staan nou vir my op ‘n verkeerde plek. Ek twyfel eers of dit inderdaad hy is. Die mynhoop waar my “diamonds” met die lang lap sterte en elegante “swallows” die lug ingeklief het, is nou ook nie waar ek daarna soek nie. In Transvaalweg soek ek vergeefs nommer 25 – my oom Willie en tant Minnie Smith se huis naby die polisiekantoor. Lyk of dit nou deur kommersiële gebied ingesluk is.

En ry jy by Kimberley uit Riverton se kant toe, lê aan jou linkerkant ‘n onbekende reuse-pan met duisende flaminke wat beslis nie daar was toe die kleine Hennie nog ‘n Kimberliet was nie. Sou dit daardie selfde “groot hand” wees wat die yslike stuk water daar neergegiet het?

Op die pad deur die ou Wes-Transvaal Potchefstroom toe is dit die see van plakkershutte, paaie vol slaggate, die een padverlegging op die ander en spoedlokvalleom elke hoek en draai wat jou beklem. Om regtig die gevoel te kry dat jou plek jou nie meer ken nie, is egter om op Potchefstroom rond te ry. Dis omtrent net die ou hoofstraatjie (hoewel intussen opgegradeer tot ‘n wandellaan), die skaduryke akkerlanings op die Bult en die Dam wat bekend voorkom. Verder is dit ‘n ander dorp.

Boonop is die die historiese ou Moederkerk waar ek in 1957 by ds. Beyers Naudé belydenis afgelê het, ‘n pynlike gesig na ‘n verwoestende brand.

Presies waar my oom Martiens en tannie Dinah se vis-en-skyfiewinkel was waar ek naweke te midde van ‘n skerp oliereuk ‘n sakgeldjie gaan verdien het, kan ek nie uitmaak nie. Oral in die buitewyke is groot winkelkomplekse met supermarkte en als. Die groot polemiek van die oomblik is nie die een of ander akademiese kwessie wat die geleerdes van die Bult beroer nie, maar bekommernisse oor die impak op die omgewing wat die bou van ‘n reuse-wysbeenkompleks oor die N12 op die wal van die Mooirivier gaan meebring.

Terwyl die konstruksievoertuie dreun, mure, betonpilare en fasades verrys, en werkers soos miere werskaf, is ‘n groot gros bewaringsbewuste Potchefstromers diep beswaard. Allerlei sosio-ekonomiese vrae word gestel oor die bou van so ‘n massiewe “waterfront”- struktuur op, soos dit gestel word, die “oewers van ‘n sensitiewe ekologiese sisteem”. “Gaan die ‘wilgerboom daar in ou Potchefstroom’ nou slegs in die volksliedjie voortbestaan?” So word in die netjiese dorpstydskrif Potch-joernaal gewonder.

Die strate se name slaan jou éérs onderstebo. Van die bekendste straatname uit die voor-1994-era is afgeruk. Selfs die deurlugtige Peter Mokaba (“kill a farmer, kill a boer!” ) is nouinhierdie gewese Afrikanermekka vernoem. Arme Potjiesdorpers! Hulle moet skoon vreemdelinge in hul eie dorp voel as hulle so met die nuwe Afrika-adresse worstel. En dink net watter ingewikkelde operasie dit geword het om vir ‘n vreemdeling pad te beduie!

Geen wonder nie dat hulle teen die dreigende hernoeming van hul dorp tot Tlokwe so vuriglik walgooi.

Van Tlokwe na Tshwane. Die asemrowende uitbreidings oostekant toe – daar waar ek in my studentedae vir die mooie Donelle du Toit by Die Wilgers gaan oplaai het vir die Kollege-huisdinees van 1961 en 1962 – is waarlik iets om te aanskou. Dis dinamies. Die enorme nuwe Loftus lyk nog groter as op Supersport. Maar die groot verskil tussen toe en nou lê waarskynlik in die moeilik definiëerbare kultuur van die stad.

Die jakarandabome het genadiglik nog nie geswig voor die aanslag teen alles wat “uitheems” is nie, ook Oom Paul staan nog sy staan op Kerkplein, maar verder adem Pretoria ‘n vreemde atmosfeer. Sy oriëntasie is dié van ‘n Afrikastad. Al jou sintuie bring by jou daardie boodskap tuis.

Op soek na die “ou Pretoria” is ek en Tokkie na die Voortrekkermonument. Wat ‘n heuglike en verrykende agtermiddag word dit toe nie daar tussen die indrukwekkende friese en stemmingsvolle ruimtesvan die manjifieke Moerdyk-monoliet nie!

Dat daar deesdae (dalk al baie lank?) hysers is vir strammer litte om tot heelbo te kom, is ‘n bonus. Ek was nou op 66 waar ek nie eens in my fleur kon kom nie. Buite bulk die osse wat toeristewaens op Monumentkoppie vir besigtigingsritte neem en runnik die perde wat besoekers kan opsaal as hulle self die wêreld wil verken. Albei is vir my nuwighede – Gert Opperman is klaarblyklik ‘n man vol idees.

Miskien die grootste openbarings vir hierdie besoeker is egter dat Lottogeld geskenk is vir die waterdigting van die monument (‘n reuse-taak), die swart gidse (en besoekers!) en die Tuin van Herinnering waar die duiwe in die bome koer en die nisse vir gestorwenes in ‘n aantreklike ontwerp in ‘n boomryke hoekie genestel is. Ek herken die name van talle bekendes op die granietdeksels – o.a. die van ‘n matriekmaat, Hannie van den Bergh, ‘n joernalistieke tydgenoot, Gerhard Veldhuizen (nie eens geweet hy is oorlede nie), en die kleinkind van Sabieparkvriende, Frederick Nel. Hier, in die skaduwee van die Monument, sou ek ook vir ewig kon rus!

Miskien moet die Pretorianers maar besgee oor hernoeming tot Tshwane. ‘n Mens kan tog nie teen donderweer fluit nie. Maar om Pretoria met eer te laat voortleef – gee dié naam gevul met soveel tradisie en deurdrenk met soveel historiese waarde en Afrikanersentiment dan vir Monumentkoppie. Daar kan dit ongesteurd en onbedreig voortleef, vir altyd en altyd. (HvD)

Mayafudi loop weer

Mayafudi loop weer. In my twee Mayafudiboekies, Mayafudi (Afrikaans) en Mayafudi – memories of an elephant neem die olifantbul Mayafudi se swerftog na ‘n reeks beproewinge hom op ver paaie in die Krugerwildtuin. Hy dek ‘n stewige stuk van die Park, van die Sabierivier by die Krugerhek tot anderkant Shingwedzi, amper 300 kilometer.

Presies waarheen hy nou oral op sy tweede tog op pad is, weet ek nog nie. My raaiskoot is egter dat hy ‘n aansienlik groter oppervlakte gaan dek – ook buite die Wildtuin.

Dis dieselfde Mayafudi (maaifoedie) waarvan ek hier praat – dieselfde maar ook nie dieselfde nie. Die een Mayafudi is natuurlik die die hoofkarakter in die twee boeke wat in 2005 en 2006 onderskeidelik verskyn het, so herdoop nadat hy die ondeunde bulletjie ‘n veldwagter met ‘n goed gemikte maroela-missiel van sy dikwielfiets laat tuimel het.

Die tweede een is die boeke self, die ene met ‘n stemmingsvolle olifantskildery van David Cubbin van Kaapstad op die omslag en die ander een met oulike foto’s wat in Oktober 2006 deur my skoondogter, Mariza van Deventer, in ‘n ongekende olifant-geilte by Sabiepark se piekniekplek geneem is.

Dié twee boeke, plus my ander bosboek Buurman van die Wildtuin is deur die winkelgroep Tiger’s Eye aangeskaf vir verspreiding dwarsdeur die Wildtuin en in ander nasionale parke. Hullle kom dus op die rakke waar hulle, volgens my, werklik hoort en onder die aandag van ‘n veel groter gehoor as tot dusver.

Natuurlik is ek in my noppies, want waarvoor skryf ‘n mens tog maar in die finale instansie ‘n boek? Dis om by die meeste moontlike “regte” lesers uit te kom; diegene vir wie jou skrywes genot kan besorg. In die geval van hierdie drie boeke (foto hierbo) is daardie “regte” lesers duidelik definiëerbaar. Dis natuurliefhebbers – mense met die bos in hul bloed – van alle ouderdomme, geslagte en herkomste.

Om Tiger’s Eye se bestelling uit te voer, is herdrukke (derde herdrukke en meer) van al drie die boeke nodig. Dit woel op die oomblik by Imaging Data Solutions in Bellville-Suid met die druk en die bind. Binne ‘n week tot tien dae behoort die pakke boeke by Tiger’s Eye se pakhuis in Kaapstad te wees, en dan is die verspreiding in sy hande.

Sal dit nie vir hierdie ou bos-betottelde Melkbosser lekker wees nie as Mayafudi of Buurman in ‘n paar Kerskouse van Berg-en-Dal in die suide tot by Punda Maria, 400 kilometer noordwaarts, kan beland! (Punda Maria is die kamp waar my ontslape kollega Gideon Engelbrecht ‘n spoedkaartjie gekry het. Die balju bring toe die dagvaarding en deel Gideon se oorblufte vrou, Rinie, mee dit het klaarblyklik iets met ‘n Portugese vroumens Maria te make!)

Vir diegene wat nie van hierdie HvD-bosboekies kennis dra nie, kan ek verwys na my webwerf, www.hennievandeventer.com, waar meer oor hulle vertel word. Daar is selfs die volledige Afrikaanse weergawe van die manuskrip wat deur my vriend George Holloway van Melkbos in die Engelse Mayafudi – memories of an elephant herskep is. Die aanpak en verpakking verskil ietwat van die oorspronklike Mayafudi.

Die storie is egter in wese dieselfde: die fiere bul Mayafudi, kleinseun van die beroemde Mafunyane met die verskriklike tande, raak toenemend ontnugter deur ‘n reeks rampe wat droogtes, vloede en brande insluit; ook die dood van sy pa, sy ma, die edelmoedige matriarg Ukuthula, en tweelingsuster, Nkosikazi (Klein Prinses) in ‘n uitdunningsoperasie. Hy breek bande met sy trop, swerf noordwaarts op soek na sy oupa se voetspore en raak daar gevestig. ‘n Krisis ontstaan. Na ‘n konfrontasie met brandstigters uit Mosambiek en daarna met onskuldige toeriste in ‘n safarivoertuig, vlug die onstuimige bul terug na sy wortels aan die Sabie… en ‘n heerlike oudag-verrassing.

Mense wat weersin het in antropomorfisme moet tog maar wegbly. Ek gee my olifante menslike insigte, denke en emosies, en die resensent Cecile Celliers het daaroor rillings gekry. (Moet erken ek het nie geweet wat antropomorfisme is nie, en moes my na die HAT haas nadat die nimlike CC se afkeurende resensie in Beeld verskyn het!)

Buurman handel oor die lewe in die Van D’s se “hoekie van die hemel” in die Bosveld, Sabiepark. Ek skryf oor mense, diere, bome en voëls; oor wedervaringe, amusant en benouend; oor allerlei verleenthede en penaries; oor anekdotes, kampvuurstories en wat nog. ‘n Galery van my eie dierefoto’s dui op die intieme interaksie tussen mens en dier in daardie “Laeveldse Eden” aan die Sabierivier. ‘n Luiperd op ‘n stoep; ‘n koedoebul wat die voels se pitjies kom gaps, twee kameelperde in ‘n ongemaklike erotiese oomblik, ‘n gulsige vlakvarkie wat pens en pootjies oor ‘n muurtjie duik op soek na krummels van die vorige aand se braaibrood – geeneen kom skotvry nie.

Buurman is genadiglik nie deur CC geresenseer nie. ‘n Ander Cilliers, Stoffel, het in Volksblad geskryf: “Van Deventer vertel gemaklik, pittig en met fyn aanvoeling. ‘n Knap geskrewe boek dié.” Jeanne Hugo bevind in Die Burger: “In vergelyking met die (Wildtuin-)stories wat ‘n man vertel wat eintlik reg in die Wildtuin woon, moet die res van ons maar stilbly.”

Hopelik beleef die nuwe lesers wat my boekies in die Wildtuin (of in ander parke) op die rak aantref, hulle op soortgelyke wyse. En onthou: Volgende keer as ‘n olifant in die Wildtuin vir u knipoog, is dit dalk een van Mayafudi se nasate. Wie weet? (HvD)