More uit Melkbos
“Het daardie omgewing nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!” So het ‘n fiktiewe tante telkens geantwoord as ‘n jong man wil weet wat van ou bakens op sy geboortedorp – die vellelooiery, ‘n klein kafeetjie op die hoek, die ou vulstasie met die handpompe en dies meer – geword het.
Die wellewende Louis Botha, in lewe administrateur van die Vrystaat, het graag die grappie vertel oor die jong man wat na ‘n lang afwesigheid sy wortels kom soek. Die trefpunt van Louis se storie was as die tante hom daaraan herinner dat sy dikwels sy doek moes vervang. “Ai, tannie,” antwoord hy dan, “het dáái omgewing nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!”
Louis se grappie het by my opgekom toe ek onlangs op ‘n uitgebreide reis drie sleutelpunte uit my eie jeugjare aangedoen het: Kimberley waar ek in 1947 (60 jaar gelede) begin skoolgaan het, Potchefstroom waar ek in 1957 (50 jaar gelede) in matriek was en Pretoria waar ek van 1958 tot 1962 (55 jaar gelede) ‘n Tukkie was. Vriende, het daardie omgewings nie verander nie! Jy sal die wêreld nie ken nie!
In Kimberley staan ons beskeie ou skakelhuisie (meenthuis in die moderne idioom!) in Diagonalstraat darem nog – anders as op Potchefstroom waar albei wonings gesloop is. Dis die wittetjie links op die foto, verskuil agter die groot boom wat ek nie kan onthounie.
Daardie kontrei in die omgewing van die stasie het min verander. Selfs die kafeetjie op die hoek skuins oorkant die losieshuis lyk nog soos 60 jaar gelede. Net: die slanke Chev Fleetline staan nie meer in die straat geparkeer nie, en die afdraand by die romery op pad skool toe (Diamantveld Laer) blyk nou ‘n ou vulletjie te wees. In die verbeelding was dit ‘n perd van ‘n ander kleur waar die wind deur jou kuif gesuis het as jy met jou trapfiets daar van “bo” af laat waai!
Die pad van die Kaap af lei jou nou verby die Groot Gat. Daar rond het ek en my neefs Ben en Bertus ons vlieërs laat vlieg en kattekwaad aangevang. Maar dit lyk alte veel of ‘n groot hand goeters opgetel en rondgeskuif het. Die Groot Gat self staan nou vir my op ‘n verkeerde plek. Ek twyfel eers of dit inderdaad hy is. Die mynhoop waar my “diamonds” met die lang lap sterte en elegante “swallows” die lug ingeklief het, is nou ook nie waar ek daarna soek nie. In Transvaalweg soek ek vergeefs nommer 25 – my oom Willie en tant Minnie Smith se huis naby die polisiekantoor. Lyk of dit nou deur kommersiële gebied ingesluk is.
En ry jy by Kimberley uit Riverton se kant toe, lê aan jou linkerkant ‘n onbekende reuse-pan met duisende flaminke wat beslis nie daar was toe die kleine Hennie nog ‘n Kimberliet was nie. Sou dit daardie selfde “groot hand” wees wat die yslike stuk water daar neergegiet het?
Op die pad deur die ou Wes-Transvaal Potchefstroom toe is dit die see van plakkershutte, paaie vol slaggate, die een padverlegging op die ander en spoedlokvalleom elke hoek en draai wat jou beklem. Om regtig die gevoel te kry dat jou plek jou nie meer ken nie, is egter om op Potchefstroom rond te ry. Dis omtrent net die ou hoofstraatjie (hoewel intussen opgegradeer tot ‘n wandellaan), die skaduryke akkerlanings op die Bult en die Dam wat bekend voorkom. Verder is dit ‘n ander dorp.
Boonop is die die historiese ou Moederkerk waar ek in 1957 by ds. Beyers Naudé belydenis afgelê het, ‘n pynlike gesig na ‘n verwoestende brand.
Presies waar my oom Martiens en tannie Dinah se vis-en-skyfiewinkel was waar ek naweke te midde van ‘n skerp oliereuk ‘n sakgeldjie gaan verdien het, kan ek nie uitmaak nie. Oral in die buitewyke is groot winkelkomplekse met supermarkte en als. Die groot polemiek van die oomblik is nie die een of ander akademiese kwessie wat die geleerdes van die Bult beroer nie, maar bekommernisse oor die impak op die omgewing wat die bou van ‘n reuse-wysbeenkompleks oor die N12 op die wal van die Mooirivier gaan meebring.
Terwyl die konstruksievoertuie dreun, mure, betonpilare en fasades verrys, en werkers soos miere werskaf, is ‘n groot gros bewaringsbewuste Potchefstromers diep beswaard. Allerlei sosio-ekonomiese vrae word gestel oor die bou van so ‘n massiewe “waterfront”- struktuur op, soos dit gestel word, die “oewers van ‘n sensitiewe ekologiese sisteem”. “Gaan die ‘wilgerboom daar in ou Potchefstroom’ nou slegs in die volksliedjie voortbestaan?” So word in die netjiese dorpstydskrif Potch-joernaal gewonder.
Die strate se name slaan jou éérs onderstebo. Van die bekendste straatname uit die voor-1994-era is afgeruk. Selfs die deurlugtige Peter Mokaba (“kill a farmer, kill a boer!” ) is nouinhierdie gewese Afrikanermekka vernoem. Arme Potjiesdorpers! Hulle moet skoon vreemdelinge in hul eie dorp voel as hulle so met die nuwe Afrika-adresse worstel. En dink net watter ingewikkelde operasie dit geword het om vir ‘n vreemdeling pad te beduie!
Geen wonder nie dat hulle teen die dreigende hernoeming van hul dorp tot Tlokwe so vuriglik walgooi.
Van Tlokwe na Tshwane. Die asemrowende uitbreidings oostekant toe – daar waar ek in my studentedae vir die mooie Donelle du Toit by Die Wilgers gaan oplaai het vir die Kollege-huisdinees van 1961 en 1962 – is waarlik iets om te aanskou. Dis dinamies. Die enorme nuwe Loftus lyk nog groter as op Supersport. Maar die groot verskil tussen toe en nou lê waarskynlik in die moeilik definiëerbare kultuur van die stad.
Die jakarandabome het genadiglik nog nie geswig voor die aanslag teen alles wat “uitheems” is nie, ook Oom Paul staan nog sy staan op Kerkplein, maar verder adem Pretoria ‘n vreemde atmosfeer. Sy oriëntasie is dié van ‘n Afrikastad. Al jou sintuie bring by jou daardie boodskap tuis.
Op soek na die “ou Pretoria” is ek en Tokkie na die Voortrekkermonument. Wat ‘n heuglike en verrykende agtermiddag word dit toe nie daar tussen die indrukwekkende friese en stemmingsvolle ruimtesvan die manjifieke Moerdyk-monoliet nie!
Dat daar deesdae (dalk al baie lank?) hysers is vir strammer litte om tot heelbo te kom, is ‘n bonus. Ek was nou op 66 waar ek nie eens in my fleur kon kom nie. Buite bulk die osse wat toeristewaens op Monumentkoppie vir besigtigingsritte neem en runnik die perde wat besoekers kan opsaal as hulle self die wêreld wil verken. Albei is vir my nuwighede – Gert Opperman is klaarblyklik ‘n man vol idees.
Miskien die grootste openbarings vir hierdie besoeker is egter dat Lottogeld geskenk is vir die waterdigting van die monument (‘n reuse-taak), die swart gidse (en besoekers!) en die Tuin van Herinnering waar die duiwe in die bome koer en die nisse vir gestorwenes in ‘n aantreklike ontwerp in ‘n boomryke hoekie genestel is. Ek herken die name van talle bekendes op die granietdeksels – o.a. die van ‘n matriekmaat, Hannie van den Bergh, ‘n joernalistieke tydgenoot, Gerhard Veldhuizen (nie eens geweet hy is oorlede nie), en die kleinkind van Sabieparkvriende, Frederick Nel. Hier, in die skaduwee van die Monument, sou ek ook vir ewig kon rus!
Miskien moet die Pretorianers maar besgee oor hernoeming tot Tshwane. ‘n Mens kan tog nie teen donderweer fluit nie. Maar om Pretoria met eer te laat voortleef – gee dié naam gevul met soveel tradisie en deurdrenk met soveel historiese waarde en Afrikanersentiment dan vir Monumentkoppie. Daar kan dit ongesteurd en onbedreig voortleef, vir altyd en altyd. (HvD)

