More uit Melkbos

Die Van D’s is terug in die Kaap. Dis ‘n groen, groener, groenste Kaap, ‘n Kaap wat blink van die dammetjies oral, en ‘n koue Kaap. Na Sabiepark is dit behoorlik bibberweer hier. Dalk moes ons maar langer in die bos gebly het…

Om die nuwe blog-seisoen te open, plaas ek vandag hier my resensie van Inus Aucamp en Johan Swanepoel se boek Einde van ‘n groot party (foto bo) wat Maandag in Beeld verskyn het.

Aan Monitor (in my eerste buiging op RSG in 10 jaar!) het ek gese die boek het my onthuts en my resensie is dalk kras omdat ek die rekenaar bygedam het voor my pap en melk vir ontbyt.

Oordeel maar self of HvD – ‘n lojale Nasionalis tot die bittereinde – te skerp reageer op die tragiese verval van sy eens trotse party.

Hier volg dit:

Wat laat ‘n magtige party kraak en verkrummel totdat hy vernederend en onwaardig ineenstort? Hierdie boeiende tema word deur twee Vrystaatse NP-bittereinders, Inus Aucamp en Johan Swanepoel, aangepak, en die resultaat is ‘n insiggewende boek wat sekere eie indrukke bevestig, maar ook nuwes byvoeg.

Die leierskap-krisis na F.W. de Klerk word omvattend gedokumenteer. Dit is ‘n verdoemende klagstaat en Marthinus van Schalkwyk kom gehawend uit die bladsye van Einde van ‘n groot party. Sy bontpratery. bontspringery en roekelose opportunisme sorg vir ‘n politieke spektakel waaroor ‘n mens nie weet of jy moet lag of huil nie.

‘n Tweede leierskap-kwessie word in die boek van Aucamp en Swanepoel net vlugtig aangespreek. Dit is F.W. de Klerk se bedanking. Waarskynlik uit respek vir die man en sy onbetwisbare kwaliteite, asook bewondering vir sy moed om apartheid in 1990 as’t ware op die ashoop van die geskiedenis te gooi, word ongemak oor sy tydsberekening kwalik meer as gesuggereer. Ook ander kommentators kies tot dusver hul woorde versigtig as hulle die impak van De Klerk se onverwagse abdikasie op die pynlike sterwe van die Nasionale Party in die verbygaan vermeld.

Het dit nie tyd geword om hieroor reguiter te praat nie? Kan De Klerk voortgaan om ‘n harder oordeel vry te spring oor wat hy die Nasionale Party aangedoen het, gelyklopend met sy geskiedkundige bevryding van die land en sy mense?

Die vraag is of hy inderdaad ‘n strategie gehad het om die NP in die stormwaters van die nuwe politiek teen die lot wat hom uiteindelik getref het, te beskerm. Dit lyk nie so nie. As deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid daardie strategie was, het dit, helaas, na ‘n paar kopstampe en plettervatte van ANC-kant vinnig in die niet verdwyn.

Ek het vir F.W. de Klerk en wat hy vir die land gedoen het, nie minder agting en lof as diegene wat hom daarvoor die Nobelprys gegee het nie. Maar sy party het hy in die steek gelaat. Die het hy soos ‘n omgekeerde Moses as’ t ware uit die beloofde land die woestyn ingelei! Daarna het hy homself vinnig uit die voete gemaak.

Die bereddering van die boedel is nie makliker gemaak deur die leierdroogte om hom wat De Klerk tog moes raakgesien en verreken het nie. Gaan kyk maar weer na die kandidate wat saam met Van Schalkwyk meegeding het om in die groot skoene van De Klerk te stap. Dit gee nogal ‘n perspektief aan die dramatiese verrysenis van die jong, onervare en onopgewasse Van Schalkwyk. Daar was werklik niemand anders met groter statuur nie.

In aansluiting hierby kom ‘n derde leierskap-faset na vore wat die skrywers by wyse van allerlei brokkies prikkelende inligting op die tafel sit, maar nie by name self identifiseer nie. Ek verwys na die ongelooflike scenario dat ‘n leier keer op keer geweeg en te lig bevind word, sonder dat ‘n sterk nuwe leier in daardie vakuum na vore kom.

‘n Mens sou verwag dat iemand in daardie chaos en ontreddering die stang sou vasbyt, Van Schalkwyk van binne op filosofiese en praktiese gronde gestruktureerd sou opponeer, die vertroue van ewekniee sou verower en uiteindelik met geloofwaardigheid sou opstaan om Van Schalkwyk te stuit met ‘n ferme: “tot hiertoe en nie verder nie.”

Maar nee, die NP bly spartel dronk-dronk van een skynoplossing na die ander, en Van Schalkwyk se leierskader val maar telkens agter hom in as hulle sien “hoe die wind waai”, om Aucamp daaroor aan te haal. ‘n Enkele keer om so ‘n ietwat van ‘n georganiseerde weerstand halfhartig op die been, maar verstommend vinnig verloor dit weer fut. Van Schalkwyk marsjeer voort.

Is dit nie amper die neerddrukkendste van die hele leiersdebakel waarin die eens trotse NP deur F.W. de Klerk gedompel is nie – dat in ideale omstandighede vir ‘n ware leier om sy staal te wys absoluut niemand, maar niemand, na vore gekom het om die stukkies en brokkies op te tel nie?

Aucamp en Swanepoel skryf vanuit ‘n Vrystaatse perspektief. Iemand kan dalk vra uit watter perspektief Van Deventer skryf. Die antwoord is uit die perspektief van ‘n lojale en entoesiastiese Nasionalis uit die ou skool wat langer as dertig jaar die politiek van Suid-Afrika intens meegemaak het: van my kennismaking met die persgalery van die Volksraad in 1964, deur twaalf jaar in die redakteurstoel van ‘n Afrikaanse dagblad in die onstuimige jare tagtig en aan die begin van die nuwe Suid-Afrika as hoof van koerante van die Nasionale Pers.

Uit daardie perspektief is Einde van ‘n groot party vir my om verskeie redes ‘n onthutsende boek. Daarvoor kan Aucamp en Swanepoel nie blameer word nie. Hulle is maar net die boodskappers, en hulle het hul taak met bekwaamheid verrig. Maar, in hemelsnaam, hoe is dit hoegenaamd moontlik dat daar nerens ‘n ridder op ‘n witperd was toe ‘n redder dringend nodig was nie? Of is dit ‘n geval dat geen ridder, geen redder, die NP kon red waar hy saam met apartheid op die ashoop beland het nie?

HvD