
Foto: Netwerk24
Die watermeter by die huis van ‘n 85-jarige Melkbosser het in Augustus wild aan die galop gegaan met katastrofiese gevolge: ‘n verbluffende waterlesing van 249 kiloliter en ‘n waterrekening van R21 757,59 (plus rente).
Die 249 kiloliter op die nuwerige meter – net vier maande oud – ewenaar hierdie huishouding se normale verbruik vir twee jaar. Dit is voldoende om vier swembaddens te vul. (Op die erf bestaan nie een swembad nie.) Geen lek of ander abnormaliteit kon opgespoor word nie.
Trouens, die kranevloed is ‘n raaisel wat niemand kan verklaar nie: nie die munisipaliteit se deskundiges nie, nie ’n professionele loodgieter nie, nie die arme eienaar wat ten tye van die insident met vakansie was nie, ook nie die betroubare langtermyn-huurders vir 10 jaar in ‘n woonstel aan die huis nie.
‘n Raadsheer en ‘n senior amptenaar het met begrip op die eerste briewe gereageer. Toe volg ‘n swanger stilte van amper twee maande. Op Donderdag 5 November is ‘n kil briefie van ‘n ander amptenaar ontvang. Die strekking is: Hou op sanik en hoes, anders … (Die vergunning bestaan gelukkig om die bloedgeld in paaiemente te betaal!)
Die geheimsinnige insident is die enigste in 30 jaar van verantwoordelike watergebruik en stiptelike nakoming van verpligtinge. Dit maak die gebrek aan tegemoetkomendheid vir die slagoffer des te bitterder.
Ekself is die slagoffer. Wat my nogal sinies stem, is dat ek pas voor ontvangs van die verdoemende brief voor in die tou was, kierie en al, om vir die party wat in Kaapstad die septer swaai en oor die kwaliteit van sy dienslewering hoog opgee,msy kruisie te trek.
Die swye van alle kante nou oor my dringende vertoë laat my wonder of almal so besig is om fees te vier dat tyd ontbreek om hulle aan “kleinighede” te steur. Hopelik het die burgemeester nie landwyd soveel ysters in die vuur dat hierdie burokratiese onreg hom ontglip nie.
Op netwerk24: https://www.netwerk24.com/stemme/gesels-saam/brief-goeie-hemel-martha-kyk-net-die-rekening-20261112-0939