Wielewaal in aalwyn

Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, kakelaars, klopkloppies, lewerike, lysters, sterretjies, valke en vinke in die bome om jou raak ’n gewone sterfling maklik verdwaald. Die eindelose verskeidenheid van fluite, koere, krasse, kraaie, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke kan jou lank laat kopkrap.

Maar moenie wanhoop nie, al is jy ’n leek (en hopeloos met kleure en klanke) soos ekself. ’n Goeie voëlboek met duidelike illustrasies en knap kensketse is ’n leermeester duisend. Vir my en my vrou, Tokkie, was ons gids vir 25 jaar ’n goed gebruikte, al ietwat gehawende, “Newman”: ’n 1991-hersiening van Voëls van die Nasionale Krugerwildtuin deur die bekroonde kenner (ook kunstenaar) Kenneth Newman. Die uitgewer is Southern Boekuitgewers en die vertaling uit Engels deur B L Penzhorn.

In die 240 bladsye van hierdie omvangryke veldgids kom alle voëlsoorte voor wat in daardie stadium in die wildtuin aangeteken was, die leste een in volkleur afgebeeld. Vir uitkenning is elkeen se kenmerke, gewoontes, hebbelikhede en habitat in omvattende notas toeganklik meegedeel. Hul roepe word foneties weergegee – uiters kreatief. Die volledige indeks is ’n waardevolle bron.

Ons boek is aan ons geskenk deur ons peetkind, Jaco van Wyk van Pretoria, en sy vrou, Lientjie, in Julie 2000 ná ’n eerste besoek aan Sabiepark. In daardie boomryke private natuurreservaat aan die Sabierivier, ’n klipgooi van die Krugerhek van die Wildtuin, het ons met my aftrede in 1998 ’n bostoevlug bekom.

Die kosbare geskenk was bestem om ’n kwarteeu se ekstra vreugde in ons bosbesoeke te bring, veral vir Tokkie wat gou in ’n bloedlose staatsgreep eiendomsreg ingepalm het. Ek gun haar dit. Die waarde wat sy tot die boek toegevoeg het, sou ek nooit kon ewenaar nie.

Op amper elke bladsy het Tokkie spesiale waarnemings of insidente aangeteken; ook plek, datum en saam met wie elke spesie gesien is. ’n Hele argief van sentimentele herinneringe het so tot stand gekom. Ook een met deurslaggewende gesaghebbendheid. Waar twyfel of teenspraak opduik, spreek die boek die laaste woord.
Tokkie blaai onmiddellik na elke inskrywing met al die besonderhede: van massa-taferele van indrukwekkende omvang – honderde nimmersatte op die walle van die Sunsetdam by Onder-Sabie byvoorbeeld – tot die vlugtige raaksien van ’n eksklusiewe voël – die skugter bosloerie (nerina trogon) of ’n skaars konkoit met sy swart, rooi en geel veredos (nogal die kleure van my skool, Volkies op Potchefstroom!) – in ‘n digte boskasie.

Van die kronieke wek verwondering, deernis of ’n glimlag; ook soms  hartseer.

Links, regs, links, regs

’n Gedenkwaardigheid in die Krugerwildtuin was om in ’n ommesientjie op die gawe stuk pad tussen Olifants en Satara twee gompoue, sewe bromvoëls, en ’n volstruis teen te kom – die drie grootste voëls wat bestaan.
By die voëlskuiling Lake Panic by Skukuza het twee sierlike reusereiers ’n paringsdans langs die water uitgevoer, grasieus soos ’n outydse minuet. ’n Ander keer het twaalf kleiner reiers ons bloed laat bruis. Oral in die bome was net gespreide reiervlerke, op broeineste, op die grond naas die skuiling, of swewende in die lug. Party van die twaalf was mekaar aan’t opdollie. Ander het net sit en staar.

Naby Satara het ’n lugaanval van ’n verwoede kiewiet op ’n bedremmelde reuse-ooruil in ’n sambokpeul langs die pad ons 30 minute lank geboei. Die heelwat groter uil moes net koes en koes en koes. Verslap hy vir ’n oomblik sy waaksaamheid, is die kiewiet in sy gesig. Seker van hom ’n oorlas by die omgekrapte antagonis se broeines gemaak, het ons gereken. Die flambojante saalbekooievaar en die aristokratiese visarend tel onder ons gunstelinge. Van albei is ongewone waarnemings opgeteken – een nogal op Kersoggend om dit des te meer spesiaal te maak.

Twee saalbekooievaars wat doodluiters saam voortmarsjeer op die Doispane-teerpad – waarheen weet niemand nie – het die rit Skukuzakerk toe vir die Kersdiens opgekikker. Die gulsige visarend het erg gesukkel om ’n te groot vis wat hy by die Nyamundwadam, naby die Phabenihek, beetgekry het, aan land te bring. Diere se oë kan ook groter wees as hul mae.

In my matriekjaar (1957) was die man met die fluweelstem Perry Como se liedjie Magic Moments ’n treffer. Wel, oomblikke van betowering danksy gevleueldes was ook in Sabiepark ons voorland. ‘n Bloukuifloerie kom sit een middag in die tak van ’n rooiboswilg. Net ’n sekonde verloop, toe land ’n spookvoël op die tak langsaan. In ’n kits maak ’n baardspeg hom tussen hulle tuis. Terwyl ons nog die ongewone driemanskap so bymekaar bewonder, sak ’n swartkopwielewaal toe op ’n aalwyn in volle blom net langsaan.

Oor die loerie het ek iets op die hart. In Afrikaans gaan ons taamlik liberaal met die adellike naam om. Vinnig-vinnig kan ek die volgende loeries op my vingers aftik: die bloukuifloerie, die Knysnaloerie, die bosloerie, die vleiloerie en die grys loerie (eintlik ‘n gewone kwêvoël) – almal wat ons gereeld sien of al meermale gesien het.

Watter een is die mooiste? Die pragtige bloukuifloerie kry elke keer my stem. Elke vakansie is hierdie voorbeelde van gevleuelde vorstelikheid meer of minder aktief by ons watergat. Soos trosse skarlakenrooi blomme hang hulle in die reuse-rosyntjiebos, wip-wip koggelend van tak tot tak of buig hul elegante nekke laag om dorstige kele te verfris. Om sewe tegelyk by die water te sien sit, was een van die mooiste enkele voëlmomente in die 28 jaar dat ons daar kom sielevrede soek. ’n Mens het nie woorde vir so ’n grootse toneel nie.

Swaarmoedigheid kan ook jou woorde laat stol. Dit het gebeur toe Tokkie ’n bondeltjie blou en rooi loerievere op daardie einste kolletjie optel. Seker ‘n muskeljaatkat of iets ten prooi geval.

’n Stampgeluid het ons laat opkyk waar ons op die stoep sit en lees. ’n Groenvlekduifie het teen ons slaapkamer se skuifdeur vasgeduik. Morsdood. Uit die bekkie sypel stadig ’n druppel donkerrooi duiwebloed op die stoepvloer. Tokkie gaan kontroleer op die almanak wat die datum is. Dis 3 Augustus 2025. Sy slaan haar “Newman” oop op bladsy 96. Op die blad pryk ’n inskrywing van ’n identiese insident. Ook ’n groenvlekduifie wat teen dieselfde skuifdeur vasgeduik het. Die datum: 3 Augustus 2024 – presies ’n jaar tevore. Is dit wat die Franse déjà –vu noem? Of is dit gewoon toevallig?

Nog ’n noodlottige trefslag was ’n jagarend s’n. ’n Boskorhaan in vlug was die slagoffer. Die korhaan stort soos ’n klip uit die lug langs Tokkie neer. Sy sak besorgd op haar knie by die bondel spikkelvere wat wanhopig bly spartel. Dis egter duidelik dat niks kan red nie. ’n Hap vleis is uit die voël se lyf geruk, en sy einde is nie mooi om te aanskou nie.

Die jagarend gaan sit in ’n huilboerboon en betrag ’n rukkie die menslike ophef om sy prooi afkeurend met blitsende oë. Toe styg hy vorstelik op. Hoër en hoër. Totdat hy net ’n spikkeltjie teen die blou lug was.

Rooibek-kweleas staan as die “geveerde sprinkane van Afrika” bekend. In 2017 is in die Wildtuin en omstreke deeglik ervaar hoekom. Ook by ons in Sabiepark. Van vroeg tot laat het een reuse-swerm ná die ander op ons werf toegesak. Elke liewe dag. Met ‘n suising van vlerke is op bome neergeswiep en uit die bome op die veld neergeduik. Dan woerts weer in die lug.

Withelmlaksmanne kom ook in getalle. Hulle soek hygend koelte op die voorstoep as die kwik in die somer klim en klim. Voëls wat regtig bedoel om te sit as hulle hul sit gekry het, is die nogal statige gekroonde neushorings. Hul bloedverwante die boskraai laat die oningewyde glo jy hoor ’n baba huil. Jy skrik nogal.

Voor in “haar” boek het Tokkie ‘n Philip de Vosversie geplak: Elke voëltjie het sy lied, hadida of kokkewiet. Of dit fraai of goor of gek is, jy moet sing soos jy gebek is.

Laat my dadelik dink aan die Afrikaanse naguiltjie se bekoorlike bos-Mozart (‘’Eine kleine nachtmuzik”) elke aand terwyl die tjops en wors op die kole sis. Soos die outjie kan noot hou – minute lank – bly ’n wonder. In Tokkie se boek word rekord gehou.

Vir romantiese intensiteit kan min by die tydsame toenadering tussen ’n paartjie bosuile kers vashou. Dis ’n langdurige tussenspel van flikkers gooi en stadige vermurwing wat in nagtelike kodetaal in die donker bos uitgespeel word.

Eers is die twee fisiek taamlik ver uitmekaar. “Hoe-hoe, hoe-Hoe-hoe-hoe,” begin die mannetjie roep. Die wyfie antwoord met ’n neutrale “hoeoeoe”. Dit beduie: “Bly roep, ek dink daaroor.” Dan reageer die ridder met nuwe energie.

Stel die wyfie belang, vlieg sy nader. Haar roep verander; klink al hoe meer soos sy eie. Hy skuif ook nader.
’n Rukkie raak die bos veelseggend stil. Dan praat die twee saam: “Hoe-hoe, hoe-hoe-hoe-hoe”. Langs jou vuurtjie klop jou hart warm vir die twee, en Tokkie soek dadelik ’n pen om eers te boekstaaf.

Dis egter by die baardwipstert wat ek wil uitkom; ’n keelkunstenaar met strelende frases en fraaie variasies soos hierdie: “Piee piee terr triee … tsjieroee tsjieroee tsjieroee … wietsjoee wietsjoee … tirroee tirroee tirroee … piee piee piee …tsjoe-iet tsjoe-iet tsjoe-iet.” Dis in elk geval presies hoe dit vir Newman op die oor val, en hy luister fyn.

Kleinseun Thomas Claassens (22) was nog net ’n knaap toe resiteer hy al die langdurige geroep. Hy staan op die stoeptrappies as hy die vreemde woorde voordra, met crescendo’s presies op die regte plek. Hy sluit af met ’n ondeunde “atiesjoe”, en buig vir applous.

Daardie skittervertoning verdien ’n bekroning, al is dit erg vertraagd. Hy word nou die eienaar van die boek.

Deel dit: