‘n Olifantstorie met ‘n stertjie het my hierdie resente foto van Tokkie en Ou Grootvoete by Sabiepark se piekniekplek laat opdiep.

Voordat ek by my olifantstorie kom, egter eers ‘n paar tersaaklike opmerkings oor goeie maniere – of die gebrek daaraan.

My grief is dat mense jou deesdae so laat wag, wag en nog ‘n bietjie wag om op boodskappe te reageer – AS hulle reageer. Male sonder tal ignoreer hulle jou eenvoudig soos ‘n stopstraat.

Jy kan maar bel en bel totdat jy blou in die gesig is. Hulle bel nie terug nie. Of jy kan die een e-pos na die ander in ‘n bodemlose put werp. Die sfinks aan die ander kant van die co.za maak of jy nie bestaan nie.

Waarom mense so ongepoets geraak het, weet nugter. Dat die e-pos-kultuur ‘n rol speel, vermoed ek egter sterk. E-pos is by uitstek die medium wat allerlei ongure elemente misbruik om ‘n mens se private lewensruimte binne te dring. Dalk word party daardeur so afgestomp dat hulle later nie kan onderskei tussen ongewenste pos wat summier uitgewis kan word en bona fide-boodskappe wat ‘n antwoord verdien nie.

Ek het gepraat van goeie maniere. Jy kan dit ook ordentlikheid noem. Of etiket. Een ding staan egter soos ‘n paal bo water. Dit is dat op die terrein van amptelike kommunikasie (selfs by sogenaamde diensorganisasies) ‘n skokkende ongeergdheid jeens die publiek ingetree het. Mense sal werklik hul, maniere, hul ordentlikheid en hul etiket moet afstof.

Met die Kaapse draai kom ek dan by my olifantstorie uit. En uiteindelik by ‘n les oor beskaafdheid uit (vir sommige) dalk ‘n ietwat onverwagte oord.

Alles begin toe Pierre le Roux vir my uit Mosselbaai ‘n rekenaaruitdruk aanstuur van ‘n boeiende stuk oor olifant-gedrag wat in die New York Times se uitstekende Sunday Magazine verskyn het. Dit is ‘n lang stuk met die titel “An elephant crackup”. Die kern is dat dit die mens se skuld is dat olifante se aggressie toenemend uitbars. Olifant-kultuur word veronagsaam en vertrap. Gevestigde ordes stort in duie. Olifante reageer met ‘n blinde woede.

In die konteks van die grootvoete se gereelde besoeke by Sabiepark se piekniekplek en my eie Mayafudi se konflikte, wens ek toe ek kan met die skrywer van die artikel, Charles Siebert, kontak maak. Ek soek die naam op die internet en kom af op ‘n TV-regisseur in Hollywood. Klink nie of dit die regte man is nie, maar nietemin. Ek stuur boodskappies vir die “webmaster”, ene Steff, en vir ‘n vroulike joernalis wat ‘n onderhoud met die mnr. Siebert gevoer het, ene Mary Cummings.

Die volgende dag is hier drie antwoorde: een van Steff, een van Mary en een van Charles Siebert die TV-regisseur self. Nee, dis ‘n ander Charles Siebert wat ek soek. Die ander mnr. Siebert lig my egter in dat hy van sy naamgenoot weet, en raai my aan om vir die NY Times Magazine te skryf om sy adres in die hande te kry. Hy verskaf die volledige adres van die koerant in New York.

Ek laat weet dadelik vir al drie baie dankie, hul vinnige reaksie is vir ‘n Suid-Afrikaner ‘n nogal aangename afwisseling op die daaglikse gesukkel wat hier jou lot is. Ek neem my voor om wel vir die New York Times te skryf.

Voordat ek nog by ‘n brief uitkom, verskyn egter ‘n vierde boodskap uit Amerika op my skerm. Dit kom van die regte Charles Siebert. Hy laat weet:

“I heard from the west-coast Charles Siebert about your attempt to contact me, the east-coast one. I’m writing to pass along my -e-mail to you.”

Is dit nie merkwaardig nie dat hierdie vier Amerikaners soveel hoflikheid aan die dag le. Hierdie is besige, belangrike mense, maar nie te besig of belangrik om uit hul pad te gaan om ‘n onbekende Suid-Afrikaner ordentlik te behandel nie.

Ek het vir die regte Charles Siebert teruggeskryf: “The whole exercise of trying to get hold of you was an impressive demonstration of civilised American culture.” Daarby staan ek, al se wie ook oor die Amerikaners wat.

Hoe verfrissend anders as die liggewiggies in allerlei Suid-Afrikaanse kantore wat hulle verbeel hulle skuld die publiek niks.

Groete

HvD

(Naskrif: “An elephant crackup” kan gelees word by www.nytimes.com/2006/10/08/magazine)

Deel dit: