Die Van Deventers het mos ‘n ding oor Gasteboeke. Hier op Melkbos is een wat nog uit Van Schoorstraat se dae in Bloemfontein kom. Dit is propvol name wat herinneringe bring. In Sabiepark is ook ene. Wonderlik om deur te blaai en gaste se op- en aanmerkings te lees en te geniet.

Nou’s daar ‘n derde een. In www. hennievandeventer.com, die webwerf waaroor ek al lank hoopvolle vooraf-reklame doen. Ja, kom kuier vir die Van Deventers op die web! Met die kundige hulp van ‘n “engel voor ‘n rekenaar” met die naam Sunette de Beer is ‘n klomp persoonlike memorabilia so verpak dat dit hopelik vir aangename kuiers sal sorg.

Die kuierseisoen is oop. Ag, en teken tog die Gasteboek, mooi asseblief!

Die skakels op hennievandeventer.com het name soos Bosveld, Melkbos,Witnek, Tokkie60, Nog Tokkie, Versies, Boeke, Mayafudi, Kerk, Ware Jakob en Hennie van Deventer. Dit bevat hope foto’s. Meer verklap ek nie.

Op die tuisblad is ook lewende skakels na my blog, www.hennievandeventer.com/blog.html , en ‘n paar ander plekke, wat ek graag onder die aandag bring:

www.picasaweb.google.com/hennievandeventer vir nege foto-albums (soek jou eie gesig!);

flickr.com vir ‘n versamelinkie hoofsaaklik wildfoto’s;

www.krugerview.co.za vir ‘n webwerf wat Buurman van die Wildtuin (in die oorspronklike Afrikaans) bemark;

www.sabiestories.com waarmee die (sagte) bemarking begin vir die Engelse Buurman wat op pad is (Living next door to the Kruger), en

www.mayafudi.com wat die weg moet voorberei vir die Engelse Mayafudi.

En die leeufoto hierbo? Die verskyn wel in my internet-goeters (in die picasa-album met die titel Wildtuin), maar hy staan vandag daar waar hy staan omdat hy vanoggend ook lewensgroot in Die Burger pryk – HvD se vertraagde toetrede tot Die Burger se natuurfotokompetisie. Ek het twee foto’s van daardie leeutoneeltjie ingestuur, en na my persoonlike oordeel is die beste een snippermandjie toe. Maar nou-ja, ek’s darem bly een ou ooilammetjie is in die kraal.

Vir die Volksbladhoekie:

Alf Ries se behandeling is vir eers gestaak. Sy situasie word oor ‘n maand heroorweeg. Dit gaan nie goed met Alf nie. Die nommer van sy seun, Hartman, waar hy versorg word, is 011-478 1871.

Chris Moolman se wond het mooi herstel nadat hy ‘n week met ‘n ongemaklike dreineringspyp geloop het. ‘n Onkoloog sal binnekort oor sy behandeling besluit.

Oor Chris Koole het ek nie nuus nie. Tobie Wiese sal na die naweek rapporteer.

Hier te huise gaan dit goed. Die grasperk is net erg omgedolwe vir ‘n waterlei-stelsel. Ons wil al hoe minder moeite in en om die huis he. Om daardie rede is ‘n stukkie tuin aan die voorstoep terselfdertyd in plaveisel omgeskep. Hopelik skud ons hierna darem iets van ons erge huisgebondenheid af as gras en blomme wat verwelk, nie meer ‘n daaglikse kopseer is nie.

Vriende, skud julle dus reg vir die Van D’s by jul voordeur die een of ander tyd!

Groetnis

HvD

(Naskrif: Indien iemand die ander leeufoto wil sien, brul net. Dan e-pos ek hom. H.)

Deel dit: