Middag uit Melkbos

‘n Grasdak in die Bosveld klink nommerpas. Koel en karaktervol, lyk dit mos.

Probleem 1: Bobbejane kom rits op die dak en pluk die gras in hul uitbundigheid in dik gerwe uit. Gedurige herstelwerk is dus aan die orde.

Probleem 2: Probeer jy bobbejaan se kind stuit deur ogiesdraad oor jou dak te span, pak die blare in die draad. Dit verrot en die verrotting sprei na die gras. Gedurige herstelwerk is dus aan die orde.

Kap die blare gereeld uit met ‘n lang stok – dis rugbreekwerk en glad nie so maklik soos dit klink nie. Buitendien stuif die stof in elke hoekie van die huis neer sodra jy die gras versteur. Van boeke tot beddegoed loop deur.

‘n Keer het die herhalende blare-probleem die destydse parkhoof genoop om my swak advies te gee. “Gooi die draad af,” was sy raad. “Blare is gevaarliker as bobbejane.”

Die volgende rapport uit Sabiepark was nie bemoedigend nie. Die bobbejane was byna dwarsdeur my draadlose dak bokant die gastekamer. Hulle het bly uithol en uithol totdat net ‘n dun lagie dekgras oor was.

Ek sidder as ek dink aan die ellende wat kon ontstaan het. As die sekelsterte eers dwarsdeur getonnel het, was die huis aan dié skorriemorries se genade oorgelaat. En bobbejane is nie net buitengewoon vernielsugtig nie – hulle is ook toegerus mer spysverteringkanale wat aan die onderpunt ‘n allerverskriklike gemors kan veroorsaak.

Die draad moes terug, en vinnig ook.

Toe raak dit herfs. Die gedugte maroelas en die knoppiesdorings om die huis begin weer blare gooi. Die herfsblare koek weer in die draad. Ek swets en wens die draad was nog af.

Die laaste jaar al besef ek die grasdak se dae is op’t einde. Die valleie begin liederlik lyk en as dit hard reën, soos in die Laeveld nie seldsaam is in Januarie/Februarie nie, moet jy roer met die kastrolle en emmers onder die lekplekke.

Nou’t jy twee opsies as jy dak wil vervang, eintlik drie.

Opsie 1: Jy smyt die ou dak af en sit ‘n nuwe grasdak op. Vir die eerste jaar of twee lyk dit stylvol en bring dit ‘n lawende koeligheid as die sonnetjie dooierus vat. Dan is dit blare en bobbejane en bobbejane en blare van voor af.

Opsie 2: Jy sit ‘n blikdak op – ‘n sogenaamd Harvey Thatch. Wat as jy ‘n sterk verbeelding het, op ‘n afstand nogal op ‘n grasdak trek.

Opsie 2 verdeel in opsie 2a en opsie 2b. In 2a gooi jy die ou dak af, dek ‘n nuwe lagie dekriet en sit dan die teëls bo-oor. In 2b kom die teëls sommer bo–oor die bestaande dak. Jy sit as ‘t ware vir hom ‘n blik-kappie op.

Die groot voordeel is dat jy nie hoef meubels uit te dra en foto’s van die mure af te haal nie (van laasgenoemde het ek honderde). Nog ‘n voordeel is glo die akoestiek. Klank trek nie so onbelemmerd van kamer tot kamer nie. Jy hoor nie elke steun as jou buurman moeisaam in die katel omdraai nie.

Na baie wik en weeg seëvier opsie 2b. Wildevy 154 se blik-kappie is besig om op te gaan. Ek steek al tong uit vir die bobbejane. Kom, blare, kom. Kyk die foto. (HvD)

Deel dit: