Selfs die koning Salomo in al sy wysheid erken iewers in Spreuke dat sekere dinge hom dronkslaan. Ek wil amper vir hom se: Welkom in die klub, Salomo!
My eie lysie kopkrappers van die week is:
* Hoekom kom die tandestokkies in ons kombuis op Melkbos uit Indonesie?
* Hoekom dra my vrou, Tokkie, se eenvoudige rooi voorskootjie die etiket: Made in India?
* Hoekom is daar twee Zimbabwiers in die Springbokrugbyspan (met ‘n derde op die drumpel van insluiting?)
* Hoekom voer ons speelgoedrenostertjies uit China in wat van renoster soveel weet soos ‘n kat van saffraan?
* Hoe op aarde moet ons gesondheidsdienste en onderwys staande bly as een enkele onwettige Somaliese inmmigrant toegelaat word om by DRIE vroue 22 klein nuwe SA burgertjies te verwek?
Xenofobiejagters moet my asseblief nie dadelik brandmerk nie. Ek het al in 2003 in my boek In Kamera in die hoofstuk Word Oulik Oud (p. 200) met die relevante aanhaling van Anoniem hierbo my kleur oor xenofobie gewys.
In ‘n sogenaamde “idiotikon” van modewoorde van ons tyd verskyn by x net ene. Dis xenofobie. Ek is daarteen. Dis die boodskap. (By y is Yengeni en by z onder andere Zimbabwe en Zoid. Ekskuus Karen, die Oom het nie geweet jy gaan so mooi grootword nie!)
My punt is net: jy hoef g’n vreemdelinghater te wees om te voel dat Suid-Afrika se poorte en beursies darem gans te wyd oop is vir allerlei onnnodige uitheemshede nie!
Tandestokkies uit Indonesie – bid jou dit aan. Op die gebied van tandestokkie-vervaardiging is ek ‘n leek. Dit moet ek nederig bely. Maar ons het waaragtig die manskappe wat jy daardie kuns kan leer, vermoed ek, en op daardie manier nuttig ekonomies aktief kan hou.
En die rooi voorskoot? Ek skat ‘n knap skoolmeisie kan voorskote uitryg wat nie sal afsteek nie ( die keuse van werkwoorde is doelbewus!)
Oor die Zimbabwiers beweer ek allermins dat hulle slegte rugbyspelers is. Maar is dit nog Suid-Afrika wat daar opdraf as daar ewe veel Zimbabwiers in die span is as Haaie (onthou die enigste Cheetah was die vuurvreterflank Juan Smith en die enigste Leeu in sig was die leeugesig op ‘n bierblikkie!)?
Daardie rubberrenostertjie uit China het ons eers netjies om die bos gelei (bos, ha-ha!). Ons dag eers weens sy plat bek dis ‘n seekoei. Toe ontdek ons die horinkie op die snoet.
Dan die Somalier: seker genoeg om te se die man het klaarblyklik nie laat slaphang hier in sy aangenome vaderland nie, ofte wel – hy het nie lyf weggesteek nie. Laat my dink aan ‘n ou grappie – maar dalk lees ‘n verwaalde kindjie hier en daar ook Oom Hennie se Blog!
Nee, ek haat nie vreemdelinge nie. Ek het trouens die hoogste waardering vir die ywer en die werketiek van ons beskaafde tuinman Robert uit Malawi met sy mooi vrou wat Mej. Malawi kon gewees het. Maar ek dink in dieselfde asem ons soek groot moles as ons maar net hande gevou ‘n proses laat gedy waarin Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse produkte al hoe meer op die agtergrond gestoot word.
As die probleem is dat “ons eie mense nie wil werk nie”, dan is die uitdaging om hulle te leer dat – soos die Bybel dit so mooi uitdruk – dat hy wat nie wil werk nie, ook nie kan eet nie. En as ons eie produkte onmededingend duur is, moet die slimkoppe en beleidmakers oplossings soek om ‘n land met ‘n reuse-poel arbeid as een van sy vernaamste grondstowwe inderdaad in die sweet van sy aanskyn sy brood te laat eet. (Onthou, ek skryf hierdie op ‘n Sondag!)
Ek roep in herinnering ‘n dag in Cape Cod, speelplek van die New Englanders van Massachusetts. Ons stop by een van daardie kenmerkende Amerikaanse soewenierwinkels langs die pad en ek oorweeg die moontlikheid om ‘n stuk hout vir ‘n Amerikaanse vriend aan te skaf met die leuse: Buy American! Toe draai ek dit om. Agterop is die onvermydelike Made in China.
Dis alles baie snaaks, ja. Maar ons draai op dieselfde manier ons eie nekke om. En as jou nek omgedraai is, kan jy nie asemhaal nie. Vroeer of later beswyk jy omdat suurstof nie by jou brein uitkom nie.
Laaste gedagte: baie van die vreemdelinge in ons poorte maak vreemdelingliefde darem ook nie vir ‘n mens maklik as jy hoor hoe uitdagend hulle eise stel en sien hoe hulle rustig in hul kerkskuilings ‘n potjie skaak sit en speel terwyl ander mense en instansies hulle oor die lot van hul vrouens (drie op ‘n slag!) en kinders (22 – en pas op hulle kom blykbaar agter die lig aan!) moet bekommer nie.
My kollega en vriend Johan van Wyk sou in wanhoop uitroep: O-ho-po-ho!
O-ho-po-ho, inderdaad! (HvD)
