Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat nood en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?
As ek dan vra Heer, waar is u liefde?
Moet ek erken, dit le nog by my!
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by nood en seer van mense verby!
Aangrypende woorde – hierdie tweede vers van Ben du Toit (meen ek) se nuwe beryming van die ou Sendinglied met sy meesleurende wysie. Vir my onthalwe kan ons dit elke Sondagoggend in die kerk sing … en dan diep nadink oor die woorde.
Ek bewaar die lied in ‘n vakkie in my studeerkamer en het geweet presies waar om dit te soek nadat ek Donderdagoggend na Freek Robinson se Praat Saam op my motorradio geluister het.
By al die ellendes wat Suid-Afrika op hierdie oomblik soos in ‘n reuse-knyptang vasknel – xenofobie, geweld, armoede, brandstof- en kospryse, weghol-inflasie – sit Freek toe ook nog die stygende nood van verwaarloosde, verwerpte kinders op die agenda.
Genoeg om die keel te laat toetrek: die onstuitbare aanwas weens die verval van morele waardes, armoede, die saamgehoktheid in enkelkamer-woninkies sonder enige privaatheid, die siniese uitbuiting van kindertoelas en wat nog.
Wat ook al die oorsaak, die resultaat is maar net nog ‘n rede tot die uiterste benoudheid oor ons land se toekoms – die massa kinders wat op straat groot word, of by oumas in die verre platteland afgelaai word terwyl pa en ma om oorlewing die groot stad aandurf. ‘n Geslag wat grootword om nog ‘n Verlore Geslag te wees.
Miskien die heel ergste: die teel-vir-toelae-kultuur onder sekere groepe. Hoe meer mondjies, des te meer meer dok die staat mos op, des te groter is die maandelikse kado-tjie om mee goedkoop wyn en sigarette te koop. Of tik. Dis hartverskeurend.
In die radiodebat kom uiteenlopende gesigspunte en gesindhede na vore, en Freek moet soms net keer as mense wil oorkook. Toe bel iemand van die Overberg. Rustige stem. Hy vra die vraag wat ook vir my al lank pla: waar is die Kerk? Kan die Kerk in so ‘n noodtoestand maar net blindelings op sy huidige wee volhard? Kan hy voortgaan om die wye wereld vol sending te beoefen? Kan hy, asof niks verander het nie, steeds duur uitreike na verre uithoeke oorkant ons grense befonds? Kan die land dit regtig bekostig?
Dit is ‘n saak wat ek jare gelede in ‘n brief in Kerkbode aangeroer het. Toe was die krisis in Suid-Afrika veel kleiner as nou. My brief was sonder impak. Nou kom van die Kerk weer ‘n dawerende stilte. Sulke noodkrete bons skynbaar teen die mure vas.
Verstaan mooi, ek is nie teen buitelandse sending nie. Ek verstaan die Bybelse opdrag. Maar ek is jammer, ek begryp eenvoudig nie die beginsel nie dat jy, as jou eie huis en haard in ligtelaaie staan, die paar tuinslange wat jy het op bure se huise rig.
Bowendien, om buitelanders deur sending te bereik, is dit werklik nie meer nodig om ver na hulle te gaan soek nie. Hulle is hier, binne ons poorte, in hul miljoene op soek na ‘n nuwe droom. Tienduisende sit op hierdie oomblik opgedam in oorvol vlugtelingkampe sonder hoop of aardse besittings.
Die krisis is nie daar ver nie; dis HIER. Die krisis word GROTER. Die krisis kruip al hoe nader aan JOU EN MY. Durf ons langer wegkyk? Kan ons ons troos dat ons genoeg doen? Ek dink nie so nie.
Kan iemand met genoeg geloofwaardigheid en gesag die nood van Suid-Afrika dan nie raaksien en die tenkskip help omdraai voordat dit vir altyd te laat is nie?
Kom ons sing weer vers twee:
Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat nood en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?
As ek dan vra Heer, waar is u liefde?
Moet ek erken, dit le nog by my!
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by nood en seer van mense verby!
(HvD)