Was ‘n herfs op Melkbos al ooit so idillies? Beslis nie in ons tyd nie. En ons is in ons tiende jaar in Penguin Place.
Elke oggendwandeling is ‘n verfrissing vir gees en liggaam. Elke lang aand (kyk foto) is ‘n uitnodiging tot ‘n uitgerekte kuier op die stoep – terwyl die wyn vloei.
Hoe ‘n mens jouself in toom moet hou as die lewe so nimmereindigend genotvol is, is ‘n goeie vraag.
Vakansiegangers hier het dit in jare nooit so goed getref nie. Hulle boer op ons strande, van vroeg tot laat
Die windswewers kom hoopvol… en gee maar weer pad, Die wind word skaars meer as ‘n koel briesie, ons eie, eie “ingeboude lugversorger” wat ons hier aan die kus beskerm terwyl die binnelanders van Kaapstad sweet.
Maar alles het ‘n prys. Een nadeel van die wonderlike weer is die eindelose stroom mosseltrappers (amper se ek stropers). Van vroeg tot laat dans hulle hul komieklike mosselriele in die vlak waters. Later dra hulle emmersvol van ons waardevolle seekos weg vir hul potjies en wat nog.
Kan mossel-vangste nie beheer word soos met perlemoen nie ? Die bronne is seker tog ook nie onuitputlik nie.
Op hierdie noot, tot siens vir eers. More swaai die Honda se neus Klein-Karoo toe, vir die KKNK op Oudtshoorn. Agterin sit Marisa en (vir die eerste keer) die tweeling – wat seker die een en ander sal oplewer om later oor te rapporteer.
Hoop net Oudtshoorn het klaar gebraai as ons daar aankom – anders gaan ek die manjifieke Melkbosse weer darem dubbel mis.
Na Oudsthoorn maak ons ‘n draai in Bloemfontein vir ‘n reunie van oud-NP-politici. Dalk lewer dit ook iets ongewoons op!
HvD se blog hervat na 16 April – wanneer die Kaapse skole heropen.
HvD
