
Die Hoexters, Van Deventers en Philip en Nance van Rensburg by Sabiepark se piekniekplek.
Met sy 100ste verjaardag in Februarie het ek oor Gustav Hoexter, oud-appélregter, geskryf dat hy by uitstek die voorbeeld is van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.
Met sy dood twee maande en drie dae later in sy huis in Bloemfontein is dit die woorde wat eerste by my opkom oor hoe om die fyn heer met sy vlymskerpe regsbrein, sprankelende spitsvondigheid en grenslose hartlikheid te beskryf.
Ek het dit al voorheen vertel, maar omdat dit so ‘n raakvat-definisie vir Gustav verskaf, vertel ek graag weer van die geskenk waarmee ek op my 70ste by die Hoexterhuis in Sabiepark weg is. Vergewe my maar daaroor, asseblief.
Die geskenk was ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”). Wat dit egter van ‘n gewone bottel Skotse watertjies onderskei het, was die Hoexter-wyshede wat dit vergesel het. Een, ’n stukkie Duitse waarheid, was op die drasak: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!” En hoe jonk van gees het hy nie self gebly nie!
Die ander was binne die drasak. Dit was die woorde van ’n heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
‘n “Storehouse of wit” was Gustav inderdaad. Die “treasury of laughter” het hy volledig besit. Die “front door to fellowship” – dit het sy vriendskap vir almal beteken wat so eindeloos bevoorreg was om hom te leer ken.
Was dit nie Sabiepark nie, het my paaie dalk nooit met Gustav s’n gekruis nie. Hy was nie een vir die kollig nie. Daarom is sy honderdste verjaardag buite in sy onmiddellike vriende- en kollegakring relatief onbesonge verby. Ook daarom sal die groot man by sy dood waarskynlik nie die wye eer en erkenning kry wat hy verdien nie.
Oor sy rol in die regspleging (ook as voorsitter van die belangrike Hoexter-kommissie) is ek nie toegerus om my uit te laat nie. Ek kan net getuig dat hy onder sy kollegas ‘n reputasie van uitmuntendheid met sy uitsprake, skerpheid van intellek en integritet geniet het wat hom in die bestes van die bestes op daardie gebied plaas.
My eie kennis van Gustav Hoexter kom van Sabiepark waar ons twee dekades lank oor dosyne vuurtjies by die piekniekplek en by ons onderskeie huise in Tambotie- en Wildevylane gekuier het.
Ek het Gustav by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Dit was geen oordrywing nie. Sy en die sprankelende Frances se gasvryheid was legendaries. ‘n Kampvuur by die Hoexters was nie ‘n speelgoed-vuurtjie nie. Onvergeetlike aande is deurgebring in die lapa met al die lanterns wat aan kaal takke rondom flikker, die lekker stompe waarmee die bedrywige gasheer sy vuur stook en die sebras (selfs koedoes) wat gereeld vir gaste se onthalwe sommer naby kom water drink het.
Aan die hoof van sy tafel onder die kandelaar van werklike kerse was hy meesleurend galant en gevat. Met vreugde onthou ek die anekdotes wat hy kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy relevante kwotasies uit klassieke werke.
Gaste het aan sy lippe gehang en die uurtjies het om daardie tafel prettig omgevlieg met, buiten die goeie wyn, ook altyd iets spesiaals, soos ‘n Normandiese witblitsie, om die palet te reinig en gemoedelikheid te bevorder.
Hy was werklik die “grand old man” van Sabiepark. Dat iemand se plek leeg is, ‘n oorwerkte cliché. In sy geval is dit nie. ‘n Gustav Hoexter skop jy nie agter elke rosyntjie- of sekelbos uit nie.