
Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.
In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis. Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het. Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.
‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.
Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”
’n Goudmyn – hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later – by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?