Waar le die grense van die Karoo? Waar trek jy die streep noord, suid, oos en wes? Iewers sal ek in ‘n goeie atlas seker die antwoord kry. Maar dis mos makliker vir ‘n lui mens om te vra – en te hoop iemand wat hier lees, laat weet.

Hoe manjifiek is die Karoo tog nie! Die skynbare eindeloosheid van die uitgetrekte bossie-aarde het my en Tokkie nog altyd bekoor. Op twee onlangse reise het die unieke en aangrypende stuk aarde hom egter nog dieper in ons harte ingewurm.

Ons is KKNK toe met die bekende Roete 62 – die kortste en maklikste feesroete van Melkbos af, via Worcester, Robertson, Montagu, Barrydale, Ladismith en Calitzdorp, verby padborde met musiek in hul name soos Poortjieskloof, Modderasfontein, Bobbejaankrans, Meuplaas en Skelmdraai.

Dis ‘n skilderagtige, vrolike roete met oral verloklike uitnodigings om stil te hou, ietsie besonders aan te skaf of aan ‘n plaaslike heerlikheid te kom smul – dalk ‘n teugie Calitzdorp-port (die dorp het nie minder nie as vyf kelders) wat by die in Portugal kers vashou.

‘n Mens kan op die roete vasval en lank ry as jy nie waaksaam is nie. Maar dis ou nuus!

Na die fees is ons deur Meiringspoort Karoopark toe, met ‘n roete van Oudtshoorn na De Rust wat ek nog nie tevore gery het nie, en graag wil aanbeveel. Dis by Baron van Reedestraat uit op die R328 Kangogrotte toe, oor bulte en deur driwwe, verby ‘n string Klein Karooplase met hope, hope volstruise aan weerskante van die pad.

Net nadat ons deur deur Schoemanspoort is, was die kuierplaas Wilgewandel, aan die voet van die Swartbergpas, vir hierdie jaag-van-punt-a-na-punt-b-mense ‘n ontdekking. Vier dromedariskamele, Abraham, Joshua, Moses en Fossie, oorspronklik uit die Kalahari, was vroeg reeds opgesaal en gereed vir besoekers.

Maar toe was ons al by ons uitdraai verby. By die Kangogrotte hoor ons ons moet terug en dophou vir die bordjie na die Rust-en-Vrede-waterval – dis die begin van die Oude Muragiepad wat ons aan die voet van die Swartberg tot by De Rust sal bring. Die waterval is 2,5 km se ry die berge in. Om by die watervak te kom, moet jy die laaste 400 meter te voet afle. Dis die moeite werd, al is die straaltjie in die droe seisoen bra effentjies.

Dan Meiringspoort. Kan enige pad ‘n groter natuurervaring en toeriste-vriendeliker wees as die N12 deur die verruklike poort? Selfs die haastige HvD moes eenvoudig net stilhou en die koffie en toebroodjies by ‘n netjiese gemesselde tafeltjie geniet – net om later by steeds mooier en mooier stilhouplekkies verby te ry. Hoeveel keer steek jy op hierdie roete die Grootrivier oor? Iemand beweer 12 keer. Ek glo hom.

Maar ek wil eintlik kom by die Karoopark, waar ek en Tokkie al meermale geslaap en ‘n ietsie gebraai het. Elke keer was die skouspelagtige panorama en die talmende laatmiddae vir ons wonderlik. Maar hierdie keer het ons hierdie asemrowende plek die eerste keer werklik verken. Ons is twee keer met die Klipspringerpas op Rooivalle (op die foto) toe, met ‘n stadige, Kaapse draai intensief deur Lammertjiesleegte, het die indrukwekkende fossiele deeglik bekyk, die Karooveld geniet…

Vriende raai altyd aan dat ons vir huisie nommer 25 vra. Die was telkens reeds beset. Die laaste keer was ons in nommer 9 , net regs van die hoofgebou (foto). Die uitsig van sy stoep af is self treffend.

Toe vat ons die Kimberleypad oor Victoria-Wes en Hopetown Jacobsdal toe – wat ‘n mens nog net dieper onder die indruk bring van die wydsheid en verbysterende omvang van die Karoo.

Vroeer vanjaar het ons op pad Karoopark toe op die ingewing van die oomblik anderkant Ceres Sutherland toe geswaai – en toe met beangste harte die petrolmeter moes bly dophou terwyl dit by leeg bly bewe en die pad berg-op en berg-af eindeloos voor ons bly oopvou. Ek dag al ons slaap die nag in daardie groot stuk verlatenheid, wat ek later – tot my verrassing – moes hoor nie regtig die Moordenaarskaroo is nie, net deel van die Ceres-Karoo. Maar uiteindelik haal ons darem net-net Sutherland.

Ons was sonder ‘n reis-atlas of padkaart in die motor, en het eers besef hoe ver ons afgedwaal het, toe ons borde kry wat beduie dat ons ons ons nou in Noord-Kaapland bevind!

Maar toemaar. ver paaie ofte nie, so via Fraserburg en Teekloof Beaufort-Wes toe (boonop met genoeg brandstof in die tenk) het ons nog net vaster aan die Karoo geknoop.

Ons staan steeds meer verwonderd en bewonderend. Help iemand tog net met waar die grense loop, asseblief.

HvD

Deel dit: